Europeërs raak krapperig oor misdaad deur immigrante

europa-aardbol-vastelande

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Die aanval op ’n Duitse man deur twee immigrante op Sondag 26 Augustus in die stadjie Chemnitz in die Duitse deelstaat Saksen, was vir baie Duitsers een aanval te veel. Oor die afgelope paar maande was daar gereeld, soos in talle ander Europese lande, berigte oor gewelddadige misdade wat deur immigrante en asielsoekers uit die Midde-Ooste en Afrika gepleeg is.

Teen verlede week is die polisie in Chemnitz verras toe ’n groot skare betogers na die stadsentrum opgeruk het. Die betoging is eers as ’n neonazi-byeenkoms deur die media afgemaak, maar dit was gou duidelik dat baie gewone Duitsers opgeruk het om hul misnoeë met die groeiende misdaad te toon.

Volgens ’n omvattende regeringstudie wat verlede jaar bekend gemaak is, is 70,7% van alle misdadigers in Duitsland nie Duitse burgers nie. Van die orige byna 30% van misdadigers is 14,9%, in die buiteland gebore en het hulle na Duitsland geïmmigreer waar hulle uiteindelik Duitse burgerskap gekry het. Volgens ’n studie van die Universiteit van Zürich se departement vir toegepaste wetenskap wat op misdaad in een Duitse deelstaat, Nedersaksen gefokus het, is buitelanders verantwoordelik vir 90% van die toename in misdaad wat tussen 2015 en 2016 in dié deelstaat plaasgevind het. Die totale hoeveelheid misdaadinsidente het vanaf 2015 tot 2016 met 10% toegeneem.

Die probleem van misdaad wat deur immigrante gepleeg word, is nie net tot Duitsland beperk nie. Ook in lande soos Frankryk, Nederland, België en Swede is daar gereeld berigte van geweldsmisdade wat deur immigrante gepleeg word. In Swede is misdaad wat deur immigrante gepleeg word, tans een van die belangrikste kwessies in ’n vurige verkiesingstryd. Sweedse burgers gaan eerskomende Sondag na die stembus en die Sweedse Demokrate, ’n regse politieke party wat sterk op die immigrante-uitdaging fokus, gaan volgens alle peilings baie goed in Sondag se verkiesing doen. Dit is duidelik dat baie Sweedse burgers werklik bekommerd is oor die toenemende voorvalle van geweldsmisdaad wat deur immigrante gepleeg word. Swede is een van die lande in Europa wat oor die afgelope paar jaar die meeste vlugtelinge ingeneem het.

Ook in Nederland is daar toenemend berigte oor misdaad wat deur immigrante-bendes gepleeg word. In Amsterdam moes die nuwe linkse burgemeester, Femke Halsema, skaars nadat sy op 12 Junie vanjaar as burgemeester van Nederland se hoofstad aangewys is, ’n versoek aan die regering in Den Haag rig vir die ontplooiing van heelwat meer polisiemanne in Amsterdam se strate. Die ombudsman van Amsterdam, Arre Zuurmond, het gedurende Junie sover gegaan om te sê dat die polisie in Amsterdam beheer oor groot dele van die stad verloor het en dat misdaadbendes in die nag chaos veroorsaak.

Nie alle lande in Europa is bereid om deeglike statistieke oor die verband tussen toenemende misdaad en die groei in migrantegetalle bekend te maak nie. Dit is egter gewone Europese burgers wat by die stembus en tydens optogte en byeenkomste hul stem laat hoor. Die vraag is of die politieke elite in plekke soos Berlyn, Den Haag, Brussel en Parys betyds gaan besef dat wesenlike optrede nodig is. Indien nie, gaan hulle al meer verras word deur woedende betogings, soos verlede week s’n in die rustige Duitse stadjie, Chemnitz.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

GP ·

Net soos in Suid Afrika is die bevolking to groot vir die ekonomie, dit word al meer algemeen oor die wereld.

Armoede ly dikwels tot misdaad (hoewel nie enigste rede nie). China het dit agter gekom en hul getalle geboortes het af geneem. Dit het natuurlik ook nagevolge gehad.

Slotsom, te veel mense om gedra te word deur ekonomie.

Ockert Pieterse ·

Dis die resultaat daarvan as jy dink die Tweede Gebod lees “jy moet jou naaste liewer hê as jouself”.

Gerhard ·

Die resultaat van naaste liefde en versoening soos sommige dit noem.

Thinus Erasmus ·

Ek verlekker my nie in onskuldige mense se swaarkry en smart nie, maar as mense kies om vir hulself met moeilikheid op te saal, moet hul nie verwag dat ek hul as onskuldig ag nie!

Merkur ·

Sover ek weet was daar nooit einige sanksies uit Duitsland teenoor Suid-Afrika nie. Nie kulturele óf ekonomiese sanksies nie. In die 80 er jare het selfs heelwat Duitse politici soos bv Franz Josef Strauß die Suid-Afrikaanse regering en o.a. die Afrikaners ondersteun. Dit is vandág se Duitse politici van die oud-parteie wat nie vir Afrikaners omgee nie. Net so min soos hulle vir hulle eie volk, die Duitsers, omgee.

Die konserwatiewes in al die westerse lande moet liewer saam staan. Dit is goed om te sien hoe die patriotiese mense van Duitsland en Engeland en bv Kanada en die hele westerse wêreld saam staan. Lauren Southern is ´n voorbeeld. Die konserwatiewe mense uit die Engelse lande besef al hoe meer dat nie die Duitsers hulle vyande was of is nie, maar eerder hulle eie regerings. Tommy Robinson byvoorbeeld werk saam met patriotiese bewegings in Duitsland. Moet ons die mense vandag in Europa en veral die jonger geslag verantwoordelik maak vir dit wat die vorige geslagte gedoen het? Dit is belangrik dat die mense wat vir geregtigheid is in die westerse kultuur, liewer saam moet staan.

Sebastiaan ·

Merkur, Duitsland het soos meeste, feitlik alle lande in Europa sanksies gesteun en die ANC oorname help bewerkstellig. Regering sowel as baie aktiviste, partye, kerke ens. Franz-Josef Strauss was een uitsondering en is daarvoor dikwels gekritiseer.

Merkur ·

Dankie vir die regstelling Sebastiaan. Ek het verkeerdelik die aktiviste en die kerke nie in aanmerking geneem nie. Het Duitsland ook ekonomiese sanksies ingestel (buiten aanmoedigings) waarvan ek nie weet nie?

John ·

Daar is niks nuuts onder die son nie. Islam het voorheen oor groot dele van Europa geheers na magtige oorloe en vernietiging. Vandag is dit subtieler waar die gewete van die regverdige en godsdienstige geteiken word… besin-of-jy-reg-doen tipe houding want-ons-kry-so-swaar en dit werk soos ‘n bom. Afrika, Indie, Pakistan, Arabiese lande en die Ooste… waar is nog aarde… het net een ding in die kop vanaf geboorte om na Europa en N-Amerika te reis waar die pot van die reenboog staan. Geld word teruggestuur na die tuislande vir die aanwassende bevolking wat ditto. Merkel is so toe en hardkoppig soos nogiets want Duitsland met sy sterk ekonomie loop op dieselfde petrol… mooi gewete maar onder die vroom gesiggie broei domminansie oor die hele EU. Min inligting oor die woede onder landsburgers en misdaad sien die lig.

Netso ·

Ja en wie moet hul bedank? Die Europese unie! Of hy nou bietjie Afrika of baie het hy byt die hand wat hom voer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.