HB en MJ Thom Joernalistiekprys 2011
Commendatio vir Egmont Sippel
Egmont Sippel is ‘n uitsonderlike figuur in die joernalistieke wêreld en dan veral in die motorjoernalistiek. Die wonderlike is dat Egmont Sippel nie ‘n sommerso motorjoernalis is nie. Na voltooiing van twee jaar studie in die ingenieurswese, slaan hy oor na ‘n BA-graad met filosofie en staatsfilosofie en behaal die graad met uitsonderlike prestasies. Daarna behaal hy die BA-honneursgraad in joernalistiek met eweneens die beste resultate. Sy akademiese studie het hom uitstekend geskool vir die joernalistieke wêreld, wat ook ‘n loopbaan as sportskrywer (gholf, tennis en rugby) ingesluit het.
Sy veelsydigheid strek tot artikels oor musiek, rolprentsterre, bedelaars, popsterre en die “ideale vrou”. Maar hy het in die besonder sy staal gewys in die motorjoernalistiek. Sedert 1995 is hy motorskrywer vir Rapport, maar lewer op vryskutbasis bydraes vir onder andere De Kat, Taalgenoot, Car Magazine, Wheels24, Moneyweb, Drive Magazine, Cars in Action, ens. Wat uitstaan, is die joernalistieke taal en styl in die motorbedryf.
Die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns kan kers opsteek by Egmont Sippel wanneer dit kom by die vind van tegniese terme en terminologie in Afrikaans, want Afrikaans is sy sterkste punt. Daar word van hom gesê dat hy soos ‘n filosoof en taalvirtuoos na motors kyk en hulle as sodanig beskryf. Hy is in sy skryfwerk kundig, deurdag, leesbaar, poëties met sy beskrywings van die motor-wêreld wat dikwels talle ander aspekte van die menslike wêreld insluit. In die motorwêreld is Egmont Sippel talle kere bekroon. Hy is agtereenvolgens in 2002, 2004, 2007 en 2008 as Motorjoernalis van die Jaar benoem en die lofprysings is nog vele. Dis duidelik dat Egmont Sippel ook buite die omraming van die motorwêreld taalgewys groot aansien in die Afrikaanse wêreld geniet.
Daarom is dit vir die FAK ‘n voorreg om die HB en MJ Thom-Joernalistiekprys aan hom toe te ken. Wat sê ‘n Afrikaanse letterkundige en digter van een van sy rubrieke in Rapport?
“Ek het pas jou motorrubriek in vandag se Rapport gelees. Jis, maar jy kan skryf. Kragtoer op kragtoer is elke paragraaf. Sommer jaloers”.