Europa, Suid-Afrika en identiteitspolitiek

verkiesing-5Twee onlangse belangwekkende verkiesings het weer eens die soeklig op identiteitspolitiek gewerp – ofskoon op verskillende maniere.

Na afloop van die nasionale verkiesing is daar uit vele oorde groot gewag gemaak van hoe identiteitspolitiek in Suid-Afrika skynbaar vernietig is. Hul vernaamste rasionaal hiervoor was dat partye soos die Vryheidsfront Plus (VF+) en IVP glo gestagneer of selfs gekrimp het en dat minderhede besef het dat hulle nou deel is van ’n groter prentjie en nie as minderhede behandel wil word nie.

In die verkiesing vir lede van die Europese parlement het Euro-skeptiese partye in sekere lande bot gevier.

Is identiteitspolitiek dus dood of selfs kwynend in Suid-Afrika, soos sommige beweer? Vir ’n antwoord hierop is dit raadsaam om hierdie twee verkiesings en ander politieke kwessies te bekyk omdat daar verbasende ooreenkomste is.

Europese kiesers sê nee vir sentralisering

Europa, en by uitstek Wes-Europa, word wyd beskou as ’n gedekultureerde streek waar die klem op identiteit en godsdiens as rassisme en ’n agterlike teruggryp na pre-Verligtingsbarbarisme geag word. Ten beste kan nasionalisme, wat per slot van sake tot bloedige oorloë op die vasteland gelei het, by sportbyeenkomste uiting kry.

Groot was die verstomming (en nuus!) toe ’n klomp anti-EU partye die establishment geskok en in belangrike Europese lande soos Groot-Brittanje en Frankryk meer stemme as die hoofstroompartye getrek het. Ook in Hongarye en Oostenryk het Euro-skeptiese partye goed gevaar.

In Frankryk het die Nasionale Front (NF) byvoorbeeld 25% van die stemme op hom verenig en daarmee die beste van enige party daar gevaar.

In die Verenigde Koninkryk het die charismatiese en welsprekende Nigel Farage se UK Independence Party (UKIP) die beste gevaar met 27%. Die Konserwatiewe Party, wat ook gekant is teen EU-inmenging in Brittanje se sake, het die tweede meeste, naamlik 25%, ontvang en daarom kan hierdie toedrag van sake as ’n meerderheidsverwerping van supranasionale gesag vertolk word.

Terselfdertyd het pro-EU partye in Frankryk en die Verenigde Koninkryk soos pres. Francois Hollande se Sosialiste en die Liberale Demokrate ’n bloedneus gekry.

Die NF-leier, Marine le Pen, en Farage het beide leedvermakerig en prontuit verklaar dat hul seges ’n luide boodskap aan die regerende partye in hul lande uitstuur dat die kiesers nie langer deur afgeleë burokrate in Brussel regeer wil word nie, maar deur verkose verteenwoordigers. Tog is beide partye oop vir samewerking en handel in Europa, maar nie as deel van die huidige unie nie.

Die regerende partye het begin luister en wil nou begin skielik beding oor afgeskaalde EU-bevoegdhede.

Enersyds het ’n groot aantal mense in hierdie lande – ’n meerderheid in Brittanje – hul eie identiteit bo ’n gemeenskaplike Europese identiteit geplaas. Hulle het dus onomwonde gesê hulle wil self oor hul politieke en ekonomiese lot besluit en beleide volg wat deur Britte of Franse uitgevaardig is.

Hulle het dus sentralisering die rug toegekeer asook hul eie identiteite bevestig en dit bo ’n groter identiteit gestel sonder om dit heeltemal af te sweer.

In September gaan die Skotte ook stem om te besluit of hulle deel van die Verenigde Koninkryk wil bly. Die Skotte het ’n unieke geskiedenis en tradisies, geniet reeds ’n groot mate van afwenteling van mag en het hul eie simbole soortgelyk aan dié van ’n onafhanklike staat.

Of die Skotte wel vir onafhanklikheid gaan stem, sal op 18 September beantwoord word. Een feit staan egter vas: Só ’n referendum sou nooit in 2014 plaasgevind het indien identiteitspolitiek nie meer bestaan het nie.

So ook is daar talle ander Westerse voorbeelde van identiteitspolitiek wat op groter desentralisering aandring: Quebec in Kanada, die Baskiese streek en Katalonië in Spanje, en die kantonstelsel in Switserland. Selfs die konflik oor die Krim-skiereiland en die weerspannigheid in die ooste van die Oekraïne gaan oor niks anders nie as identiteitspolitiek.

Kortom, identiteitspolitiek in Europa is springlewendig. Dit wil ook in een of ander soort vorm van desentralisering uiting kry – soms in ’n ekstreme vorm soos volledige onafhanklikheid (soos in Skotland en Katalonië se gevalle) of herwonne soewereiniteit (soos in Brittanje en Frankryk) en ander weer in iets kort daarvan soos die kantonstelsel (oftewel interne selfbeskikking). Tog sal min Europeërs ontken dat hulle onlosmaaklik deel is van die vasteland se ekonomie, kultuur en intellektuele tradisies.

Identiteitspolitiek in Suid-Afrika

Dan kom ons weer terug by die vraag of identiteitspolitiek dood is in Suid-Afrika.

Eerstens moet daar erken word dat die etniese minderhede wel oorwegend vir die DA gestem het en dus vir ’n party wat (ten minste oënskynlik) waardes bo identiteit stel. Maar hulle het ook teen die ANC se Afro-nasionalisme, kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, die onsensitiewe verandering van stede en strate se name, rasbehepte grondhervorming, nasiebou waarvolgens Engels die enigste administratiewe taal geword het, die politieke druk op Afrikaanse skole om te verengels, sportkwotas, en les bes, die Nasionaal Demokratiese Rewolusie gestem.

Laasgenoemde, net om die oningewydes in te lig, is die ANC se ideologiese noordster wat kortom bepaal dat etniese swart mense (“black Africans”) se belange voorop gestel moet word en minderhede moet assimileer en onderhewig aan regstellende aksie en grondhervorming wees. Wat is dit en die ANC se ander nasiebou-inisiatiewe anders as identiteits(rasse?)politiek en die sentralisering van mag?

Prof. Roger Southall, sosioloog van Wits, skryf vervolgens in sy boek Liberation Movements in Power: Party & State in Southern Africa die volgende: “Elections take on the character of a ‘racial census’, with the overwhelming black majority of the electorate regularly pledging their support to the ANC . . . Although the transitional 1994 constitution provided for a distribution of power between the national state and nine provinces, the ANC has pursued a goal of greater centralization . . . the ANC has delegitimized opposition by asserting a crude majoritarianism which results in the alienation of minorities.”

Net omdat Afrikaans uit die staatsdiens, groot maatskappye, talle universiteite en die openbare sfeer verdwyn het, beteken nie mense is nie hoogs ontevrede daaroor nie. Hulle voel bloot magteloos om dié toedrag van sake as indiwidue te verander en stig en ondersteun daarom velerlei instellings in die burgerlike sfeer om desentralisering te bewerkstellig, gesamentlike druk uit te oefen om veranderinge teweeg te bring en hul identiteit só te laat vergestalt.

Die politiek van identiteit word derhalwe beslis nie net deur politieke partye in verkiesingstyd bevorder nie, maar deurentyd in onder meer die media, die openbare diskoers, in die howe, in die parlement en selfs op die strate en in buurte en stede. Die teenreaksie elke keer as Pretoria se naamsverandering op die spits gedryf word, die hewige reaksie en ongelukkigheid in wit en bruin geledere oor regstellende aksie en die druk op Afrikaanse skole, die groei van die Solidariteit Beweging se onderskeie bene en die minderhede se oorweldigende steun vir opposisiepartye wat sentralisering teenstaan, wys baie mense in die land heg groot politieke waarde aan identiteit. Die minderhede wil egter beslis deel wees van Suid-Afrika en koester veelvuldige identiteite (dis immers ’n rede hoekom hulle hier bly), maar die bedryf van identiteitspolitiek teen hulle in die vorm van kru diskriminasie, kulturele vandalisme, ’n openbare agenda wat hulle doelbewus uitsluit en die sentralisering van mag, maak ’n bespotting van ware versoening.

Kortom, so lank as wat regerings teen mense en groepe diskrimineer op grond van wie hulle is, aan hulle voorskryf wie hulle mag aanstel en waar hulle mag werk en burokrate honderde kilometers weg wil besluit wat die beste vir mense in hul eie buurte en streke is, sal identiteitspolitiek aanloklik en ’n groot werklikheid bly – net soveel in Suid-Afrika as in die res van die wêreld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Andries ·

Hierdie was nou sommer n lekker Maroela om te eet. Dit is nou baie insiggewend, en al wat ek nou vra is dat die twee Partye wat leiding kan gee juis met hierdie identiteitspolitiek nou behoorlik inklim en begin werkmaak hiervan. Daar moet nie gewag word tot die volgende verkiesing nie. Dan is dit te laat. Die kiesers moet lank reeds bewus gemaak word hiervan en voorberei word. Kom dit by stem val hulle nie rond tussen ,wil ek blou of rooi of geel wees nie .

Hanno ·

Kulturele en volksverskeidenheid Die Here het grense tussen nasies en tussen volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die enigste grondslag vir gesonde verhoudings tussen volke. In die evangelisering van die wêreld word ons ook na elke volk en taal gestuur sodat hulle verkieslik in hulle eie taal geëvangeliseer kan word. In die eindtyd gaan daar egter onder die aanstigting van die Satan, die Antichris en die valse profeet ‘n wêreldstaat met net een regering, een godsdiens en een ekonomiese stelsel geskep word (Op. 13:1-18). Die opkomende nuwe wêreldorde beywer homself hiervoor. Dit sal ‘n ernstige vergryp teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke wees, daarom sal die Here Jesus die bose lewenswyse en samelewingsorde van die Antichris tydens sy wederkoms vernietig. http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Fundamentalisme.htm

Daantjie Maartens ·

Die Boek waaruit jy aanhaal…..skop af met :-
“In die begin het God die hemel en aarde geskep”. ( Sonder voorbehoud of beletsel. )

Dat God hiermee bedoel het “onafhanklike en selfbeskikkende volke” – het jou vooroordeel en Verwoerdiaanse dogma die oorhand gekry. n “Ernstige vergryp teen God se orde” – is immers dan vlgs jou def. – n ernstige vergryp aan sy eie skepping ?!

PS.
Sien bykans alle oud NG-Kerke, verwys deesdae net na hulself as “gemeente”. Soms gaan die lig vir die “kerk” ook op……dink u nie ?

Flip ·

Eugene, baie goeie en ewewigtige ontleding. Mag ironies klink, maar Kovsie filosoof Johan Rossouw reken dat die Afrikaners se oorweldigende steun vir die DA ook op ‘n uitdrukking van Identiteitspolitiek dui.

Hanno, ek ken jou nie en dis nie my styl om iemand in die gesig te vat nie- maar dis sulke standpunte soos wat jy daar stel wat 99% Afrikaners laat wegdeins van enige vorm van identiteitspolitiek af. Dis hoekom jou standpunt op ‘n ironiese manier die linkses en die liberales help om enige moontlikheid van ‘n Europees-tipe opkoms van gesonde identiteitspolitiek te vernietig.

Hierdie Europese heropkoms het eers moontlik geword toe hierdie groepe en partye afstand geskep het tussen hulle en die verregse groepe, wat met hul standpunte aan hul vyande skietgoed gegee het om die Patriotiese bewegings as neo-Nazi’s af te skryf. Moet ASB nie verder ons goeie saak verder met swak argumente vergiftig nie.

Eugene Brink ·

@ Flip: Johan Rossouw is heeltemal reg as hy sê ‘n stem vir die DA is ook ‘n stem vir identiteitspolitiek. Ek dink ek het net nie genoeg ruimte gehad om te veel daarin te delf nie, maar het vlugtig daarop gesinspeel. Ek dink baie Afrikaners het DA gestem om die ANC se eie identiteitspolitiek teen te werk. Baie kommentators in SA dink slegs sekere groepe bedryf identiteitspolitiek terwyl hulle die ANC se eie identiteitspolitiek d.m.v. beleid miskyk en dink die regering tree “identiteitsneutraal” op. Soos Southall se kommentaar aandui is ‘n stem vir die ANC ook ‘n identiteitstem. En ja, baie van die EU-skeptiese partye (maar beslis nie almal nie) het baie matiger geword i.t.v. hul sieninge oor byvoorbeeld antisemitisme en dus het hul steun verhoog. Dis hoekom ‘n party soos die BNP nie goed doen nie, maar UKIP en die “nuwe” Front Nasionaal wel.

Daantjie Maartens ·

Eugene – verklaar asb jou aanhaling ” matiger geword ” ?
n Suiwer oorhel na “regs” is tog indikatief van n radikaler denkrigting….dan nie ?

Frik Lotz ·

Die VF Plus staan sterk op belangepolitiek en minderheidsregte.Die DA gaan nie opstaan vir minderhede nie. Minderhede se stemme is net goed genoeg met verkiesings vir die DA,daarna word minderhede geïgnoreer. Vir die DA gaan dit nie oor identiteit nie,slegs oor die najaag van swart stemme ten koste vd Afrikaner en ander minderhede. Te veel mense val nog vir die DA se propaganda wat spesifiek gemik is teen die VF+. Dis mos beter om vir n party soos die VF+ te stem wat anti- ANC is,maar ook gaan veg vir jou belange,spesifiek minderheidsregte. Na n verkiesing kan partye mos n koalisieregering vorm daar waar ANC onder 50% kry. Geen party kan die ANC alleen wen nie,ook nie die DA nie. Word wakker en kyk wat besig is om te gebeur. Die Afrikaner en ander minderhede se regte word vertrap. Staan op en ondersteun n party wat waarlik veg vir minderhede se regte. Daardie party is die VF Plus,die vaandeldraer van minderheidsregte en selfbeskikking.

Quintin Diederichs ·

Genade Eugene… die VF+ is dan een van slegs 3 partye wat gegroei het in die afgelope verkiesing. Ek sou juis hierdie feit inspan om uit te beeld dat identiteitspolitiek meer steun geniet onder Afrikaanssprekendes, veral Afrikaners, aangesien dit die kern van die VF+ se beleid en missie uitmaak. Jy is reg wanneer dit by die IVP kom, maar hoekom jy die VF+ oor dieselfde kam probeer skeer met etikette soos stagneer en krimp, weet nugter alleen.

Eugene Brink ·

@ Quintin: Ek dink jy verstaan dit verkeerd. Eerstens, ek noem identiteitspartye as ‘n kollektief en sonder nie die VF+ uit nie. Tweedens, ek noem daardie deel in die konteks van wat andere van identiteitspartye en -politiek gese het. Ek gaan dan voort om daardie sieninge te weerlê in die laaste afdeling. Die VF+ se groei bewys juis my punt.

Christoff ·

Ek’t nie baie kommentaar nie maar wil sê dankie, want dit gee bietjie insig en ek het lekker gelees. Nou moet ons net nog aanhou hoop….en bid!

Danie ·

@Frik Lotz.Kom ons wees n slag eerlik met mekaar.U noem die VF+ as die vaandeldraer van minderhede.My eenvoudige vraag is,sluit dit bruin mense en Indiers in?Dan praat u nog van selfbeskikking,en noem die VF+ het nie gestagneer nie.Enigiemand wat nog van selfbeskikking praat,en dus n volkstaat in gedagte het,het wel gestagneer.My vraag bly dus,selfbeskikking,waar en hoe?As ons praat van selfbeskikking op die manier wat Solidariteit nou beoog met hul opleiding inisiatiewe dan stem ek volmondig saam.
@Quentin.Die VF+ gegroei?Met n paar stemme dalk,maar hulle het nog steeds net 4 parlementslede,en 4 parlementslede gaan nie die ANC van sy pad laat afsien nie,die pad van die nasionaal demokratiese rewolusie,soos Eugene Brink dit korrek stel .
Ek stem heeltemal saam met wat Eugene Brink alles noem,goeie artikel,maar mense moet onthou om dit toe te pas op die werklikhede van Suid Afrika.

Frik Lotz ·

Die VF Plus het nie net met n paar stemme gegroei nie en kon nog meer gegroei het as mense nie hul laat mislei het deur DA propaganda wat gebaseer was op onwaarhede nie. Die VF Plus veg vir alle minderhede. Gaan kyk by http://www.nuwevisie.co.za en http://www.vfplus.org.za Selfbeskikking gaan nie net oor n eie staat nie. Daar is verskeie vorme en vlakke van selfbeskikking. Dit gaan ook nie net daaroor om die ANC te stuit nie,dit gaan daaroor om op te staan en te veg vir alle minderhede se regte. Geen,maar geen party kan op sy eie die ANC klop om oor te neem en te regeer nie. Slegs n koalisie van opposisiepartye kan dit doen. Alle minderhede moet saamstaan en uiteindelik sal n meerderheid van minderhede die land regeer. Ons moet slim te werk gaan om ANC te klop.Die DA se manier sal nooit werk nie,slegs die VF Plus se manier sal werk.

Danie ·

Frik.Die VF Plus veg vir alle minderhede?Waar is jul gekleurde kandidate?In die afgelope verkiesing het die VF+ nie eers probeer om uit te reik na ander minderhede nie.En die VF+ sal ook nie.Die VF+ is n party vir blanke Afrikaners.Ek is nie anti VF+ nie,ek begryp net nie jou argument dat julle vir ander minderhede ook is nie,want dit wat almal tog kan sien is dat die VF+ bestaan uit blanke Afrikaners.
En glo my,solank dit so bly,gaan die VF+ nie groei nie.Moenie probeer om mense te mislei nie.Dit gaan nie werk nie.

Frik Lotz ·

Danie,waar kom jy daaraan dat die VF Plus die mense mislei? Jy kan mos nie sulke aantygings maak wat onwaar is nie. Die VF Plus praat juis die waarheid en is reguit en eerlik oor die situasie in die land. Ongelukkig is daar nog baie mense wat nie die waarheid wil hoor nie,maar slegs dinge glo wat hul gehoor streel. Die VF Plus sal onverskrokke voortveg vir die Afrikaner en ander minderhede se belange.

Danie ·

Weereens,Frik ,daar herhaal jy jou retoriek.Veg vir alle minderhede.Maar jul kandidate was almal blanke Afrikaner mans.Nie dat ek teen blanke Afrikaner mans is nie,ek is ook een.Die punt wat ek wel maak, is dat met net blanke Afrikaner mans as kandidate, gaan julle nie groei nie,selfs al herhaal jy retoriek n miljoen keer.Dis wat ek bedoel met mislei.en dis die waarheid wat julle nie wil hoor nie.
Net vir die rekord ,ek is teen die rassistiese rasse kwotas van die ANC.Dit gaan ongelukkig van nou af net vererger,dis waarom Afrikaners waarlik moet saamstaan met ander minderhede,want hulle gaan ook daaronder lei.Die DA doen dit juis.
Kom ons wees maar eerlik met mekaar,die VF+ gaan altyd n klein nisparty vir blanke Afrikaners wees.Dit is hul goeie reg.Die grondwet het niks teen vryheid van assosiasie nie.Maar moenie iets voorgee wat julle nie is nie.

Richard ·

Dis wat ek ook wil weet Danie, waar is die Multi-kulti kandidate van die VF? Hulle het mos nou ook ‘n party vir “almal” geword is dit dan nie so nie?

Dit lyk eerder vir my dat hulle na die gekleurde stemme vry want hulle is in die meoilikheid, en weet baie goed van die demografiese realiteite wat vir ons voorlê, wat ek elders bepreek het. “Stem vir ons,die wit baas sal mooi na julle kyk.”

Ek het al gaan kuier op die VF bakkiesblad, en al baie gesprekke gehad met front plussers. BAie is ongelukkig deurspek van rassime, homofobie, ena alles wat “anders” is. Sommige gaan erger aan as AWB’s!

Daar is niks verkeerd om jou taal en jou mense te koester nie, maar oppas “hoe” jy dit doen. net soos sommige swart politieke partye net nie kan wegkom van ras en rassisme af nie.

Ten minste probeer die DA almal saambring met gedeelde waardes. Die DA is immers die enigste party wat alle minderhede 80% plus verteenwoordig, en ‘n al hoe groterwordende swart ondersteuners ook. Kyk maar gerus na die afgelope tussen verkiesings in bv. Soshanguve noord van Pretoria – die DA het in 2011 3% van die stemme gekry, nou ‘n hele 40% en amper die ANC daar uitgestof!

Danie ·

@Richard.Die VF+ begin nou die politieke realiteite raaksien wat blanke Afrikaners wat die DA steun lankal raakgesien het.Hulle kan hulself net nog nie daartoe bring om dit te implementeer en reguit aan hul kiesers te se nie.
Daarom het hulle vorendag gekom met n hol politieke retoriek van die VF+ staan vir die beskerming van minderhede,maar kyk jy na hul voorste kandidate is dit net altyd dieselfde gesigte.Daar is vir hulle voor die verkiesing gese hulle sal nie veel beter doen nie,maar na die verkiesing verby is,pak hulle die skuld op die kiesers omdat die kiesers nie “reg” gestem het nie.
Maar plaas daarvan om werklik n nuwe koers in te slaan,karring hulle maar aan.En haal weer dieselfde retoriek uit by die volgende verkiesing.Hul 4 parlementslede het immers almal hul werk behou.
As mens altyd iets doen op presies dieselfde manier,hoe gaan die resultaat anders uitdraai?
Die waarheid is,en dis tyd dat dit hardop en eerlik gese word.Die VF+ is net n opposisie vir die amptelike opposisie party.Terwyl die ANC nou sy” tweede oorgang” gaan implementeer,en gevolglik toenemend regstel aksie en grondonteiening,is dit van absolute belang dat die DA nou moet groei,want die DA is die enigste party wat minderhede werklik kan saambind met gematigde swartmense wat in demokrasie en die vryemark glo.
Baie,baie belangrik is om te onthou,as die ANC steun gaan verloor,gaan die meeste van hul kiesers na die EFF toe gaan,wat die ANC se “tweede oorgang” na n vulletjie gaan laat lyk.Swaar tye le voor,dis tyd om werklikhede in die oe te kyk,en n slag saam te staan.

Frik Lotz ·

Terloops,die DA het in 2011 se munisipale verkiesing 24% gekry. Nou het hul 22% gekry. Lyk eerder of hul agteruit boer as groei.

Frik Lotz ·

Ek wonder waar kom jy daaraan dat mense wat VF Plus ondersteun rassisties is,Richard. Die DA begin al hoe meer soos die ANC klink as ek luister en lees wat DA ondersteuners kwytraak. Jul leef in n droomwereld as jul dink die DA gaan op sy eie die ANC klop by die stembus. Weet jy hoeveel miljoene swart ANC kiesers sal die DA moet wegrokkel om vir die DA te stem? Die DA sal allerhande beloftes moet maak en meer radikaal as ANC moet word om dalk daai swart kiesers te kry. Wat word dan van minderhede? Minderhede sal onder n DA bewind ook aan die agterspeen moet suig,want swart kiesers se belange sal dan voorkeur kry. Die DA ondersteun dan regstellende aksie en ander wette wat diskriminerend is teenoor minderhede en dít maak dat ons kinders geen toekoms het nie. Wie is nou rassisties? Nee wat,ek ondersteun eerder n party soos die VF Plus wat anti-ANC is en veg vir my belange en gekant is teen diskriminerende arbeidswette. Mense moet hul oë begin oopmaak en begin dink vir hulself. Mense het in die ou bedeling toe-oë agter die NP aangehardloop en nou hardloop baie agter die DA aan. Die DA is maar net n ANC-lite,so eenvoudig soos dit.

Danie ·

Frik.Glo my die Afrikaners gaan julle al meer verlaat en verenig agter die DA.Die DA is die land se enigste, maar enigste redding.
Dit is so snaaks hoe jy eenvoudig botweg weier om my en Richard se vrae te beantwoord.Waar is julle kandidate van ander minderhede?Frik ,jy praat nie eers van bruin mense en Indiers by die naam nie.Dit is net minderhede.Hier is vir jou nuus,hulle sal net stem vir n party as hulle ook mense van hul eie kleur in daardie party sien.
Dit is werklik tyd om agter die DA te verenig.Daar is nou selfs n groter gevaar vir ons almal as die ANC.Die EFF maak wilder beloftes as die ANC,dis die enigste manier vir hulle om stemme te kry.Terselfdertyd moet die ANC daarop reageer en ook meer links beweeg,meer grondonteiening en SEB dus.Dis die werklike gevaar van die EFF,hulle forseer die ANC meer links.Die VF+ leef nog in n politieke wereld waar blankes die enigste kiesers is.Word wakker mense asseblief.Vir julle eie kinders se onthalwe.

Frik Lotz ·

Die mense wat nog steeds DA stem leef in n droomwêreld.Die enigste hoop is waar minderhede saamstaan en die VF Plus steun vir n beter toekoms. Ja,dis Afrikaners,Indiërs,Bruinmense en alle minderhede.Die VF Plus het maar n klompie maande terug sy missie gewysig om na alle minderhede om te sien,so dis net logies dat dit tyd gaan vat om ander kandidate behalwe Afrikaners te kry. Mense moet hul tog beskikbaar stel om kandidate te wees en soos meer kiesers van ander minderheidsgroepe VF Plus stem,gaan daar mos van hulle wees wat na vore gaan tree om kandidate te wees. Dis tog logies en is dit dan so moeilik om te verstaan? So,los dit maar om moedswillig te wees en kyk na die feite. Die DA ondersteun regstellende aksie. VF Plus nie. Die DA steun grondhervorming. Die VF Plus nie. Die DA steun swart ekonomiese bemagtiging. VF Plus nie. En so kan mens aangaan. Hoe kan enige mens dan nog DA stem en sodoende jou kinders se toekoms vernietig as die DA en ANC dieselfde rassistiese wette steun? Dan is die DA mos inderdaad n ANC-lite of hoe?

Danie ·

Frik,julle sal nie aktief kandidate van kleur nastreef nie.Julle kiesers en ondersteuners,selfs leiers is nog nie reg daarvoor nie.Doen julle dit, dan gaan die Front Nasionaal julle n DA lite noem.Die VF+ is mos die DA se opposisie en die Front Nasionaal is die VF+ se opposisie.
Terwyl julle strewe om jul missie gewysig te kry,brand Rome en is die militante EFF aan die opmarsjeer.Die ANC is stewig onder die beheer van die Kommuniste party en hulle beplan om grond af te neem en SEB te verskerp.Dit is baie laat in die dag.Die volgende 5 jaar gaan die land maak of breek.Almal wat nou in gematigheid,die vrye mark en gelykheid glo moet eenvoudig nou verenig.
Vir die rekord, die DA het teen die rasse kwota wet gestem EN die oopstel van die grondeise.SEB kan nie op beginsel teen gestaan word nie,mits minderhede ook regmatige kanse kry.Die DA beveg rasse kwotas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.