Fokus op lugbesoedeling net betyds

wod-2019-lugbesoedeling-01

‘n Vrou met ‘n masker ry op een van die miljoene bromponies in Hanoi, Viëtnam. Foto: Suscan Scott.

Mens hoor so baie redes hoekom renosterhoring in Asië gebruik word, om dus die reis daarheen aan te pak om agter die kap van die byl te kom, was ’n belangrike stap vir my tydens my navorsing vir my dokumentêre rolprent STROOP. Ek het met heelwat plaaslike inwoners gepraat en uiteindelik ’n deurbraak bewerkstellig toe ons met ’n kankerpasiënt in ’n vooraanstaande buurt in Hanoi op kamera kon gesels.

Haar behandeling was ’n kombinasie van chemoterapie en gemaalde renosterhoring, wat sy met warm water gemeng en dan gedrink het. Dít, het sy geglo, het haar van kanker genees. Aan die ander kant van die stad by die Bach Mai-hospitaal waar daar ’n kerngeneeskunde en onkologiesentrum is, het honderde pasiënte gewag vir hul beurt om langs ’n chemoterapiemasjien in te skuif vir behandeling. Die onkoloog daar het my vertel dat, ten spyte van haar pleidooie by pasiënte om nie renosterhoring te gebruik nie, hulle dit steeds doen. Hulle bly vas glo dat die kombinasie van Westerse en Oosterse medisyne hulle sal genees van kanker.

Kanker in Viëtnam het die hoogte ingeskiet en volgens berigte is daar nie genoeg chemoterapiemasjiene om tred te hou met die aantal pasiënte nie. Dit is moeilik om te bepaal, maar die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam dat nuwe kankergevalle van 70 000 in 1998 tot 150 000 in 2012 gestyg het. Dit is ’n toename van meer as 100% in ’n baie kort tyd – ’n skrikwekkende statistiek. ’n Dieper ondersoek wys dat ongeveer 22 000 nuwe gevalle van longkanker elke jaar aangemeld word en sal na verwagting met bykans 60% tot 34 000 nuwe gevalle teen 2020 styg.

wod-2019-lugbesoedeling-03

‘n Grafiese voorstelling van die drastiese toename in die gevalle van kanker in Viëtnam van 1975 tot 2016. Grafika: Carol Hilliard/STROOP.

Hierdie dramatiese toename in longkanker word toegeskryf aan die “sluipmoordenaar” genaamd lugbesoedeling. En terwyl ons op soek was na renosterhoring, het ons die skrikwekkende gevolge van lugbesoedeling oor die hele Suidoos-Asië gesien. Bromponies (nie by die honderde of selfs duisende nie, maar by die miljoene) woerts daagliks deur Asiese stede en blaas stikstofdioksied (NO2) die lug in. Glo my, nêrens ’n vars briesie nie. Ons het erge hoofpyne ervaar en dik, donker roet het op ons klere en op ons vel saamgepak. Mense wat in die stede bly, dra maskers en hou daagliks die televisie dop vir die voorspelling van die lugbesoedelingsindeks. Wanneer dit die gevaarsone of rooisone bereik, wat dikwels gebeur, is dit nie veilig om dit buite te waag nie. Met ander woorde, dit is skadelik vir jou gesondheid, selfs met ’n masker.

’n Armoedige land ná die Viëtnam-oorlog, het 20 jaar van versnelde ekonomiese groei gesien, en Viëtnam is vandag die afguns van ontwikkelende lande. Dit word as ’n suksesstorie gereken met die snelgroeiendste welvaart ter wêreld, selfs beter as China.

Maar het vooruitgang gekom ten koste van die bevolking se gesondheid?

Lugbesoedeling, as tema vir vanjaar se Wêreldomgewingsdag, is meer gepas as ooit. Ná die sigbare gevolge van lugbesoedeling in Hanoi, was ek verlig om terug te wees in Johannesburg en om die lug van ons boomryke woonbuurte in te asem. Ek sou nooit vir een oomblik kon dink dat ons lugbesoedeling naby sou kom aan dié van Suidoos-Asië nie. Maar ons almal het al genoeg tyd by kerslig deurgebring om te weet dat ons ’n energiekrisis ervaar. Eskom verskaf 95% van die land se elektrisiteit deur die verbranding van steenkool en jy hoef nie ’n wetenskaplike te wees om te weet watter grootskaalse invloed dit op die omgewing het nie.

Kom ons kyk na Suid-Afrika se steenkoolprovinsie, Mpumalanga. Meer as 80% van die land se steenkoolvervaardiging vind in dié streek plaas, terwyl 90% van Suid-Afrika se steenkoolaangevuurde kragstasies daar gevestig is. Die mees skokkende feit is egter dat hierdie provinsie die hoogste vlakke van lugbesoedeling toon, en volgens ’n studie wat in 2018 deur Greenpeace gedoen is, is dit ’n wêreldwye brandpunt vir NO2-emissies.

“Suid-Afrika het die meeste steenkoolkragstasies in die wêreld,” aldus Greenpeace.

Volgens satellietdata van die Nederlandse Troposferiese moniteringsinstrument (Tropomi), loop Johannesburg en Pretoria erg deur onder hierdie besoedeling wat miljoene mense affekteer.

Ons het so pas ons verkiesing gehad en as mens so deur die verskillende politieke partye se verkiesingsmanifeste blaai, is enigiets wat met die omgewing verband hou, soos die lug wat ons inasem, baie laag op die lys.

wod-2019-lugbesoedeling-02

Bonné De Bod praat met dr. Phuong Cam Pham, ‘n onkoloog by die Bach Mai-hospitaal in Hanoi. Foto: Susan Scott.

Ek verstaan dat ons deur baie probleme in die land oorweldig word, maar skoon lug is ’n reg wat elke burger moet hê. Maar meer belangrik: as ons na Viëtnam as ’n ekonomies ontwikkelde model kyk, moet ons so vinnig as moontlik ’n ommekeer maak en al ons aandag fokus op hernubare energie.

Kom ons kyk na ʼn stad wat dit reggekry het: Beijing, ’n stad bekend (of dalk berug) vir sy rookmis, het planne in werking gestel om besoedeling om te keer. Volgens ’n verslag van UNEP (die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram) het die jaarlikse fyndeeltjie besoedelingsvlakke in die stad binne die bestek van slegs vyf jaar met 35% gedaal. Beijing het die eerste stad in die wêreld geword wat so ’n groot daling in so ’n kort tyd ervaar het, soos “groen” vervoer met strenger vereistes vir brandstof en voertuie terwyl daar ook belê is in elektriese busse en E-voertuie. In die laat 90’s was Beijing vasgevang in die verbranding van steenkool en vandag maak dit minder as 5% van die totale energieverbruik uit.

Dit is ’n merkwaardige ommekeer en daar is niks wat ons keer om dit ook te doen nie.

Ons land het ekonomiese groei broodnodig, maar dit hoef nie ten koste van ’n skoon omgewing en die lug wat ons inasem, te gebeur nie.

  • Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andreas ·

Wat kan mens sê, stomgeslaan, mens lees in afgryse wat ons aan die aarde doen, dit wat aan ons toevertrou is om na om te sien, aan onsself, mens voel magteloos, ons hier op die grond wat die natuurlewe en bewaring omhels, wat self ons kant probeer bring (Facebook, YouTube). Dis maar ‘n druppel aan die emmer, nie eens so groot soos ‘n sandkorrel in hierdie wye wêreld nie, en dan is daar mense wat die olifant, die renoster en die leeu stroop. Wat kan mens, ons as enkeling, nog doen?

Realis ·

Ons as mens kan niks aan die aarde doen nie. Ons doen dit aan onsself. Die aarde het ‘n teenmiddel vir enige en elke ding wat die mens sy kant toe gooi. Ons as mens hou nie altyd van die medisyne nie. 2004, die aarde gril net ‘n bietjie en 228000 siele is weg. Ingebou in die natuur is daar ook selfreguleringsmeganismes. Meer mense, meer lugbesoedeling, meer kanker , meer sterftes, minder mense, minder lugbesoedeling. Probleem opgelos.

Andreas ·

Dankie Realis, maar dit is nie my ingesteldheid om te aanvaar dat ons net kan vernietig nie, ekosisteme, vleilande, riviere, oerwoude, diere, besoedeling, noem dit.

Andries Nieuwoudt ·

Ek neem aan die bromponies het petrol engines. Die uitlaatgasse bestaan hoofsaaklik uit stikstof (N2), dan koolsuurgas (CO2) en water. Daarna in baie kleiner volumes koolwaterstof verbindings (hydrocarbons), koolstofmonoksied (CO) en dan stikstofdioksied (NO2) indien die engine nie reg ingestel is nie en die ontbrandingstemperatuur baie hoog is. Die artikel skep die indruk dat NO2 die probleem is, wat reg is in ‘n sin, maar die CO2 wat afgeskei word is baie meer en is ook skadelik vir die omgewing. So dis heeltemal reg om die uitlaatgasse te blameer vir lugbesoedeling en gesondheidsprobleme, maar kry asseblief net die wetenskaplike verwysings reg. Steenkoolkragsentrales se NO2 afskeidings word ook verdwerg deur hulle H2SO2 (swaeldioksied, wat steenkoolrook sy kenmerkended vrot eier reuk gee) afskeidings wat ook karsenogenies is. Dis baie meer skadelik vir ons gesondheid.

Rupert Ashford ·

Wie het die geld voorgeskiet vir hierdie dokumenter?

Boesman ·

Die probleem is OORBEVOLKING! Die mens gaan homself vernietig met sy getalle , net soos hy die natuur en die aarde verwoes. Hoe meer tegnologie ons het, hoe meer raak ons verwyder van die natuur en hoe minder gee ons om wat gebeur. Kyk maar net na die hoeveelheid plastiek wat elke huishouding weggooi. Daar is nie meer n plek in die see waar plastiek nog nie gevind is nie . En kyk wie is verantwoordelik vir die meeste besoedeling, die rykes in die ryk lande!

Ra Amon Khan ·

.
.
Plante haal CO2 in vir asem…daarsonder vrek plante en vervaardig nie meer suurstof wat mense moet inhaal nie….volgende is water-opvang tax…dan asemhaling tax.
.
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.