Finansiële deregulering noodsaaklik vir ekonomiese groei

Deur Martin van Staden

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Sonder aanvangskapitaal kan geen nuwe onderneming floreer nie, en die regulatoriese omgewing moet nie in die pad hiervan staan nie. Met ander woorde, Suid-Afrika se ekonomiese toekoms vind geen baat by goedbedoelde, maar vrugtelose statutêre beperkings op finansiering nie.

Daarom moet die Nasionale Kredietwet asook die Bankwet aansienlik gewysig word om die druk te verlig op kleinsakeondernemings wat hul groei wil finansier.

In die besonder moet die Nasionale Kredietwet se beperkings en limiete op rentekoerse opgehef word, tesame met die vereiste in die Bankwet dat finansiële tussengangers as banke moet registreer voordat hulle geld by die publiek kan leen om aan kleinsakeondernemings uit te leen.

Só sê die skrywers van Laws Affecting Small Business: Finance, wat deel is van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinsakeondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Ingevolge die Nasionale Kredietwet (NKW) mag uitleners nie vir kleinsakeondernemings meer as die repokoers plus ʼn voorgeskrewe rentekoers van 27% per jaar vra nie. Die gevolg is dat uitleners dikwels nie hul bokoste plus wins kan verhaal nie. Dit beteken hulle vermy dit om lenings beskikbaar te stel aan leners wat ʼn hoër risiko is, of hulle bly heeltemal van klein lenings af weg.

Dié verskynsel tref voornemende kleinsake-entrepreneurs die swaarste.

Die rentekoersplafonne in die NKW behoort geskrap te word. Uitleners moet toegelaat word om die markkoers te vra, sodat hulle nie langer ʼn buitensporige risiko loop wanneer hulle aan kleinsakeondernemings geld leen of kleiner leningsbedrae beskikbaar stel nie.

Natuurlik sal baie mense hierteen beswaar maak en aanvoer die plafonne beskerm armes teen uitbuiting. Uitleners moet eenvoudig die risiko aanvaar en die NKW se beperkings nakom, word soms gesê. Ongelukkig is dit nie die realiteit van vrywillige ekonomiese transaksies nie. Om ʼn maksimum rentekoers vas te pen, help nie dat armes lenings teen laer rentekoerse kan bekom nie, maar sluit hulle eerder uit van die moontlikheid om lenings aan te gaan.

As dié plafonne nie afgeskaf word nie, behoort die NKW gewysig te word om kleiner lenings van tot sowat R175 000, jaarliks aangepas vir inflasie, kwyt te skeld.

Ingevolge die Bankwet, om sy beurt, mag niemand as ʼn hoofonderneming deposito’s van die publiek aanvaar tensy daardie persoon as ʼn bank geregistreer is nie, en slegs ʼn openbare maatskappy mag as sodanig registreer. Dit is ʼn onmoontlike vereiste, want ʼn bank moet kapitaal en reserwefondse op bokant R250 miljoen handhaaf, of 10% van sy kwartaallikse gemiddelde bates, wat ook al die grootste is.

Met ander woorde, geen klein besigheid sal ooit as ʼn bank kan registreer nie, wat beteken geen kleinsakeonderneming sal ooit ʼn onderneming kan bedryf wat deposito’s van die publiek neem met die doel om die geld uit te leen nie. Die uitsonderings vir stokvels en spaarverenigings is te beperk.

Die Bankwet moet gewysig word om aspirant-uitleners toe te laat om deposito’s van die publiek te neem om hul eie uitleenbedrywighede te finansier – veral wanneer hulle aan kleinsakeondernemings geld leen – sonder om as banke geregistreer te wees.

Dit sal natuurlik meer riskant wees vir die publiek, maar die publiek sal in ruil vir die groter risiko hoër rentekoerse verwag. Solank die publiek ten volle bewus is van die risiko – deursigtigheid kan gelas word – moet die mark bevry word van beperkings wat die staat oplê.

Dit is maar net enkele van die aanbevelings in hierdie spesifieke LASB. Die LASB-boekies maak ʼn derde uit van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie deur middel van wydlopende deregulering en liberalisering te laat floreer.

Met die ekonomie én gewone Suid-Afrikaners wat finansieel erg in die knyp is, is dit miskien tyd dat die politieke maghebbers hul paternalistiese ingesteldheid laat vaar, minstens voorlopig. Terwyl die mark en die publiek in staat gestel word om aan te pas by die benarde situasie waarin politieke rolspelers plaaslik en in die buiteland ons gedompel het.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom’. Besoek www.martinvanstaden.com.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

So die banke wat R1 000 000 eiendom vir R10 000 op veiling verkoop moet toegelaat word om 100% rente of meer per maand te hef? Die groot ondernemings bewys oor en oor dat geld al is wat tel en kliente melkkoeie is en niks meer nie, soos die landbank…

Jakkie ·

Ons het almal Monopoly gespeel as kinders. My punt daar was reëls(regulasies) om juis vorming van monolopië te voorkom wat gesonde kompetisie aanwakker. Ons land het reeds n groot “versteekte” ekonomie met letterlik duisende informele handelaars. RET is populistiese filosofie wat gewoon nie op voetsoolvlak kan en sal werk nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.