‘Federeer vir vooruitgang’, sê die IVP

Deur Monica Mynhardt 

Die meerderheid van politieke partye in Suid-Afrika verskil op die wyses waarop hulle die groter prentjie van ons politieke bestel wil inkleur. Daar is egter enkele partye wat ook beoog om die groter prentjie van ons politieke landskap geheel en al oor te teken. Partye soos die Inkatha Vryheidsparty (IVP), die VF+, die Cape Party en Front Nasionaal staan almal ’n alternatiewe politieke bestel voor – federalisme.

Selfs net die naam van die IVP spreek boekdele van hierdie party se doelstellings. Inkatha, vertaal uit Zoeloe, beteken “kroon van geweefde gras” – ’n kulturele embleem verteenwoordigend van die mag wat die Zoeloe-nasie verenig. Die IVP se naam spreek reeds van ’n onbeskaamde Zoeloe-party wat daarop uit is om die kroon en koninkryk van die Zoeloes te bevry van ons huidige politieke bestel – ’n party wat federalisme en onafhanklike vryheid voorstaan.

Die IVP se verkiesingsleuse vanjaar is “Trust Us”. Ten einde die IVP se ideologiese betroubaarheid te beoordeel, moet daar na die party se geskiedenis, breër ideologiese en fyner beleidsvoorstelle gekyk word.

Die geskiedenis

Die IVP se huidige en enigste leier, prins Mangosuthu Buthelezi is in 1928 as Zoeloe koninklike gebore. In 1972 word hy aangestel as die hoof uitvoerende raadslid van die KwaZulu wetgewende vergadering. In 1975 stig Buthelezi Inkatha yeSizwe, wat later as die IVP bekend sou staan. Die bestaansrede vir die party in daardie tyd, was om ’n platform te bied vir swart Suid-Afrikaners om ’n bevrydingstryd vir Afrikane te kan voer.

In die jare tot 1990 het die IVP aanhou groei, met uitsonderlike gewildheid onder Zoeloes, en deelgeneem aan die stryd om bevryding van apartheid. In 1990, ná Nelson Mandela se vrylating, is die IVP amptelik onder dié vaandel – uit die wortels van Inkatha yeSizwe – van stapel gestuur . Buthelezi is by die geleentheid ook as partyleier verkies en het die pos sedertdien beklee. Die IVP is vanuit koninklike Zoeloe-geledere gebore as party vir swart mense en spesifiek vir die Zoeloe-volk. Dié party het ons huidige demokrasie ver voorafgegaan en het van die staanspoor af een ideaal nagejaag – die selfbeskikking van die Zoeloe-volk binne ’n federale raamwerk.

Die groter prentjie

In sy manifes beskryf die IVP sy ideaal vir Suid-Afrika – dit wat die party glo tot voordeel van alle groepe in ons land sal wees. Die manifes beskryf duidelik hoe die IVP federalisme voorstaan en dat hulle subsidiariteit, oftewel mag wat afgewentel word tot op die laagste vlak, ondersteun. Verder beskryf die manifes dat Suid-Afrika ’n baie diverse samelewing is en dat pluralisme een van ons waardevolste eienskappe is. Ten einde die waarde hiervan egter ten volle te kan ontsluit, moet al die verskillende groepe in ons land bydra tot een gesamentlike doel.

Die party beskryf ook hoe kulturele identiteit van hierdie verskillende groepe op ’n laer gemeenskapsvlak bepaal moet word, eerder as ’n monotone kultuur wat van ’n gesentraliseerde regeringsvlak op die hele land afgedwing word. In die afwenteling van mag tot op gemeenskapsvlak, moet daar ook spesifieke beskerming van minderheidsgroepe in die grondwetlike raamwerk van die land verseker word. Hierdie is waarskynlik een van die beginsels wat die IVP van die meeste ander partye in ons land onderskei. Dié party glo dat mense op grond van kultuur identifiseer en dienooreenkomstig georganiseer moet word. Eerder as byna al die ander rasbehepte partye, sien die IVP die waarde van kultuur raak.

Die IVP lê ook klem op hoe daar, ten einde subsidiariteit te versterk, ’n onderskeid getref moet word tussen die funksies van die regering en die funksies van die gemeenskap. Die gemeenskap en individue moet ’n groot mate van outonomie oor persoonlike sake hê waarby die regeringsfeer nie moet kan inmeng nie.

In ’n neutedop ondersteun die IVP kulturele federalisme. Myns insiens is die IVP, en ander partye wat federalisme voorstaan, die naaste aan ’n stelsel wat vir Suid-Afrika sal kan werk. Ons land bestaan uit ’n verskeidenheid uiteenlopende kulture eerder as een mitiese eenvormige Suid-Afrikanistiese kultuur. Die oorgrote meerderheid van mense identifiseer primêr op taal en kultuur – ’n stelsel wat mense dienooreenkomstig organiseer, is een wat Suid-Afrika die beste kans op vooruitgang sal gee.

Die fyner detail

Siende dat fyner ideologiese uitgangspunte die aard van ’n party bepaal, moet die IVP ook op grond van ander beleidskwessies ontleed word. Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is die IVP van oortuiging dat die privaat sektor die beste skepper van groei en welvaart is. Vanuit hierdie vryemark-oogpunt is die IVP ook gekant teen onteiening sonder vergoeding. Die party se beleid is verder egter effe teenstrydig in hierdie verband. Die IVP wil ’n staatsbeheerde bank en ’n departement vir die jeug en werkskepping stig, ’n werkloosheidsregister skep en vennootskappe tussen die openbare en private sfere onderhou, met spesifieke fokus op staatsbeheerde entiteite en regeringsfunksies.

Die IVP se neigings na groot staatsmag word beklemtoon deur hul volkome ondersteuning van maatskaplike toelae. Verder wil die party toegang tot laekoste- gesubsidieerde behuising verhoog. Wat onderwys betref, is dié party van oortuiging dat onderwys vanaf vroeëkinderontwikkeling tot en met tersiêre onderwys gratis vir almal beskikbaar moet wees. In hierdie opsig blyk die IVP, in teenstelling met hul eie ondersteuning van subsidiariteit, eerder ’n massiewe welsynstaat te wil vorm.

Hoewel die IVP die privaat sektor prys, onderhou die beleid wat die party aanhang, steeds staatsafhanklikheid en uitgebreide staatsmag. Hierdie teenstrydighede spreek duidelik van ’n party wat effe skisofrenies is wat ekonomiese beleid betref.

Teenstrydig met die IVP se ondersteuning van meer mag op voetsoolvlak, neig die party na oormatige regulering en regeringsmag. Wat omgewingsake betref, beoog die IVP byvoorbeeld om enkelgebruikplastiek te verbied, geblikte jag te kriminaliseer en wetgewing daar te stel wat die gebruik van natuurlike hulpbronne reguleer. Hierdie tendens word voortgesit in die party se voorstel om wetgewing te implementeer wat gelyke betaling vir dieselfde werk gedoen deur mans en vroue af te dwing.

Iets wat egter weer strook met die voorgestelde subsidiariteit is die feit dat die IVP polisiemagte wil desentraliseer tot op provinsiale en plaaslike vlak. ’n Interessante beleidsvoorstel van die party is om weer die gesprek oor doodstraf te open. ’n Verdere voorstel van die party is ook om die minimum vonnis van sekere misdrywe te verhoog en ook dwangarbeid as straf vir gevangenes te implementeer.

 Gevolgtrekking

Die IVP is een van die oudste politieke partye wat aan vanjaar se verkiesing deelneem – ’n party wat sedert sy stigting steeds dieselfde ideaal najaag. Die idee van die IVP, ’n party wat kulturele federalisme verstaan en voorstaan, het volgens my baie meriete. Wat die groter prentjie betref, het hierdie party beslis dieper insigte ten opsigte van dit wat kan werk vir Suid-Afrika.

Die IVP se fyner beleidsvoorstelle blyk egter in skrille kontras met hul eie voorstel van subsidiariteit te wees. Die enorme welsynstaat wat dié party voorstaan, ondermyn nie net die beginsel van die afwenteling van mag nie, maar opper ook ernstige vrae oor die party se ware verstaan en ondersteuning van subsidiariteit. Hierdie teenstrydigheid spreek dalk van ’n party wat net in die onafhanklikheid van die Zoeloe-ryk eerder as ’n ware federale stelsel van subsidiariteit vir Suid-Afrika belangstel.

Weens die flagrante politieke oneerlikheid wat ons land die afgelope tyd gedefinieer het, het die IVP hierdie verkiesingseisoen gesê “Trust Us”. As ’n party wat onafhanklik oor die Zoeloe-nasie wil regeer, en die Zoeloe-koninkryk oënskynlik weer sentraal tot hierdie mag wil plaas, sou dit dalk meer vanpas wees om ’n leuse te hê wat sê “Ingonyama Trust Us”.

  • Monica Mynhardt doen tans ’n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Valerie ·

Ek lees: “Federer vir vooruitgang, sê IVP.” Amper opgespring van opgewondenheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.