Feiteblad: Studeer in jou eie taal

ernst-roets-ek-kies-afrikaans

‘n Skermskoot uit die video.

Die konstitusionele hof het onlangs beslis dat Afrikaans as onderrigmedium by die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) afgeskaf mag word. Dit, ten spyte daarvan dat dit doenlik is om die taal aan te bied. Sekere Afrikaanse kommentators het gejuig hieroor.

“Afrikaans is my taal. Ek is bruin en dis die taal van my hart. Ek is verheug met vandag se uitspraak. My taal moenie mense skei nie. Dis ook nie ’n universiteit se plig om toe te sien dat ’n taal moet bestaan nie. Ek en jy, wat die taal praat, skryf, sing, bid, droom, ons sal dit doen,” skryf die joernalis Carryn-Ann Nel tot groot lofprysing van hoofstroomkommentators.

“Afrikaans just fell here in the ConCourt,” juig die EFF-woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi.

“This judgment isn’t a threat to Afrikaans. Ons praat die taal. Ons skryf in die taal. Ons sing in die taal. Ens. This judgment is simply a threat to exclusionary pedagogical policies that are a throwback to the 1950s and 1960s when universities were segregated formally,” juig Eusebius McKaiser op Twitter.

Wat Eusebius natuurlik vergeet, is dat daar een reuseverskil tussen die jeug van 1976 en die jeug van 2018 is. In 1976 het hulle gesê: “Ons wil nie in Afrikaans studeer nie.”

In 2018 sê hulle: “Julle mag nie in Afrikaans studeer nie”.

Nou goed, ons gaan nie vandag fokus op die gebreke in die konstitusionele hof se uitspraak of die mate waarin politieke agendas dié hof se uitsprake bepaal nie. Dit is ’n tema vir ’n ander dag. Vandag wil ek eenvoudig uitwys waarom moedertaalonderrig nodig is.

Die eerste vraag is natuurlik: “Hoe op aarde is dit moontlik?” Daar is 11 amptelike tale. Dit gaan mos nooit werk as elke skool en universiteit onderrig in 11 tale aanbied nie? Natuurlik sal dit nie werk nie. Daar is ook niemand wat daarvoor vra nie. Daar is meer realistiese en praktiese metodes om moedertaalonderrig te beskerm.

Die Gerwell-komitee het destyds voorgestel dat ankeruniversiteite geïdentifiseer word. Dit kom daarop neer dat universiteite slegs onderrig bied in die tale wat algemeen in daardie omgewings gepraat word. Ons vra nie dat alle universiteite lesings in Afrikaans aanbied nie. Ons vra vir ten minste net een. Daar is 26 universiteite in hierdie land. Is dit soveel gevra dat net een van hulle lesings in Afrikaans aanbied?

Die internasionale model is om ’n glyskaal met betrekking tot moedertaalonderwys te gebruik. Die glyskaal werk op twee vlakke: hoe meer sprekers van ’n spesifieke taal in die area is, hoe groter is die plig om moedertaalonderrig vir daardie sprekers te bied. Afrikaners sal dus nie ’n groot aanspraak op Afrikaanse lesings by die Universiteit van die Noorde kan maak nie, maar wel by Potchefstroom of Stellenbosch, byvoorbeeld. Tweedens behels die glyskaal dat, hoe hoër die vlak van onderwys is, hoe kleiner is die plig om moedertaalonderrig aan te bied. Dit beteken dat my versoek om my voorgraadse studies in Afrikaans te doen meer gewig dra as my versoek om my doktorsgraad in Afrikaans te doen.

Die groot leuen is dat Engels die internasionale taal is en dit daarom beter is om ons studies in Engels te doen. Die webblad topuniversities.com hou rekord van die wêreld se beste universiteite. Gaan kyk gerus na die lys. Kyk ook na die geskiedenis van daardie lys. Jy sal sien: Hoe meer Suid-Afrika se universiteite eentalig Engels word, hoe laer skuif hulle op daardie lys af (daar is natuurlik ander faktore ook wat daartoe bydra). Jy sal ook opmerk dat byna elkeen van die 400 universiteite op daardie lys onderrig in hul eie taal gee. Die Engelse universiteite op die lys is dié in Engelse lande. Universiteite in Duitsland, Nederland, Hongkong, China, Japan, Frankryk, Spanje, Brasilië en talle ander gee almal onderrig in hul eie moedertale. Die Duitse motor waarmee jy ry, is deur mense gebou wat in Duits studeer het.

In die video is daar ’n kaart van die wêreld waarop lande wat moedertaalonderrig tot op sekondêre vlak aangebied in groen aangedui word. Op die volgende kaart word die wêreld se suksesvolste lande ook in groen aangedui.

Sien jy die ooreenkoms?

Navorsing oor moedertaalonderrig toon ook dat dit beter is om in jou eie taal te studeer, selfs al werk jy in ’n ander taal. Die voordeel daarvan om in jou eie taal te studeer, is dat jy moeilike konsepte vinniger begryp. Al wat jy dan moet doen, is om aan te leer om jouself in ’n ander taal uit te druk. Jy hoef nie in ’n ander taal te studeer om met mense in daardie taal te praat oor dit wat jy weet nie. Die aanleer van gespreksvaardighede in ’n ander taal neem een tot twee jaar. Die aanleer van ’n ander taal tot op akademiese vlak neem ses jaar as jy in ’n goed toegeruste omgewing is. Die persone wat dus kies om in hul eie taal te studeer en dan te leer om hulself in ’n ander taal uit te druk, het statisties gesproke ’n voorsprong bo dié wat kies om in ’n ander taal te studeer.

Die Verenigde Nasies het dosyne verslae oor die belangrikheid van moedertaalonderrig gepubliseer. Die VN het bevind dat slegs 5 tot 15% van Afrikakinders die taal verstaan waarin hulle onderrig word (dikwels Engels) wanneer hulle skool toe gaan.

In Mali is bevind dat ongeveer 10% van kinders moedertaalonderrig ontvang. Die kans dat daardie kinders ’n jaar herhaal is vyf keer kleiner as dié van die ander 90%.

In Duitsland is bevind dat die swakste presteerders immigrante se kinders is, wat dus nie in hul eie taal studeer nie.

In Suid-Afrika het swart kinders vanaf 1955 tot 1976 vir agt jaar lank moedertaalonderrig ontvang. Teen 1976 was die slaagsyfer 83,7%. Daarna is die program verander na een waarin moedertaalonderrig vir vier jaar plaasvind. Teen 1992 het die slaagsyfer na 44% gedaal.

Die Systematic Evaluation Report van 2005 het bevind dat studente wat in hul moedertaal studeer ’n gemiddeld van 69% behaal het, teenoor 32% deur studente wat in ’n ander taal studeer het.

As jy ten spyte van al hierdie inligting steeds verkies om in ’n ander taal as jou eie te studeer, is dit jou volste reg en ek sal baklei vir jou reg om daardie keuse te kan uitoefen. As jy egter baklei dat my reg om in my taal te studeer van my gestroop word, of as jy jou verlustig in ’n hofuitspraak wat my vryheid inperk bloot omdat dit nie strook met jou persoonlike lewenskeuses nie, is jy nie liberaal nie, maar ’n onderdrukker. As jy jou daarin verlustig dat mense wat Afrikaans praat nie in Afrikaans mag studeer nie, stroop jy jouself daarvan om met geloofwaardigheid enige simpatie met Steve Biko of die jeug van 1976 se stryd te betoon.

Dan moet jy nie met my kom praat oor vryheid en gelykheid en menswaardigheid nie, want jy is die een wat daardie beginsels vertrap.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Zuri ·

Dit is tyd dat ons weer die koekpanne afstof en die stroop begin regkry vir die koeksisters en ons eie Universiteit bou. Die tyd was nog nooit so ryp soos nou nie. Die gronde waarop die universiteit gebou word moet groot genoeg wees om ‘n volwaardige universiteit te bou met ‘n mini mall waar studente van ‘n brood kan koop tot ‘n dokter kan sien sodat hulle altyd veilig kan wees. ‘n Volwaardige Landbou fakulteit moet ontwikkel word. Daar is genoeg professionele afgetredenes wat behulpsaam kan wees in so projek. Van argitekte, dosente en professors wat kan help om die akademie binne die universiteit van die grond af te kry. Ek is seker buitelandse lande sal ook kan help met kundiges en kan dalk saam met ‘n buitelandse universiteit hande vat om te help met so ‘n projek. Die Groot Afrikaanse konserte kan daar gehou word asook van ons feeste en landbou feeste, wat alles deel kan wees van fondsinsamelings. Afrikaanse skole moet deel vorm van die projek. Ons moet net almal wat lief is vir Afrikaans hande vat en dit die grootste projek vir Afrikaans doen wat die land nog gesien het, dit sal weer wys waartoe die Afrikaners in staat is. Kom Afriforum en Solidariteit gebruik ons fondse en begin met so ‘n projek. Akademia is fantasties, maar dit ontneem ons kinders daarvan om volwaardige student te wees en daardie samehorigheidsgevoel onder studente.

Casper Labuschagne ·

Ernst, hie is iets wat julle kan doen – neem vir Unisa hof toe en eis dat Afrikaans weer ingestel word. Unisa het in 2016 Afrikaans as voertaal afgeskaf. Geeneen van die argumente hoekom Afrikaans die meerderheid benadeel met klasgetalle en tolke geld in die geval van Unisa nie. Daarby sal dit ook nie enigsins ‘n ontwrigting vir die meerderheid wees as Afrikaans as voertaal weereens by Unisa ingestel word nie. Die ergste implikasie vir Unisa sal wees dat hulle meer Afrikaanssprekende lektore sal moet aanstel, maar dit sal dalk net ‘n goeie ding wees. Dit sal die weg baan vir die Afrikaanse gemeenskap om vorentoe hul eie Afrikaanse studiesentrums te bevonds waar studente in Afrikaans deur middel van Unisa kan studeer, met bykomende leiding en lesings wat in die studiesentrum aangebied word, soos benodig.

V ·

Ek stem nie saam nie. As ‘n mens eers soos ‘n muishond by instansie weg gejaag is, behoort jy nie kruipende en bedelende te vra vir ‘n vergunningtjie nie. Is dit nie beter om jou eie instansie soos Akademia uit te brei en studiesentrums onder hulle vaandel te bevorder nie?

Casper Labuschagne ·

@V, dit is nie dat Afrikaans moet terugkruip nie, eerder Afrikaans moet met ‘n vlammende swaard terugveg teen Unisa. Hier is die geval waar al hulle sogenaamde “redes ter wille van die meerderheid” bloot net bog is, die aanslag teen Afrikaans word in Unisa se geval ontbloot as venynige politieke vooroordeel teenoor Afrikaans. Ek wil sien dat hulle nie toelaat om daarmee weg te kom nie.

Johann Marx ·

Die probleem met moedertaal onderrig is taai as jou “moedertaal” NIE ontwikkel het om by te bly met ‘n veranderende wêreld nie. Dit help nie om net “e” vooraan ‘n Engelse word te sit nie……….dis nie taal ontwikkeling nie. Dis nogal opvalled dat diegene wat die hardste skree TEEN Afrikaans, dit nie vervang wil hê met hulle “moedertaal” nie, maar met ‘n taal wat hulle gladnie verstaan nie, nl. Engels. Reg deur hierdie land is daar omtrent elke naweek ‘n fees of ‘n geleentheid wat kultuurgroepe hulle taal en kultuur bevorder en suiwer hou………..behalwe die “afbrekers” van Afrikaans, hulle doen NIKS om hulle eie kultuur en taal te bevorder of suiwer te hou nie. Dit moet ook maar erg moeilik wees om Pythagoras onder die knie te kry as jou moedertaal woord vir die letter 8 eintlik ‘n elle lange sin is wat letterlik vertaal beteken “Twee plekke links van Tien”???

Afrikaanse Knaap ·

Ek het in 2001 Stellenbosch toe gegaan sodat ek in Afrikaans kon studeer.
Ek sukkel om in Engels te dink. Alles is stadiger.
Ek sien uit na die private universiteite waar ek hoop om in Afrikaans al my verdere opleiding te doen.
Ek doen ook nou net besigheid met maatskappye wat my in Afrikaans kan of wil help. Ek is moeg vir Engels. Moeg. Om Engels te praat, maak my moeg.

JC ·

Dankie Afrikaanse Knaap, ek bewonder jou werklik vir dit wat jy doen, en die insig wat jy openbaar.
Hou so aan!!!

Francois ·

Dankie vir jou werk Ernst. Ek hoop dat hierdie nuus by die regte mense en plekke sal uitkom!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.