Fidesz en EVP se paaie skei in Europese Parlement

Viktor Orban. (Foto: Riccardo PAREGGIANI/AFP)

Viktor Orban, Hongaarse eerste minister en leier van die land se regerende party Fidesz, het onlangs aangekondig dat sy party nie langer deel van die partyalliansie Europese Volksparty (EVP) in die Europese Parlement is nie. Dit volg ná ’n lang proses van wedersydse vervreemding.

Fidesz se lidmaatskap by die EVP is reeds geruime tyd op dun ys, maar die laaste strooi vir Orban was toe die EVP sy statute onlangs gewysig het sodat hulle nie net enkele lede nie, maar ‘n hele party uit sy verband kan skop. Orban het dit vertolk as gemik op Fidesz en wou sy party die vernedering spaar om uitgeskop te word deur self die alliansie te verlaat.

Die breuk kom van langer hand. Orban beweer dat die EVP al hoe meer na links beweeg en intussen ideologies ’n aanhangsel van die Sosiaal-demokratiese en sosialistiese blok is. Orban se teenstander by die EVP is die Duitser Manfred Weber in sy hoedanigheid as leier van die grootste fraksie van die EU-parlement. Weber beweer dat Orban en Fidesz se optrede en sienings, soos die afkeur van immigrasie, die beklemtoning van die nasiestaat teenoor die Europese Unie en inmenging in mediavryheid nie meer versoenbaar is met die waardes van die EVP nie. Inderdaad verwerp Orban die globalistiese ideale soos multikulturalisme, genderisme en ’n Europese superstaat en alles wat daarmee saamgaan en staan vir die soewereiniteit van die lidstate, die gesin, die Christelike wortels van Europa.

In sy eie woorde: “Nou moet ’n demokratiese Europese regse blok sonder die EVP opgebou word, wat vir diegene ’n tuiste bied wat geen immigrasie en geen multikulturalisme wil hê nie, wat nie in die LGBTQ-waansin verval het nie, maar die Christelike tradisie van Europa wil verdedig, die soewereiniteit van die nasies respekteer en wat hul nasie nie as iets van die verlede nie, maar as iets van die toekoms sien.”

Die EVP is die grootste fraksie in die Europese Parlement (met 705 lede) en verteenwoordig breedweg die Christen-Demokratiese en deels konserwatiewe hoofstroompartye. Hulle het tans, sonder Fidesz se 12 lede, nog 175 lede en bekende partye binne die verbond is die Duitse Christen-Demokratiese Unie, die Poolse Burgerlike Platform, die Spaanse Volksparty, die Oostenrykse Volksparty en die Italiaanse Forza Italia. Vir Fidesz beteken dit natuurlik dat hulle nou geen invloed meer in die grootste partyalliansie het nie, waarvan meeste regeringspartye in Europa lede is. Aan die ander kant was hulle lankal binne die EVP geïsoleerd en die slaansak.

Aan die regterkant van die EVP is daar die fraksie van die Europese Konserwatiewes en Hervormers (EKH) met 61 lede, waarvan die Italiaanse Fratelli d’Italia (FdI) asook die Poolse PiS (Prawo i Sprawiedliwość oftewel Party vir Reg en Geregtigheid) prominente lede is. Verder regs is daar die alliansie Identiteit en Demokrasie (ID), bestaande uit regse en nasionalistiese partye, met 76 lede, waarvan die Duitse Alternative für Deutschland (AfD), die Franse Rassemblement National (RN) en die Italiaanse Lega die grootste partye is.

ID het reeds vir Fidesz uitgenooi om by hulle aan te sluit, maar waarskynlik is Fidesz nader aan die EKH en het ook sterker bande met sy lidpartye soos PiS en FdI. Trouens, Pole en Hongarye en hul twee regeringspartye is in talle opsigte bondgenote en ’n aansluiting by EKH sou sin maak.

Orban, een van die bekendste en gesaghebbendste leiers binne die konserwatiewe spektrum in Europa, het nog nie besluit by watter faksie, indien enige, hy sy party wil voeg nie. Hy het laat blyk dat hy moontlik ’n nuwe faksie sal vorm en ander partye daarby sal wil laat aansluit, wat selfs tot ’n groter en verenigde regse blok kan lei. Tans is die liberale blok die derde grootste naas die EVP en die Sosiaal-demokrate en Sosialiste, maar ’n verenigde regse blok sal hul posisie inneem en daardeur hul idees groter gewig gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boerkind ·

Mag die Here vir Orban seën te midde van die waansin van LGBTQ, globalisme, vreemd aan die Weste godsdienste en groeiende Sosialisme… Dit lyk of daar darem nog hier en daar normaliteit in die siek ou wêreld is!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.