Europese denke en hoekom die ‘patriotiese lente’ nog nie nou gaan aanbreek

europa-aardbol-vastelande

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Talle wit Suid-Afrikaners wat Europese gebeure dophou, som dinge daar dikwels soos volg op: Talle vreemdelinge uit die Midde-Ooste en Afrika, meesal Moslems, oorstroom die voorspoedige en werkende vasteland en terreur, misdaad en vervreemding laat inwoners ongemaklik en bedreigd voel. Die logiese gevolg is ʼn sterk reaksie wat lei tot nasionalistiese regerings wat die Moslems op hulle plek sit of uit Europa terugdwing na hul lande van oorsprong. Suksesse van nasionalistiese partye en sterk uitsprake van enkele leiers word as bewys gesien en veral verlede jaar se stem vir die Brexit en ook die verkiesing van Donald Trump tot Amerikaanse president word as deel van ʼn onstuitbare golf vertolk.

Die Europese mentaliteit is egter meer kompleks. Om mee te begin is die verskille tussen die onderskeie lande en streke te uitlopend om ʼn duidelike beeld te vorm. Terwyl nasionalistiese leiers in sommige lande soos Hongarye of Pole aan bewind is en die debat oorheers, voer nasionalistiese partye in ander lande ʼn sukkelbestaan en word deur al die ander geïsoleer. Dit is wel so dat in meeste lande ʼn swaai na regs te bespeur is, maar dit moet nie oorskat word nie. Die oorgrote meerderheid Europeërs sal nooit vir regse en nasionalistiese partye stem nie. Reeds kort na Trump se oorwinning is ʼn regse oorwinning in die Oostenrykse presidentsverkiesing gestuit en meer onlangs het die Nederlandse verkiesing mense teleur gestel wat gehoop het op ʼn onstuitbare patriotiese lente in Europa. Dit is nog te vroeg om duidelike afleidings te maak, maar dit wil voorkom asof die linkse establishment ná die skok oor Trump se oorwinning en wat dit impliseer, hergroepeer het en weer aanval.

Europa het sonder twyfel demografies geweldig verander oor die afgelope paar dekades, maar veral oor die afgelope paar jaar. Talle Europeërs voel ongemaklik met radikale Islam en voel bedreig deur gereelde terreurdade, maar hou in beginsel van die oop en multi-kulturele samelewing, ten minste so lank as dit hulle nie inperk nie. Min sien kans vir ʼn botsing van beskawings en sal hulleself sus met die geloof dat die radikale Islam ʼn verbygaande verskynsel is en deur staatsgedrewe integrasieprogramme opgelos kan word. Daarom steun hulle eerder partye wat met die “ons teen hulle” bedoel die sekulêre en verdraagsame landsburgers van enige afkoms teen die streng godsdienstiges, as diegene wat daarmee bedoel “die etniese meerderheid/staatsvolk teen alle uitlanders”.

Vreemdheid word ook nie per se as bedreiging gesien nie, Europa is immers al sedert die 1960’s bekend met gasarbeiders aan die een kant, en toeriste aan die ander kant en is ʼn uiters vermengde en geglobaliseerde samelewing (dit geld veral vir Wes- en Suid-Europa). Europa het ʼn lang geskiedenis van die integrasie van vlugtelinge of immigrante en glo daarom (naïewelik) dat dit weer sal slaag en dat immigrante per slot van rekening ʼn aanwins is.

Vir die terugkeer na ʼn etnies homogene samelewing soos voor die 1960’s is die opofferings eerstens te hoog, tweedens word dit as onwenslik beskou en derdens ken al hoe minder mense nog “die goeie ou dae” en aanvaar die huidige vermengde samelewing as gegewe en glo dat dit onomkeerbaar is. Boonop gaan dit nog steeds materieel en andersins met meeste mense goed en die toenemende vermenging en vervreemding is hoogstens ʼn irritasie, nie iets wat wesenlik jou lewe bedreig nie. Ná terroristiese aanslae is almal vir ʼn ruk in rep en roer, maar dan gaan die lewe weer aan en mense stel hulle gerus met statistieke dat die risiko om in ʼn terreuraanval te sterf uiters gering is. Europa leef nie, soos Israel, in ʼn toestand van permanente bedreiging en paraatheid nie.

Danksy die totstandkoming van die Europese Gemeenskap en later die Europese Unie, wat sedert die einde van die Koue Oorlog feitlik die hele Europa beslaan, het Europa ná eeue van oorloë ʼn ongekende tyd van voorspoed bereik. Min mense wil dit op die spel plaas en aanvaar eerder sekere besnoeiings van hulle vryheid en hulle lande se soewereiniteit ter wille van die groter ideaal. Die liberaal-demokratiese politiek sedert die Tweede Wêreldoorlog was in talle opsigte baie suksesvol en mense wil nie radikaal daarmee breek nie, hulle soek net hier en daar enkele aanpassings. Die Britte was waarskynlik verbaas oor hul eie dapperheid, maar Brexit sal ʼn unieke gebeurtenis bly en nie ʼn domino-effek tot gevolg hê nie. Geografies, en dus ook sielkundig, is Brittanje ʼn eiland en eerder bereid om sy eie pad te gaan as die state van die vasteland, wat ten nouste aan mekaar verbind is soos ʼn groep bergklimmers.

Die invloed van die hoofstroommedia is in Europa ook heelwat sterker as byvoorbeeld in die VSA of onder wit Suid-Afrikaners, waar mense eerder skepties teenoor die staat en gevestigde instansies is en waar die sosiale media opbloei. Dit is ook nie toevallig dat in Europa ʼn veldtog van regerings aan die gang is teen sogenaamde fake news nie, wat veral in die sosiale media die rondte doen (asof die hoofstroommedia altyd net die waarheid publiseer).

Europa het ʼn lang geskiedenis van vertroue in die staat en sy leiers en is daarom stabiel, maar ook vatbaar vir magsmisbruik. Dit onderskei hulle duidelik van die volke van die “Nuwe Wêreld” soos die VSA, Australië, Kanada, (en ook die Suid-Afrikaners van Europese afkoms), wat individuele vryheid hoog op prys stel en skepties is teenoor sterk en sentralistiese regerings. Die vertroue in die welsynstaat en die bereidwilligheid om hoë belastings te betaal is veral in die noordelike en westelike deel van Europa sterk geanker. Dit is nie bevorderlik vir ʼn radikale breuk met die bestaande orde nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Nico K ·

‘n Probleem met immigrasie in Europa is dat die mense soek ongeskoolde arbeiders. Iemand moet die strate vee en Europeers is nie meer bereid om dit te doen nie. Daarom dat hulle die immigrasie in die begin aanvaar het. In die VSA is dit dieselfde. Die mense soek die Meksikaanse bediendes, want Amerikaners werk nie as bediendes nie. En is dit nie maar presies in SA die geval nie. Ek ken baie mense wat Zimbabwiërs in diens het. Daarom is dit feitlik onmoontlik om dit te stop, want daar is ‘n vraag na die immgrante. En dit is prakties onmoontlik vir ‘n regering om elke onwettige immigrant in sy land op te spoor. In die ou SA was daar ook honderdduisende onwettiges en van hulle het jare so onwettig gebly. Solank daar werk vir die onwettiges in ‘n ryk land is, sal hulle nie wegbly nie.

John ·

Miskien is ons die tyd voor in SA en sien wat kom. Die EU word deur Duitsland beheer en die tentakels loop wyd en sterk. Kyk watter stryd voer Brittanje om daarvan te ontsnap hoewel die Engelse selfs ook skuld dra vir die breek van die damwal wat die uit-/instroom van vlugtelinge tot gevolg het.

gatiep ·

John ek dink ons is n toets land vir Europe.
Oor 5 of 10 jaar gaan dit by hulle gaan soos nou by ons.Hulle eie burgers gaan geen se he in hulle lande nie.Hulle sal dan eers besef hoe ons hier moet bly maar dan gaan dit te laat wees vir hulle.Rusland is die eenigste safe sone nog oor vir witmense net jammer die US wil hulle ook nou vernietig.Afrika vir swart mense,Asia vir die Asians en Europa is vir almal.

Hendrik ·

John so ons moet ook nou werk om ons eilande van selfstandige onafhanklikheid in S.A te vestig.

Pietman ·

Baie goed raakgevat. Die europiërs is soos ‘n padda wat stadig warm gemaak word in ‘n pot water. Die ou padda gaan nie sommer uitspring nie , want die lewe is nog so lekker. Snaaks dat in Spanje wat ekonomies die swaarste kry (werkloosheid), die minste gepla is deur moslem immigrante. Van die wes-europese lande het Frankryk die meeste moslems, maar is ook die mees regse land. Miskien het Europa nog biejie meer blootstelling nodig om uit hul slaap te ontwaak. Hopelik nie te laat nie.

Paul ·

Frankryk “die mees regse land”??? Hoe bedoel jy “regs”, want hulle is ekonomies definitief nie “regs” nie.

Therese van Schalkwyk ·

Insiggewende artikel, dankie!

As “die oorgrote meerderheid Europeërs nooit vir regse en nasionalistiese partye sal stem nie” hoef daar nie een sekonde langer verknies te word oor hulle welstand of verlore kultuur nie! ;-)

Vergeefs duimvas gehou vir Geert Wilders en hoop steeds dat Marine Le Pen vir ‘n verrassing gaan sorg, maar as die Duitsers, Franse, Nederlanders, Oostenrykers, Italianers ens. tevrede is om een groot multi-kulturele deurmekaarspul van Westerlinge, Midde-Oosterlinge en Noord-Afrikane te wees, wie is enigeen om te stry.

Hoe lekker moet dit nie wees om ‘n trots patriotiese Japannees te wees nie.

Boerseun ·

Gister aand het ek tv op sokker wedstryd tussen Italia en Nederland gesit. Dink ek het 3 etniese nederlanders in die span gesien.

Paul ·

In Japan gaan dit so “trots en patrioties” dat meer as ‘n kwart van die bevolking nou reeds ouer as 65 is, en daar is so min jong mense om na die oumense om te sien, dat dit dikwels dae of selfs weke lank neem voordat oumense wat gesterf het, se liggame gevind word, omdat hulle so geïsoleerd en eensaam woon. Google bietjie “kodokushi”.

Therese van Schalkwyk ·

Paul

Dankie, het “kodokushi” gaan Google en die artikel “The Lonely End” deur Matthew Bremner gelees.
Moet erken dat dit ‘n skokkende, wrede ontnugtering was. Opvallend dat meer as 90% van hierdie tragiese gevalle mans is wat sukkel om ná ‘n suksesvolle loopbaan as eensame afgetredenes in die samelewing te integreer.

Dis beslis ‘n ernstige aanklag teen afsydige familielede en die Japannese maatskaplike dienste, maar ook dalk in ‘n groot mate toe te skryf aan die Japannese psige, te trots om te erken wanneer hulp en ondersteuning nodig is en daarvoor te vra.

As Europese lande egter dieselfde verouderende bevolkings as rede aanvoer om grense oop te gooi vir vreemde kulture, spreek dit boekdele oor die gebrek aan ‘stamina’ van Westerlinge om lewenskragtige samelewings in stand te hou.

Sebastiaan Biehl se puik artikel is die keerpunt. Het nou amptelik ophou wroeg oor die wel en weë van Europa. En dit verg veel van iemand wat nog steeds verlang het na die dae voor die Euro-geldeenheid. Die frank, lire, pesetas en gulden was soveel meer romanties!

Fanie ·

Hierdie is die beste artikel oor die Europese politieke kultuur wat ek in ‘n baie lang tyd gelees het. Lekker om artikels op Economist+ standaard gratis in Afrikaans te lees, maar sonder die Economist se vooroordele.

JC ·

Hehe, baie waar Fanie. Maroela se debatte is tops, asook die artikels!!

Rupert Ashford ·

Europa het hulp van buite nodig om hulle uit die warmwater (deur hulle eie toedoen) te help. VSA in WWII en VSA deur NAVO daarna. Sal maar weer dieselfde ou storie wees hierdie keer.

Herman G ·

Ja, Europa is soos die padda wat stadig maar seker warm word. Ek het min simpatie met hulle, die meeste Europeers is bang vir hulle eie skaduwees en is polities korek al kan hulle sien die keiser is kaal.
Die meeste van hulle hou minder van die Amerikaners as die Moslems, alhoewel die Moslems hulle kultuur wil afvorseer op die Europeers en die Amerikaners nou al vir dekades lank die meeste van die Europeers se verdedigings kostes dek (hulle betaal 78% van NAVO se kostes).
Ek hou van die Pole en ander Oos Europeers, hulle het nog ‘n nasie trots, en is goeie werkers.

Herman G ·

“n Ander ding om te noem is dat jou gimmidelde Wes-Europeer dink die verskille tussen hom en mense van die derde wereld is soos die verskille tussen die Duitsers en die Italianers. In die laaste paar dekades (tot so 10 jaar gelede) het die minderhede redelik ok ingepas, of hulle op hulle eie gehou. Die feit dat baie misdaad aan Turke, of Morokaane of ander immigrante te weit was, is toegevee.
Met grootskaalse immigrasie kom van die Europeers nou agter dat baie van die minderhede verkies hulle eie kultuur bo ‘n westerse kultuur, en natuurlik neem misdaad en terrorisme nou meer toe. Maar soos die artikel uitwys, die meeste Wes-Europeers wil nie aanvaar dat die keiser kaal is nie.

Merkur ·

Ek vind ook dit is ‘n goeie ontleding.

Maar ek het die hoop nog nie heeltemal opgegee nie. Al is die konserwatiewe of nasionalistiese partye nog klein, oefen hulle wel druk uit op die gevestigde partye wat nie stemmers en mag wil verloor nie. En in Oostenryk het die konserwatiewe of patriotiese kandidaat vir president nog steeds 48 % bereik. 10 Jaar terug het niemand openlik erken om patrioties of nasionalisties te wees nie. Nou verkondig ten minste gevoelde 20 % dit uit volle bors.

Dit is heel waarskynlik te laat om ‘n etniese, of sogenaamde “burger” oorlog in Wes-Europa te vermy. (Dit bevestig al hoe meer polisie personeel. En die agressie in die strate kan jy nie meer mis kyk nie.)
Maar dis nog nie te laat om die etniese oorlog te wen nie. En daarvoor benodig jy miskien ‘n funksionerende staatsaparaat met ondervinding.

Therese van Schalkwyk ·

Hallo Merkur!

Goed om weer van jou te hoor daar uit die veelbesproke, pragtige Europa.

Sorg dat jy reg(s) stem, dan hoop ons maar vir die beste. Mooi bly!

Merkur ·

Hallo Therese!
Dis lekker om weer met jou te praat.
Ek verseker jou dat ek Duits-patrioties gestem het en weer gaan stem. Definitief nie vir Merkel of die ander “regressive links” partye nie :-)
Tot volgende keer.

Frans C ·

Die Europeërs is vas aan die slaap,gesus deur liberale denke en menseregte.Die Muslimgeloof is naas die verkeidenheid Christelike gelowe die 2de grootste in Nederland.

Vandat die stamlande die Bybel almeer op die agtergrond skuif sien hul eenvoudig nie die gevaar in nie.Dit was nog altyd ‘n uitgesproke wens van die Muslimteoloë om ‘n wereldwye
invloed uit te oefen netsoos die Crusaders van ouds die Christelike geloof op ‘n manier wat
nogal sterk aan Isis wou versprei.

Hierdie mense erken nie Jesus as die enigste Verlosser en Saligmaker nie en erken nie
die Drie-eenheid van God nie.Christene is dus interme van die Moslemgeloof nie ware gelowiges nie.

Europa sal slegs wakker skrik,te laat mi as die oproep tot gebed regoor Europa uit die Moslemtorings weerklink.Hierdie mense het ‘n verskuilde agenda en alhoewel oënskynlik
onder ‘n sambreel van medelewe en menseregte saam met,ander gelowe teen terreur betoog,moet die die doelwit wat agter dit skuil nooit oor die hoof gesien word nie.

Een van Iran se generaals het nie verniet nou die dag gespog dat dit hul net 7minute sal neem om Israel van die aardbol te verwyder,sover gevorderd is hul stelsels al ontwikkel.

Merkur ·

Frans C
Dis hoekom ek dink ´n etniese- of geloofs-oorlog is nog steeds beter as ´n vreedsame of gelydelike islamisering.
Dis waar, te veel Europeërs slaap nog. Maar soos Sebastiaan Biehl skryf, is die hoofstroom media in Wes-Europa baie invloedryker en ek voeg by, propagandisties aggressief.
Ek glo nie Europa gaan uiteindelik islamisties word nie. Maar dit gaan net met ´n groot konflik verhoed kan word.

Merkur ·

Ek wou eerder sê: Ek glo nie Europa gaan uiteindelik Mohammedaans word nie.

DewaldS ·

Baie goeie ontleding en baie goeie artikel. Ek koester baie hoop vir Matine le Pen, maar die skrywer kyk meer objektief na die situasie en ek moet erken dat ek gekonfronteer word met feite en insig waarvan ek nie baie hou nie. Maar steeds fantastiese artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.