Federalisme bly die antwoord op SA kruispad

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Dit is duidelik dat Suid-Afrika nou in só ʼn omvattende krisis inbeweeg dat die land weereens voor ʼn historiese kruispad te staan gekom het. Die vraag is eerstens: Hoe het ons hier gekom? Tweedens volg: Hoe gaan ons hier uitkom?

Suid-Afrika het in die tagtigerjare algaande in ʼn politieke doodloopstraat beland, wat die destydse Nasionale Party-regering en die ANC as die twee hoofrolspelers van daardie tyd min beweegruimte gelaat het. Die ANC kon nie in sy doel slaag om die regering met ʼn gewelddadig rewolusie omver te werp nie, en die NP-regering kon nie genoeg swart vennote kry om sy hervormingsprojek te laat slaag nie.

Grootskaalse demografiese, politieke, ekonomiese en maatskaplike omwentelings het ʼn drastiese rigtingverandering genoodsaak. Daarby het die einde van die Koue Oorlog die politiek terselfdertyd “ontvries”, wat verdere druk op die twee hoofrolspelers geplaas het. Die groot vraag was egter: In watter rigting moes daar verander word?

Daar was basies twee keuses. Die eerste een was ʼn gewone “een mens, een stem”-meerderheidsregering wat oor die hele Afrika gebruik is, teenoor ʼn federale bedeling wat meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming sou verruil. Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, het só gewaarsku dat die gewone meerderheidsdemokrasie nie sal werk nie:

“In die Weste het demokrasie ontwikkel uit homogene samelewings. Daar was nie institusionele versperrings vir ʼn minderheid om ʼn meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ʼn tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitwissing.”

Federalisme

Daarteenoor het die Britse staatsman, Lord Acton, ʼn federasie gesien as die beste stelsel teen die misbruik van staatsmag soos wat nou alledaags in Suid-Afrika geword het: “Van alle soorte toetse aan demokrasie, was federasie die doeltreffendste en mees simpatieke … Die federale stelsel beperk en beheers die soewereine gesag deur dit te verdeel en slegs sekere omskrewe regte aan die regering toe te ken. Dit is die enigste metode om nie net die meerderheid nie maar ook die mag van al die mense in bedwang te hou.”

In die praktyk lei ʼn gewone meerderheidstelsel in ʼn land soos Suid-Afrika onvermydelik tot magsentralisasie, en het ʼn party selfs met 51% steun prakties 100% van die mag. Daarenteen word mag in ʼn federasie verdeel en versprei om te verseker dat gemeenskappe en provinsies oor die magte beskik om hulle regte te beskerm.

Dit is die rede hoekom multi-etniese federasies soos Switserland, Kanada en België bestendig en voorspoedig is, teenoor “demografiese demokrasieë” waar die meerderheidsregering in die praktyk tot meerderheidsoorheersing lei. Natuurlik is dit nie die enigste redes vir die Suid-Afrikaanse krisis nie, maar die ingeboude probleme in die 1996-bedeling raak nou duidelik vir almal om te sien.

Ingeboude gebreke

Die belangrikste ingeboude gebreke is:

  • Die historiese vraagstuk van die regulering van groepsverhoudinge is prakties gesproke grondwetlik geïgnoreer.
  • Die land se bevolkingsamestelling sou lei tot ʼn demografiese demokrasie waar die bevolkingsmeerderheid ʼn permanente ingeboude politieke meerderheid het.
  • ʼn Bedeling wat net vir individuele regte voorsiening maak, is te simplisties om die kompleksiteit van ʼn heterogene land soos Suid-Afrika te bestuur, omdat individuele regte nie genoegsame beskerming bied vir groepsregte nie.
  • Die individuele regte van die meerderheid weeg in die praktyk swaarder as die individuele regte van die minderheid.
  • Meerderheidsregering sal daarom noodwendig ontaard in meerderheidsoorheersing.
  • Dit moes voorsien word dat die ANC die multikulturele werklikheid van die land sou omskep tot sy beeld van ʼn monokulturele samelewing.
  • Gemeenskappe soos Afrikaners se belange sal onherstelbare skade ly in ʼn sentralistiese bedeling waar gemeenskappe geen oorspronklike magte het oor hulle sake nie.
  • ʼn Liberale grondwet is nie ontwerp en in staat om ʼn rewolusionêre party soos die ANC aan bande te lê nie.
  • Die ANC sal toegewings maak om die mag te kry, en dan ná bewindsoorname stelselmatig die mag gebruik om sy oorspronklike doelstellings te verwesenlik.
  • Politieke mag is sterker as grondwetlike gesag, en die politiek is in wese ʼn stryd om mag wat uiteindelik ook die regsorde sal verander.
  • Die ANC beskik nie oor die ideologiese toerusting of die kundigheid om ʼn moderne land te regeer nie.
  • Die voor-1994- regerende NP-elite het die post-Koue Oorlog- internasionale ontwikkelings vanaf ideologie na identiteit heeltemal misgekyk.
  • Dieselfde magselite het die ANC grondliggend onderskat en grondig verkeerd beoordeel volgens die uitsondering van die vyf Mandela-oorgangsjare in plaas van die ANC se veel langer geskiedenis.
  • Die talle botsende grondwetlike bepalings sou ná die 1994-bewindsverandering deur die uitvoerende, wetgewende én regterlike gesag in die guns van die magshebbers vertolk word.
  • Die botsing tussen eerstegeslag-vryheidsregte en tweedegeslag-gelykheidsregte sal deur politieke mag beslis word en tot sosialisme en die beperking van vryheid lei.
  • Die president se kaping van die staat deurdat mnr. Zuma die land deur sy aanstellings in plaas van sy instellings regeer, is ʼn onbedoelde maar heeltemal voorsienbare gevolg van die geweldige magskonsentrasie wat die Grondwet aan die president toeken.

Bedelingsprobleem

Suid-Afrika se probleem lê veel dieper as net ʼn “sikliese” leiers- of regeringsprobleem, en is eerder ʼn strukturele bedelingsprobleem. Sentralistiese partye met ʼn totalitêre ideologiese geneigdheid misbruik en monopoliseer staatsmag om kwesbare minderhede te benadeel.

Namate die politieke wittebrood van die Mandela-era oorgewaai en die gevolge van die ingeboude gebreke van die bedeling al duideliker geword het, is ons beweging gestig en het van krag tot krag gegroei. Maar die breë Afrikanergemeenskap het stelselmatig agtergekom dat wat as ʼn wonderwerkskikking voorgehou was, maar net ʼn gewone meerderheidsbedeling met ʼn tydelike reënboog van versiersuiker was.

Verskillende strategieë wat aangepak is

Daarom is daar oor die afgelope dekades vele projekte van stapel gestuur om Afrikanerbelange te beskerm, met en sonder ander vennote, groepe en organisasies. Hierdie strategieë kan kortliks soos volg opgesom word:

  • Deelname aan die regering van nasionale eenheid;
  • Opbouende betrokkenheid en goeie verhoudinge met die regering;
  • Politieke opposisie;
  • Gesprekke met die ANC- en regeringsleiers oor knelpunte;
  • Skakeling met en voorlegging aan die parlement en wetgewers se portefeuljekomitees;
  • Skakeling met staatsdepartemente;
  • Hofsake;
  • Skakeling met Pansat en die artikel 9-instellings soos die MRK, die artikel 185-kommissie en andere;
  • Binnelandse steunwerwing onder alle groepe en gemeenskappe;
  • Buitelandse steunwerwing;
  • Militante optrede deur enkele groepe;
  • Gemeenskaps- en burgerlike instellings en hulle selfdoenprojekte;
  • Die stigting van Orania as projek van groeiende gebiedselfstandigheid;
  • Projekte om deur mediaskakeling die openbare mening en die ideewêreld te beïnvloed.

Huidige stand van sake

Maar nieteenstaande vordering en pogings om staatsverval te keer, word dinge nie makliker nie. Die toenemende verstaatliking van die ANC, die versnelde verbrokkeling van die land, en die voortgaande demografiese omwenteling lei tot ʼn bedreiging vir die volhoubaarheid van die staat en tot ʼn dieper bestaanskrisis vir Afrikaners.

Daarom bly die vraag: Wat kan nou gedoen word om die land, die Afrikaanse taalgemeenskap en kultuurgemeenskappe soos Afrikaners in staat te stel om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika voort te bestaan?

Dit bly ʼn groot uitdaging in die lig van Afrikaners se dun verspreiding, die gebrek aan ʼn gesamentlike toekomsbeeld, die groot praktiese uitdagings wat te bowe gekom moet word, en die eise wat die daaglikse werklikheid aan ons mense stel. Planne moet praktiese hoop skep, sonder die valse verwagtinge van kitsoplossings wat al soveel skade berokken het.

Dit is so dat ʼn sentralistiese regering soos die ANC nie mag na federale dele sal wil afstaan nie. Maar die staat verswak nou so vinnig dat federalisme deur privatisering tot stand kom, soos privaat hospitale, privaat veiligheid-en-leefstyldorpe en privaat universiteite.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Nico K ·

Federasie sou beslis die antwoord gewees het en dit is so jammer ons het ons kanse voor 1994 deur die vingers laat glip. Maar die regses, soos die KP, het dit verwerp en die linkses waaronder die NP saam met die PFP het dit onnodig beskou en gedink alle rassisme gaan daarmee heen wees as apartheid afgeskaf word. Ek wys nie vingers nie, dit is maar so dat min mense die toekoms vooruit sien en mens kan nie iemand in die verlede beoordeel nie.

Boerseun ·

Verduidelik? Was almal te regs of te links? Verstaan nie. Nou vra ek, wie beheer n federasie, en wie hantaaf sy grondwet en verseker dit bly n federasie?

Adam ·

Interessante opmerking deur Mnr Buys. Ek glo dat hy, net soos talle ander van ons Afrikaner broers, ook in die vroee tagtigs voorstanders van federalisme as “kommuniste” in eie geledere beskou het. Vandag is die grootste deel van die destydse regse manne knus onder die DA sambreel. Jammer julle wou nie na Van Zyl Slabbert luister nie. Veertig jaar na die tyd is helaas veels te laat.

Dom Pietie ·

Dankie vir die uiteensetting Flip. Afrikaners beleef inderdaad hulle grootste bestaanskrisis sedert die Anglo-Boereoorlog. Die vraag bly net hoe op dees aarde ‘n mens nou ‘n federale bestel hier sal kan vestig? Gesprek, dialoog of verset om verder aan hierdie demokrasie deel te neem (dws belastingweerhouding) totdat daar na hulle geluister word? En dan die sensitiewe vraag van wie ons nou eintlik gaan verteenwoordig op so ‘n forum, want ons praat mos uit ‘n duisend verskillende monde en kan nie ons verskille tydelik opsy skuif selfs vir iets so lewensbelangriks soos dit nie.

JC ·

Belastingweerhouding IS inderdaad die antwoord, en die stig van eie instansies wat kompeteer met hierdie “demokratiese” instansies, sodat die bewindhebbers verlee raak. Die beursie is ongelukkig (ongelukkig, want dit wys op, en is tekenend van, ‘n gefaalde ekonomie en ‘n mislukte Republiek, waar die basiese beginsels v/d handves v. Regte nie eerbiedig word nie, ongeag ras en kultuur) DIE ENIGSTE DING WAT PRAAT, oftewel losweg die “betaal is (REGTIG) die wet van Transvaal” beginsel, soos gesien kon word met die spur en (a) TKV opstanding .
Dit is die enigste hefboom wat Afrikaners/Boere het, EN ONS MOET DIT GEBRUIK!!

Hendrik ·

Interresante feit is dat ‘n hele paar besigheidsmense wat met Dawie Roodt ook gepraat het praat van belastingweerhouding om verandering te bring. Die gesprek is op ‘n potgooi in Pretoria FM se webwerf. Hoe dit goed bestuur gaan word om die nodige impak te he is ‘n ander saak. ‘n Organisasie wat ten volle vetrou word met die belastinggeld en inkoop van besighede in die saak is baie belangrik.

Heinrich ·

Natuurlik is dit makliker gesê as gedaan, maar die privaat sektor moet maar net saam staan, en in plaas van om hul werknemers se belasting geld en korporatiewe belasting oor te betaal aan die taks man, skep ‘n soewerein fonds en betaal alles daar in. Universiteite, skole, water behandeling/suiwering aanlegte(Desalination plants), herwinbare energie aanlegte, ens. kan dan met daai geld gebou word. Entrepreneurs met behoorlike deurdinkte besigheids planne kan dan daaruit lenings maak om besighede te skep wat werk sal skep en ekonomiese groei sal veroorsaak.

Ek voel bitter wanneer ek op my salaris strokie sien hoeveel belasting ek betaal en al die geld gaan net in ‘n diep, donker put in, ‘n handjie vol mense beroof ons blind en niemand doen iets daaraan nie, daars geen ‘accountability’ vir staatsdiens werkers nie, almal gaan net mal en steel en bestee ‘like there’s no tomorrow’. Mense moet ophou dink, “ja maar wat kan ek nou doen?” Totdat ons almal nie saam staan nie, sal daar nie verandering kan kom nie.

Akademi Buktu ·

As staatsamptenaar wie se werk my oor vele jare heen intensief met parlementslede in verbinding gebring het (insluitend ‘n goeie klompie jare by ons departement se parlementêre kantoor) kon ek nie verstaan hoekom FW de Klerk twee sulke politieke liggewigte (Meyer en Wessels) op die onderhandelingsveld geplaas het nie. Maar terselfdertyd vra mens waar is die alwetende buitelandse regerings en ander liberales (bv sportboikotleiers) wat soveel druk toegepas het vandag? Tjoepstil.

Generaal Aardvark ·

@Akademi Buktu. Ons is by ‘n KRUISPAD! Om verwyte en modder te slinger gaan ons geen jota of titel in die sak bring nie. In elk geval, ek verstout my om te stel dat menere Meyer en Wessels die dienste van top regslui bekom het om insette te lewer by die formulering van die huidige Grondwet. Ons moet nou handvat, mekaar respekteer en fokus op die toekoms vir ons nageslag en mede-Suid-Afrikaners se onthalwe. Stuur gerus u voorstelle vir ‘n beter bedeling, plus ‘n konsep-grondwet aan mnr Flip Buys of publiseer dit in die media. Ek is seker u voorstelle sal kreatief wees.

JC ·

Ek stem saam met Generaal, so gou as moontlik moet ons as volk wat daarop geregtig is om ons eie toekoms te bepaa,l eise begin stel vir ons eie ONAFHANKLIKE en selfbeskikkende gebied/land.
Die tyd vir stry is verby en moet ons nou plan maak kom wat wil of die handdoek ingooi. “nood leer”

Boerseun ·

De Klerk het nie die “regse” seniors in sy party met jarelange ondervinding vertrou nie, want hulle kon moontlik nie als weg onderhandel soos beplan en aan hom gedikteer nie – dus het hy die linksgesinde juniors (Meyer en Seuns) gebruik om voor te loop en uit te verkoop.

JC ·

Dankie Flip, julle vinger is darem altyd op die pols! Julle verwoord die aktuele kwessies waarmee ons as Afrikaners mee te doen het op briljante wyse.
Yl verspreiding van Afrikaners moet omgekeer word en Afrikaners moet ‘n meerderheid wees binne ‘n semi outonome of federale gebied of gebiede sodat ons, ons eie toekoms kan beredder want selfs skole(HELPMEKAAR) is nou al onder aanval deur die meerderheid. Hulle wil ons oorheers en ons taal ook-hulle gaan ongelukkig om bewese redes nie regkom nie.

Ampie ·

Ek dink nie ‘n federasie sou veel verskil gemaak het nie. Die ANC regeer al vir meer as 20 jaar in 8 van die 9 provinsies. Die Wes-Kaap word beter regeer, maar die party aan bewind ondersteun ook BEE en “positiewe” diskriminasie. Dit beteken minderhede in Gauteng of Mpumalanga is maar net so uitgelewer as voorheen. Groepsregte (soos destyds beloof is) sou meer sin maak: eie skole, eie universiteite, taalregte, besluitnemening en begrotings vir eie sake, ens.

Rob ·

Maar natuurlik is ‘n ander oplossing behalwe ‘n onafhanklike Volkstaat, ‘n federale/konfederale bestel. En ja mens kan vra maar waar sou dit gelee wees, en wat van mense wat buite die grense van daai deelstaat wat meestal Blankes bevat le^. Die antwoord is ek weet nie, maar tans is ons almal staatloos en leierloos in hierdie ellendige unitere staat.
Die vraag is watter kragte het de Klerk en die NP verhoed om so opsie te oorweeg voor 1994??

Theresa ·

Dankie vir die insiggewende artikel. Ja, mens voel of daar niks meer oor is om te doen om hier te kan aanbly en steeds veilig en suksesvol te kan voortbestaan nie. Maar wanneer mens hierdie tipe inligting lees, kom die vraag op: Hoe kan ons as gewone mense dit laat gebeur? Wat staan ons te doen om steeds binne die wet (maklik as ons rebels en wild raak) dit laat omswaai na meer regverdigheid en beslis meer toespassing van wat reg is.

Peet J ·

Federalisme is ‘n stelsel van onderlinge stateverbond waarby die staat onafhanklik bly. Die ANC regering sou defnitief nie in federalisme op daardie stadium belang gestel het nie want die hele debakel het gehandel oor apartheid en dat die oorgawe van 1994 moes realiseer ook asgevolg van buitelandse druk , veral Amerika met Obama as die president, kyk ook wat het in Lybia gebeur asook met de Klerk wat op CNN ‘n onderhoud mee gevoer was oor die grondkwessie in Suid Afrika Ek onthou nog de Klerk se woorde” dat hy ‘n bloedbad in SA voorkom het sou die oorgawe nie plaasgevind het nie.”

Hennie de Bruin ·

ń Federale stelsel is aan wording. Elke gewone Burger moet net fokus op die ondersteuning van paralelle sisteme en instansies wat tot stand kom.
Ek predik dit al jare lank wat Afriforum en Solidariteit vandag en die afgelope paar jaar doen.
Help die Staat om sy werk te doen sonder sy hulp! Wen weer jou eie mense se vertroue!

De la Rey ·

Vele uitdagings en soos Flip tereg uitwys ‘n gebrek aan ‘n gedeelde toekomsvisie. Maar tog ontwikkel dit langsamerhand soos wat instellings en gemeenskappe se kulturele infrastruktuur intuimel. Dit het Afrikaners 46 jaar na die Anglo boere-oorlog geneem (na die 1914 rebellie en die 1920’s se mynwerkerstaking) om uiteindelik daardie gedeelde toekomsvisie te ontwikkel en die Nasionale Party aan bewind te plaas in 1948. Dis nou 23 jaar na die ou bedeling en stadig maar seker gaan die lig op vir Afrikaners. Dankie vir die goeie werk wat julle doen Flip!

Soos jy al vantevore gesé het die geskiedenis is nie verby nie. Die wiel draai beslis. Ons vertrou op die Vader en spring ook self in om betrokke te wees by ons gemeenskap.

Sterk staan Afrikaners ons kan anderkant uitkom!

JC ·

Dankie vir jou komentaar De la Rey :)
Ons moet maar net hard inspring en BOU en saamstaan dis al.
En Afrikaners kan saamstaan, as ons wil, maar daar sal altyd afvalliges wees; maar dit is geen rede om die stelling te betwyfel nie, maar eerder motivering!
Die duidelik onderdrukkende pad en rigting wat die ANC besig is om in te slaan; moet ook as wekroep vir ons dien en ons moet onsself weerbaar maak, aangesien kriminaliteit gedy in ‘n mislukte staat soos wat SA binnekort sal wees, of reeds is.
Solidariteit is op die regte pad.

rassie ·

Mnr Buys, as ou Afrikaner wat onder die Brite heerskappy van Lizzie II gebore is, as sub-A leerling die destydse Suid-Afrikaanse vlag tydens republiekwording gewaai het en later as volwassene in die bosoorlog geveg het wil ek die volgende opmerkings maak

Na my mening is dit duidelik dat die ou Afrikaner ideaal van republikeinse onafhanklikheid in enige deel van Suid-Afrika vir ewig verby is. So ook blyk federale selfbestuur nie moontlik te wees nie. Beide hierdie ideale stuit teen politieke, geografiese, demografiese en ekonomiese werklikhede wat in die kort termyn nie haalbaar is nie.

Na amper ‘n kwart eeu sedert 1994 is dit moontlik nou die tyd om die fokus te plaas op wat hulle nou noem “die oplossing in my tyd”. Iets wat nie in my tyd gaan gebeur nie gaan ek nie aan my kinders en kleinkinders kan gee nie. Ek kan hulle ook nie verseker dat so iets ooit gaan gebeur nie., al is my toekomsideaal vir hulle ookal hoe groot.

Na my mening blyk daar tans net drie opsies te wees. Of ek voeg my by die “weenkoor” aan die linker kant of by die “treurkoor’ aan die regterkant of ek soek na ‘n “hoor-hoor koor” met ‘n realistiese toekomsperspektief vir my en my Afrikaner nasate. Belangrik is dat dit heeltemaal binne die wet is. Daarom kies ek die “hoor-hoor koor”

Afriforum en die Solidaritetsbeweging se toekomsvisie is na my mening die “hoor-hoor koor”.

Jul toekomsvisie moet uiteraard verder gedetaileerd bedink word. Maar doet so voort.

Rupert Ashford ·

Baie goeie skrywe. Om egter nou terug te beweeg is soos om ‘n sjampanjeprop terug in die bottel te sit. Baie moeilik. Federalisme was destyds baie moeilik om te verkry om redes soos Nico K hierbo genoem het. Die ANC kon net die A woord gebruik (wat die basis van so ‘n stelsel met die tuislande in plek kon gevorm het) om dit te diskrediteer en die wereld het saamgeskree, en ongelukkig het die meerderheid van die swart bevolking saamgegaan met die ANC. Om dit vandag te maak werk sal witmense baie moet prysgee (en ek dink nie hulle sal voor dit nie onder dwang gebeur soos in Zim nie) en trek na ‘n plek soos Orania wat die regering nie in belangstel nie en dit met getalle “annekseer”, dan ‘n ooreenkoms beding en dit dan opbou in ‘n nuwe Gauteng. Maar enigiets wat reeds welvarend is en geplunder kan word (en vergeet die Boererepublieke) kan mens van vergeet.

Eish ·

Watookal julle wil doen, doen dit gou want ons word elke dag minder. Ek het 9 jaar n besigheid, een gewapende rooftog, een huisrooftog, eergister my vierde inbraak, alarm sisteem omseil, wag halfdood geslaan, kluis met plofstof oopgeblaas vir bittermin geld, dak beskadig, voordeur en staalroldeur oopgeblaas vir toegang. Die Here weet ons bloei.

De la Rey ·

Dis nie waar dat Afrikaners nie kan saamstaan nie. Dit impliseer ook dat ander groepe kan saamstaan wat ook nie waar is nie. Observasie van menslike gedrag en die geskiedenis leer dat dit normaal is vir mense om verskillende persepsies van die huidige en toekomstige te hé.

Kyk maar na die verdeeldhied in Brittanje rondom Brexit en in Amerika rondom Trump.

Wanneer daar egter ‘n spesifieke onderdrukkende en onbillike stel omstandighede van toepassing is op ‘n sekere groep ontwikkel daar mettertyd ‘n meer gemeenskaplike perspektief. Dit was die geval na die Anglo Boere-oorlog met die NP asook met die ANC tydens apartheid. Soos omstandighede verbeter ontstaan verdeelheid weer (soos ook gebeur het met die NP wat uiteindelik ontbind het asook die ANC wat nou gekenmerk word deur binnegevegte en verdeelheid).

Teen hierdie agtergrond ontwikkel daar stadig maar seker sterker eenheid tussen Afrikaners en die agent hiervoor is Solidariteit en Afriforum. Daar sal egter altyd ‘n persentasie andersdenkendes wees. Sonder twyfel swaai die pendulum egter en ontwikkel daar ‘n eenheid van begrip en denke rondom ons huidige situasie.

Alhoewel dit vir ons voel of alles verby is, is die waarheid dat die geskiedenis nooit verby is nie. Die wiel draai. Die Berlynse muur het geval. Apartheid het geval en die ANC sal uiteindelik ook val.

Kom ons vertrou na bo, raak vasberade, innoveer en wees betrokke in ons gemeenskap, ondersteun ons leiers (Solidariteit) en………..wag. Dan kyk ons wat gebeur!

Vasstaan Afrikaners die geskiedenis is nooit verby nie.

John ·

Lees ‘n slag weer die bewoording van die keuses wat kiesers destyds moes maak tov veranderinge in ons land. Kan iemand dit dalk vir ons weergee? Dit was doelbewus so gestel om mense hoogdrawend te verwar. Hoekom? Dit is seker die ingewikkeldste bewoording van enige stembrief ooit. Is die uitslag nie gedokter nie? Waarom is die onderskeie keuses nie aan die kiesers gestel nie, maar is daar namens hulle besluit? Uit bogenoemde kommentaar blyk dit dat sekere mense wat by die proses betrokke was nou hul hande in troebel Amarula wil was… waarvoor ons ander ten duurste betaal het en nog wou drink!

Rupert Ashford ·

John, dit is bekende taktiek van mense wat die vrae van referendums so formuleer dat dit dit die verlangde uitkoms begunstig bo die minder verlangde een. Hulle doen dit met meningspeilings ook – die dat mens min daarvan kan glo en dat veral die oor verkiesings en presidente se populariteit al meer uit pas raak met wat tydens verkiesings gebeur – die politici en die mense wat die diskoers probeer bepaal begin Jan Alleman al meer minag en reken hulle kan die publiek manipuleer. Maar ek is saam met jou hartseer oor daai Amarula.

Reinhardt ·

Daar is reeds partye wat federalisme steun. En ek praat nie van verregse partye nie. Gaan gerus na die Kaapse Party se webwerf (capeparty.com) en gaan lees hul manifes. As hulle genoeg stemme kan werf in 2019 dan kan hulle n setel in die parlement kry waarmee hulle ten minste die gesprek kan begin.

Die idee is om die regering van die Wes-Kaap te oorreed om n referendum te hou, en dan sien ons wat gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.