Fisiese voorbereiding slegs een bydraende faktor tot oorwinning

stormersDie afgelope naweek het weer sy kwota verrassings opgelewer.

Dit is duidelik dat die fisiese voorbereiding slegs een bydraende faktor tot oorwinning is. Die res moet op ʼn sielkundige voorbereidingsvlak geskied en ek is nie so seker dat enige van die bestaande Curriebeker-afrigters die vermoë het om dit te doen nie.

Ter illustrasie: Die Leeus klop die WP verlede week op sy tuisveld en durf toe die Griekwas ook op sy tuisveld aan. Die logiese afleiding is dat die Leeus weer die oorwinning sal behaal, want hy het weer sy tuisveldvoordeel en die Griekwas is vroeër deur die WP geklop. Wat gebeur? Die Leeus word van hulle voete af gehardloop en, alhoewel hulle terugveg, laat die Griekwas nooit hulle wurggreep op die wedstryd verswak nie. Die Griekwas was hongerder vir ʼn oorwinning as die Leeus. Dieselfde het met die Bulls gebeur.

Hulle was nie sielkundig (of fisies) sterk genoeg vir die WP-aanslag nie. Dit is ook ʼn rugbyfeit dat geen span vir 80 minute kan verdedig nie. Dít is wat die Bulle moes doen. Sowat van ʼn oorheersing van die balbesit, en dit deur ʼn gewaande “swakker” WP-span het ek lanklaas gesien. WP het blykbaar onder druk en bespreking van die afgelope paar weke besluit om die aanvallende dimensie tot sy spel te voeg en dit was verwoestend. Die Bulle het nie geweet wat hulle getref het nie.

Die oorheersing van die losbal het die Bulle op hulle agtervoete gehad.

Die tradisionele Bulle-rugby van voor sagmaak en dan die bal agterlangs versprei is meesterlik deur die WP toegepas.

Die Springbokke in die Bulle-span se spel het my laat wonder of die kritiek, wat teen Heyneke Meyer geopper is oor die baie Bulle in die Springbokspan, nie dalk geregverdig was nie. Die Springbokbulle was nie naastenby op dieselfde vlak as dié van die WP nie.

Nou wonder ek ook wat die strategiese beplanning vir die Bulle is, want tans word daar op senters en vleuels gekonsentreer as dit by die kontraktering van spelers kom en die voorspelers word half agterweë gelaat.

Welgedaan Province. (Moet nou net nie te selfversekerd raak nie, dan gaan ook met julle gebeur as wat met die Bulle gebeur het.

Die beste wedstryd van die naweek was die een tussen die Cheetahs en die Sharks. Die Cheetahs wonder seker steeds wat verkeerd geloop het. Om op een stadium met 24 -6 voor te loop en dan die wedstryd met 34-32 te verloor, verg selfondersoek. Hulle het sprankelrugby gespeel en die wedstryd oorheers. Die Sharks kon eers in die 78ste minuut van die wedstryd die voortou neem. Ter verdediging van die Sharks, moet ek egter byvoeg dat hulle hul eie grootste vyand was. Sowat van ongedwonge foute en swak afronding het ek lanklaas by ʼn Sharks-span gesien.

Veral die eerste helfte het talle geleenthede om punte aan te teken deur óf oorgretigheid óf onbeholpenheid skipbreuk gelei.

Daar was ʼn merkbare verbetering na rustyd in die Sharks se spelpatroon. Ek dink dat dít wat tydens rustyd aan die spelers gesê was, is nie geskik vir publikasie nie.

Nou lê die volgende rondte van die Curriebeker voor en watter verrassings lê en wag ?

Ons Bokke het op die Australiese en Nieu-Seelandse been van hul Superrugby vertrek en ons wens hulle sterkte toe. Ek dink dit sal moeiliker met hulle gaan as teen die Argentyne, so kom ons hoop dat hulle ook hulle spelpeil so ietwat kan lig.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.