Familieondernemings is die ruggraat van meeste ekonomieë

landbou-oestyd-boerdery-plaas

Foto: Heiko Janowski/Unsplash.com

Deur André Diederichs

Moenie die baba met die badwater uitgooi nie

ʼn Familieonderneming word bestuur en besit deur ʼn familie (meerderheidsaandeelhouding) en word bewaar vir toekomstige generasies.

Die betrokkenheid van familie by die sakeonderneming is emosioneel (sentimenteel) én finansieel (lewensbehoud vir die familie oor generasies) en daarom is familieondernemings oor die algemeen meer volhoubaar as ander sakeondernemings. Rentmeesterskap is dus ʼn kernwaarde en dit is dan ook die rede waarom familieondernemings suksesvol is.

Familieondernemings is ʼn groeiende tendens in die wêreld en vorm die ruggraat van die meeste lande in die wêreld se ekonomieë. Familieondernemings moet daarom deur regerings van lande vertroetel en beskerm word.

Die impak van familieondernemings is beduidend in bykans elke sektor van die wêreldekonomie. Volgens FABASA (Family Business Association of South Africa) behoort 78% van die welvaart in die VSA aan familieondernemings en is 75% van geregistreerde sakeondernemings in die VK familieondernemings. Daar word beraam dat die totale ekonomiese impak van familieondernemings op die globale BBP meer as 70 persent is.

familieondernemings-01

Grafika: Verskaf.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Ongeveer 80% van geregistreerde sakeondernemings in Suid-Afrika is familieondernemings.

Familieondernemings is veral beduidend in die landbousektor. Van die 570 miljoen kommersiële boere in die wêreld is 500 miljoen familieboerderye. In Suid-Afrika is 96% van kommersiële boerderye inderdaad familieboerderye.

Belangrike oorwegings:

Transformasie in Suid-Afrika is noodsaaklik om meer mense, veral diegene wat tradisioneel by die formele ekonomie uitgesluit is, betrokke te kry en te bemagtig om volhoubaar winsgewende sakeondernemings te vestig.

Dit is egter nie in die land se belang as transformasie veroorsaak dat bestaande goed gevesdigte familieondernemings benadeel word nie.

Dis noodsaaklik dat ons ʼn gesonde balans skep tussen politieke en ekonomiese aspirasies. Dink aan ʼn weegskaal, as die politieke oorweginge die ekonomiese oorwegings oorheers, dan bring transformasie onbedoelde negatiewe gevolge mee, soos gesien kan word in figuur 1 hieronder. Sou die balans tussen politiek en ekonomie gehandhaaf word, dan bring transformasie goed bedoelde positiewe gevolge mee, soos gesien kan word in figuur 2 hieronder.

familieondernemings-02

Grafika: Verskaf.

Die antwoord vir transformasie in ons land se belang is dus om ʼn ekonomies-politieke roete te volg wat sal verseker dat meer mense in Suid-Afrika betrokke kan raak by die formele ekonomie, sonder benadeling van bestaande, goed gevestigde familieondernemings.

Die bestaande brandpunt, waar politieke oorwegings ekonomiese oorwegings kan oorskry, is grondhervorming en die dreigende grondonteiening sonder vergoeding.

Dit is verstaanbaar dat mense wat voorheen nie kon deel wees van die formele ekonomie nie, ongeduldig raak ná 24 jaar van demokrasie, maar ons moet met omsigtigheid die proses bestuur om te verseker landbou groei – deur meer deelnemers en nie blote vervanging van bestaande gevestigde familieboerderye nie. Die antwoord is dat die “porsie” moet vergroot sodat meer mense daarin kan deel.

Praktiese oorwegings

  • Familieboerderye is wêreldwyd ʼn suksesvolle model omrede dit vir toekomstige generasies gevestig word en daarom omsigtig bestuur word om volhoubaarheid te skep. Dit skep ook langtermynvoedselsekerheid vir die land. Sou die familie-eenheid opgebreek word, dan is dit tot niemand se voordeel nie en sal die sakeonderneming uiteindelik misluk en gevolglik ook die land se sosiale en ekonomiese doelwitte.
  • Die wyse stap is om die hefboommomentum waaroor familieboerderye beskik, te benut, en sodoende transformasie te versnel. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is om aangrensende plase te gebruik (te koop) vir bemagtiging en bevoordeling van plaaswerkers en nuwe toetreders, sonder om die familie-eenheid op te breek, en sodoende die hefboomeffek te verloor. Bemagtigingsinisiatiewe soos AgriBEE moet voorsiening maak vir sulke modelle om te verseker dat bemagtiging suksesvol is.
  • Werklike bemagtiging kan nie plaasvind deur blote grondverskaffing nie. Landbou verg tegniese en sakekennis en nuwe toetreders moet bygestaan word om hul sakevernuf op te skerp. Bestaande gevestigde familieboerderye skep die ideale platform vir begunstigdes om toegang te hê tot tradisionele kennis om ekonomies te boer en toegang tot die mark te skep. Toerusting kan ook op hierdie wyse aan nuwe toetreders verskaf word.
  • Die beginsels wat familieboerderye suksesvol te maak, kan ook net so toegepas word vir die begunstigdes – soos rentmeesterskap, wat nuwe toetreders sal leer langtermyndoelwitte is veel beter: doen vandag die regte dinge om ʼn volhoubare familieboerdery vir hul nageslagte te skep. Daaglikse skakeling tussen gevestigde familieboerderye en nuwe toetreders kan gesonde landbou in Suid-Afrika verseker.
  • Laastens is dit belangrik dat beleidsekerheid spoedig geskep moet word om suksesvolle transformasie te verseker. Dit is ʼn natuurlike instink om dit wat deur generasies met sweet opgebou is, te wil beskerm, maar familieboerderye sal dan aktief betrokke moet raak by transformasie en bemagtiging van nuwe toetreders om hul eie toekoms te verseker en ontslae te raak van ʼn veg-, vlug- of vriesbenadering.

Suid-Afrika se ekonomie sukkel tans en ons moet oppas om nie die hartklop van ons ekonomie, naamlik familieondernemings – veral familieboerderye – te laat gaan staan deur politieke oorweginge ten koste van gesonde ekonomiese beleid nie. Ons moenie die baba met die badwater uitgooi nie!

  • André Diederichs is die hoofsameroeper van FABASA (Family Business Association of South Africa).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Produksie, Sakenuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Met die geskiedenis van die afgelope kwarteeu vars in die geheue, wat is die kans dat die kruisbestuiwing gaan afsmeer en die arende self gaan vlieg na mentorskap?

John ·

So die ryk en goed gevestigde familieboerderye moet uitgelos word; die ryk Agrikane moet bly en die ander kan maar gly en hoekom die spul so bly CR gaan vry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.