FAK oor Afrikaans as universiteitstaal

kaapstad universiteit

Argieffoto.

Die FAK wil hiermee sy diepe afkeur uitspreek oor die valse en diep misleidende standpunte wat die afgelope tyd ten opsigte van Afrikaans aan universiteite ingeneem word. Veral die volgende kwessies is ter sake:

  1. Tydens die afgelope dekades het die een ná die ander universiteitsbestuur plegtig belowe dat universitêre Afrikaans nie in gevaar verkeer nie. Ter ondersteuning is talle mooiklinkende taalbeleidstellings in dié tyd voor die neuse van die Afrikaanse taalgemeenskap geswaai. Daarin word plegtig belowe dat Afrikaans se plek aan universiteite veilig is.

Vandag blyk hierdie beloftes toenemend niks anders te gewees het as ’n paaiboelie-strategie en ten diepste ’n leuenagtige voorstelling van sake nie. Universiteitsbesture het oor jare openlik vir die Afrikaanse taalgemeenskap gelieg.

Universiteitsbesture moenie verontwaardig reageer as die Afrikaanse wêreld hulle voortaan met die grootste denkbare minagting hanteer nie. Dit sal enkel en alleen hul eie skuld wees.

  1. Daar word tot vervelens toe aangevoer dat die getal Afrikaanssprekende studente afgeneem het, en dat Afrikaans daarom afgeskaf moet word.

Die werklike toedrag van sake is dat die getalle van Afrikaanse studente nie dramaties afgeneem het nie, en dat hulle steeds ’n betekenisvolle aanwesigheid op die kampus van onder meer die US, die UP en die NWU is.

In hierdie verband mag nie vergeet word nie: Toe Engelssprekende studente slegs 14% van die algehele bevolking by UP uitgemaak het, was die aanbod van klasse in albei tale klaarblyklik “ekonomies regverdigbaar”. Noudat Afrikaanssprekendes 30% van die algehele bevolking van dieselfde universiteit uitmaak, is dit skielik nie meer haalbaar nie.

Hierdie feit wek by Afrikaanssprekendes onwillekeurig die indruk dat daar met twee maatstawwe gewerk word. Van ’n sin vir regverdigheid is daar, ondanks mooiklinkende beloftes, kennelik geen sprake nie.

  1. Die afgelope jare het dit ook mode onder universiteitsbesture, hul akademiese meelopers en raserige populiste geword om aan te voer dat Afrikaans op elke universiteitskampus uitsluitend werk.

Inderwaarheid bestaan daar geen enkele bewys daarvoor dat Afrikaanse klasse aan “ons” universiteite teen enige anderstalige student diskrimineer nie. Inteendeel, eertydse Afrikaanse universiteite het bykans tot die dood toe (blyk dit nou) agteroor gebuig om anderstaliges (lees: veral Engelssprekendes) ter wille te wees.

Hoe is dit moontlik dat dié agteroorbuigery ten gunste van anderstaliges nou met diskriminasie téén hulle gelykgestel word? Enigeen wat dit doen, ly aan kwaadwilligheid, misplaaste haat, kollektiewe selfontkenning, werklikheidsvreemde denkbeelde oor ’n wêreld sonder taalgrense of al hierdie patologieë tegelyk.

  1. Tydens die afgelope dekades het dit mode in veral die geesteswetenskappe geword om aan te voer dat daar nie iets soos die “werklikheid” is nie, maar dat alles deur ons “gemaak” of “geskep” word.

Ironies hiervan is egter dat verskeie akademici wat so dink, baie gou is om aan te voer dat ons onsself wat Afrikaans betref by die sogenaamde harde werklikheid van getalle moet neerlê. Skielik vergeet hierdie einste akademici dat daar (ingevolge hul eie denke) planne gemaak en nuwe uitweë gesoek kan word om die agteruitgang van Afrikaans te verhoed.

’n Tweede ironie wat hieraan geknoop word, is dat dit ook hierdie einste akademici is wat so graag na buite voorgee om in opstand teen “die bestaande ordes” te wees, terwyl hulle inderdaad die eerstes is wat hulle by die diktate daarvan neerlê. Van opstand is daar hoegenaamd geen sprake nie.

  1. Een van die grootste huidige gekhede is die verwagting by populistiese groepe (nagepraat deur leunstoel-akademici) dat die verwydering van Afrikaans uiteindelik daartoe sal bydra om hul ekonomiese en sosiale nood te verlig.

Die tragiese ironie hiervan spreek vanself: Die grootste prestasie wat universitêre Afrikaans is, is juis ’n voorbeeld wat deur dié groepe nagevolg en nie afgebreek behoort te word nie. Afrikaans se ontwikkeling tot op die hoogste vlak het daartoe meegewerk dat talle Afrikaners in staat gestel is om ook ekonomies suksesvol te wees. Indien universitêre Afrikaans afgebreek word, word ’n belangrike voorbeeld en selfs bondgenoot vernietig.

  1. Afrikaanssprekendes word tot vervelens toe daaraan herinner dat Afrikaans nie sal uitsterf solank as ons dit praat nie. Hieruit word die gevolgtrekking gemaak dat ons moet ophou om oor die stand van Afrikaans aan ons universiteite te kla.

Ook hierdie punt is ongegrond. Afrikaans sal inderdaad, soos beweer word, nog lank sonder universitêre Afrikaans kan oorleef. Maar blote oorlewing is juis nie waaroor dit in die taalgesprek gaan nie. Die vraag is eerder “hoe” Afrikaans in die toekoms sal oorleef.

Sonder die taal se aanwesigheid op universiteit loop Afrikaans die wesenlike risiko om sy status as taal van die intellek, die verbeelding en die morele bewussyn prys te gee, en tot ’n informele taaltjie van die sypaadjie en die kombuis gereduseer te word.

  1. Apologete vir Engelse eentaligheid voer dikwels aan dat die beskerming van tale (en kulture) nie die taak van ’n universiteit is nie. Ook hierdie stelling is louter bog. Dit strook eenvoudig nie met die werklikheid nie.

Verreweg die meeste universiteite in die moderne ontwikkelde wêreld is nie net tot stand gebring om studente vir die beroepslewe voor te berei nie, maar ook om hulle in die breë sin van die woord op te voed. En ’n onlosmaaklike deel daarvan is dat studente eers werklik as opgevoed (of gekultiveerd) beskou is as hulle hul wêreld met behulp van ’n veelheid van tale (ook en veral hul moedertale) oop kan maak.

Die kultivering van moedertale aan universiteite staan nie in spanning met die akademiese lewe nie, maar verteenwoordig eerder ’n onontbeerlike deel daarvan. Die oppervlakkige Engels wat vandag as normatief aan ons universiteite beskou word (en op ’n ondemokratiese wyse aan almal opgedwing word), verteenwoordig ’n ernstige verskraling van dié opvoedingsideaal. Die volle ontwikkeling van ons moedertale op universiteit kan help om dié ideaal weer sy regmatige plek aan ons universiteite te gee.

Afrikaanssprekendes het by ’n skeidingsoomblik aangekom. Indien daar voortgegaan word om universitêre Afrikaans af te breek, sal groot getalle van ons mense slegs een gevolgtrekking daaruit maak: dat ons nie welkom is aan die bestaande universiteite nie, en dat ons voortaan vir Afrikaans ’n eie universitêre toekoms sal skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JC ·

Baie, baie dankie,

Uitstekende artikel!

Ons sal aanhou VEG vir Afrikaans op alle moontlike vlakke, hetsy die beskerming daarvan op bestaande kampusse deur die afdwing van ons grondwetlike regte, hetsy die uitbrei van Akademia en ook ander UNIVERSITEITE. Die geweldige reaksie wat reeds plaasgevind het deur Afrikaanssprekendes (van alle kulture) maak my hart so bly vir ons allerpragtigste taal en gee my hoop vir die wonderlike toekoms van Afrikaans. Mag Afrikaans na 2025 (sy honderdjarige herdenking) nog vir millennia voortleef!

AFRIKAANS MY TAAL! AFRIKAANS ONS TAAL. ONS SAL NOOIT OPHOU VEG VIR AFRIKAANS NIE!

Nic de Bruyn ·

As oud Tukkie dink ek dat De La Rey moet bedank.
Hulle paai die blatante uitvaagsels en steur hulle nie aan die Afrikaanssprekende studente nie.

Vicky ·

Afrikaans Ja dit is dalk die taal van apartheid maar ook die taal wat ons land ‘n replubliek gemaak het almal dink ons land was net in ‘n pinarie oor apartheid dalk moet die mense van die land bietjie onderig kry oor wat werklik waar in die geskiedenis van hierdie land gebeur het. Ja die boere die Afrikaanse Boere het hulle vrouens en kinders aan die dood verloor sodat ons, ons eie land kan he vandag. !!!! Hulle vertel ons is ‘n demokratiese land wat is die definisie van demokraties – BEE ja en is BEE nie net ‘n nuwe woord vir Apartheid nie. Hoekom moet ek en jy betaal vir iets wat ons geen skuld aan het nie. Nee Mnr Zuma, Mnr Malema ek het nie gese daar moet apartheid wees nie dis nie ek wat die reels gemaak het nie so hoekom moet ek en my kinders die prys betaal van ‘n klomp mense wat die Amerikaners wil na aap. Laat ‘n klomp wit studente nou hulle swart verf dan is dit rasisties die einde van die wereld maar wat van die 30duisend boere en hulle werkers wat gemartel word dit is mos niks nie. Hier is vir jou nuus ANC ons lui aan ‘n masiewe water krisis en as al ons boere nog vermoor word WAAR GAAN ONS KOS VANDAAN KRY? Afrikaners staan saam gaan gooi jou speelgoed uit die kot uit en kry so ook jou sin

Elsa ·

Met watter gelde gee die Universiteite beurse aan studente? Is Maties se beursgeld nie juis blanke Afrikanergeld nie? Waarom is ons geld reg maar nie ons kinders? Wat van wyle Jan Marais , om maar een te noem wie ae erflating nou gebruik word vir beurse, word dit net aan blanke Afrikaanse studente gegee? Ek wonder maar net.

Dup du Plessis ·

Die ironie is dat afrikaanssprekende studente se getalle doelbewus beperk word by die tradisionele Afrikaanse universiteiete – PUK is ‘n duidelike bewys hiervan, hierdie kampus van NWU sal ‘n paar maal net met afrikaanssprekende studente gevul kan word so groot is die vraag maar dit word doelbewus anders bestuur om meer na die land se demografiese getalle te wil neig en ons weet wat is die toekoms vooruitsigte dan vir Afrikaans. Ons as ouers betaal ons (Afrikaanse) gelde en daarom dring ons aan op ten minste 1 Afrikaanse universiteit……As die klok vir die universiteite gelui het neem ek aan die Afrikaanse skole is dan in die visier, wat bly dan oor vir ‘n afrikaanssprekende as sy kinders nie meer in hul land van geboorte in hul moedertaal onderrig mag word nie…..wie sou dan in sy denke enigsins belasting wou betaal….

Derick Saaiman ·

Dankie FAK. Dit grief my ten diepste dat die Universiteit Besture so sonder beginsels skyn te wees. .Dit is my oortuiging dat die hoofstuk waar Afrikaanse studente aan Universiteite wat voorheen as Afrikaanse instellings bekend was ,kan studeer-afgesluit is. Dit lyk asof selfs die openbare beskermer hiermee akkord gaan.

Roy ·

Hoekom staan die lektore en proffesore nie op en se as ons nie in ons taal mag onderrig gee nie dan bedank ons of ons toi-toi ook want wie gaan dan al hierdie slim janne onderrig gee en dan kan hulle mos maak wat hulle wil

A>P>L>Kotze ·

Is dit nie snaaks hoe ‘n klomp gewapende rooi brigade die opgevoede studerende studente, tot die uiterste koggel en tart nie. Ek word bang as ek dink wat gaan gebeur as studerende jeug “gatvol” raak vir die huidige bestuur se ” banggatgeit” Wat het van ons ou volkie geword? Nog nooit gedink die rooi brigade het soveel mag nie. Komaan manne beskem ons regte. “n Oupa uit die verlede. En trots daarop.

Flip ·

Nou toe nou! Die eerste bydrae wat ek sien vanaf die Taal en Kultuur organisasies. Waar is die Broederbond, Rapportryers en volksmoeders nou? Bietjie bang julle word gemerk?

Liz ·

Destyds het almal gelag oor Oranje, maar lyk my dis al opsie wat op die ou end gaan oorbly – so kan mens nie lewe nie. Mens betaal net belasting, her geen voordele daarvan nie, niks werk meer nie en dan is die lewe ook so onveilig. As mens in n land nie op die grondwetlike regte meer kan staatmaak nie, kort mens n plan B en vinnig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.