Finland se verkiesing: ʼn swaai na regs

Finland se uittredende premier, Sanna Marin, spreek die media by die parlement in Helsinki, Finland, toe om aan te kondig dat sy in September 2023 as leier van die SDP sal bedank, drie dae nadat sy die Finse algemene verkiesing verloor het, op 5 April 2023 . (Foto: Heikki Saukkomaa / Lehtikuva / AFP)

Finland se onlangse verkiesing het ʼn naelbyt-uitslag opgelewer, waar die drie grootste partye net enkele breukdele van ʼn persentasiepunt uitmekaar was. Daar was wel ʼn swaai na regs en die huidige eerste minister, die Sosiaaldemokraat Sanna Marin, is na alle verwagtings haar pos kwyt.

Die oorwinnaar is die hoofstroom konserwatief-liberale Nasionale Koalisieparty van Petteri Orpo met 20,8% (48 setels, plus 10), met die nasionalistiese Finneparty van mev. Riikka Purra kort op sy hakke met 20,1% (46 setels, plus 7) en Marin se Sosiaaldemokratiese Party (SDP) met ʼn haarbreedte daaragter met 19,9% (43 setels, plus 3). Die groot verloorder was die SDP se koalisievennote, aan die linkerkant die Groenes met 7,1% (13 setels, minus 7) en die Linkse Alliansie met 7% (11 setels, minus 5) asook die Sentrumparty met 11,3% (31 setels, minus 8). Kleiner partye, soos die Party van die Sweedse minderheid en die Christen-Demokrate het 4,5% en 9 setels, en 3,9% en 5 setels verower.

Daar is verwag dat Marin, gemeet aan haar “popster-status” en media-profiel asook die groot gebeurtenis dat Finland onder haar regering lid van Navo geword het, beter sou vaar. Oor die toetrede tot Navo was daar egter breë konsensus onder al die partye, daarom was dit ook geen debatpunt in die verkiesing nie. Marin se gewildheid was meer by die internasionale media as by die gewone burgers, vir wie die uitsette van die regering belangriker is as die feit dat Marin “jong, vroulik, progressief en aantreklik” is, wat internasionale joernaliste so bekoor. Trouens, Marin se geneigdheid om al te “menslik” te wil wees met sensuele foto’s in glanstydskrifte en video’s van danspartytjies het eerder teen haar getel, want die meeste burgers soek ʼn leier vir wie hulle respek kan hê. Marin het intussen haar bedanking as partyleier van die SDP aangekondig.

Ook in Finland word verkiesings nie meer gewen met feminisme, klimaat of Covid-19 nie, maar met verantwoordelike politiek. Die kiesers het Marin veral verkwalik dat sy die land se skuldvlakke aansienlik opgestoot het, deels weens Covid-19 en hulp aan Oekraïne, maar ook weens die Sosiaaldemokratiese geneigdheid om in alle rigtings geld uit te deel. Finland is een van die fiskaal meer konserwatiewe lande in die EU en het met die Euro-krisis wal gegooi teen lande soos Italië en Griekeland wat ander lande se geld vir hulle skuld wil gebruik. Die wenner, Orpo, verteenwoordig die ekonomies konserwatiewe en “vervelige” politiek, iets wat kiesers nou eerder soek as Marin se internasionale bekendheid.

Orpo van die Nasionale Koalisieparty as die grootste party is egter nie outomaties eerste minister nie en moet eers ʼn koalisie met ten minste nog twee ander partye vorm. In Finland is daar geen natuurlike alliansies nie en gewoonlik is daar regerings uit ʼn verskeidenheid politieke partye oor ʼn wye spektrum. Tradisioneel is daar ook ʼn groot mate van konsensuspolitiek en minder harde lyne tussen links en regs.

Die Nasionale Koalisieparty is ʼn sentrum-regse, liberaal-konserwatiewe party en het verskeie opsies van potensiële koalisievennote. Die party en sy leier was ook voor 2019 deel van die regering. Die groot vraag is of Orpo die Finneparty in ʼn regering sal betrek en daarmee ʼn meer nasionalistiese beleid sal volg, of eerder vir ʼn hoofstroom-alliansie sal kies, moontlik onder insluiting van die SDP.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Nog een van van Shwab se poppe wat geval het…

Miss J ·

Mense raak moeg vir die ministers en leiers wat narratiewe volg in plaas van hulle kiesers se belange in ag neem. Gewildheid by media en ander leiers beteken nie jy is ‘n goeie leier vir jou mense nie. Hoe meer mense dit besef en die leiers uitstem, hoe meer sal die wereld weer harmonie ervaar

CA ·

Ja en daarteenoor kon die verwerping en verdagmakery van Putin deur westerse media en leiers nog nie daarin slaag om die kiesers in Rusland teen hom te laat draai nie…

Nettie ·

Ek wou presies dieselfde vra, Manie! Volgens my is die 2 konsepte die teenoorgestelde van mekaar!

Miskien bedoel hulle dan “sentriese party”? Ek weet nie. Maar dit wat die Europeers as konserwatief beskou, tel by my maar as liberalisme in elk geval. Ek dink nie hulle het ‘n idee meer van konserwatiewe, Bybelse waardes en norme nie. Volgens hulle is dit offensief, uitsluitend en haatdraend.

Jakkie ·

Stem heelhartig saam met Nettie en Manie, my oupa het n woord vir dit gehad

annie ·

Ou Sannatjie weet dit nie eens nie maar sy het nou in hande die geledere van die linkste van linkse demokrate gespeel. Neutraliteit in Navo se bed is nie vir nonnetjies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.