Finansiesminister se mediumbegroting sal moet oortuig

ettiene-retief

Ettiene Retief. Foto: Verskaf.

Deur Ettiene Retief

Malusi Gigaba, minister van finansies, lewer op 25 Oktober sy intree-mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring. Sy benadering tot die talle fiskale uitdagings wat die land tans in die gesig staar, sal moet help om kommer oor ekonomie, korrupsie en verkwistende uitgawes aan te spreek.

Gigaba sal internasionale markte moet oortuig dat alles onder beheer is in Suid-Afrika, en dit gaan geen maklike taak wees nie.

Ekonomiese klimaat

Die regering het in Februarie verwag dat die ekonomie met 1,3% vir hierdie jaar sal groei en met 2% in 2018, as ekonomiese toestande versterk. Dit het ook belasting gehef om bestaande bestedingsprogramme te befonds.

Die destydse minister van finansies het erken die verhoging van belasting terwyl die ekonomie sukkel, is ongewens, maar dat dit onvermydelik in die fiskale omstandighede was.

Die ekonomie het twee agtereenvolgende kwartale gekrimp en het net in die tweede kwartaal van 2017 uit die tegniese resessie getree nadat ʼn groei van 2,5% aangeteken is. As die eerste helfte van 2017 met die eerste helfte van 2016 vergelyk word, was die groeikoers 1,1% volgens Statistiek SA.

Sedert die begrotingsrede in Februarie was daar ook talle ander negatiewe ekonomiese aanwysers.

Indiensnemingsyfers het afgeneem, met baie meer afleggings in die pyplyn, wat kan lei tot ʼn krimpende persoonlike inkomstebelastingspoel. Werklose mense het uiteraard ʼn kleiner besteebare inkomste en ʼn gebrek aan kontantvloei wat vertaal na minder aankope en minder belasting op toegevoegde waarde (BTW). Minder maatskappye maak groot winste, wat ook kan lei tot ʼn veel kleiner korporatiewe inkomstebelastingspoel.

Geprojekteerde belastinginkomste vir die 2017/18 fiskale jaar is R1,41 miljard en die voorgestelde uitgawes was R1,56 miljard.

Gigaba sal sy beleidsverklaring moet gebruik om aan te dui tot watter mate hierdie syfers aangepas sal word. Die staatskuld was in Februarie ongevoer 50,7% van die bruto binnelandse produk, wat meer as R2 triljoen beloop.

Verwagtinge versus die realiteit

Die insameling van belasting in al drie die belangrikste belastingsoorte (persoonlike inkomstebelasting, BTW en korporatiewe inkomstebelasting) sal na verwagting nóg laer wees as wat in Februarie voorspel is.

Suid-Afrikaners sal van Gigaba verwag dat hy duidelikheid moet verskaf oor hoe hy die begroting gaan aanpas en of hy die addisionele koste van verhoogde lenings in gedagte sal hou, indien hy dit wil gebruik om voorsiening te maak vir staatsuitgawes in die plek van die groter wordende tekort in belastinginkomste.

Hulle sal verseker wil word dat die regering sy uitgawes binne perke sal hou en selfs die kostes van nie-presterende staatsbeheerde entiteite sal verlaag.

Dit is noodsaaklik dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) doeltreffend bly in die invordering en administrasie van belasting. Daar heers egter tans kommer dat minder mense bereid is om belasting te betaal en dat die taksman al meer aggressief teenoor belastingbetalers gaan optree.

Die Spesiale Vrywillige Bekentenisprogram is pas voltooi. Die minister sal waarskynlik terugvoer gee oor die hoeveelheid suksesvolle aansoeke en hoeveel voorheen onverklaarde bates tot die belastinginkomste bygevoeg is.

Wen weer belastingbetalers se vertroue terug

Verkwistende, vrugtelose uitgawes en die gebrek aan aanspreeklikheid hiervoor knou belastingbetalers se vertroue in die staat se vermoë om sy geldsake te hanteer. Belastingbetalers se vertroue kan wel weer teruggewen word as hulle oortuig word die uitgawes wat die regering aangaan, is “redelik”.

Die SAID is reeds onder druk om belasting in te samel met mediaberigte wat beweer die instansie gaan nie vanjaar se doelwit behaal nie. Boonop moet die prosedures wat die SAID volg om belasting in te gaar en administreer redelik wees. Meer aggressie van die taksman sal waarskynlik net tot meer weerstand van belastingbetalers lei.

Dit is heeltemal verstaanbaar dat die regering verpligtinge het en dat dit ʼn mandaat het om doeltreffende dienste soos gesondheid, veiligheid en onderwys te lewer. Die deurlopende verslae van korrupsie en vermorsing – sonder enige aanspreeklikheid – maak mense egter huiwerig om hul swaarverdiende geld te deel.

Die minister het ʼn moeilike taak op hande. Hy moet alle Suid-Afrikaners, die kredietgraderingsagentskappe én internasionale markte verseker dat die land steeds op die regte pad is.

Die doel van die mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring

Volgens die nasionale tesourie is die mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring ʼn staatsbeleidsdokument wat aan die parlement en die land die ekonomiese konteks waarin die komende begroting (Februarie 2018) aangebied word, sal oordra.

Dit bevat ook fiskale beleidsdoelwitte en bestedingsprioriteite oor die uitgawe-periode van drie jaar. Hierdie beleidsverklaring is ʼn belangrike deel van Suid-Afrika se oop en verantwoordbare begrotingsproses.

Die vraag is of die minister op die koers sal bly wat Gordhan, as die vorige minister van finansies, vasgestel het en of hy die fiskale beleidsdoelwitte en bestedingsprioriteite gaan hersien.

Dit bied die minister die geleentheid om die parlement en die burgers van Suid-Afrika in kennis te stel of die SAID op koers is met die beoogde insameling van belastinginkomste soos in Februarie begroot is, en of daar nóg moontlike belastingverhogings in die vooruitsig is.

  • Ettiene Retief is die voorsitter van die nasionale belasting en SAID-komitee van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Die planne is legio maar kapasiteit en wil ontbreek met die uitvoering. Verder, as n Zuptafikasie adjudant, is dit reeds duidelik dat die afrigter se sweep die hoogte en rigting van die volgende sprong bepaal.

Dus, die plan kan die graderingsagentskappe paai, maar in die uitvoering, sal die nie- amptelike begroting na gevolg word.

Die Russiese konneksie is oorverhit op die stadium en vra aandag en kapitaal, so ook SAA, Eskom, Prasa en die ander wanbestuurde ondernemings. Ek het geen vertroue is die minister nie en ek hoop belastingweerstand bou op tot vlakke van massaverset.

Hendrik ·

Terwyl die Zim puppet wil praat, laat hy ons ook vertel waar die geld vandaan gaan kom om nog n kernkragsentrale te bou!

Johanna Botha ·

Voor hy nog begin praat lag die buiteland wat nog van vertroue skep ….

Blou ·

Die politiek bly maar ‘n tragiese verhaal. Politici (die enigste professie wat nie ‘n akademiese kwalifikasie vereis nie) vry na die “not haves” om hulle in hul stoel te hou en moontlik maak om te skep. Die politici gebruik dan die geld wat hulle soms wederegtelik van die “haves” (belastingbetalers ) verhaal om politieke beloftes na te kom. Dit is baie normaal. Die gevorderde belastinggeld moet net sinvol aangewend word en die Kaap is steeds Hollands. MAAR o wee, politici wat nog nie eens ‘n hoekkafee bestuur het nie raak nou uitvoerende bestuurders met katestrofiese gevolge. Buitensporige uitgawes, onbevoegdheid om noodsaaklike dienste te verskaf (Kaapstad is tipiese voorbeeld – kan nie eens in ‘n jaar ‘n watersuiweringsaanleg (seewater suiwering) van die grond af kry nie.
Indien jou en my begrotings nie klop nie sal ons ook sekerlik na alternatiewe inkomstebronne soek – moontlik ‘n 2de werkie maar meer as dikwels beteken dit gordel stuiwer span. Die staat het blykbaar geen simpatie met die “haves” nie en gaan doodgewoon voort om die kalf wat die goue eier le keel af te sny. Geen inisiatief , vernuwing of demonstrasie van kundigheid nie.
Wanneer die dogma van absurde bevrydingsidiologiee vervat word in politieke idees deur onbevoegde persone wat om geheime agendas aangestel is moet ons die resultaat maar verwag van volgehoue rommelstatus en uitmergeling van die “haves” te ervaar.
EK twyfel of daar enigeen in die ANC (en ook DA) bestaan wat “uit die volk, vir die volk” kan regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.