Frankryk nader aan breekpunt

Foto: REUTERS/Eric Gaillard/Pool

Frankryk is seker die land in Europa wat die ergste onder Islamitiese terreuraanvalle deurloop. Alhoewel daar nie weer onlangs ’n massamoord soos die een by die Bataclan-teater in Parys in 2015 of die een in 2016 by die hawefront in Nice was nie, is daar gereeld mesaanvalle en -moorde op burgerlikes sowel as op lede van die veiligheidsmagte. Kerkgangers en geestelikes loop dikwels deur en Jode is ook ’n gereelde teiken. Behalwe vir die weersinwekkende aanslae self, het die onlangse vryspraak van ’n moordenaar omdat hy ontoerekeningsvatbaar verklaar en vir sielkundige behandeling verwys is, mense geskok. Groot getalle het daarteen betoog.

Frankryk het dieselfde probleme as meeste Westerse lande met massa-immigrasie en al die gevolge wat dit meebring, maar in Frankryk is die situasie nog erger as in die buurlande omdat dit in Frankryk vroeër begin het. Op plekke is die land reeds ’n distopie van anargisme en die afwesigheid van staatlike strukture en gesag. Die probleme wat, byvoorbeeld, Duitsland, België of Nederland nou eers geleidelik begin beleef – naamlik dat ’n permanente vreemde bevolkingselement ontstaan wat die Weste en sy waardes afkeur en selfs gewelddadig beveg, wat ekonomies ’n toenemende las word en demografies in die nie so verre toekoms die meerderheid sal wees nie – is in Frankryk al ver gevorder.

Frankryk is dalk ook al effens verder wat die besef betref dat wensdenkery en Westerse akkommodasie nie die antwoord is nie, maar eerder ’n selfgelding van die meerderheidsgroep en die verdediging van sy kultuur en waardes. Ook in Frankryk is die meerderheid meningsvormers egter nog steeds diegene wat eerder wil paai en wat dink dat net meer geld en meer gebare van uitreiking die probleme sal oplos.

Foto: REUTERS/Eric Gaillard

Intussen bou die spanning op. ’n Groep senior weermaglede, by name bekende generaals asook ander senior offisiere, het nou onlangs ’n brief gepubliseer in die regse tydskrif Valeurs actuelles en gewys op die gevaar wat uitgaan van ’n verdeelde samelewing wat geen gemeenskaplike waardes meer het nie. Hulle het selfs teen die gevare van ’n burgeroorlog gewaarsku. Om so ’n situasie te keer, het hulle ‘n beroep op die Franse president, Emanuel Macron, gedoen om weer die Franse nasie en sy patriotisme te verdedig en weer volgens die land se leuse “Vaderland en eer” te regeer. Die Franse driekleur is nie net ’n stuk materiaal nie, maar staan vir Frankryk se waardes en historiese tradisie, aldus die generaals.

Soos dit dikwels die geval is, word die boodskapper gekruisig en die boodskap nie ernstig opgeneem nie. Dadelik het die gevestigde orde die offisiere veroordeel en afgemaak as mense wat uit tred met die tyd is en wat haat aanblaas en daar is ook sanksies teen hulle geëis. Blykbaar geniet die beroep van die groep senior offisiere egter wye steun in die bevolking.

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Olivier Matthys, Pool)

President Macron het, onder die toenemende druk van betogings en die onweerlegbare Islamitiese bedreiging, begin om sekere radikale Islamitiese organisasies te verbied asook om met simboliese gebare probeer wys dat hy iets doen teen die polarisasie van die samelewing. Hy was met die vorige verkiesing eintlik die kompromiskandidaat wat skielik, nadat meer senior aanspraakmakers weens skandale in die niet verdwyn het, na vore getree het en wie se belangrikste rol was om ’n oorwinning van die regse Marine le Pen te keer.

Die Franse presidentsverkiesing is nog ’n ent weg in volgende jaar, maar dit lyk tans asof Macron en le Pen weer in die uitklopronde teen mekaar te staan sal kom. Dit is ook in hierdie jaar die 200ste herdenking van die dood van Napoleon Bonaparte, seker die grootste held in die Franse se oë, en dit kan dalk ook lei tot meer debatte oor en gewaarwording van die land se lang en trotse geskiedenis.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerkind

Arme Frankryk… onder ‘n linkse, kommunistiese globalis – Macron die “puppet on a short string”… Die Weste is so te sê vernietig as gevolg van die nuwe wêreld orde….

Anna-marie

Goeie artikel Sebastiaan, dankie daarvoor. Parys sal nooit weer Parys wees nie.

MT

Wie sou kon dink dat – om die wereld se groot probleme op te los – jy bloot mense moet afskei van mekaar op grond van kultuur-, taal-, godsdiensverskille, ens. Die afskeidingsproses is eintlik ‘n natuurlike proses, en hoef glad nie bestuur te word nie; dit sal van nature plaasvind SOLANK dit nie formeel verhoed word deur verpligte vermenging nie.

Jaco

Hoe kom dié mense so maklik in Frankryk in en hoe kry hulle dit reg om eenvoudig te bly en te bly en te bly? NET vir ‘n toeristevisum moes ek behoorlik my ganse verlede, hede én toekoms aan die Franse konsulaat in Kaapstad uiteensit. Ek het ook ‘n reusagtige bedrag vir dié visum betaal. By aankoms op die lughawe in Parys is omtrent die helfte van die vrae in die visumaansoek wéér vir my gevra. So duidelik wou hulle seker maak ek werk nie daar nie en ek bly nie daar nie. Dan wonder ek, hoe kom so baie… Lees meer »

Karel

Schadenfreude. Nie net met betrekking tot Frankryk, waar my voorouers vandaan gekom het nie, maar sommer die hele Wes-Europa.