Frankryk en Duitsland: Beslissings vir Fillon, Merkel

marine-le-pen-frankryk

Marine le Pen van Frankryk se Front National. Foto: Facebook.

Frankryk hou volgende jaar, op 23 April, sy presidentsverkiesing. Die president word deur die bevolking gekies en daar is twee rondtes: die eerste rondte waar ʼn groot verskeidenheid van groot en klein partye se kandidate staan en die uitkloprondte, waar die wenner en naaswenner teen mekaar te staan kom.

Die Franse stelsel het ʼn paar ooreenkomste met die Amerikaanse stelsel, soos om deur middel van voorverkiesings deur partylede, ʼn kandidaat vir ʼn party aan te wys. Die president het uitvoerende gesag en wys die eerste minister aan, wat aan hom ondergeskik is.

Die gematigde konserwatiewe party, Die Republikeine (voorheen UMP, Unie vir ʼn Volksbeweging) het verlede Sondag sy voorverkiesing gehou tussen 7 kandidate, maar net 3 veteraanpolitici is as ernstige aanspraakmakers beskou: Nicholas Sarkozy, president van 2007-2012, Alain Juppe, eerste minister van 1995 tot 1997 en volgens meningspeilings die voorloper en Francois Fillon, eerste minister onder Nicholas Sarkozy van 2007 tot 2012.

Al drie is bekende gesigte in die Franse politiek, maar Sarkozy het veral die kalklig gesteel omdat hy besig is om aan sy terugkeer na die politiek te werk nadat hy in 2012 die presidentsverkiesing teen die sosialis, Francois Hollande, verloor het.

Sarkozy het die rol van populis gespeel en gehoop op ʼn Trump-effek. Fillon is deur die media as ‘n vervelige, oncharismatiese en voorspelbare kandidaat beskou en het in die peilings laaste onder die drie voorlopers gekom, terwyl Juppe as die ideale konsensuskandidaat, wat gematig, ervare en waardig is, voorgehou is.

Die uitslag het dinge redelik op sy kop gekeer: Fillon het onverwags 44% gekry, die gunsteling, Juppe, slegs 28% en Sarkozy ʼn teleurstellende 20%. Vier ander kandidate het almal minder as 5% gekry.

Sarkozy se terugkeerpogings tot die politiek is daarmee aan flarde en hy het sy onttrekking uit die politiek aangekondig. Fillon en Juppe gaan nou deur na die uitkloprondte, maar dit is ʼn uitgemaakte saak dat Fillon gaan wen, want hy het reeds Sarkozy en nog ʼn ander kandidaat se steun en sal maklik bo 50% kry.

Hoewel Fillon in die verlede as redelik gematig en voorspelbaar oorgekom het, het hy die verkiesing met ʼn uitgesproke nasionalistiese program gewen, wat in talle punte taamlik naby aan die een van die Front National is.

Fillon wil Moslem-immigrante aan bande lê deur die terugkeer na streng sekularisme, wat moskeë en koranskole aan streng staatlike beheer onderwerp, welsynstoelae en gratis medies vir immigrante beperk en kontakte met radikale Islamitiese organisasies verbied en hard straf. Die instroming van immigrante na Frankryk sal ook streng beperk word.

Op ekonomiese gebied wil Fillon met ʼn neo-liberale beleid die groot mag van die vakbonde breek, die getal staatsamptenare verminder en afstap van die 35 uur-werksweek en ander welsynstaatpraktyke waaraan die Franse gewoond geraak het.

Sarkozy het eweneens probeer om punte te wen met uitgesproke nasionalistiese voorstelle, maar anders as by Fillon glo die mense hom nie meer nie, omdat hy as president min van sy beloftes nagekom het.

Die meningspeilings het weereens die meerderheid van die kiesers se sentimente verkeerd vertolk. ʼn Konserwatiewe, landelike en katolieke grondvlakbeweging het ook die afgelope jare in Frankryk ontstaan in reaksie teen die linkse beleid van president Hollande en radikale stappe soos gay-huwelike. Fillon blyk daardie “stille meerderheid” se kandidaat te wees.

Daarmee is Francois Fillon die Republikeine, Frankryk se groot hoofstroom-regse party, se kandidaat en sal na alle verwagting in die verkiesing teen die Front National se Marine le Pen te staan kom.

Die sosialiste en ander linkse partye vaar tans so swak in peilings en die sosialistiese president, Francois Hollande, is so ongewild dat hulle min kans het om deur te dring tot die uitkloprondte. Dit kan ʼn herhaling wees van 2002 se presidentsverkiesing, waar Jaques Chirac van die UMP (die Republikeine se voorgangerparty) teen Jean-Marie Le Pen (Marine se pa) te staan gekom het en alle stemme van gematigd regs tot links op hom verenig het. Nogtans is die politiek toenemend onvoorspelbaar en ʼn oorwinning vir Le Pen is onwaarskynlik, maar nie uitgesluit nie.

In Duitsland was die aankondiging van Angela Merkel, om in volgende jaar se verkiesing vir ʼn 4de termyn as bondskanselier te staan, grootliks verwag. Hoewel sy taamlik glans verloor het, is daar niemand in haar eie party, die Christen-Demokrate (CDU), wat haar kan of wil uitdaag nie. Sy het reeds die afgelope jare alle moontlike kompetisie uitgewerk en is omring deur oncharismatiese lojaliste.

Slegs op grondvlak is daar ontevredenheid met haar linkse koers, wat die Christen-Demokrate skaars onderskeibaar van die Sosiaal-Demokrate (SPD), met wie hulle in ʼn koalisie is, maak.

Die Sosiaal-Demokrate vaar al ‘n geruime tyd swak in meningspeilings en dat sy moontlike kandidaat, die partyleier, Sigmar Gabriel, Merkel kan klop, is hoogs onwaarskynlik. Boonop het Merkel reeds ʼn beduidende toegewing aan die SPD gemaak deur sy kandidaat vir bondspresident (anders as in Frankryk, slegs ʼn seremoniële posisie), Frank-Walter Steinmeier, wat tans minister van buitelandse sake is, te ondersteun.

Dit maak Steinmeier se verkiesing ʼn uitgemaakte saak. Merkel kan in ruil verwag dat die SPD na die verkiesing weer as koalisievennoot beskikbaar is en haar as kansellier sal steun, al sal hy nominaal sy eie kandidaat opstel.

Binne die SPD is daar grondvlaksteun vir die beëindiging van die “groot koalisie” met die CDU en die vorming van ʼn linkse koalisie met die Linksparty (voormalige kommuniste) en die Groenes. Merkel se Steinmeier-skuif maak dit egter nou onwaarskynlik en Gabriel en ander het veilige posisies in die regering, ten spyte van hul party se kwynende steun.

Met Merkel as kansellier vir nog ʼn termyn, sal die Duitse politiek so vervelig en verlammend bly soos wat dit al die afgelope jare was. Merkel word internasionaal ook beskou as ʼn verteenwoordiger van die ou orde van liberale demokrasie, wat moet keer dat populiste soos Donald Trump, Vladimir Poetin, Marine Le Pen en Geerd Wilders internasionaal veld wen.

  • Sebastiaan Biehl is ‘n navorser en toergids verbonde aan die Orania Beweging. Hy het sy meestersgraad in politieke wetenskap verwerf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ada ·

Ek hoop Merkel verlaat die verhoog want sy het nou genoeg probleme in Duitsland veroorsaak tesame met haar goeie maatjie Obama. miskien met Trump nou daar is haar kragte minder. Dit is die regte tyd vir Le Penn om na vore te tree want Frankryk het geen meer respek vir Hollande nie. Hy beteken niks nie.

martie ·

Ek hoop Le Pen kom in want Hollande beteken niks nie.
Ek hoop ook dat Trump vir Merkel op haar plek sal sit. Sy was net te veel hand op die blaas met Obama. Tyd dat sy ook gaan. Hoop iemand met integriteit kan haar vervang.

Loeis ·

Sekondeer!!! Dalk kan Frankryk dan Frans bly en Duitsland Duits.

Dankie vir ‘n objektiewe artikel.

Johan II ·

100%. Ek hoop regtig meer “vriende” van Putin kan inkom, dit gaan die oorlog wat die NWO so graag met Rusland wil hê afweer…dankie v die berig.

Attie No1 ·

Sebastiaan, Wat is die moontlikhede vir die AFD in Duitsland? Wat is hul kans om te wen en om ten minste goed te vaar in die komende Duitse verkiesing?

Sebastiaan ·

Attie, die AFD vaar nogal merkwaardig goed in die afgelope tyd se streeksverkiesings, en hulle sal na alle verwagting ook die eerste keer in die nasionale parlement verteenwoordig wees met die verkiesing volgende jaar. Die mees optimistiese scenario is dat hulle 15% kan kry, wat vir ‘n “regse” party in ‘n uiters polities-korrekte land soos Duitsland en ‘n groot sensitiwiteit vir alles regs van die middel nogal merkwaardig is. Hulle het egter nog ‘n lang pad om te gaan om gevestig te raak en om as koalisievennoot aanvaar te word. Tans is daar ‘n soort “super groot koalisie” in die parlement verteenwoordig, van Merkel se CDU aan die regterkant (as ‘n mens dit so kan noem) tot by die sosialiste aan die uiterste linkerkant, wat in alle wesenlike punte ‘n links-liberale konsensus het. Meer en meer mense raak moeg vir die soort politiek, maar soos wat dit vir die FN in Frankryk ook lank gevat het om te kom waar hulle is (en hulle het nog nie gearriveer nie), naamlik sowat 40 jaar, sal dit vir die AFD, wat skaars 5 jaar oud is (en al ‘n skeuring gehad het), ook ‘n ruk vat om wyd aanvaar te word. Op hulle eie sal hulle nie ‘n verkiesing kan wen nie, en ‘n koalisie met Merkel se CDU lyk tans hoogs onwaarskynlik.

Santie ·

Sebastiaan, ek het ‘n video gesien waarin die kommentator praat van baie Duitsers se “selfhaat” en dat sulkes meen die Duitse kultuur moet heeltemal verdwyn. Sou dit d/s wees as die liberale Afrikaners wat ook die indruk gee dat hulle die Afrikaanse taal en kultuur wil sien sterf? In albei gevalle weens skuldgevoel oor Holocaust en Apartheid onderskeidelik? Dankie vir puik artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.