Feiteblad: Wat jy van plaasaanvalle behoort te weet

ernst-roets-plaasaanvalle

‘n Skermskoot uit die video.

Sedert die #BlackMonday-byeenkomste teen plaasmoorde, en AfriForum se daaropvolgende optog na die Uniegebou om aan te dring op die prioritisering van dié aanvalle, is ons oorval met internasionale belangstelling in die Suid-Afrikaanse plaasaanvalkwessie. Waarom is dit belangrik om internasionale bewustheid te skep? Omdat die geskiedenis telkens bewys het dat internasionale bewustheidsveldtogte en die gevolge daarvan ’n belangrike rol kan speel om sekere verandering op eie bodem te bewerkstellig.

Die slegte nuus is egter dat die res van die wêreld baie swak ingelig is. Dit is om dié rede dat ons hierdie video gemaak het: om die basiese en belangrikste feite oor plaasaanvalle in Suid-Afrika aan die ander belangstellendes dwarsoor die wêreld te verduidelik. Ek vra jou om die video te kyk en dit te deel met jou vriende, familie en kollegas wat in die buiteland woon.

Die regerende ANC en sy militêre vleuel Umkhonto we Sizwe het ’n konflikgevulde geskiedenis met wit boere. Tydens die ANC se gewapende stryd het die organisasie in 1985 besluit dat Umkhonto we Sizwe in die uitvoer van militêre veldtogte nie meer tussen harde en sagte teikens hoef te onderskei nie. Veral plaasboere is geteiken en die leiers van Umkhonto we Sizwe het verklaar dat die vroue en kinders van wit boere – veral daardie boere na aan Suid-Afrika se grense – as regmatige teikens beskou moet word. Buiten die ANC se landmynveldtog om wit boere en hul gesinne te vermoor, was daar egter baie min plaasaanvalle.

Toe die verbod op die ANC en ander kommunistiesbelynde organisasies gemoeid in dié gewelddadige aktiwiteite in 1990 opgehef word en die einde van apartheid aangebreek het, het ongeveer 13 000 Umkhonto we Sizwe-soldate uit ballingskap na Suid-Afrika teruggekeer. In dieselfde jaar het plaasaanvalle, soos ons dit vandag ken, begin.

Daar is sedertdien volgehoue gevalle van die publiek wat geweld teen boere verromantiseer; die dreunsang van die sogenaamde strugglelied “Kill the Boer, kill the farmer” die heel bekendste hiervan. Die ANC-jeugliga se destydse president Peter Mokaba, asook sy opvolger Julius Malema het die lied “Dubula iBhunu” gewild gemaak – ’n Zoeloelied wat vertaal kan word as “Skiet die Boer”. Sowel Malema as die ANC is in 2011 hof toe om hul sogenaamde reg te verdedig om soortgelyke liedere te sing.

Plaasaanvalle het in die 1990’s dramaties toegeneem. ’n Tipiese plaasaanval behels ouer mense wat deur jongmense aangeval word. Gewoonlik word daar baie min dinge tydens dié aanvalle gesteel, en in die meeste gevalle word die gruwelikste martelingsmetodes ingespan. Dié metodes sluit in oormatige steekwonde of aanranding met stomp voorwerpe, die sleep van slagoffers op grondpaaie agter bakkies aan, die afsny van ledemate, brand met kookolie, gesmelte plastiek of kookwater, en die uitsteek van oë.

Tipiese wapens wat in dié aanvalle gebruik word, sluit in messe, kapmesse, vuurwapens, stomp voorwerpe, tuinvurke en ander tuingereedskap.

In die 1990’s, tydens die presidentskap van Nelson Mandela, is plaasaanvalle deur die Suid-Afrikaanse regering as ’n ernstige krisis erken waarteen daar daadwerklik opgetree moes word. Tydens die ampstermyne van Thabo Mbeki en Jacob Zuma het ons egter ’n gelykmatige, dog ernstige afname in die prioritisering van plaasmoorde opgemerk. Dié proses is begin met die afskaffing van die kommandostelsel – ’n burgerinisiatief wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weermag gewerk het om veiligheid vir Suid-Afrikaanse boere te verseker. ’n Verdere groot stap om plaasaanvalle te deprioritiseer is in 2007 geneem toe daar besluit is om geen statistiek meer oor plaasaanvalle bekend te maak nie. Dit is aangekondig nadat dit aan die lig gekom het dat plaasaanvalle in daardie jaar alleen met 25% toegeneem het. Wat nog erger is, is die toenemende bespotting en verkleinering deur verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering van slagoffers en mense wat op die prioritisering van dié aanvalle aandring.

Dit is tans die burgerlike samelewing se verantwoordelikheid om plaasaanvalle te moniteer. AfriForum het in samewerking met die landbou-unie TLU SA ’n lys van ongeveer 2 000 plaasaanvalle sedert 1990 opgestel. Hoewel dié aanvalle in die vroeë 2000’s afgeneem het, het ons oor die afgelope ses jaar ’n sistematiese toename in sowel die frekwensie van die aanvalle as die gewelddadigheid daarvan opgemerk.

AfriForum glo dat dié aanvalle as prioriteitsmisdade erken en hanteer moet word. Die Suid-Afrikaanse regering se traak-my-nie-agtige-houding jeens die krisis is oorverdowend. As jy nie deel van die oplossing is nie, is jy deel van die probleem. En die Suid-Afrikaanse regering – deur sy deprioritisering van dié aanvalle, sy bespotting van slagoffers en dié wat op prioritisering aandring, en sy stilswye oor die toename in sowel die voorkoms as gewelddadigheid van dié aanvalle – is ongetwyfeld aandadig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Laat dit oraloor versprei ·

Almal moet help om dit te versprei. Ek is netnie seker hoe nie, en daar moet ook genoem word dat die oorspronklike eienaars die Koisan was, die ANC en EFF kommuniste is setlaars in Suidelike Afrika.

Eie grond ·

Almal stuur aan asseblief. Hou in gedagte dat ons nie meer die nonsens en dreigemente kanverdra nie en nou moet aandring om te onderhandel vir ons eie land, ons kan grond uitruil noudat hulle die saak van onteiening opgebring het, dit is nou ons geleentheid. Selfbeskikking is die goue antwoord en die geleentheid is nou hier om die bal aan die rol te sit. As ons nie onnself kan regeer nie gaan ons maar net sistematies met die tyd uitgedruk word, so die enigste oplossing is om nou te onderhandel vir eie plek.

Dirk ·

Ons is alreeds in n burger oorlog. Mense is so gefokus op die reenboog nasie dat die besef nog nie deurgedring dat dit net in naam bestaan. Min mense besef dat daar daagliks die afgelope 24 jaar meer wit mense in ons groot stede vermoor is onder die dekmantel van misdaad as wat plaasmoorde plaasgevind het. Die verskil is dat plaasmoorde plaasvind met die mees skrikwekkende marteling. Intussen gaan ons maar voort met onderhandeling en debat voering en hardloop na die howe sodat daardie magtelose gevoel net gestil kan word en onself net kan laat beter voel.

Jerry ·

Umkhonto we Sizwe (spies van die volk), PAC en TBVC lande se soldate was ingelyf by die SAW wat getransformeer het en bekend staan as die SANW. Van die sogenaamde vryheidsvegters was later van tyd ook dmv transformasie opgeneem in die SAPS en in n mindere mate die Korrektiewe dienste. Soos wat die tyd verloop het was talle herontplooi na ander staatsdepartemente, staatsentiteite en munisipaliteite. Uitdagings met plaasmoorde, swak dienslewering, traak my nie agtige houdings teenoor wette en die grondwet is n direkte resultaat van die revolusionere plan van kaderontplooiing van Kommunistiese, Sosialistiese en Marxistiese Pan Afrikanistiese ideologiee wat te vinde is oor n baie breer front as wat dit op die oog af lyk. Die aanslag teen wit mense en nie net boere nie, hulle belange en kapitaal vind dus georkestreerd en oor n baie bree front plaas en die doodskoot wat geplant moet word, is nasionalisering. Die enigste hindernisse wat die magshebbers daarvan weerhou om te nasionaliseer en alles te vat is die groot groep gematigde lede van die ANC, opposisie partye en burgerregte groepe, in n mindere mate die grondwet en regsbank, prominente buitelandse beleggers, buitelandse bindende ooreenkomste en n ekonomie wat groei, al is dit teen n slakkepas. Hierdie hindernisse is wat op gefokus en versterk moet word ten einde nasionalisering vir so lank moontlik uit te stel. Plaasmoorde word oor n bree front georkestreer en kan net gerem word deur boere self wat hulle lewenswyse en die manier waarop geboer word totaal verander.

Eish ·

Hou op karring aan die regering. Ons is almal bewus van die regering en die meerderheidsagenda.
Dit is nou tyd vir die Simson opsie.
Mnr. Groenewald van die VF PLUS vertrek eersdaags self na die buiteland op n inligtingsessie oor grondgryp onder andere.
Oordonder die buiteland NOU met propaganda!

Pietman ·

Daar is heelwat meer materiaal van plaasmoorde wat versprei word op youtube deur buitelanders. Dis belangrik dat Afriforum met die mense kommunikeer want net een halwe waarheid en die hele saak is daarmee heen. Kontak the daily wire, Laura Southeren , Katie Hopkins , Stefan Molyeneux ens.

Estelle Oelofsen ·

Net terloops. Ek is 80, gebore in 1937, en het in Kaapstad grootgeword. In my kinderjare, het ons net die Kleurlinge geken. hulle was, soos ons sou sê: “Onse mense”. Engels en Afrikaans gepraat. Later jare het ek bewus geword van die Swart mense. Hulle was meestal arbeiders. Nêrens het jy hulle gesien werk in kantore of selfs in winkels nie. Hulle kon nie Engels praat nie en nog minder Afrikaans. Later was daar net een swart woonbeurt vir hulle nl. Langa.
Kaapstad was nooit ‘n woongebied van die swart mense nie! Hulle het eers Baaaaaie later hul opwagting daar gemaak. Wat natuurlik bewys dat hul geen reg het om enige grond eise in die Weskaap in te stel nie. Moet my nou nie stenig nie. Ek noem dit net om te wys hoe hulle van Noord Afrika af, al vegtend en moordend, al laer af gekom tot in die Suide van Afrika. Miskien moet ons hul los. Dalk land hul op die ou end op die Suidpool.

iBhunu ·

BAIE DANKIE, ek wil graag net weet of Afriforum wel met MALEMA geskik het sodat hy wel die ZOELOE lied Kill the BOER op hulle byeenkomste kan sing? Julle het hom hof toe gesleep en toe GESKIK — met ‘n uitkoms wat hulle baie tevrede gelaat het … ASB ons moet weet voor ons kan aangaan om ‘n organisasie te ondersteun.

Casper Labuschagne ·

Ek twyfel. In al die onlangse videogrepe waarna ek gekyk het was Afriforum steeds ‘n groot vyand en is Afriforum deur Malema skel uitgeskel as ‘n “boeremag.” Daarby is dit so dat die howe telkemale die hofdatum uitstel op versoek van Malema se regsverteenwoordigers. Buite die hof sing Malema bloot weer “kiss the boer” en tydens die lied is daar verskeie ander elemente wat geen twyfel laat dit gaan om doodmaak nie. Dit sluit in die handgebaar in ‘n die vorm van ‘n pistool, die klank Bah, bah, bah om geweerskote na te boots en die duidelike refrein, “Kill, kill, kill.” Malema het Afriforum se hofgeding teen hom inderdaad omgedraai tot ‘n propaganda sukses vir die EFF. Enige hofgeding teen Malema het inderdaad nou teenproduktief geword, maar dit is nie Afriforum se skuld nie.

As jy verby Malema se woorde kyk, is sy tema bloot teenstand en vergelding teen die wit minderheid of teen die groter invloed van die wit minderheid soos byvoorbeeld die ekonomie of die demokratiese skikking met die ANC voor 1994. Ongelukkig is daar geen rasionele argument of beskaafde optrede wat so ‘n vorm van haatgedrewe populisme kan teenstaan nie.

Ons sal teenkanting teen Malema op ons onbuigbare voorwaardes moet definieer andersins gaan Malema bloot aanhou om ‘n populistiese speletjie te speel, tot ons nadeel. As ‘n brand totaal buite beheer raak, moet jy die besluit neem om vuur met vuur te beveg.

Casper Labuschagne ·

In die identifisering van oorsaak, simptoom en gevolg moet ons die volgende besef: Die oorsaak is dat vergelding teen ons minderheid toenemend die oorheersende politieke agenda is en dat dit vorentoe gaan vererger. Plaasaanvalle moet gesien word as ‘n simptoom van die agenda vir vergelding, so ook onteiening sonder vergoeding, die aftakeling van Afrikaans, die uitwissing van ons kulturele simbole en selfs ook die dreigemente teen wit besighede (“white monopoly capital.”) Die gevolg is dat ons doelgerig daaraan moet werk aan die beskerming van ons boere en gemeenskappe en dat die oorlewing van ons minderheid ons absolute prioriteit moet word.

Daarby moet ons besef dat ons huidiglik bitter min kan vermag om die land polities te verander. In 2017 kon ons duidelik sien hoedat die SA parlement eintlik maar net die figuurlike liggaam is vir die implimentering van besluite geneem tydens die ANC se kongres. Ons kan net toekyk, en kan amper niks aan die land verander nie.

Ons horisonne moet dus skuif na ons oorlewing, en plaasaanvalle is tans die bebloede front van daardie stryd.

Gestremde ·

Dit is ‘n baie goeie idologie dat die wittes moet saam staan vir oorlewing. Die feit van die saak is egter dat die meerderheid blankes self behep is. Ek praat uit ondervinding vir die feit dat ek al vir meer as ‘n jaar intensief aansoek doen vir ‘n vaste betrekking, meestal by oorheersend wit maatskappy. Het amper dertig jaar se administratiewe ondervinding, maar tot en met hede was ek nog nooit uitgenooi vir enige onderhoud vir ‘n betrekking nie.

Estelle Oelofsen ·

Kan iemand my sê hoe ek, in my onnoselheid, NET DIE VIDEO, sonder die res van die storie in Afrikaans, aan mense in die buiteland kan stuur? Hulle verstaan nie Afrikaans nie. Asseblief!

Casper Labuschagne ·

Afriforum het al verskeie keer versoekskrifte en pleidooie aan verskillende organisasies in die buiteland gerig. Ek kan my nie voorstel dat dit in Afrikaans sou plaasvind sonder dat daar ‘n breedvoerige Engelse vertaling asook stawende dokumente aangeheg was nie, en sekerlik sal dit in hierdie geval weer gebeur.

Hendrik ·

Gaan na Youtube se webwerf en soek vir “what you need to know about farm murders”. Dan kry jy die video op sy eie wat jy kan aanstuur. Of klik hier … https://www.youtube.com/watch?v=mV-qKGrmCqw

Hoop dit help. As jy nie op die skakel kan klik nie, copy dit net in jou internetswerwer (browser) in.

Ou Waarheid [email protected] ·

Dit is elke Suid-Afrikaner se reg en plig om buitelanders volhoubaar in te lig oor toestande in Suid-Afrika en om daardeur reg en geregtigheid te help bevorder. MAAR bly by die waarheid en die feite en vermy persepsies en immorele bymotiewe soos varkmasels.

Theresa ·

Dankie Ernst. Dis elke persoon in hierdie land, wat geregtigheid liefhet, se plig om te help iets doen om hierdie sinnelose wreedheid te stop. Voor mense nou weer skreeu dat dit nie net boere is wat gehelp moet word nie, ja, dis waar. Maar net soos daar ‘n beskerm vroue en kinder veldtog is, of die of daai veldtog, so moet mens voortgaan met beskerm die boere veldtog. 1 moord is 1 te veel. En elkeen is sinneloos. WEG met die moordenaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.