Frankryk beleef ‘interessante tye’

franse-vlag

Foto: Jackmac34/Pixabay.com

Die veldtog vir die pas afgelope eerste ronde van die Franse presidentsverkiesing het ’n interessante verskynsel na vore gebring. Dit is die rol wat die openbare debat oor die Franse identiteit gespeel het.

Die onafhanklike sentris Emmanuel Macron en die uiters regse Marine le Pen het tot die tweede ronde deurgedring, wat op 6 Mei plaasvind.

In 2013 het die Franse filosoof Alain Finkielkraut, gewese hoogleraar aan die prestigeryke Paryse École Polytechnique, ’n taamlike beroering veroorsaak met die publikasie van sy boek L’Identité Malhureuse (“Die Ongelukkige Identiteit”). Daarin het hy ’n toenemende kommer by miljoene Franse oor hul nasionale identiteit geïdentifiseer.

Finkielkraut, die seun van Joodse Poolse immigrante, kan nie van regse ekstremisme beskuldig word nie. In ’n onderhoud met die Duitse nuustydskrif Der Spiegel het hy ná die publikasie van sy boek reguit gesê hy sal nooit vir die Front National van Marine le Pen stem nie; dié party maak gebruik van “mense se laagste instinkte en haat”.

Dit beteken nie dat jy mense se vrees en kommer nié ernstig moet opneem nie, het hy bygevoeg. Dít is wat hy in sy boek probeer doen het.

Miskien moet ’n mens eers iets verduidelik. Ná ’n dekades lange, heftige stryd is kerk en staat in Frankryk in 1905 wetlik geskei. Dit het ’n stelsel in die lewe geroep wat laïcité (iets soos “sekularisme”) genoem word en nie alleen godsdiensvryheid moontlik maak nie, maar ’n strenge religieuse neutraliteit en sekularisme aan die staat voorskryf.

Wat hiermee gepaardgaan, is die manier waarop die Franse al eeue lank hul eie taal, kultuur en identiteit as verreweg die bes denkbare op aarde beskou. Hulle het immigrante uit ander wêrelddele – met inbegrip van die kolonies – aanvaar, mits dié hul eie identiteit volledig aflê en 100% Frans word.

Finkielkraut, synde van Poolse afkoms, is self só ’n voorbeeld. Hy spog dikwels oor hoe hy hom in die skitterende Franse kultuur ondergedompel het.

Maar die laaste dekade of drie, vier het dinge stadigaan begin verander. ’n Nuwe geslag immigrante, dikwels Moslems uit Noord-Afrika, het hulle om ekonomiese redes in Frankryk gevestig en in die buitewyke – bekend as banlieues – van die groot stede saamgebondel.

Dis hier waar ’n klippie in die skoen beland het wat volgens Finkielkraut mettertyd sommer ’n knewel van ’n rots geword het. Baie van die nuwe immigrante weier om hul eie kultuur en wêreldbeskouing af te lê – of, erger nog, verwerp dié van die Franse met minagting.

Dit gee aanleiding tot situasies in die banlieues waar ’n mens jouself moet knyp om te besef in watter land jy is – Frankryk of Algerië, Tunisië, Marokko of hoe ook al. Dís waar baie Franse vervreem begin raak en soos vreemdelinge in hul eie land voel.

Dan “ervaar hulle die vreemde gevoel van ballingskap … Hulle vra hulle af waar hulle woon. Hulle het nie verhuis nie, maar alles het rondom hulle verander … Hulle voel dat hulle buitelanders in hul eie land word”.

Hy skryf ook: “Vir die eerste keer in die geskiedenis van immigrasie weier diegene wat ontvang word om diegene wat hulle ontvang … die reg om die ontvangende land te verteenwoordig.” Overgezet zijnde, die inkommers wil nie slegs hul eie identiteit en gewoontes (al druis dit in teen die meerderheidskultuur) behou nie, maar bejeën die Franse kultuur met argwaan en selfs afkeer.

Daarom kry jy dit dat Moslems daarop aandring dat swembaddens aparte dae moet reserveer wanneer slegs vroue – en dit in “boerkini’s”, ’n soort allesbedekkende Islamitiese swempak – mag gaan swem. Só word die beginsel van laïcité steeds meer deurbreek, betoog hy.

Dus verdedig hy die verbod op Islamitiese kopdoeke deur vroue in openbare ruimtes, net soos die opvallende dra van die Christelike kruis.

In ’n onderhoud met die Nederlandse dagblad Trouw het hy ’n voorbeeld genoem van hoe sommige Franse hulself verraai:

“As pres. Hollande die onskuldige idee het om ’n museum te wy aan die nasionale geskiedenis, wil ’n groep ernstige historici opsluit daarvan ’n museum vir geskiedenis ín Frankryk maak, dus nie ván Frankryk nie. Asof dit eers en veral daarom gaan dat Frankryk nooit die onderwerp mag wees van sy eie geskiedenis nie, maar slegs nog ’n ruimte is.”

Finkielkraut is destyds skerp aangeval, maar sy boek het wel die debat aansienlik gefokus. Dis selfs in die huidige verkiesingsveldtog aangehaal.

Die probleem strek egter selfs verder as wat hy sê; dis ’n hele kettingreaksie wat tot ’n yslike probleem uitgroei.

Dit begin by die Islamitiese nuutkommers wat nie deel wil wees van ’n kultuur wat, so ervaar hulle dit, selfgenoegsaam is en sy eie verhef tot die outomatiese norm waaraan die immigrante gemeet word nie – soos Finkielkraut inderdaad doen. Dit versterk die Franse gevoel van kulturele meerderwaardigheid en wakker diskriminasie aan.

Dié diskriminasie, en die gepaardgaande ekonomiese agtergesteldheid, wakker die Moslems se gevoelens van verwerping aan, en by sommige mond dit uit in religieuse radikalisering, die afwysing van alles wat Frans en Westers is, en by enkele selfs in aktiewe terrorisme.

Frankryk is die land in Europa wat die meeste onder Islamitiese terrorisme deurgeloop het.

Selfs al verwerp Finkielkraut Marine le Pen se Front National, is dit een van die faktore wat dié party se relatief goeie vertoning in die eerste ronde help verklaar. Le Pen kom met – só is politici mos nou maar eenmaal – hopeloos vereenvoudigde oplossings vir ’n uiters ingewikkelde probleem: Gooi alle onwettige immigrante en radikale Moslems uit, sluit moskees en die grense, klim uit die Europese Unie en die Schengenverdrag met sy oop grense – en die probleem is opgelos.

Maar dis nie net Frankryk wat met die indentiteitsprobleem te make het nie, al word dit daar die ergste gevoel. Onlangs het die Nederlandse NRC Handelsblad ná ’n uitvoerige ondersoek bevind dat maklik die helfte van die moskees in Amsterdam onder die invloed is van ekstremistiese imams wat in Saoedi-Arabië opgelei is. Hulle sorg op hul beurt weer vir die radikalisering van duisende Moslems in Nederland.

Toe Finkielkraut onlangs tot die uiters prestigeryke Académie Française toegelaat is, het die historikus Pierre Nora gesê: “U is die man wat die openbare omerta [gedwonge stilswye] verbreek, wat sê – en dit baie goed doen – wat die politici nie kán en die joernaliste nie wíl sê nie.”

Frankryk beleef, om dit sag te stel, interessante tye.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

DewaldS ·

Ek kon nie juis by die eerste paar paragrawe verbykom nie. Al wat ek kan sê is dat as ons eie spindoktor sê dat Macron onafhanklik en sentristies is, dan is hy. Kyk verby Macron se konneksies met die Rothschilds. As ons spindoktor sê Le Pen is uiters regs, dan is sy. Moenie vashaak by die logika van ‘n regse definisie nie – daai is vir mense wat te veel wil dink. patriotte en nasionaliste is uiters regs en waarskynlik gevaarlik en basta!!

Elke hoenderhaan ·

Dalk ken u die uitdrukking…die skrywer van die artikel is bekend aan my vir snaakse persepsies. En die feite is nie altyd so helder van kleur nie…voel maar soos ‘n Merino…wollerig.

Leopold Scholtz ·

Beste nefie Dewald, dalk is jy reg. Marine le Pen is nie regtig regs nie, sy is links. En Melenchon is nie regtig links nie, hy is regs. Die twee is in elk geval so naby aan mekaar as demmit aan ‘n vloekwoord. Dankie in elk geval vir jou vertroue in my oordeel! Lekker dag vir jou.

chrisp ·

Sy is by uitstek anti moslem,pro Frans in taal kultuur en as onafhanklike staat en dus ‘n Franse Patriot. Maak dit haar nou “uiters regs” in die skrywer se opinie? Indien nie wat doen of se sy dat sy die etiket moet dra as uiters regs? Indien wel verstaan ek dat ons geagte “meningsvormer” ook maar net deel uitmaak van die uitdeel van allerande naam etikette aan mense wat lief is vir hul eie .

En ja die oplossing is baie eenvoudig maar so polities verkeerd dat niemand dit werklik aanspreek nie.Jy sien dan word hulle gou gou as rassiste afgemaak.Die oplossing is nasie state.

Die liberale sienswyse en veral die deel wat ‘n multikulturele samelewing wil skep is die probleem.Hul oplossing is ,nog meer,nog groter multikulturele samelewings.Ongelooflik.
Ek het baie gewonder hoekom hulle dit nie insien nie (meeste van die mense is verseker nie onosel nie) ek dink hulle wil nie erken hoe verkeerd hulle was en is nie.Om hierdie rede moet dit werk al werk dit nie,dit moet net. Deur hulle ego’s(jy sien hierdie egos manifisteer in hul gesprekke en skrywes) vernietig hulle lande, kulture,tale ens .Verkeerd is hulle egter nooit nie.As bonus ,terrorisme,terreur,verkragtings,rassehaat en dan later burgeroorlog.

Diesulkes se hande is vol bloed en dit gaan nog rooier word.

Feite? ·

As jy op die “grens” was, gaan lees gerus die skrywer se boeke daaroor en verifieer dit met die feite van verskeie gerespekteerde soldate wat in ‘n offensiewe rol daar betrokke was…dit verskil effe.
Wie gaan jy glo?

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessante artikel, veral die verrassende bekendstelling aan Alain Finkielkraut.

Alhoewel, net toe hierdie filosoof soos die welkome uitsondering op die reël klink, trek hy nes die res van die intellektuele klas sy neus op vir Marine Le Pen se Front National. Bekommerd oor die Franse nasionale identiteit, maar nie só veel dat die hande ‘vuil gemaak’ gaan word nie?

Die feit dat Finkielkraut se waarnemings en vrese in die prestigeryke kringe erken en selfs verwelkom word, maar Le Pen, en ook Geert Wilders in Nederland, se identiese sienings word minagtend verwerp, spreek boekdele oor die politiek korrekte samelewings waar skynheiligheid hoogty vier.

Die besadigde, beskaafde filosoof praat baie mooiklinkende woorde, maar bied heel waarskynlik min of geen oplossings. Terwyl die twee verguisde politici met daadwerklike voorstelle en strategieë kom om hul onderskeie lande se kosbare kultuur, waardes en vryhede terug te wen. Dit gaan streng maatreëls verg, sonder doekies omdraai. (geen woordspeling met boerkini :-))

Kommer by Franse en Nederlanders oor die status quo is óf eg en hulle wil die kwessie oplos, óf dis geveins en hulle gaan ruggraatloos oorgee aan die snelveranderende kultuur wat uit die moskees aangevoer word.

Rupert Ashford ·

So volgens die skrywer “verlaat” ‘n politikus net die Sosialistiese Party en kondig aan dat hy nou ‘n “Sentris” is en “poef”…”sela”….”amen” en dan is dit nou so? Oom Leo praat ons van ‘n politikus of ‘n godmens? Hoekom glo jy hierdie ou goedsmoeds en praat hom klakkeloos na maar ander kan jy nie ‘n goeie woord oor se nie? Ons het nou nog nie eers oor Le Pen, Wilders en Finkielkraut begin praat nie maar lyk my ons stem so soortvan saam oor die skynheiligheid – lyk of daar nog hoop is vir jou en dat ek jou nie verniet as een van my gunstelinge gesien het in my jong dae nie…

Leopold Scholtz ·

Beste Rupert, baie dankie vir jou waarderende woorde aan die einde – en ek bedoel dit opreg. Nee, ek glo Macron nie klakkeloos nie. Ek kyk na waar hy homself posisioneer, en dit doen hy in die politieke midde. Hy het van Hollande se Sosialistiese Party weggebreek juis onder meer omdat hy hulle te links gevind het. Tensy iemand met duidelijke bewyse tot die teendeel kom, wie is ek om summier te aanvaar dat hy lieg? Moet ek dan Le Pen se effense swenk na die midde die laaste jaar of twee, drie, ook verwerp? Wat die res betref, niemand kan ontken nie dat die programme van die twee politici aan die uiterstes van die politieke spektrum – Le Pen en Melenchon – fundamentele ooreenkomste vertoon. Wat nogmaals wys dat die egte teenstelling nie tussen uiters regs en uiters links is nie, maar tussen ekstremisties en gematig. Jy en ander is welkom om sake anders te sien, maar dan moet mense hul mening wel met feite en logika kan staaf. Maar dankie vir ‘n positiewe bydrae tot die debat. Lekker dag vir jou.

Kosie ·

Le Pen se probleem is haar pa, Jean-Marie, wat werklik ultraregs is en selfs aangekla is dat hy die Nazi-holocaust ontken. Ek stem nie altyd saam met Leopold Scholtz se sienings nie, ondermeer omdat hy vanuit Nederland skryf, wat erg demoniserend van Rusland, Wladimir Poetin, Geert Wilders en Marine le Pen is, en sy uitkyk kan beinvloed. (Met die onlangse Nederlandse verkiesing het die BVN-kanaal al die partyleiers `n spreekbeurt gegee in hul reklame, behalwe Geert; sy gesig is vir `n breukdeel van `n sekonde gewys.) Leopold is egter reg dat Le Pen die afgelope paar jaar haar koers aangepas het, soveel so dat haar pa haar met haar wen in die eerste rondte gekritiseer het as te “gematig”. Macron word soos Hillary Clinton deur die media en establishment ondersteun, terwyl Le Pen soos Donald Trump die underdog is. My groter vrees is Jean-Claude Juncker en sy fascistiese vingertjie.

Buiteperd ·

Dankie Kosie. Mens moet na albei kante van die muntstuk kyk om persepsie te behou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.