Fopnuus – lagwekkend én skadelik

Groot nuus! Die Nederlandse kabinetslede kom, as we speak, uit ’n vergadering waar besluit is om die koronakrisis te gebruik om die land se bevolking met 200 000 te verminder. Dit betref veral oues van dae en siek mense; só kan die owerheid sommer lekker baie geld bespaar en miljoene in die sakke van sy kapitalistiese vriende in die farmaseutiese bedryf laat beland.

Dié onthulling is op 17 Maart gedoen deur ene Tom Zwitser. Zwitser, wat sy eie filmpies op YouTube plaas, noem Nederland “’n Stalinistiese rotland” (iets soos ’n aaklige land) wat deur ’n geheime klein groep bankiers, amptenare en omgewingsaktiviste geregeer word.

Die “onthulling” is natuurlik ’n tipiese voorbeeld van fopnuus. En die koronakrisis leen hom helaas by uitstek vir só iets. Daar was ook mense wat beweer het die koronavirus is bedrog, dis deur die Chinese/Amerikaners/Russe/Duitsers (skrap wat nie van toepassing is nie) ontwikkel en doelbewus of per ongeluk vrygelaat, jy sal nie siek word nie as jy jou asem inhou, baie warm water, ’n silweroplossing of bleikmiddel drink of ’n klomp knoffelhuisies eet nie (ofskoon, in laasgenoemde geval sal jou sosiale lewe moontlik daaronder ly).

Sommige van dié bewerings is bloot lagwekkend, maar ander is skadelik.

Fopnuus is van alle tye. In ons eie tyd het die gemak waarmee mense massaal kan kommunikeer, dit egter in ’n yslike probleem laat ontwikkel.

Die internet en aanverwante media – Twitter, Facebook, Instagram, SMS’e, WhatsApp’s, ensovoorts – maak dat jy jou mededeling binne ’n ommesientjie met honderde, selfs duisende mense kan deel. En as hulle elkeen ook dieselfde doen, versprei ’n berig wat by één mens begin het, binne ’n uur of twee na honderdduisende, dalk miljoene mense.

Dit is hoofsaaklik ekstremiste, links én regs, wat sulke samesweringsteorieë uit hul duim suig en die wêreld inslinger. Daarteenoor staan die waarheid van die Amerikaanse spreekwoord, A sucker is born every minute. Dis meestal ekstremiste wat sulke leuens gretig opslurp.

Die massakommunikasiemiddele kan sekerlik nuttig wees. Leiers soos pres. Donald Trump en Helen Zille maak deesdae handig van Twitter gebruik om regstreeks met hul volgelinge te kommunikeer. Dit het ook nadele, want jy kan nie ’n boodskap in sy volle konteks en nuanse op Twitter oordra nie – maar dit daar gelaat.

Gewetenlose politici sien in elk geval hul kans in die gaping wat die moderne massakommunikasiemiddele hulle bied.

Vroeër vandeesmaand het die Europese Unie (EU) ’n verslag van nege bladsye opgestel oor hoe Rusland fopnuus oor die koronakrisis skep. Die Londense Financial Times en die nuusagentskap Reuters het die dokument onder oë gekry en daaroor berig.

“’n Beduidende disinformasieveldtog deur Russiese staatsmedia en pro-Kremlin-publikasies insake Covid-19 is aan die gang. Die oorkoepelende doel van die Kremlin-disinformasie is om die openbare gesondheidskrisis in Westerse lande te vererger … ooreenkomstig die Kremlin se breër strategie om Europese samelewings te ondermyn,” lui die dokument.

Die fopnuus word in Engels, Spaans, Duits en Frans versprei. Dit bevat verwarrende en teenstrydige bewerings om dit vir Westerse owerhede moeiliker te maak om hul reaksie op die pandemie met hul bevolkings te kommunikeer.

Sedert 22 Januarie het die EU byna 80 gevalle van disinformasie oor die koronavirus geboekstaaf. Een daarvan was ’n Iranse bewering dat die virus ’n Amerikaanse biologiese wapen is. Dit is sonder stawing die wêreld ingestuur.

’n Ander Russiese bewering was dat Amerika doelbewus een van sy soldate wat in Litaue gestasioneer is, geïnfekteer het om die virus in die bevolking te versprei. ’n Fopdokument, sogenaamd afkomstig van die Oekraïense ministerie van gesondheid, het beweer dat daar slegs vyf besmettings in dié land is en dat mense geen voorsorg hoef te tref nie.

Nog ’n sogenaamde Italiaanse regeringsdokument lui dat die EU geen strategie het om die virus te beveg nie.

In die proses word teenstrydige berigte versprei.

Een aanlynpublikasie onder die Kremlin se beheer, Oriental Review, beweer byvoorbeeld dat die koronavirus met ’n gewone griepepidemie vergelyk kan word en minder sterftes tot gevolg sal hê. Andersyds beweer Alexander Doegin, ’n ultranasionalistiese politieke kommentator in pres. Wladimir Poetin se kamp, dat die virus die bestaande wêreldorde sal uitwis en die dekadente Weste op sy knieë sal dwing.

Terselfdertyd berig Russiese media dat daar minder as 200 koronapasiënte in dié land is en dat die sterftesyfer op nul staan. Dit teenoor die meer as 80 000 pasiënte en sowat 3 500 sterfgevalle in Europa.

Die doel van dié beriggewing, lyk dit, is om die Russiese regering te prys en die Weste as magteloos en verlam voor te stel. Om sake nog meer deurmekaar te krap: Poetin beweer die Weste versprei fopnuus oor die krisis in Rusland.

Volgens die Amerikaanse historikus en politieke ontleder Peter Eltsof is die doel van dit alles om chaos en verdeeldheid in die EU, Navo en Amerika te saai.

“Pres. Wladimir Poetin het verskeie kere beklemtoon dat Rusland ’n nuwe veiligheidsargitektuur in Europa wil hê. Terwyl die Europese lande hulself afkordon, kan hy dit sien as ’n geleentheid om sy planne deur te voer.”

Dit is bekend dat Poetin Rusland opnuut in ’n supermoondheid wil omskep, en dat die verswakking of selfs ontbinding van die EU en Navo dit sal vergemaklik.

Ondernemings soos Facebook en Twitter het te kenne gegee dat hulle dergelike fopnuus vorentoe gaan weer, maar dit is uiters moeilik om dit te doen.

Maar hoe weet ’n mens wat fopnuus is, wat om te glo en wat nie?

In die breë is dit so dat die hoofstroomnuusmedia betroubaarder is as die alternatiewe media wat die afgelope jare op die internet opgeskiet het. Die hoofstroommedia is ver van perfek: Waar mense is, word foute gemaak.

Dis ook waar dat elke koerant of tydskrif die wêreld deur ’n politieke lens bekyk, wat ook sy beriggewing beïnvloed. CNN is liberaal, en ’n mens moet hom met dié wete beoordeel. Fox News is konserwatief, en vir hom geld dieselfde. Só ook The Guardian (gematig links), The Daily Telegraph (gematig regs), Frankfurter Rundschau (gematig links), Die Welt (gematig regs).

Hoe meer links of regs ’n publikasie is, des te onbetroubaarder is hy. Ek sal eerder die gematig-regse Washington Times as die ekstremisties-regse Breitbart News vertrou.

Die geheim is: Lees wyd, lees uiteenlopende publikasies en lees álmal – ja, ook hierdie artikel – krities.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Goeie advies, “lees wyd, uiteenlopende publikasies en lees alles krities”.

Na langer as drie jaar se bevooroordeelde, slégs negatiewe beriggewing oor die Amerikaanse president uit hierdie ‘pen’, word ‘n stewige knippie sout byderhand gehou.

Wanneer links-ekstremistiese opinies te veel vir die gestel raak, kan op Maroela, Breitbart en enkele ander bronne staatgemaak word om beide kante van ‘n saak te belig.
Therese van Schalkwyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.