Feiteblad: Apartheid en kommunisme

ernst-roets-apartheid-en-kommunisme

‘n Skermskoot uit die video.

Die Nelson Mandela-stigting (NMS) het die gelykheidshof genader vir ’n verklarende bevel dat die “ongevraagde vertoning” van die ou Suid-Afrikaanse vlag tot haatspraak verklaar word en dat die vlag verbied moet word.

Die NMS voer aan dat wanneer mense die ou Suid-Afrikaanse vlag sien, hulle aan apartheid herinner word en dat hulle gevoelens gekrenk word. Daarom moet die vlag tot haatspraak verklaar word. In die hofstukke word apartheid met Nazisme vergelyk en word aangevoer dat apartheid erger as kommunisme was.

Kom ons kyk…

Natuurlik het daar dinge in die verlede gebeur wat verkeerd is en wat veroordeel moet word. Niemand stry daarteen nie. Wat wel kommerwekkend is, is die bedrieglike narratief waarin feëverhale as feite voorgehou word. Die nuutste liegstorie is presies dit wat die Stigting aanvoer – dat apartheid net so wreed soos Nazisme was omdat albei ’n misdaad teen die mensdom is, en dat apartheid baie erger as kommunisme is omdat kommunisme nooit as ’n misdaad teen die mensdom verklaar is nie.

Sonder om eers te fokus op die vergadering waar besluit is dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is – waaroor baie gesê kan word – kom ons kyk net na die feite op grondvlak.

Meningspeilings deur die Institute for Justice and Reconciliation het bevind dat Suid-Afrikaners van alle rasse toenemend begin glo dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. In 2003 het 87% van mense in Suid-Afrika gedink dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Teen 2017 het hierdie syfer gedaal tot 77%. Die koers waarteen swart mense hul standpunt oor apartheid verander, is vinniger as die koers onder wit mense.

Alan Paton, wat ’n vriend van oudpres. Nelson Mandela was, het gesê dat dit ’n “prostitution of language” is om apartheid met Nazisme te vergelyk. Enigiemand wat hierdie vergelyking wil tref, kan gerus gaan lees wat in die naam van Nazisme gedoen is. Om die waarheid te sê, die vergelyking is absurd. Soveel te meer indien aangevoer word dat apartheid erger as kommunisme is.

Die Joodse volksmoord het oor ’n tydperk van vier jaar plaasgevind, waartydens ses miljoen mense dood is. Dit kom neer op sowat 1,5 miljoen sterftes per jaar. Maar dan praat ons nog nie eers van kommunisme nie. Vir elke persoon wat in die naam van Nazisme gedood is, is rofweg 15 mense in die naam van kommunisme gedood. Gedurende die sogenaamde Groot Sprong Voorwaarts van die kommunistiese held Mao Zedong is 45 miljoen mense in vier jaar gedood. Dit kom neer op ’n gemiddeld van 11 250 000 per jaar!

Altesaam 21 000 mense het as gevolg van politieke geweld tydens apartheid gesterf. Dit het oor ’n tydperk van 46 jaar gebeur en kom dus neer op 457 politieke sterftes per jaar. Dit is 0,004% van die jaarlikse sterftes gedurende die Groot Sprong Voorwaarts.

Die argument oor politieke sterftes word nog meer vertroebel indien ons gaan kyk wie nou eintlik vir die dood van daardie 21 000 mense verantwoordelik was.

Ons weet dat die ANC deur die kommunistiese Sowjet-unie gefinansier is en dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) die rol van “ideologiese leier” in die bevrydingstryd gespeel het. Dit is ook nie ’n geheim nie dat die ANC in 1979 in opdrag van die Sowjetunie na Viëtnam gestuur is om te leer hoe hulle teen die apartheidsregering moet struggle. Daar het hulle die sogenaamde people’s war-strategie (wat deur Mao Zedong ontwikkel is) geleer. Dit het daarop neergekom dat ’n verwoestende oorlog teen swart mededingende organisasies van stapel gestuur moet word sodat daardie organisasies geneutraliseer kan word ten einde die ANC se posisie as leier in die bevrydingstryd en aangewese toekomstige regerende party te verskans. Dit is waarom politieke geweld tussen swart organisasies in die vroeë 1980’s uitgebreek het.

Strike Thokoane, destydse vriend van Steve Biko en ’n leier in die Swart Bewussynsbeweging (BCM) – wat deur die ANC as ’n opponent beskou is – verduidelik dit só: “Initially there were debates as to which philosophy is correct for our country… We were caught by surprise somewhere in the early 1980s – we believe it was under the direction of the ANC – that they became intolerant of the Black Consciousness Movement. They became intolerant of the philosophy and started attacking us. It even went to an extent where houses were burned. It went to an extent where people were executed. It went to an extent where people were necklaced.” Meer as 500 mense is gedurende hierdie tyd by wyse van die “halssnoermetode” vermoor en 700 is op ander maniere doodgebrand.

Thokoane verduidelik die invloed van kommunisme op die ANC se strategie:

“It was just a Soviet way of doing things – that you liquidate and eliminate (rivals) so that you can then have political space. That also weakened the organisation, because a lot of people who were in the leadership of the Black Consciousness Movement and Azapo then said, ‘When we got into politics, we never thought that we would die at the hands of our own brothers.’”

Die Menseregtekommissie (MRK) het verder bevind dat meer as 90% van die 21 000 politieke moorde gedurende apartheid tydens die ANC se kommunisties-geïnspireerde people’s war gepleeg is. 3% is deur die apartheidsregering doodgemaak en 0,5% is deur regse groepe doodgemaak.

Indien die ou Suid-Afrikaanse vlag dus op grond van die aanstootlikheidswaarde daarvan tot haatspraak verklaar en verbied moet word, kan ’n veel sterker argument aangevoer word dat die SAKP en selfs die ANC se vlag ook verbied moet word. Dit is egter nie die aangewese manier om aanstootlikheid te beveg nie.

Daar is ’n nuwe tirannie in Suid-Afrika. Dit is ’n tirannie van politieke korrektheid, ’n tirannie van verwronge politieke denke. Daar word vir ons voorgeskryf wat ons politieke denke moet wees, en indien ons nie daaraan voldoen nie, word ons van bose sameswerings en onderdrukking beskuldig. Dit is ’n ideologie wat nie net op ’n verdraaiing van die verlede gebou is nie, maar wat vir sy voortbestaan van daardie verdraaiing afhanklik is. Dit is ’n ideologie wat met gewone feite vernietig kan word. Daarom het dit nodig geword – in belang van die voortbestaan van hierdie ideologie – dat die feite onder die mat gevee word en dat allerhande versinsels van die verlede in ons kele afgedruk word. As ons die leuens uitwys, dan word ons as apartheidsapologete uitgekryt. Om valslik as ’n apartheidsapologeet uitgekryt te word, is egter ’n beter alternatief as gedienstigheid aan ’n leuenagtige politieke ideologie.

Ons sal sonder skroom of twyfel moet baklei vir ’n eerlike beoordeling van ons verlede.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
peanut

Ek lees hierdie artikel en ek lees Solly Mieng se “Where is the empayhy, south Africa” artikel op Fin24, en ek wil my hare uit my kop trek oor die onwaarhede wat as feite uitbasein wird.
Kan julle GROOT ASB hierdie artikel vertaal in Engels en dit plaas op News24 se webwerf, dat daar tenminste korrekte feite in die land en oorsee versprei word.

Pietman

goeie artikel. Elke afrikaner behoort hierdie feite in sy slaap te kan opnoem.

Jerry

Vat die verlede wat aanvegbaar is (boos was) en begrawe dit in julle simboliese kis en behou slegs die goeie, die onaanvegbare verlede en bou daarop jou toekoms en fokus minder op die verlede en meer op die TOEKOMS! Julle reageer te vinnig wanneer die skoen julle pas en in meeste gevalle is dit n strik wat deur die leuenagtige politieke ideologiese denkers vir julle gestel word. Afrikaans must fall was n strik wat deur die EFF gestel was wat julle en die universiteitsowerhede teen mekaar laat afspeel het. So was die getrap op die ou SA vlag n strik… Lees meer »

Dankie

Ja want ek sien steeds (jong) swartmense praat van die kindertjies wat so in die apartheidsera vermoor is. Ek neem aan hulle praat van kinders wat in optogte deelgeneem het en petrolbomme en bakstene na die polisie gegooi het? Ek het nog nooit gehoor van enige witman wat in ‘n swartman se huis ingegaan het selfs tydens apartheid en hulle vrouens verkrag sowel as kinders en hulle daarna in kookwater gedruk en verbrand het nie?? Ek glo daar het baie dinge gedurende apartheid gebeur, maar nie naastenby die goed wat nou oop en bloot gebeur soos plaas en huismoorde nie.… Lees meer »

christa

Die ou SA Flag laat my dink aan orde, waar jy saans op straat kan stap en winkelvensters bekyk, kinders vry kon buite speel en jy nog veilig in jou eie woning is. Die ANC flag laat my plaasmoorde sien, geen veiligheid en in jou eie woning agter tralies.