Feministe moet net ’n bietjie rustig raak

James Kemp. Foto: Verskaf

Gesprekke en meningstukke op verskillende mediaplatforms skep die indruk dat daar ’n nuwe opkoms van feminisme is. Die inhoud van die menings sal hier bespreek word, maar ek wil, voor ek my kritiese mening hier stel, eers daarop wys dat kritiek op die feministiese beweging nie kritiek op vroue se rol in die breë is nie. My helde bestaan uit ’n lys name wat strek van Christiaan de Wet en Andrew Breitbart na Lenie Retief en Margaret Thatcher. Vele ander kan genoem word.

Sommige sal dalk vra of dit wys is om gedurende Vrouemaand dié tendens vanuit ’n kritieke oogpunt onder die vergrootglas te plaas. Na my mening is dit dalk juis ’n goeie tyd om die sensitiewe onderwerp kaalvuis aan te pak en gesonde diskoers te voer.

Die term “nuwe feminisme” duik gereeld op. So asof dit ’n nuwe gedagte is en die ‘suffragette’-beweging van bykans ’n eeu gelede nie die norm is waarmee die nuwe generasie feministe gemaklik is nie. Daar word onmiddellik geskerm dat dié “nuwe feminisme” nie ’n ‘brand-jou-bra’-tipe feminisme is nie, maar eerder ’n moderne beweging wat hulle beywer vir die gelyke regte van vroue. Die “nuwe” beweging spog egter nie met nuwe of beter argumente as hulle baie onlangse bra-brandende voorgangers nie.

Natuurlik geniet die werkplek ook heelwat bespreking en miskien is dit tyd dat daar anders na dié omgewing gekyk word. Tradisioneel het die man sy plek by die werk volgestaan terwyl vroue die huishouding aan die gang gehou het. Vandag is dit seker so dat daar meer mans in bestuursposisies as vroue is, maar die redes daarvoor is vir seker nie dieselfde as wat dit dekades gelede was nie.

Professionele vroue staan nie vir enigiemand terug nie. Dit is egter wel so dat vroue soms wel verkies om eerder na haar gesin om te sien as om die loopbaanleer te klim. Natuurlik is daar ook diegene wat daarin slaag om werk en gesin met groot sukses te balanseer, en werkgewers kan hulself gerus afvra hoe hulle te werk kan gaan om dit vir loopbaanvroue makliker te maak om daardie balans te handhaaf. Mans kan hulself ook afvra hoe hulle ’n groter rol kan speel om dit vir hulle lewensmaats makliker te maak om ’n gevoel van selfverwesenliking in die werkplek te bereik. Soos wat hulle huweliksmaats ook vir hulle doen.

Terug by die steeds gebrekkige argumente van radikale feministe.

Die vrye mark is nie “anti-vrou” nie

Een van die “nuwe” feministe skryf ’n tyd gelede dat sy ongelukkig is omdat die prysgeld vir die 2018 Wêreldbeker-sokkertoernooi vir mans $400 miljoen beloop het teenoor die $30 miljoen tydens 2019 se vrouetoernooi. Die syfers val vreemd op die oor as ’n oorvereenvoudigde vergelyking getref word, maar die oomblik as ons na die fynere besonderhede kyk, skets dit ’n heel ander prentjie.

Ongeveer 3,572 miljard mense het die 2018 Wêreldbekersokkertoernooi vir mans gekyk, terwyl die Wêreldbeker-vrouesokkertoernooi byna een miljard kykers gelok het. Dit is net so dat kykers meer belangstel in sekere sportsoorte as in ander. En meer kykers beteken meer en duurder advertensielugtyd. ’n Maatskappy sou aansienlik duurder betaal vir ’n advertensie gedurende die 2018 Wêreldbeker vir mans as wat hulle ’n jaar later vir lugtyd tydens die Wêreldbeker vir vroue sou betaal. Die adverteerders sou wel ook baie meer kykers bereik in 2018 as in 2019.

Maar soms is die situasie omgeruil. Die model Kendall Jenner het $22,5 miljoen oor ’n twaalf maande tydperk verdien. Sy is tans die hoogs betaalde model in die wêreld. Die nommer een manlike model, Sean O’Pry, het slegs $1,5 miljoen in dieselfde tydperk verdien. O’Pry kom nie eers naby wat vrouemodelle onderaan die top 10 lys verdien nie. Doutzen Kroes (ja, ’n vrou), wat nommer 10 op die lys is, het $8 miljoen oor ’n jaar verdien – steeds aansienlik meer as O’Pry se ‘karige’ $1,5 miljoen. Weereens is hierdie, soos in die geval van die Sokkerwêreldbeker, nie ’n diskriminerende besluit nie, maar ’n ekonomiese een wat deur vraag en aanbod en die geleenthede wat dit skep, bepaal word. Daar is bloot net ’n groter vraag na vroulike modelle.

Swak politici betaal die prys – manlik en vroulik

’n Ander verskynsel wat nou kop uitsteek sedert dit in die sitkom Younger genoem is, is die sogenoemde glaskrans. Die glaskrans, of ‘glass cliff,’ is ’n speling op die term ‘glass ceiling’. Die teorie voer aan dat vroulike direkteure of politici ingebring word kort voor ’n onafwendbare krisis en dat hulle dan vir die onafwendbare mislukking verkwalik word. Een oorsese voorbeeld is Hillary Clinton wat dan, volgens die teorie, deur die Demokrate oor die glaskrans gegooi sou word.

Die feit is dat Hillary ’n swak politikus is. Daar is ’n lys redes waarom sy nie die Amerikaanse presidentsverkiesing teen Donald Trump gewen het nie. Sy was in omstredenheid gedompel weens ’n rits flaters wat insluit haar hantering van die aanval op die Amerikaanse ambassade in Benghazi, Libië en die feit dat sy toegang tot haar hoogs vertroulike e-posrekening vanaf ’n privaat (en baie kwesbare) bediener verkry het. Daar moet darem genoem word dat Hillary wel daarin geslaag het om haar manlike opponent, Bernie Sanders, uit te knikker om met die Demokrate se nominasie te kon wegstap.

Feministe moet seker maak van hul mandaat

Diegene wat aanvoer dat hulle vir vroueregte veg, het ’n tyd gelede ’n bloutjie geloop toe hulle daarop aangedring het dat die “bokskryt-meisies” by ’n belangrike geveg in Australië deur mans vervang word. Die rondes in die geveg tussen Jeff Horn en Michael Zerafa in die Bendigo-stadion is aanvanklik deur mans aangedui omdat vroueregte-aktiviste aangevoer het dat die gebruik van bokskryt-meisies ouderwets is en dat die meisies as trofeë uitgestal word.

Die organiseerders het aanvanklik onder die druk van die feministe geswig, maar na ’n paar rondes besluit om eerder die meisies terug te bring omdat die mans deur die gehoor uitgejou is. Die meisies se terugkeer is met luide toejuiging begroet. Een van die bokskryt-meisies, Kalista Thomas, het destyds aan die media gesê die feit dat sy gekeer is om haar werk te doen, het haar laat voel dat daar teen haar gediskrimineer word. Thomas het verder gesê dat niemand haar al ooit in die kryt of by boksgevegte laat voel het dat sy minder werd is nie en dat haar werk boonop help om haar studies te betaal.

’n Verdere ironie wat die “stryders vir vroueregte” misgekyk het, is die feit dat vier vroue daardie aand in die kryt geklim het – met bokshandskoene in plaas van genommerde borde aan hulle hande. En in baie skrapser klere as die sogenaamde “bokskryt-meisies”.

Die rol van die vrou in Afrikanergeskiedenis was nog altyd belangrik. Dit was immers, volgens oorvertelling, Susanna Smit, wat die manne gewaarsku het dat sy eerder kaalvoet terug oor die Drakensberge sou trek as om onder Engelse bewind te bly en met daardie woorde die manne tot oorlog teen Brittanje aangevoer het. Dit was ook Lenie Retief wat aan haar familie geskryf het dat sy vrugtebome soek om te plant in die nuwe land kort na haar man, Piet Retief, vermoor is en met daardie woorde talle ander aangemoedig het om onder moeilike omstandighede deur te druk.

Ekstremiste in enige kamp is gevaarlik. Of dit nou chauviniste aan die manlike of feministe aan die vroulike kant is. Dalk is dit tyd dat vandag se feministe net ’n bietjie rustig raak en kyk na die reuse rol wat vroue in die verlede en vandag steeds vertolk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cheryl ·

Ek is self ‘n vrou en ek stem volmondig saam. Kon dit nie beter gestel het nie. Wel gedaan James.

Vrijburger ·

Ek het ‘n vrou en ek stem volmondig saam. En ek het my vrou se toestemming om dit te se. :)

annie ·

James, jy’s ‘n dapper man! Moontlik glo jy Bond kan dalk ver langs familie wees. Ek gee toe. Dinge raak effe grillerig in die vroue-geledere en sjirurge het deesdae genoeg om te doen as om sekere liggaamsdele te verwyder sodat die pyl en boog beter kan mik. Wees tog maar versigtig rondom sambrele en koekrollers.

Therese ·

Skitterende artikel!
Feministe verwar dikwels gelyke geleenthede met gelyke uitkomste (resultate).
Die formidabele Margaret Thatcher se teenpool in Australië, Julia Gillard, is slégs bekend vir haar “misogyny speech” in die parlement. Die vreemde woord (vrouehaat) het talle na die woordeboek laat gryp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.