FAK toekenning vir besondere kultuurprestasie: dr. Hans Fransen

Toekenning vir Besondere Kultuurprestasie 2011 Commendatio vir dr Hans Fransen

Die spoor van dr. Hans Fransen begin in die tussenoorlogse Amsterdam in Nederland. In 1955 onderbreek hy sy argitektuurstudie en verhuis as 24-jarige na Suid-Afrika waar hy hom aanvanklik in die Pretoria-omgewing as landmeter vestig.

Grade ontvang sluit in ʼn BA in Kunsgeskiedenis van die Universiteit van Suid-Afrika (1968), ʼn PhD in Kuns- en Argitektuurgeskiedenis van die Universiteit van Natal en ʼn DPhil, honoris causa, van die Universiteit van Stellenbosch (2008) vir sy bydrae tot die beskerming en waardering vir Suid-Afrikaanse kulturele skatte.

Hy begin sy merk in die Suid-Afrikaanse bewaringswêreld spoedig na sy aankoms in Suid-Afrika maak. Van 1962 tot 1964 tree hy op as Tussentydse Kurator van die Michaelis-versameling – ʼn versameling Vlaamse en Hollandse meesterwerke uit die 16de tot 18de eeu – in die Ou Stadshuis aan Groentemarkplein in Kaapstad. Van 1965 tot 2001 werk hy agtereenvolgens as kurator van die Stellenbosch-museum, kurator van Groot Constantia, assistent-direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, senior lektor in Kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Natal, direkteur van die Michaelis-versameling en gaslektor in Museumkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2001 ontvang hy ridderskap in die orde van Oranje-Nassau (2001) vir sy bewarings- en navorsingswerk van die Nederlandse kuns in Suid-Afrika met besondere verwysing na die Kaaps-Hollandse boukuns.

Met dr. Fransen se aankoms in Suid-Afrika was daar van Afrikaanse kant feitlik niks oor Kaaps-Hollandse argitektuur gepubliseer nie en weinig bewustheid rondom hierdie kultuurskat. In 1965 verskyn dr. Fransen en mede-skrywer Mary Cook se The Old Houses of the Cape – ʼn omvattende optekening van alle bestaande geboue in die Kaaps-Hollandse boustyl in die gebied wat strek van die Kaap tot Clanwilliam in die weste en tot by Graaff-Reinet in die ooste. Die publikasie is deeglik geïllustreer en bevat planne van beide die betrokke dorpe en huise.

Verskeie publikasies volg, insluitende
Gids tot die Museums van Suid-Afrika (1969, 1978)
The Old Buildings of the Cape (1980) – ʼn uitbreiding van The Old Houses of the Cape wat benewens die Kaaps-Hollandse styl ook die 18de- en 19de-eeuse Kaapse Regente, Georgiaanse en Victoriaanse style ingesluit het.
Drie Eeue Kuns in Suid-Afrika (1981)

Aftrede bied aan dr. Fransen die geleentheid om twee werke – waarvoor daar in hul velde nie gelykes is nie – te laat verskyn: in 2004 ʼn verreikende hersiening van The Old Buildings of the Cape wat nou 5700 geboue omvat; en in 2006 Old Towns and Villages of the Cape. Laasgenoemde is die eerste omvangryke studie oor die fisiese geskiedenis van die ouer dorpe van die voormalige Kaapkolonie en beskryf onder meer die totstandkoming van nuwe drostdydistrikte, Nederduits Gereformeerde gemeentes, boeredorpe, hawenedersettings en sendingdorpe. Mees onlangs, in 2009, voltooi hy ʼn biografie oor kunstenaar Erik Laubscher.

Behalwe vir sy gepubliseerde werke, is dr. Fransen bekend vir sy rol as stigterslid en/of yweraar by, onder meer, die Stigting Simon van der Stel (vandag die Stellenbosch Erfernisstigting), en die Volksboukunsvereniging van Suid-Afrika en die Algemeen-Nederlands Verbond. Langs laasgenoemde en ander weë dra hy by tot die instandhouding van historiese verbande tussen die Afrikaanse en Nederlandstalige wêrelde. Hy was die aanbieder van maandelikse praatjies, uitstappies en gesprekke om waardering en optekening van verskillende kunsvorme, insluitende meubelkuns, asook musiek en ander geskiedenis aan te moedig. Dr. Fransen se werke en aktiwiteite het meer as net die nagaan en restourasie van die fisiese behels.

Die FAK oorhandig graag die Toekenning vir Besondere Kultuurprestasie aan dr. Fransen vir sy pionierswerk in die optekening, bewaring en kontekstualisering van die Kaaps-Hollandse argitektuurskat in Suid-Afrika; sy ontledings van ander kunsvorme; sy verlewendiging van die plaaslike kunserfenis en sy bydrae tot die simboliese begrip daarvan; en vir die na-vore-bring en perspektiefstelling van die kuns, argitektuur en ontwikkelingspatrone uit Afrikanergeskiedenis.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.