FAK Toekenning vir besondere kultuurdiens: Dioné Prinsloo

Toekenning vir Besondere Kultuurdiens 2011
Commendatio vir dr Dionē Prinsloo

Dionē Prinsloo (née Meyer) is in Johannesburg gebore. Sy het haar skoolloopbaan aan Jan Celliers Laerskool en Helpmekaar Hoër Meisieskool voltooi en die grade BA en BA Hons aan die Universiteit van Pretoria behaal. Daarna het sy die grade MA en D Litt et Phil in Geskiedenis aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Sy was as senior lektor in Geskiedenis by UNISA werksaam tot met haar aftrede in Desember 2008.

Die omvangryke bydrae van Dionē Prinsloo lê veral op twee terreine. Sy het eerstens as historikus navorsing oor die geskiedenis van die Afrikaner in Suid-Afrika, Brittanje, Nederland en Vlaandere onderneem. Verder het sy die geskiedenis van verskeie maatskappye opgeteken – maatskappygeskiedenis is ʼn belangrike terrein wat helaas in Suid-Afrika nie altyd die aandag kry wat dit verdien nie. Verder het sy besonder betekenisvolle navorsing oor Afrikanerkultuurverenigings en Afrikaanse vroue in die twintigste eeu onderneem. Verskeie wetenskaplike publikasies het uit haar pen in vaktydskrifte verskyn en daarbenewens skryf sy steeds talle resensies van werke op haar vakgebied.

Haar tweede bydrae lê in haar aktiewe betrokkenheid in die georganiseerde kultuurwêreld. Sy is onder meer die voorsitter van die Vlaams-Suid-Afrikaanse Kultuurstigting (Tak Overvaal), van die Beweging Red Kerkplein en van Bandhulp vir Blindes (Afrikaanse boeke). Verder dien sy op die direksies van verskeie organisasies, wat AfriForum en die Nasionale Jeugtrust insluit. Sy is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedeniskommissie, ʼn benoemde raadgewer van die Straatnamekomitee van Pretoria en ʼn aktiewe lid van twee leeskringe.

Sy het ook noodsaaklike bydraes gelewer by vele ander instellings, byvoorbeeld die destydse Maatskappy vir Immigrasie (as direksie- en dagbestuurslid) en Dames Aktueel (onder meer as nasionale voorsitter). Sy is tans werksaam as noordelike koördineerder van die Afrikaanse Taalraad en tree dikwels as spreker by kulturele geleenthede op.

Dioné Prinsloo se bydrae tot die aktiwiteite van die FAK kan nie oorbeklemtoon word nie. Sy was ʼn jarelange benoemde lid van die hoofbestuur en lid van die uitvoerende komitee van die FAK. In 2000 is die FAK herstruktureer en van dié datum tot 2010 was sy as verkose lid deel van die direksie van die FAK.

Hierdie toekenning gee erkenning aan haar volgehoue insette op al hierdie gebiede. Dit getuig van haar passie vir Afrikaners en Afrikanergeskiedenis – nie net wat diens ten opsigte van die vaslegging van die verlede betref nie, maar ook wat die bou van die hede en toekoms aangaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.