Eutanasie: Kan of mag dit?

vertroosting

Argieffoto.

Deur Peet Bothma en dr. Christo Pretorius

Om ʼn geliefde aan die dood af te staan is van die mees traumatiese ervarings – des te meer as dit binne die mens se vermoë is om ʼn besluit oor lewe of dood te neem wanneer iemand self ly óf magteloos voor ʼn geliefde se lyding staan.

Nie net is die dood van ʼn geliefde hartverskeurend nie, maar om ʼn geliefde te sien ly en wegkwyn aan ʼn ongeneeslike siektetoestand dra by tot die trauma

Die lyding kan dae, maande en selfs jare duur en van geliefdes word opoffering en moed gevra om ondanks die magteloosheid voor die dood te sorg, te bemoedig en saam te treur.

Van kindsbeen af word ons blootgestel aan die dood en die verlies van diegene vir wie ons lief is en hulle sterwensoomblik raak ons diepste wese.

Die vermoë om oor lewe of dood te besluit vind ook op ander terreine inslag. ʼn Ma kan besluit om ʼn aborsie te ondergaan. In Suid-Afrika en ander state was (en in sommige gevalle is) die reg om moordenaars met die dood te straf aan die orde.

Dit is in die mens se vermoë om oor lewe en dood te kan besluit, maar of dit mag, is die groot vraag. Tussen die kan en mag van die mens lok eutanasie, aborsie en doodstraf skerp emosionele debat uit.

Op sosiale media is die groepe onderskeibaar in diegene daarvoor en diegene daarteen sonder dat die konteks of nuanses van die vermoë verreken word.

Suid-Afrika se hoogste hof van appèl het onlangs uitspraak gelewer ná ʼn laer hof vroeër ʼn terminaal siek pasiënt toestemming gegee het dat ʼn dokter hom kan help om selfdood te pleeg. Die appèlhof het dié beslissing omgekeer en hiervolgens is eutanasie steeds moord. Die uitspraak deur appèlregter Malcolm Wallis is ondersteun deur vier ander regters.

Op die internasionale front is daar lande wat genadedood en ondersteunde selfmoord (ook bestempel as ondersteunde selfdood) toelaat. Sedert Junie vanjaar is genadedood wettig in Nederland, België, Colombia en in Luxemburg. Ondersteunde selfmoord is ook in Switserland, Duitsland, Japan, Kanada en die Amerikaanse state Washington, Oregon, Vermont, Montana en Kalifornië gewettig. In België is daar nagenoeg 1 400 voorvalle per jaar en dié land het ondersteunde selfmoord in Desember 2013 na kinders uitgebrei.

In Suid-Afrika word die beweging ten gunste van die vermoë of besluit vir eutanasie deur die stigter van die groep Dignity SA, prof. Sean Davison, gelei en hy geniet die steun van die Anglikaanse emeritus-aartsbiskop, dr. Desmond Tutu.

Sterk teenstand kom vanaf die departement van gesondheid, die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, verskeie teoloë en die ACDP.

Davison het in reaksie op die appèlhofuitspraak gesê hy beloof om hand en tand aan te hou veg vir wat Dignity SA as ’n basiese mensereg beskou. Hulle gaan die saak na die konstitusionele hof neem.

Grondliggend aan voorstanders se voorkeur vir ondersteunde selfmoord is die aanspraak dat die mens inherent oor natuurlike regte en potensiaal beskik wat allermins deur die staat, kerk of die gemeenskap ingeperk mag word. Die mens is hiervolgens vry om te besluit en gemeenskapsinstellings se invloed moet afgewys word; daarteenoor heers ʼn ander lewensbeskouing wat vanuit godsdienstige en morele gronde ondersteunde selfmoord afkeur.

Volgens die godsdienstige opvatting berus die keuse vir lewe en dood nie by die mens nie. Hoewel die mens by magte is om te kies, word die mens geroep tot verantwoordelikheid en geloof.

Dié debat wentel tussen uiteenlopende beskouings van lewe, dood en die mens se vryheid, vermoë en verantwoordelikheid en daarom is dit ʼn intense debat waarvan die uitkoms die hart van menswees raak.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Vixie ·

Ek is ‘n absolute voorstander van eutanasie. Hoop van harte dat prof Davison slaag in sy aansoek, sodat wanneer ek eendag aan die einde van my lewe kom en niks meer vir myself kan doen en net ‘n las op my geliefdes se skouers is, daar iets aan die sakie gedoen kan word

Gemsbok ·

Moenie jou probleem ons almal sin maak nie. In hierdie debat kry diegene wat wil sterf baie meer lugtyd as diegene wat wil leef. Dit is egter diegene wat wil leef wat die prys daarvoor betaal. Kyk maar na België en Nederland en die studies wat aantoon dat talle mense gedood word sonder dat hulle skriftelike toestemming (soos die wet vereis) gegee het. Ongeag hoeveel beskerming daar geld, open hierdie voorstel slegs nog ‘n weg tot die mishandeling van oumense en mense met gebreke.

Ten gunste ·

EK is ook ten gunste van genadedood. En nee, dit is nie uitsit by demand nie, dit word baie professioneel en volgens die boek gedoen. As drie geneeshere bv hulle diagnose en prognose gemaak het, en daar is geen hoop meer vir ‘n terminale pasient nie, niks om hom te genees of sy pyn te verlig nie, hoekom mag hy nie saggies weggehelp word nie. Dit gaan tog nie hier oor om onverskillig met ‘n lewe te werk te gaan nie, dit gaan slegs op die aanbeveling van gekwalifiseerde persone gedoen word. Vreemd dat soveel mense ten gunste van aborsie is (‘n babatjie wat heeltemal lewensvatbaar is en wie se lewe net begin het) maar teen die genadedood van ‘n 80-jarige wat in onmenslike pyn verkeer en self besluit om die wereld te verlaat.

Lithop ·

Ek ly self aan kanker en kom gereeld in kontak met pasiënte wat geen meer hoop het nie. Daar is geen waardigheid in ‘n bestaan waar mens totaal afhanklik is van ander, gedurig in pyn verkeer en geen meer genot uit die lewe put nie. Hoekom mag sulke mense nie in waardigheid en privaatheid sterf nie? Dis wat die hoofpunt van Aartsbiskop Tutu se pleidooi was: waardige afskeid. Die feit dat waardige en pynlose selfdood steeds onwettig is maak geen sin nie. Niemand kan gekeer word om selfdood te pleeg nie, maar sulke pogings kan misluk en nog groter ellende veroorsaak. Ek weet een ding: wanneer ek nie meer waardig kan leef nie gaan geen hof my keer om ‘n einde aan my lyding te maak nie.

Jane ·

Sjoe Lithop, jammer om van jou siekte te verneem. EK het my pa ook aan kanker afgestaan na 3 jaar, en glo my ons was baie dankbaar vir die morfien, en as iemand die morfien nog groter kon oopdraai teen die einde sou ons nie gekla het nie. Daar is net geen lewenskwaliteit en waardigheid meer aan iemand wat so ly en seerhet en later deurmekaar is nie. Ek hoop tog vir jou vir herstel en veral pynloosheid gedurende die Kersseisoen. Mag die Vrede van die Here wat alle verstand te bowe gaan met jou wees!

Ano ·

Ek is terminaal siek en het die situasie met my kinders bespreek. Ons is dit almal eens dat sodra ek op die punt kom wat ek 24/7 vesorging nodig het – sal ek ‘n einde maak daaraan. Of ‘n dr my gaan bystaan of nie – ek sal dit doen.

Chris ·

Ek het die afgelope paar jare ‘n hele paar vriende en familie agv kanker aan die dood afgestaan. Dit is beslis nie ‘n mooi gesig nie. Ek kry die persoon baie jammer. Ek kry die naasbestaandes meer jammer. Ek hoop nie dat ek eendag daardie besluit moet maak nie. Ek dink wanneer jy weet of besef jy gaan nooit weer gesond word nie, is dit die maklikste oplossing. My skoonsus sê altyd sy koop ‘n klomp slaappille en ‘n paar goeie bottels wyn. Dan sal sy darem in waardigheid groet.

Betzie Hough ·

Uit die Christelike geloofsoogpunt word gesê net God kan oor dood beskik. Daarom skiet baie Christene genadedood af. Hulle vergeet egter dat dokters dus heeltyd God speel as hulle
as’t ware inmeng in God se wil deur allerlei behandelings toe te pas.

Willie ·

Net so, Betzie! Verder ontneem die toelating van eutanasie geeneen van die reg om nie daarvan gebruik te maak nie, hetsy vir godsdienstige óf enige ander redes.

John ·

Mense kan dalk net inboek by sekere van ons staatshospitale dan kom die dood jou sonder veel moeite, baie onderhandelinge en oorreding haal. As jy gelukkig is kan jy dalk selfs ook jou begrafnis vryspring en net verdwyn … na muti-makers of vir die oes van jou skaars liggaamsdele en juwele. Die res waai weg… sonder koste en sorge vir die liefdelose familie… net jou groot boedeltjie sal hulle maar ter nagedagtenis aan jou versorg…

Chris ·

Ek verstaan daar is baie argumente wat geopper kan word. Wat doen morfien “patches”? Dit is blykbaar om die pyn te verlig. Indirek is morfien nie net vir pynverligting nie maar dit “veroorsaak” ook dat jou hart “ingee”.

Breytie ·

Ekself dink nie dit help om na ‘n hof te gaan oor hierdie saak nie want dit word in die grondwet verbied. Die hele saak rus natuurlik op die “reg op lewe” wat deel is van die lys van menseregte.

Die mediese wetenskap is deesdae in ‘n posisie om ‘n mens aan die lewe te hou in omstandighede wat vroeër beslis tot die dood sou lei. Medici kan slegs lewe laat voortduur maar nie lewenskwaliteit waarborg nie, Gevolglik word ernstige siek mense gedwing om te leef slegs omdat die wetenskap dit moontlik maak. Daar kan dus gedebatteer word dat daar ‘n “natuurlike” oomblik van sterf aanbreek wat deur dokters oorskry word op grond van die eed wat hulle geneem het en nie op grond van hulle insig in die situasie nie. Daar sal dus geveg moet word vir die reg om te sterf, want niemand sal tog die reg om te leef wil wegneem uit ons wetboeke nie. Die reg om te sterf moet as ‘n bykomende reg gesien word tesame met al die ander regte. Op die oomblik skiet die lys menseregte tekort omdat elke burger gedwing word om te leef, maak nie saak hoe haglik die omstandighede nie.

Die reg om te sterf behoort ook bedoel te wees vir mense wat byvoorbeeld as gevolg van armoede net geen manier het om hulleself te onderhou nie.

Jan ·

Skuus dat ek dit hier ophaal, jammer ek vra om verskoning, ek bedoel dit nie as ‘n grap nie, maar die ANC sal jou lewendig wil hou net om belasting van jou te tap. Wat ‘n siek idee.

Josef du Toit ·

Die skandalige groei in gewettigde moord op onder andere ook kinders, kwesbare bejaardes wie onder druk van gewetenlose families vir erfporsies staan en selfs gewoon op gronde van neerslagtigheid, in byvoorbeeld Belgie”, waar ek woon, word gerieflikheidshalwe verswyg in ‘n berig wat op oordrewe wyse poog tot neutraliteit, maar eintlik die Christelike uitgangspunt feitlik alleen terloops noem. En dit nogal op ‘n nuuswerf (en van ‘n radiostasie) wat beweer dat dit op Christelike waardes bou.
Die 6de gebod gebied onder andere die behoud van lewe deur die geduldige dra van die Hand van God. Jak 5:10-11: “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.” Solank as wat ons deur die Here in hierdie lewe staan, leef ons uit genade in Christus, want Sy genade is vir ons genoeg, en Sy Wee” is nie ons wee” nie. Rom 9:20: “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker se^: Waarom het u my so gemaak nie?”

Lolapot ·

Is dit werklik God se wens om mense te sien lei. Het jy al ooit langs ‘n geliefde gestaan wat alle fakukteite verloor het of een wat soos ‘n baba sy doek bevuil en bloed opkots en huil soos ‘n wilde dier vam die pyn en.leidong? Waar is die waardigheid daarin? Jammer maar ek kan kie glo dat dit is wat God wil.hê nie dis eerder wat die doktor wil.hê dis eerder sy poging om te wys ek kan die rol van God beter vervul deur die dood te probeer uitstel en uitrek. Waardigheid is elke mens se reg as jy dit weier is jy dalk die een wat aan God se verkeerde kan is.

Stefan ·

Soos miljoene ander persone wat die lyding van ‘n geliefde ervaar het, is ek ‘n positiewe voorstander van selfdood en eutanasie. Ek is 70 en het reeds met my kinders bespreek dat indien ek met ‘n ongeneeslike siekte gediagnoseer sou word, of op enige ander manier beleënd en van versorging afhanklik moet raak, ek my lewe op ‘n waardige manier sal beeïndig deur, byvoorbeeld, op slaappille te oordoseer indien ek fisies in staat is om dit self te kan doen. My groot vrees is egter dat ek ‘n beroerte oorleef, soos my ma op 81, en soos sy bedleënd sal raak en nie fisies in staat sal wees om my lewe self te eindig nie. Dan wil ek die reg op eutanasie hê. My testament, asook ‘n verklaring wat ek by die versorgingseenheid van die aftree-oord waar ek woon onderteken het, bepaal ook dat dit my wens is om nie deur lewensondersteunende apparaat aan die ‘lewe’ gehou te word nie.

Omdat ek die grondwetlike reg op (‘n waardige) lewe het, behoort ek ook die reg op (‘n waardige) dood te hê. Geen geloofsiening, van watter aard ookal, mag indruis teen my reg om self oor my dood te besluit nie. Daar is ‘n drastiese verskil tussen net ‘lewe’ en ‘menswaardig lewe’.

Baie sterkte aan almal wat nog met hierdie saak stoei. Kom ons ondersteun Dignity SA soos en waar ons kan en dankie aan dr Tutu vir sy steun.

Stefan

John ·

… “baie professioneel en volgens die boek”? Op watter planeet bly ons nou? Die ‘boek’ (met ‘n kleinletter b) en die professionele uitvoering van die letter van die wet sal soos by die res van die wette, nooit nagevolg word nie. As jou medies uitgeput is, is drs se idees vir nog nuwe kure ook op… buiten vir wilde reise na kwakke in Indie, bo in Afrika of om te toi-toi vir die wettiging van dagga. Dis al wat oorbly want familie skarrel gereeld na hul geliefde welsynstake iewers elders soos wat dominee Sondag so vurig en opgewonde uitgestippel het. Moet ook nie teistering en magsmisbruik deur sterwendes onderskat nie. Hoe ryker hoe magtiger en wie kan die sterwende wie se lyding jare kan duur, teestaan. ‘Die laaste testament’ is ‘n interessante onderwerp op sy eie…

Elisabeth ·

Dit is absolute verkeed om eutanasie, aborsie en doodstraf in in sin te gebruik al ontlok elkeen trauma.

Etuanasie het ek so vêr gekom in my denke dat as al wat medies gefaal het dit dan as ‘n opsie vir die persoon moet wees. Geen ander punt behalwe die punt van leiding kan dan die opsie vir die persoon wees om etuanasie te kies. Nie sy familie wat trauma ondervind nie ens. Dis die persoon self en sy biologiese dysfunksie. As jy in geloof wandel dan glo jy in die bestaan na die dood en nie die bologies dysfunksie nie.

Mariana ·

‘n Mens wat in ‘n Mamma se maag groei, maar nog nie ‘n stem het nie, mag gedood word? Die “ma” het die reg om te besluit of hierdie Godgegewe siel mag lewe of nie. ‘n Ouer, famielielid, mag besluit om masjiene wat ‘n mens aan die lewe hou af te sit. ‘n dokter, wat ‘n mens is mag besluit om ‘n leidende pasient aan die lewe te hou met sy medikasie wat meer skade doen as goed. Maar ‘n mens, wat net SMART, PYN en LEIDING ervaar mag nie besluit om sy of haar lewe te eindig nie? Kom wys my die verskil, julle almal wat God probeer speel en Sy Naam so lieflik hier gebruik as verskoning oor die genadedood. Laat God besluit wat Hy met DIE mens wil doen as hy/sy voor Hom kom staan na die liggaamlike dood. Di liggaam is maar net ‘n tydelike huis vir die siel. Niemand kan die siel doodmaak, net God beskik daaroor.

seuna ·

Hoe kan mens nog daaroor debatteer? Ons is genadiger vir ons troeteldiere as vir die mens. Maklik om te wonder totdat jy self bittere lyding ervaar of moet aanskou.

Mina ·

Ek glo God se doel met my lewe is om Hom te loof en prys. God se plan vir my lewe is volmaak, soos wat Hy volmaak is. God beskik oor lewe en dood. Hy is Almagtig. Mag ek nooit twyfel aan God se grootheid en liefde vir my nie. Mag ek nooit twyfel aan God se almagtige wysheid en plan met my lewe nie. Mag ek nooit my eie lewe in my eie hande wil neem en dink ek weet beter as God nie. Mag ek met elke tree van my lewe God dien en prys. Mag ek anders as die wereld wees en so ‘n voorbeeld wees dat ek nie aan die wereld behoort nie , maar aan God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.