Feiteblad: Apartheid en kommunisme

ernst-roets-apartheid-en-kommunisme

‘n Skermskoot uit die video.

Die Nelson Mandela-stigting (NMS) het die gelykheidshof genader vir ’n verklarende bevel dat die “ongevraagde vertoning” van die ou Suid-Afrikaanse vlag tot haatspraak verklaar word en dat die vlag verbied moet word.

Die NMS voer aan dat wanneer mense die ou Suid-Afrikaanse vlag sien, hulle aan apartheid herinner word en dat hulle gevoelens gekrenk word. Daarom moet die vlag tot haatspraak verklaar word. In die hofstukke word apartheid met Nazisme vergelyk en word aangevoer dat apartheid erger as kommunisme was.

Kom ons kyk…

Natuurlik het daar dinge in die verlede gebeur wat verkeerd is en wat veroordeel moet word. Niemand stry daarteen nie. Wat wel kommerwekkend is, is die bedrieglike narratief waarin feëverhale as feite voorgehou word. Die nuutste liegstorie is presies dit wat die Stigting aanvoer – dat apartheid net so wreed soos Nazisme was omdat albei ’n misdaad teen die mensdom is, en dat apartheid baie erger as kommunisme is omdat kommunisme nooit as ’n misdaad teen die mensdom verklaar is nie.

Sonder om eers te fokus op die vergadering waar besluit is dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is – waaroor baie gesê kan word – kom ons kyk net na die feite op grondvlak.

Meningspeilings deur die Institute for Justice and Reconciliation het bevind dat Suid-Afrikaners van alle rasse toenemend begin glo dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. In 2003 het 87% van mense in Suid-Afrika gedink dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Teen 2017 het hierdie syfer gedaal tot 77%. Die koers waarteen swart mense hul standpunt oor apartheid verander, is vinniger as die koers onder wit mense.

Alan Paton, wat ’n vriend van oudpres. Nelson Mandela was, het gesê dat dit ’n “prostitution of language” is om apartheid met Nazisme te vergelyk. Enigiemand wat hierdie vergelyking wil tref, kan gerus gaan lees wat in die naam van Nazisme gedoen is. Om die waarheid te sê, die vergelyking is absurd. Soveel te meer indien aangevoer word dat apartheid erger as kommunisme is.

Die Joodse volksmoord het oor ’n tydperk van vier jaar plaasgevind, waartydens ses miljoen mense dood is. Dit kom neer op sowat 1,5 miljoen sterftes per jaar. Maar dan praat ons nog nie eers van kommunisme nie. Vir elke persoon wat in die naam van Nazisme gedood is, is rofweg 15 mense in die naam van kommunisme gedood. Gedurende die sogenaamde Groot Sprong Voorwaarts van die kommunistiese held Mao Zedong is 45 miljoen mense in vier jaar gedood. Dit kom neer op ’n gemiddeld van 11 250 000 per jaar!

Altesaam 21 000 mense het as gevolg van politieke geweld tydens apartheid gesterf. Dit het oor ’n tydperk van 46 jaar gebeur en kom dus neer op 457 politieke sterftes per jaar. Dit is 0,004% van die jaarlikse sterftes gedurende die Groot Sprong Voorwaarts.

Die argument oor politieke sterftes word nog meer vertroebel indien ons gaan kyk wie nou eintlik vir die dood van daardie 21 000 mense verantwoordelik was.

Ons weet dat die ANC deur die kommunistiese Sowjet-unie gefinansier is en dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) die rol van “ideologiese leier” in die bevrydingstryd gespeel het. Dit is ook nie ’n geheim nie dat die ANC in 1979 in opdrag van die Sowjetunie na Viëtnam gestuur is om te leer hoe hulle teen die apartheidsregering moet struggle. Daar het hulle die sogenaamde people’s war-strategie (wat deur Mao Zedong ontwikkel is) geleer. Dit het daarop neergekom dat ’n verwoestende oorlog teen swart mededingende organisasies van stapel gestuur moet word sodat daardie organisasies geneutraliseer kan word ten einde die ANC se posisie as leier in die bevrydingstryd en aangewese toekomstige regerende party te verskans. Dit is waarom politieke geweld tussen swart organisasies in die vroeë 1980’s uitgebreek het.

Strike Thokoane, destydse vriend van Steve Biko en ’n leier in die Swart Bewussynsbeweging (BCM) – wat deur die ANC as ’n opponent beskou is – verduidelik dit só: “Initially there were debates as to which philosophy is correct for our country… We were caught by surprise somewhere in the early 1980s – we believe it was under the direction of the ANC – that they became intolerant of the Black Consciousness Movement. They became intolerant of the philosophy and started attacking us. It even went to an extent where houses were burned. It went to an extent where people were executed. It went to an extent where people were necklaced.” Meer as 500 mense is gedurende hierdie tyd by wyse van die “halssnoermetode” vermoor en 700 is op ander maniere doodgebrand.

Thokoane verduidelik die invloed van kommunisme op die ANC se strategie:

“It was just a Soviet way of doing things – that you liquidate and eliminate (rivals) so that you can then have political space. That also weakened the organisation, because a lot of people who were in the leadership of the Black Consciousness Movement and Azapo then said, ‘When we got into politics, we never thought that we would die at the hands of our own brothers.’”

Die Menseregtekommissie (MRK) het verder bevind dat meer as 90% van die 21 000 politieke moorde gedurende apartheid tydens die ANC se kommunisties-geïnspireerde people’s war gepleeg is. 3% is deur die apartheidsregering doodgemaak en 0,5% is deur regse groepe doodgemaak.

Indien die ou Suid-Afrikaanse vlag dus op grond van die aanstootlikheidswaarde daarvan tot haatspraak verklaar en verbied moet word, kan ’n veel sterker argument aangevoer word dat die SAKP en selfs die ANC se vlag ook verbied moet word. Dit is egter nie die aangewese manier om aanstootlikheid te beveg nie.

Daar is ’n nuwe tirannie in Suid-Afrika. Dit is ’n tirannie van politieke korrektheid, ’n tirannie van verwronge politieke denke. Daar word vir ons voorgeskryf wat ons politieke denke moet wees, en indien ons nie daaraan voldoen nie, word ons van bose sameswerings en onderdrukking beskuldig. Dit is ’n ideologie wat nie net op ’n verdraaiing van die verlede gebou is nie, maar wat vir sy voortbestaan van daardie verdraaiing afhanklik is. Dit is ’n ideologie wat met gewone feite vernietig kan word. Daarom het dit nodig geword – in belang van die voortbestaan van hierdie ideologie – dat die feite onder die mat gevee word en dat allerhande versinsels van die verlede in ons kele afgedruk word. As ons die leuens uitwys, dan word ons as apartheidsapologete uitgekryt. Om valslik as ’n apartheidsapologeet uitgekryt te word, is egter ’n beter alternatief as gedienstigheid aan ’n leuenagtige politieke ideologie.

Ons sal sonder skroom of twyfel moet baklei vir ’n eerlike beoordeling van ons verlede.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

peanut ·

Ek lees hierdie artikel en ek lees Solly Mieng se “Where is the empayhy, south Africa” artikel op Fin24, en ek wil my hare uit my kop trek oor die onwaarhede wat as feite uitbasein wird.
Kan julle GROOT ASB hierdie artikel vertaal in Engels en dit plaas op News24 se webwerf, dat daar tenminste korrekte feite in die land en oorsee versprei word.

Pietman ·

goeie artikel. Elke afrikaner behoort hierdie feite in sy slaap te kan opnoem.

Jerry ·

Vat die verlede wat aanvegbaar is (boos was) en begrawe dit in julle simboliese kis en behou slegs die goeie, die onaanvegbare verlede en bou daarop jou toekoms en fokus minder op die verlede en meer op die TOEKOMS! Julle reageer te vinnig wanneer die skoen julle pas en in meeste gevalle is dit n strik wat deur die leuenagtige politieke ideologiese denkers vir julle gestel word. Afrikaans must fall was n strik wat deur die EFF gestel was wat julle en die universiteitsowerhede teen mekaar laat afspeel het. So was die getrap op die ou SA vlag n strik wat gestel was. So is daar in elke idee of dreigement teen n Afrikaner belang, n strik wat gestel word en daarom is dit belangrik om elke aantyging, beskuldiging of dreigement te ontleed om die verskuilde motief te bepaal en die aanvegbaarheid van die motief. Indien die motief n strik is en nie aanvegbaar is nie, moet dan nie reageer nie! Reageer slegs wanneer dit gewaarborg is dat jy as wenner uit die stryd sal tree. Om die verskoning te opper dat jy sekere veldslae sal verloor in jou stryd om die oorlog te wen is misleidend en dui daarop dat julle sukkel om onderskeid te tref tussen die aanvegbare en onaanvegbare! Daar is geskrewe feite en dan is daar ongeskrewe feite wat jy nie in boeke gaan kry nie en dit tel in die afrikanistiese ideologiee meer as geskrewe feite.

Paul ·

Soos per Ernst se skrywe hier bo kom die waarheid stukkie vir stukkie uit. Malema en Zuma is op 6 April (ironies, dan is dit Van Riebeeckdag) in die hof, elkeen op sy eie aanklagte, dan sal daar nog waarhede ontbloot word, so val die stukkies van die legkaart die een na die ander in plek.

Dankie ·

Ja want ek sien steeds (jong) swartmense praat van die kindertjies wat so in die apartheidsera vermoor is. Ek neem aan hulle praat van kinders wat in optogte deelgeneem het en petrolbomme en bakstene na die polisie gegooi het? Ek het nog nooit gehoor van enige witman wat in ‘n swartman se huis ingegaan het selfs tydens apartheid en hulle vrouens verkrag sowel as kinders en hulle daarna in kookwater gedruk en verbrand het nie?? Ek glo daar het baie dinge gedurende apartheid gebeur, maar nie naastenby die goed wat nou oop en bloot gebeur soos plaas en huismoorde nie. EK glo die veiligheidspolisie moes die LAND se veiligheid te behou en die inwoners beskerm en het daarom OPGETREE teen amokmakers en mense wat die landsveiligeid bedreig want as ek dit reg het IS dit die plig van die polisie om LANDSVEILIGHEID te probeer beskerm?? Nou word kinders wat klipgegooi en skole aan die brand gesteek word vergelyk met babas wat in ‘n plaashuis le en slaap en verkrag en vermoor word ??die JONGMENSE word opgesteek en is oningelig omtrent apartheid. WAS DAAR APARTHEID WREEDHEDE? Natuurlik was daar . maar die woord apartheid geniet te veel aandag .. in Amerika is die swart en witmense kort kort slaags VERAL die wit polisie in SWART buurte . is dit ook apartheid of probeer hulle net die mense beskerm en veilig hou en teen DWELMSMOKKELAARS optree?? Gedurende Apartheid sou MALEMA in die tronk gesit het . MET REDE!!!

christa ·

Die ou SA Flag laat my dink aan orde, waar jy saans op straat kan stap en winkelvensters bekyk, kinders vry kon buite speel en jy nog veilig in jou eie woning is. Die ANC flag laat my plaasmoorde sien, geen veiligheid en in jou eie woning agter tralies.

DG ·

Die was in die weermag betrokke by eenhede wat diens gedoen het in Soweto. Ons het tussen 120 en 160 lyke per dag opgetel tussen 1990 en 1994 in Soweto alleen. Nou praat ek nie van die ander townships nie. Dit was die faksie gevegte tussen Inkata en ANC. Dit was broer teen broer, Kain teen Abel. Ek kan die artikel op grondvlak bevestig. Dankie vir die artikel, die fabels wat nou versin word moet in die kiem gesmoor word.

Willem ·

Nou vra ek myself af, na ek die bogemelde gelees het, hoe kan mens jou ooit versoen met die ANC, sy werkswyse, hul ideologie en die onwaarhede waarmee hulle ons bombardeer.

Kabous ·

Uitstekende artikel Ernst. Stem heel hartig saam Peanut, tyd dat n ernstige poging aangewend word om die massas se oe oop te maak. Miskien het dit tyd geword dat Afriforum met n grootskaalse bewusmakingsveltog onder die massas begin.

Pieter Hugo ·

Insiggewende statistieke. Die MRK se bevinding oor die 90% van die 21000 apartheidsterftes – i s daar ‘n aanlyn bron/verwysing?

Kosie Kramer ·

My familie was polisiemanne en -vroue, soldate, gevangenisdiensmense, en ons weet van die gruweldade. Ek stem egter nie saam met DG dat ons die valshede “in die kiem smoor” nie. Dis meer effektief om die feite, veral bewysbare feite, bekend te maak. Publiseer die foto’s van die “necklace”-moorde as voorbeeld.“Laat die waarheid jou vrymaak”.
Tweedens, moet ons ook kyk na die bevondsing van organisasies. `n Paar jaar gelede het Naspers berig dat die ANC ongeveer 31% van Shell SA besit. Indien dit so is, gaan kla by die Nederlanders/Britte. In Nederland mag `n politieke party nie aandele in Royal Dutch Shell besit nie, waarom is die ANC uitgesonder? Ons moet ook (veral) Amerikaanse nie-regeringsorganisasies soos Freedom House, USAID, National Endowment for Democracy, en George Soros se Open Society begin dophou. Hulle verskaf miljoene om regerings waarvan hulle nie hou nie, (ons is `n BRICS land) te destabiliseer – deur onder meer te fokus op sekere simbole [soos die vlag, volkslied, standbeelde] ens. Hulle is erg bedrywig hier.

Koos1 ·

Niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie!
Ek was die naweek in ‘n winkelsentrum en het meer as een keer tieners, seker so 16 jaar oud, van alle rasse saam sien fliek en gaan eet (nie in die selfde teater en restaurant nie, maar as ‘n groep saam by dieselfde tafel).
Rasisme is die ENIGSTE “tool” wat die politieke partye kan gebruik om punte te “score” en as ek na die jeug kyk, is dit ook besig om stadig maar vining te taan, daarom word die ou vlag maar ingespan. as die sy doel gedien het dat sal iets nuuts weer gevind word. Dink net, die baklei het teen apartheid begin, nou is dit van die boeke af toe kom die res, Jan van Riebeeck, Wit monopolie kapitaal, diefstal van grond ens. En wie verkondig hierdie as die waarheid? Politikuste!

Eish ·

Korrek, dit is miskien ook te danke daaraan dat geen opleiding of kwalifikasie verwerf hoef te word om tot die politiek toe te tree nie, self n analfabeet kan n politikus word.
Hou maar die waarheidspropagandamasjien sekuur gerig op die buiteland en in besonder die Weste. Binnelands val die feite op dowe en onwillige ore.

JC ·

Een woord: uitstekend!!! Hoera !!!
Asb. Afriforum- wys tog hierdie vir Mabuza en Dlamini-Zuma.(vertaal dit net eers na Engels. /s.)

Jerry ·

Ek kan nie anders as om met Dankie saam te stem dat ons, onself nie in die ou SA bevind nie, maar wel in die nuwe SA. Die politieke speelveld is alles behalwe gelyk omrede die skoen nou aan die ander voet is en is die verlede besig om homself te herhaal deurdat staatsveiligheid en die polisie sal optree teen diegene wat deur watse verset ookal landsveiligheid of wat in landsbelang is bedreig. So byvoorbeeld word grondonteiening of herverdeling deur die met die grootste politieke mag geag as in landsbelang. Bedreig hierdie proses en dan sal jy opeindig waar die wat hulle gedurende apartheid verset het, opgeeindig het. Om te versoen is nie om met die ANC te versoen nie, dit is om te versoen vir gewaarborgde vrede, verskansde en beskermde belange, politieke stabiliteit en om geweld en vervolging te keer en te stop voordat dit die vlak van anargie kan bereik.

Opel ·

Tong in die kies. Is anargie nie dalk n beter kans om voort te bestaan nie. As n padda wat kook in die pot. Anargie sal ten minste die volstruise hulle koppe uit die grond laat haal.

jaco ·

as die ANC-SAKP-alliansie net sedert 1994 kommunisme toegepas het soos in die Sowjet-Unie en Oos-Duitsland, sou dinge ook beter gegaan het. Daardie lande was, onder kommunisme, SONDER:
plakkerskampe
werkloosheid
miljoene onwettige buitelanders
swak en vuil staatshospitale
lae standaard onderwys
Nkandla-tipe paleise vir staatshoofde (Roemenië het wel dit gedoen, maar nie die ander nie)
misdaad met moored en diefstal wat onbeheerbaar is
Daardie lande het nou wel godsdiensvryheid en vryheid van spraak en politieke assosiasie verbied, maar dit was ‘n klein prys om te betaal in ruil vir ‘n staat waar amper alles anders behoorlik gewerk het.

bgj van der westhuizen ·

net vir my snaaks dat daar so baie geleerde swart mense in daar die tyd geleer was op die wit man se koste en daar was van die beste skole gebou vir hulle en hulle self het alles verbrand en hulle het alles verniet gekry wand die wit man het vir alles n die land betaal en daar om verwag hulle nog steeds om alles net te kry en nei te werk wat hulle wil he nie

Casper Labuschagne ·

Die vlag van beide die Unie van Suid Afrika asook die Republiek van Suid Afrika bestaan uit die Nederlandse VOIC se oranje wit en blou vlag asook die vlae van Brittanje, die Zuid Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat. Dit is een van die min (of enigste?) vlae ter wêreld wat uitsluitlik bestaan uit historiese vlae van ander lande of streke. Dit is ook die vlag waaronder SA in twee wêreldoorloë asook as deel van die VN mag in Korea geveg het. Die geskiedenis van die vlag strek oor ‘n tydperk van 84 jaar waarvan die Nasionaleparty regering en die beleid van Apartheid vir 46 jaar van toepassing was.

Ek is seker dat ter wille van vergelding teen die wit minderheid, sal die SA regering die vlag as haatspraak verklaar. Maar ek is ook oortuig dat gegewe die feite wat ek hierbo aangedui het, dit ‘n saak is wat suksesvol in ‘n wêreldhof teengestaan kan word, veral aangesien dit onsinnig en onmoontlik is om die individuele vlae ook as haatspraak te verklaar.

Jack Klok ·

Mens kan ook noem dat die pre-1994 landsvlag ‘n onderhandelde kompromie was met die doel om die voormalige twee kolonies asook twee Boere republieke te verenig.

Die huidige ANC landsvlag is nie ‘n kompromie nie maar deur die ANC op almal afgedwing. Dis nie eens mooi nie en laat my dink aan ‘n Jockey advertensie.

Patriot ·

Dis baie interressant en waar. Wat ek graag van Afriforum wil weet is, wanneer gaan julle vordering maak met julle rasse haatspraak klagtes ? Vicky Momberg is se hofsaak is al klaar en julle sake wat ingegee is VOOR haar episode het nog nie eens voorgekom nie. Of word daar regtig `n saak oopgemaak ? Hoekom loop Malemma nog rond ?

Casper Labuschagne ·

Ek is sommer lus en begin vandag ‘n besigheid waar ek vir werklose witmense werk gee om die ou SA vlag met die hand te maak en waar ek die vlae oor die Internet kan verkoop. Ek glo nie ek is die enigste persoon in Suid Afrika wat op hierdie oomblik spyt is dat ek nie so ‘n vlag in my huis het nie, daardie vlag het sommer dadelik vir my ‘n nuwe betekenis gekry, nie as simbool van Apartheid nie, maar as simbool van verset teen die heersende vlaag van vergelding teen die wit minderheid wat ons tans ervaar.

John ·

Ons kan ons bleek verduidelik, selfs foto’s en films vertoon. Die ANC gebruik hierdie mites en stories, die apartheids- en rassisme-‘bewysstukke’, om hul saak lewendig te hou. Armoede en misdrywe en chaos word aan die hand daarvan verduidelik en verontskuldig. Solank as wat Afrika nog daar is, sal hierdie skietgoed gebruik word. Die swart bevolking groei buite beheer en armoede bly in plek, want sonder dit, gaan die ‘storie’ uitmekaar val soos ‘n ou bruinbrood.

JC ·

Die VOC se Oranje Blanje Blou staan bekend as die “prinsevlag” :)

Jezza Cloete ·

Hel Ernst, kom jy nie die ou vlag in 1994 in jou braaivleisvuur gegooi het??? Move on!!!

Jerry ·

In net een sin het Jezza arme Ernst se hele appelkar omgegooi!

Boerseun ·

Sê die facebook warrior. Dalk moet jy en Ernst n debat hou. Dis moes net jou idees wat reg is en saak maak, so hoekom is jy nie aan die stuur van n Afrikaner organisasie nie?

Frik Lotz ·

Ernst, dis n baie goeie artikel en ek bedank jou daarvoor. Dis tyd dat ons opstaan teen hierdie verdraaiìng van ons verlede en geskiedenis. Als wat verkeerd gaan is altyd Apartheid se skuld en Afrikaners en Witmense word die sondebokke gemaak. Ons moet sorg dat mense die waarheid hoor en hierdie blatante leuens uitwys wat ons daagliks moet aanhoor oor Afrikaners en Witmense. Laat ons as Afrikaners opstaan vir die waarheid, reg en geregtigheid!

Jan Kruger ·

Daar word baie publisiteit aan die staatskaping onder Zuma gegee. Ernst Roets lig hier die kaping van ons geskiedenis uit wat ordes erger vir die Afrikaner se voort bestaan en welstand is as die skade wat Zuma ons kon berokken deur staatskaping.
Ek hoop dat lesers dit wys sal deel op die sosiale media want onkunde verlam die Afrikaner volk deur misplaaste skuldgevoelens wat eerder op politieke korrektheid as feite gebou is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.