Fopnuus: bly nugter en gebruik jou gesonde verstand

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Fopnuus (fake news) is die gonswoord van ons tyd wat ’n mens dikwels in politieke toesprake en op die sosiale media teenkom. Maar aangesien fopnuus al duisende jare onder die mensdom bedryf word, is dit geen eksklusief eietydse verskynsel nie.

In die jaar 1274 v.C. het farao Ramses II in die Slag van Kadesj teen die Hetitiese leër geveg. Maar hoe het die slag verloop, en wie het gewen?

Aan Egiptiese kant is daar twee geskrewe bronne, aangevul deur enkele inskripsies op tempelmure. Daarvolgens het Ramses ’n groot oorwinning behaal.

Daar is eweneens twee geskrewe bronne aan Hetitiese kant en een reliëf op ’n tempelmuur. Hulle bevat minder detail as die Egiptiese bronne, maar maak wel gewag van hul eie kant se oorwinning.

Die daaropvolgende vredesverdrag dui egter daarop dat die geveg onbeslis was en dat albei kante ingesien het dat die voortsetting van die oorlog meer nadele as voordele ingehou het.

Hoe jy dit ook al wil bekyk, fopnuus in die vorm van propaganda was destyds aan die orde van die dag. Kyk jy na, byvoorbeeld, die twee wêreldoorloë, is dit voortgesit, maar nou met behulp van nuwe tegnologieë soos die pers en radio.

Fopnuus is, sy dit in ’n ander vorm, steeds met ons. Dit het sy voorkoms van amptelike staatspropaganda oorstyg en vind nou plaas oor die volle diepte, breedte en hoogte van die mensdom.

Die rede is weer eens die vordering in kommunikasietegnologie. Elke Jan Rap en sy maat het onafhanklik toegang tot die internet en sosiale media, elke persoon kan die gekste bewerings denkbaar vir die waarheid op Facebook, Twitter of ander media deel. Binne enkele sekondes kan honderdduisende mense dit lees.

Enersyds is dit goed, want dit kom neer op ’n demokratisering van meningsverspreiding. Andersyds roep dit soms die slegste in mense op.

(Foto: AP Photo/Matt Rourke, File)

’n Goeie voorbeeld, wat die laaste maande steeds meer aandag geniet het, is ’n skimmige groep met die naam QAnon, wat in Amerika ontstaan het en blykbaar steeds meer aanhangers kry.

Drasties kortpad gevat, beweer die groep (sonder bekende leiers of struktuur) dat ’n geheime kabaal agter die skerms die gebeure in die wêreld orkestreer. Die kabaal se leiers word geïdentifiseer as die meeste bekende politieke figure, wat glo oorwegend uit ’n klomp korrupte, sananistiese pedofiele en kannibale bestaan.

Agter die skerms, so glo QAnon blykbaar, is pres. Donald Trump besig met ’n geheime strategie om die pedofiele kabaal – ook bekend as die “deep state” – vas te vat. Ná sy herverkiesing sal Trump dié skurke onskadelik maak in wat bekend sal staan as die “Great Reckoning”.

Trump is juis verlede week op ’n perskonferensie gevra wat hy van QAnon dink. Sy antwoord was tipies van ’n politikus wat nie reguit wil antwoord nie: Hy weet nie veel van hulle nie, het hy gesê, behalwe dat hulle “baie van my hou, wat ek waardeer”, asook dat hy verneem het dat hulle “hul land liefhet”.

Spesifiek gevra of hy inderdaad agter die skerms werk om die satanistiese pedofiele en kannibale vas te vat, was sy woorde: “Is dit ’n goeie of ’n slegte ding? As ek die wêreld van sekere probleme kan red, is ek gewillig om dit te doen. Ek is gewillig om my daar buite neer te sit. En ons doen dit inderwaarheid.”

Volgens die organisasie Media Matters het Trump twiets van QAnon-volgelinge minstens 201 keer hertwiet.

Elders in die Republikeinse Party is met afsku hierop gereageer. Sen. Ben Sasse (Nebraska) het QAnon “mal” (nuts) genoem en bygevoeg: “Egte leiers noem samesweringsteorieë samesweringsteorieë. As die Demokrate die senaat oorneem, sal dit ’n groot rede wees hoekom hulle gewen het.”

Baie van die QAnon-aanhangers glo vas dat die vermoorde pres. John F. Kennedy steeds leef en net die regte oomblik afwag om Trump se herverkiesing te steun, dat die maanlanding ’n bedrogspul was, dat Amerika self die 9/11-aanval georkestreer het, dat die koronavirus óf nie bestaan nie óf slegs ’n griepvirus is, ensovoorts.

Wat dié soort oortuigings interessant maak, is dat hulle ook aan die ander kant van die spektrum, by linkse ekstremiste en anargiste, gedeel word. ’n Anargis wat ek goed ken, het in 2016 beweer dat Hillary Clinton eintlik dood is, dat Barack Obama die verkiesing sou kanselleer en ’n krygswet afkondig. Ook die Hongaarse miljardêr George Soros en die Amerikaner Bill Gates word deur albei kante as van die belangrikste boosdoeners beskou.

QAnon-aanhangers kan dikwels op openbare politieke vergaderings gesien word met plakkate waarop slegs een letter – “Q” – staan.

Niemand weet wie Q is nie. Luidens uiteenlopende teorieë is hy ’n gewese intelligensie-offisier in die Amerikaanse weermag, ’n groep mense, of Trump self. Kriptiese boodskappe wat na bewering van Q afkomstig is, verskyn dikwels op die webwerf 4chan.

Hoe wyd is QAnon se steun? Luidens berigte is minstens 20 kandidate vir die huis van verteenwoordigers (19 Republikeine en een onafhanklike) QAnon-gelowiges. In ’n peiling van die gerespekteerde Pew-navorsingsentrum wat in Maart gedoen is, het 76% van die ondervraagdes gesê hulle het nog nooit van QAnon gehoor nie.

QAnon het intussen na verskeie ander lande in die wêreld uitgebrei, maar daar bly dit, veel meer as in Amerika, ’n onbeduidende randverskynsel.

Wat in elk geval opvallend is, is die mate waarin die ekstreme mekaar vind.

Tradisioneel word die politieke spektrum as ’n reguit lyn voorgestel, van uiters links oor gematig tot uiters regs. Dit verklaar egter nie die fundamentele ooreenkomste tussen die idees van linkse en regse ekstremiste nie.

Daarom het politieke wetenskaplikes ’n ander vorm bedink, dié van ’n perdehoef. Daar is die uiterste linkses en regses dus eintlik baie naby aan mekaar, in elk geval veel nader as wat hulle aan die gematigdes is.

Inderwaarheid is die égte teenstelling in die politiek dus nie tussen uiters links en regs nie, maar tussen ekstremisties en gematig. Dit sien jy duidelik in die ooreenkomste tussen die denke van byvoorbeeld QAnon en linkse anargiste oor van alles en nog wat.

Dis jammer dat mense so maklik mislei word deur wat hulle in die kuberruimte lees, sien en hoor. Die onbetwisbare voordele van kitskommunikasie word helaas gekanselleer deur die ewe groot nadele.

Dus: Bly maar nugter en gebruik jou gesonde verstand. Álle politici pleeg propaganda; dis deel van die spel. Maar as jy dáárdie geruis wegdink en na die substansie daaragter kyk, kan ’n regdenkende mens, al is dit soms met moeite, die kontoere van die waarheid deur die newels ontdek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

‘n Duistere organisasie soos hierdie, waarvan 76% in ‘n peiling nog nooit gehoor het nie, verdien om doodgeswyg te word.
Verdagmaking sal egter in felheid toeneem in die aanloop tot 3 November.

Niklaas ·

Die grootste opsteller van fopnuus wat ek van weet , was in die Nazi’s se bewind toe elke uitspraak van Dr Josef Goebbels onwaarhede en totale verdigsels bevat het. Dis hy wat bestempel was deur die Britse pers en politici as “Master of the half truth”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.