FAK Prestigeprys: Johan van Rensburg

Prestigeprys 2011
Commendatio vir Johan van Rensburg

Johan is in 1944 in Potchefstroom gebore en hy trap vir die eerste 35 jaar van sy baie diep spore in daardie dorp. Sy ouers was albei musikaal en al die kinders het formele klavier-opleiding geniet. Sy eerste kennismaking met ligte musiek was met sy pa se dansorkes.

Gedurende sy studentejare aan die destydse PU vir CHO, was Johan eers lid en later leier van die bekende Alabama Studentegeselskap. Onder sy musiekleiding het Alabama se heel eerste Revue in 1967 op die planke verskyn en was hy tot 1980 aktief betrokke by hierdie groep. Vir die afgelope (ongeveer) 20 jaar is hy die ere-president van hierdie studente¬organisasie en hy bly dus in voeling met hulle doen en late.

Nadat hy sy B.Mus Hons met klavier as hoofvak verkry het, het die universiteit hom ʼn dosentpos aangebied en hom aangemoedig om hom verder in die buiteland op die gebied van ligte musiek, te bekwaam. Hy en Rina is toe na Boston in die VSA waar hy by die Berklee College of Music die Professional Diploma in Arranging and Composition [Cum Laude] verwerf het terwyl Rina haar M.Mus in sang aan die New England Conservatory of Music verwerf het.

Bron: www.nootvirnoot.co.za

Johan het hom in daardie twee jaar ook verdiep in die nuwe vakgebied van elektroniese musiek en met sy terugkeer het hy ‘n soortgelyke elektroniese musiekkursus ontwikkel en aangebied. In daardie ateljee en met een van die eerste sintetiseerders in Suid-Afrika, het hy, op versoek van die SAUK, die kenwysie van die gewilde TV-reeks Nommer Asseblief gemaak.

In 1980 het Johan, op versoek van wyle prof. Chris Swanepoel, die pos as televisieregisseur van ligte Afrikaanse vermaaklikheidsprogramme, aanvaar. Vir die volgende nege jaar het hy feitlik carte blanche gehad om programme uit te dink en te maak waarin hy enige van die top Afrikaanse ligte musiek kunstenaars kon gebruik. Dit het begin met die eenvoudige Platepraatjies en later het dit verander in Teletreffers, Debuut, Applous, Alabama en talle ander. ʼn Hoogtepunt in hierdie deel van sy loopbaan was hy regisseur van Artes 84. Dit was ʼn opwindende tydperk in die vermaaklikheidswêreld!

Gedurende sy jare by die SAUK het hy ook die geleentheid gehad om baie musiek te komponeer, te verwerk en vir verskeie televisieprogramme op te neem. Baie van sy musiek is gebruik vir kenwysies van TV-, sowel as radioprogramme. Na buite het hy musiek gemaak vir lawwe flieks soos Oh Schucks it’s Shuster, Tolla is Tops en ook Elmo de Witt se Vergeet my nie.

In 1989 het hy en Johan Stemmet die SAUK verlaat en Stemmburg Televisie gestig wat op kontrakbasis vir die SAUK programme gemaak het. Kort daarna is hulle voorstel vir ʼn nuwe Afrikaanse musiekspeletjieprogram aanvaar en is Noot vir Noot in 1991 gebore. Hier was weer ʼn gulde geleentheid om kunstenaars in ligte musiek ʼn platform te bied, veral nadat feitlik alle ander soortgelyke geleenthede na 1994 verdwyn het. Noot vir Noot bereik ongekende sukses en die 37ste reeks is pas opgeneem. Oor die jare is die program vereer met talle toekennings oa ʼn Artes, SAMA, Oorkonde van die FAK, die ATKV, die Voortrekkers, die Afrikanerbond, die SAUK, en talle ander kultuurorganisasies.

Wyle prof Chris Swanepoel het Johan in 1981 genooi om deel te word van die FAK-Musiekkomitee. Dit was die begin van ʼn dertig jaarlange verbintenis. Hy kon aanvanklik as jongman skouer skuur met van die grootste geeste van ons musiekwêreld en het later as kundige, ‘n baie groot bydrae in belang van Afrikaanse musiek gelewer. In die FAK-Musiekkomitee kon hulle besin oor die musiekbelange van ons mense, die opdatering van die FAK-lekkersingliedjies en beurse toegeken aan talle ongelooflike, talentvolle jong musici.

Johan is nou semi-afgetree en kry meer tyd om vir Rina Hugo in haar sangloopbaan te ondersteun. Hy is egter steeds verantwoordelik vir al die musiek in Noot vir Noot en maak nog steeds baie nuwe musiek, veral vir Rina se optredes.

Daar is ook die vooruitsig van ‘n splinternuwe musiekprogram vir kykNET waarby hy betrokke gaan wees.

Johan het hom deur sy loopbaan beywer en so geposisioneer dat hy deurlopend geleenthede kon skep vir die blootstelling van ons Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaars.

Die FAK ken graag die Prestige Toekenning aan Johan van Rensburg toe vir sy BYDRAE TOT AFRIKAANSE MUSIEK EN SY ROL IN DIE FAK-MUSIEKKOMITEE.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.