Europese leiers staan voor belangrike besluite

Die afgelope dekade is nuus uit Europa eers gedomineer deur ’n finansiële krisis, toe ’n immigrasie-krisis en nou met ’n klaarblyklike klimaatkrisis. Tussendeur alles het die vraagstukke van voortdurende terreurbedreigings, groterwordende minderheidsgroepe wat integrasiebeleid onwerkbaar begin maak het en veranderende verhoudinge met Rusland, die VSA en Turkye gereeld tot beleidsonsekerheid aanleiding gegee.

In Mei vanjaar het sowat 200 miljoen kiesers in 28 Europese lande na die stembus gegaan om 751 lede tot die Europese Parlement te verkies. Deelname aan vanjaar se verkiesing was sowat 8% hoër, die eerste keer in meer as twintig jaar dat die stempersentasie in die Europese verkiesing gestyg het. Net meer as 50% van stemgeregtigde burgers het hul kruisies getrek. Die toename in deelname dui op ’n verhoogde bewussyn onder Europese burgers van die dringende aard van sommige uitdagings wat die kontinent en natuurlik die Europese Unie in die gesig staar.

Kiesers het aangedui dat die kwessies wat hul deelname gedryf het, veral ekonomiese groei, immigrasie, omgewingsake, demokrasie en menseregte was. Verlede week het die nuutverkose lede hul eerste sitting ná die verkiesing by die Europese Parlement in Strasbourg, in die ooste van Frankryk gehad. Die 751 lede van die Europese Parlement vergader een uit elke vier weke in Strasbourg waar belangrike besluite deur die Parlement goedgekeur word. Die res van die tyd werk hulle vanuit Brussel in België.

Tydens verlede week se sitting het die nuwe president van die Europese Kommissie, die voormalige Duitse minister van verdediging, Ursula von der Leyen, haar visie van ’n sterker Europa bevestig. Verder het die Europese Parlement verlede week sy begroting vir 2020 goedgekeur. Die Parlement het ook besluit om ’n omgewingsnoodtoestand af te kondig. Hoewel dit slegs van simboliese waarde is, bevestig dit die prioriteite wat die EU vir die volgende paar jaar gaan navolg.

Ná die verkiesing in Mei het sommige ontleders gevra of politiek in Europa tans deur angs gekenmerk word. Onsekerheid oor toekomstige ekonomiese groei, ’n moontlike heropvlamming van terreurdade, klimaatsverandering en die vraagstukke oor immigrasie, diversiteit, grense en identiteit wat almal met mekaar verband hou, is oorsake van angs onder sommige Europeërs.

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo)-beraad in Engeland en meningsverskille tussen veral Donald Trump, Emmanuel Macron en Angela Merkel oor die toekoms van Navo, laat ook vrae ontstaan oor hoe Europa na sy eie veiligheid in die toekoms gaan omsien. Trump soek ’n sterker Navo wat beter befonds word, terwyl Macron een Europese weermag nastreef.

Die probleem vir ons as buitestanders is egter om te verstaan in watter mate gebeure uit die geskiedenis, en veral die Tweede Wêreldoorlog, steeds op die psige van Europeërs inspeel. Die drang om enige nuwe katastrofe te voorkom, oordonder dikwels alle ander prioriteite.

Of Von der Leyen se sterker Europa genoeg gaan wees om Europa vir ’n toekoms vol nuwe uitdagings voor te berei, is onseker. Massa-immigrasie gepaardgaande met ’n snelverouderende Europese bevolking, ernstige strukturele ekonomiese uitdagings, die toename van globale invloed deur moondhede in Asië, klimaatuitdagings en terreurbedreigings gaan Europese leiers oor die volgende paar jaar besig hou.

Of die nodige moeilike besluite en kragdadige optrede wat in antwoord hierop vereis moet word, onderneem gaan word, sal bepaal of Europa sy posisie in die wêreld sal behou of prysgee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Feite ·

Gee my enige dag, enige land in Europa wat ideologies daarna streef om katastrofes te verhoed. Wat het trump en CR in gemeen? Beide streef ideologies na katastrofes vir hulle onderskeie lande!

Johan Grobler ·

As ek nou al ooit ‘n persoon met ‘n misleidende skuilnaam gesien het, is dit jy….”Feite”…ha ha ha . Well done nar…..

Boer-in-die-Wind ·

A bit imperious calling yourself “Feite” don’t you think?

‘Your are entitled to your own opinion but not your own facts.’

Feite ·

Europa se ekonomiese voorspoed sal byna onmiddellik toeneem, indien die demokrate van trump ontslae kan raak. Trump se sanksies teen Iran, verhoogde handelstariewe teen China en die manipulasie van die finansiele markte, plaas Europa in die huidige ongunstige finansiele en ekonomiese posisie. Nodeloos om te se, bedreig hierdie optredes van trump nie net die toekomstige wereld politieke en ekonomiese stabiliteit nie, maar ook die politieke stabiliteit in Amerika self!Indien die demokrate nie van trump ontslae kan raak nie, voorspel ek dat Amerikaners met “trump must fall” veldtogte gaan begin en dat die wereld gaan begin terugdruk teen Amerika met “America must fall” optredes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.