Feiteblad: Wat jy van plaasaanvalle behoort te weet

ernst-roets-plaasaanvalle

‘n Skermskoot uit die video.

Sedert die #BlackMonday-byeenkomste teen plaasmoorde, en AfriForum se daaropvolgende optog na die Uniegebou om aan te dring op die prioritisering van dié aanvalle, is ons oorval met internasionale belangstelling in die Suid-Afrikaanse plaasaanvalkwessie. Waarom is dit belangrik om internasionale bewustheid te skep? Omdat die geskiedenis telkens bewys het dat internasionale bewustheidsveldtogte en die gevolge daarvan ’n belangrike rol kan speel om sekere verandering op eie bodem te bewerkstellig.

Die slegte nuus is egter dat die res van die wêreld baie swak ingelig is. Dit is om dié rede dat ons hierdie video gemaak het: om die basiese en belangrikste feite oor plaasaanvalle in Suid-Afrika aan die ander belangstellendes dwarsoor die wêreld te verduidelik. Ek vra jou om die video te kyk en dit te deel met jou vriende, familie en kollegas wat in die buiteland woon.

Die regerende ANC en sy militêre vleuel Umkhonto we Sizwe het ’n konflikgevulde geskiedenis met wit boere. Tydens die ANC se gewapende stryd het die organisasie in 1985 besluit dat Umkhonto we Sizwe in die uitvoer van militêre veldtogte nie meer tussen harde en sagte teikens hoef te onderskei nie. Veral plaasboere is geteiken en die leiers van Umkhonto we Sizwe het verklaar dat die vroue en kinders van wit boere – veral daardie boere na aan Suid-Afrika se grense – as regmatige teikens beskou moet word. Buiten die ANC se landmynveldtog om wit boere en hul gesinne te vermoor, was daar egter baie min plaasaanvalle.

Toe die verbod op die ANC en ander kommunistiesbelynde organisasies gemoeid in dié gewelddadige aktiwiteite in 1990 opgehef word en die einde van apartheid aangebreek het, het ongeveer 13 000 Umkhonto we Sizwe-soldate uit ballingskap na Suid-Afrika teruggekeer. In dieselfde jaar het plaasaanvalle, soos ons dit vandag ken, begin.

Daar is sedertdien volgehoue gevalle van die publiek wat geweld teen boere verromantiseer; die dreunsang van die sogenaamde strugglelied “Kill the Boer, kill the farmer” die heel bekendste hiervan. Die ANC-jeugliga se destydse president Peter Mokaba, asook sy opvolger Julius Malema het die lied “Dubula iBhunu” gewild gemaak – ’n Zoeloelied wat vertaal kan word as “Skiet die Boer”. Sowel Malema as die ANC is in 2011 hof toe om hul sogenaamde reg te verdedig om soortgelyke liedere te sing.

Plaasaanvalle het in die 1990’s dramaties toegeneem. ’n Tipiese plaasaanval behels ouer mense wat deur jongmense aangeval word. Gewoonlik word daar baie min dinge tydens dié aanvalle gesteel, en in die meeste gevalle word die gruwelikste martelingsmetodes ingespan. Dié metodes sluit in oormatige steekwonde of aanranding met stomp voorwerpe, die sleep van slagoffers op grondpaaie agter bakkies aan, die afsny van ledemate, brand met kookolie, gesmelte plastiek of kookwater, en die uitsteek van oë.

Tipiese wapens wat in dié aanvalle gebruik word, sluit in messe, kapmesse, vuurwapens, stomp voorwerpe, tuinvurke en ander tuingereedskap.

In die 1990’s, tydens die presidentskap van Nelson Mandela, is plaasaanvalle deur die Suid-Afrikaanse regering as ’n ernstige krisis erken waarteen daar daadwerklik opgetree moes word. Tydens die ampstermyne van Thabo Mbeki en Jacob Zuma het ons egter ’n gelykmatige, dog ernstige afname in die prioritisering van plaasmoorde opgemerk. Dié proses is begin met die afskaffing van die kommandostelsel – ’n burgerinisiatief wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weermag gewerk het om veiligheid vir Suid-Afrikaanse boere te verseker. ’n Verdere groot stap om plaasaanvalle te deprioritiseer is in 2007 geneem toe daar besluit is om geen statistiek meer oor plaasaanvalle bekend te maak nie. Dit is aangekondig nadat dit aan die lig gekom het dat plaasaanvalle in daardie jaar alleen met 25% toegeneem het. Wat nog erger is, is die toenemende bespotting en verkleinering deur verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering van slagoffers en mense wat op die prioritisering van dié aanvalle aandring.

Dit is tans die burgerlike samelewing se verantwoordelikheid om plaasaanvalle te moniteer. AfriForum het in samewerking met die landbou-unie TLU SA ’n lys van ongeveer 2 000 plaasaanvalle sedert 1990 opgestel. Hoewel dié aanvalle in die vroeë 2000’s afgeneem het, het ons oor die afgelope ses jaar ’n sistematiese toename in sowel die frekwensie van die aanvalle as die gewelddadigheid daarvan opgemerk.

AfriForum glo dat dié aanvalle as prioriteitsmisdade erken en hanteer moet word. Die Suid-Afrikaanse regering se traak-my-nie-agtige-houding jeens die krisis is oorverdowend. As jy nie deel van die oplossing is nie, is jy deel van die probleem. En die Suid-Afrikaanse regering – deur sy deprioritisering van dié aanvalle, sy bespotting van slagoffers en dié wat op prioritisering aandring, en sy stilswye oor die toename in sowel die voorkoms as gewelddadigheid van dié aanvalle – is ongetwyfeld aandadig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
adriana

Ek stuur dit dadelik na die buiteland.

Kaspaas

Skrikwekkend!

Laat dit oraloor versprei

Almal moet help om dit te versprei. Ek is netnie seker hoe nie, en daar moet ook genoem word dat die oorspronklike eienaars die Koisan was, die ANC en EFF kommuniste is setlaars in Suidelike Afrika.

Eie grond

Almal stuur aan asseblief. Hou in gedagte dat ons nie meer die nonsens en dreigemente kanverdra nie en nou moet aandring om te onderhandel vir ons eie land, ons kan grond uitruil noudat hulle die saak van onteiening opgebring het, dit is nou ons geleentheid. Selfbeskikking is die goue antwoord en die geleentheid is nou hier om die bal aan die rol te sit. As ons nie onnself kan regeer nie gaan ons maar net sistematies met die tyd uitgedruk word, so die enigste oplossing is om nou te onderhandel vir eie plek.

Dirk

Ons is alreeds in n burger oorlog. Mense is so gefokus op die reenboog nasie dat die besef nog nie deurgedring dat dit net in naam bestaan. Min mense besef dat daar daagliks die afgelope 24 jaar meer wit mense in ons groot stede vermoor is onder die dekmantel van misdaad as wat plaasmoorde plaasgevind het. Die verskil is dat plaasmoorde plaasvind met die mees skrikwekkende marteling. Intussen gaan ons maar voort met onderhandeling en debat voering en hardloop na die howe sodat daardie magtelose gevoel net gestil kan word en onself net kan laat beter voel.