Frankryk: Nou regs teen links teen verregs

marine-le-pen-frankryk-02

Marine le Pen is tans die voorloper in die Franse verkiesings se meningspeilings. Foto: Facebook.

Die eerste ronde van die Franse presidentsverkiesing wat op 23 April moet plaasvind, lyk al meer na ’n stryd tussen die spreekwoordelike links en regs (maar ook verregs). Die aanvanklike gunsteling, François Fillon, se veldtog het verlede week teenspoed gekry en sy steun het erg gekwyn. Dit was as gevolg van ʼn bewering dat Fillon sy vrou, Penelope, jare lank ’n salaris betaal het as sy assistent toe hy minister en parlementariër was, maar dat sy nooit veel daarvoor gedoen het nie.

35-uur werkweek

Nie dat jy nie jou vrou of kinders oor die hoof hoef te sien as jy ’n openbare amp beklee in Frankryk nie. Hulle moet darem net lyk of hulle iets daarvoor doen. Die Franse is nou nie juis bekend vir hul harde werk nie. Sien, jare lange sosialistiese regerings het die werkweek tot 35 uur per week verlaag, sekerlik die laagste in die wêreld. Opvolgende regerings het dit weer probeer verander, maar sonder sukses.

As die amptelike werkweek vir alle werkers 35 uur is, stel jou voor hoe min staatsamptenare in Frankryk doen. Franse amptenare laat ons plaaslike staatsamptenare na werkoliste lyk!

Die Franse soek nou al jare na ʼn sterk leiersfiguur om president te word, amper iemand met die charisma en sterk karakter soos genl. Charles de Gaulle van ouds. Fillon, ’n voormalige eerste minister in oud-president Nicholas Sarkozy se kabinet, was dalk die ideale kandidaat hiervoor vir die meer konserwatiewe Republikeinse Party.

Frankryk het, soos die res van die Westerse wêreld, ’n redelike tree na regs geneem ná ’n aantal ernstige terroriste-aanvalle in die land die laaste twee jaar. Dit sluit in die aanvalle by die Charlie Hedbo- satiriese tydskrif, selfmoordbomaanvalle en die neem van gyselaars waarin 130 mense in November 2015 dood is; en verlede jaar se vragmotormoordenaar wat oor die 80 mense by die Franse nasionaledagviering in Nice doodgery het. Al die aanvalle is deur Moslem-immigrante of tweede generasie Moslems gedoen.

Fillon het hierdie sentiment benut deur hom as regse konserwatiewe kandidaat te vestig. Hy is gekant teen die onbeheerde instroom van Moslem-immigrante, is ’n onbeskaamde Rooms-Katoliek en gekant teen huwelike van dieselfde geslag. Hy is nie ’n groot voorstander van die EU nie en beloof dat hy soos ’n Margaret Thatcher van ouds uitgediende sosialisme gaan aanvat deur ontslae te raak van burokrate en ekonomiese hervormings gaan deurvoer.

Nietemin blyk dit dat Fillon se kanse om president te word vinnig verminder ná sy vrou se jare lange aanstelling op die lappe gekom het. Dit word “Penelope-gate” genoem.

Fillon kan dalk ’n slagoffer van die media wees. Soos ons in die VSA gesien het met die hoofstroommedia se oneindige aanvalle op pres. Donald Trump (wat nou al amper in ʼn histerie ontaard het), word Fillon sedert sy aanwysing as kandidaat gekruisig deur die oorwegend linkse media. Die media is egter minder krities teenoor die linkse kandidaat, Emmanuel Macron.

Wolf in skaapsklere

Macron is eintlik ’n wolf in skaapsklere, oftewel ’n sosialis wat hom as onafhanklike voordoen. Die 38-jarige jongeling het bekendheid verwerf vanweë sy eggenoot wat 20 jaar ouer as hy is. Sy was Macron se onderwyser op skool en blykbaar is die twee al ’n paartjie sedert Macron 15 jaar oud was.

Hy was die minister van finansies in die ongewilde huidige president van Frankryk, François Hollande, se kabinet; maar het in Augustus 2016 bedank en daarna sy eie party, En Marche, gestig. Macron word as ʼn sentristiese kandidaat voorgehou maar steun “progressiewe” beleidsrigtings en globalisering.

Macron word nie veel deur die media aangeval nie, ten spyte van sy vaagheid jeens beleid op bykans elke vlak. Hy kan egter gesien word as ’n goeie bondgenoot vir die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, om die EU bymekaar te hou en hy staan die instroom van Moslem-vlugtelinge van die Midde-Ooste en Noord-Afrika na Europa en Frankryk voor.

Op hierdie stadium kan Macron ’n tweede plek verower in die eerste ronde van die Franse presidensiële verkiesing, wat hom sal laat deurdring na die tweede en finale ronde. In Frankryk staan al die kandidate in die eerste ronde, maar dan word ’n tweede stemming gehou waarin slegs die twee kandidate met die meeste stemme in die eerste ronde deurdring. Die tweede ronde van die verkiesing vind plaas op 7 Mei. Die president word dan uit hierdie twee kandidate gekies.

Die Sosialistiese Party, wat Frankryk jare lank beheer het, het nie net die dae in die werkweek verminder nie, maar het ʼn welvaartstaat geskep wat veral jong werklose Moslems en swart immigrante van veral Franssprekende Afrika met werkloosheidstoelae aan die gang hou.

Verder het die sosialiste en president Hollande in die besonder, die deel van die bevolking wat wel werk en hul kant bring, deur die bank só belas dat die Franse ekonomie maar erg beroerd daar uitsien. Voeg daarbý Hollande se gebrek aan visie en sy blapse rondom binnelandse veiligheid en betrokkenheid by die Siriese burgeroorlog. Hollande is so ongewild dat die sosialiste hom nie eers as ’n kandidaat vir die komende verkiesing benoem het nie, maar eerder vir Benoît Hamon, wat as ʼn verlinkse nie veel van ’n kans het nie. Terloops Hamon wil die werkweek van 35 ure na 32 ure verminder!

Madame le Pen

Dit bring ons dan uit by Marine le Pen, wat die ander sterk aanspraakmaker op die presidensiële troon in Frankryk is. Le Pen word as verregs deur die toenemend onbetroubare media geëtiketteer, aangesien sy anti-EU en anti-Moslem-immigrasie is. Le Pen kan seker as Frankryk se Trump beskou word, want sy steun die aandrang op grense en veiligheid. Baie Franse voel bedreig deur die daarstel van ’n multikulturele samelewing en Moslem-immigrante.

Sy het die Nasionale Front as ’n ernstige mededinger in die Franse politiek gevestig en hamer gedurig op die tragedie wat die onbelemmerde Moslem-instroming van immigrante en vlugtelinge reeds in Europa tot gevolg gehad het, insluitend eksklusiewe Moslem-woongebiede en areas in Frankryk en natuurlik terrorisme.

Volgens Le Pen het sy ’n probleem met Moslems wat nie wil assimileer en Franse word nie. Ongelukkig verteenwoordig dit ’n groot gros Moslems wat die land binnestroom en dan nog die Franse se welvaartstaat uitbuit om met staatshulp te oorleef.

Le Pen is uitgesproke anti-EU en sal verseker poog om Frankryk daarvan te onttrek as sy president word. Aangesien Duitsland en Frankryk as die twee pilare van die EU-huis gesien word, sal die hele kaartehuis in só ’n geval ineenstort.

Le Pen sal verseker die Trump doktrine volg: anti-immigrasie, -Moslem vlugtelinge, -vryhandel en pro-nasionalisme en -grense. Asook ’n kleiner burokrasie en wegbeweeg van die welsynstaat.

Fillon as president, ten spyte van sy regse retoriek, sal heel moontlik soos sy voormalige baas, Sarkozy, min verander om die media en “progressiewes” nie te veel te ontstel nie. Macron bied daarteenoor meer van dieselfde: pro-immigrasie, ’n groter welsynstaat, vryehandel en oop grense. Dalk ook groot lomp staatsinstellings en hoë belastings.

Meningspeilings, wat ons seker maar met agterdog moet bejeën nadat dit duidelik in Brittanje en die VSA erg verkeerd was, wys tans daarop dat Le Pen die meeste steun in die eerste ronde gaan kry (27%). Macron en Fillon is ’n kortkop agter (met so 21-22%) elk. Hamon kry slegs 15% steun.

As dit na die stembus reflekteer sal Le Pen dan teen óf Macron óf Fillon deurdring na die tweede ronde. Volgens die meningspeilings sal Macron óf Fillon relatief maklik vir Le Pen in die tweede ronde verslaan. Dit blyk dat die Franse eerder deur ’n sosialis of konserwatiewe regeer sal wil word as ’n “verregse” nasionalis. Dit word voorsien dat al die kandidate wat nie die eerste ronde oorleef nie, eerder hul steun in die tweede ronde aan die “gemagtigde kandidaat” sal gee, wat Le Pen se kanse om 50% plus stemme te verkry in die tweede ronde byna onmoontlik maak. Hoewel hulle heelwat meer ooreenkomste as verskille het, is dit te betwyfel of Fillon en die Republikeine haar in ’n moontlike tweede ronde sal steun teen iemand soos Macron.

Le Pen kan dalk steeds verras soos Trump in die VSA gedoen het. Dit sal die “rewolusie” teen die heersende Nuwe Wêreldorde wat Brexit en Trump se oorwinning aan die gang gesit het, heelwat stukrag gee.

Fillon het aangedui dat hy sal onttrek uit die presidentsverkiesing as hy aangekla word van bedrog in die Penelope-skandaal. Met twee maande voor dié belangrike verkiesing weet ons nie eers of Fillon gaan deelneem nie en daar is geen sekerheid oor die twee kandidate wat gaan deurdring na die tweede ronde nie.

Het die Franse dieselfde waagmoed as die Amerikaners om vir verandering te stem?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Tye ·

Baie bly om te sien REGS is nou die inding, REGS en VERREGS, nie meer LINKS en VER LINKS nie .. Lyk of die LIBERALISTE kry nou oral bloedneus .. en die tantrums wat hulle nou gooi steur niemand hulle meer aan nie .. THE TIDE HAS TURNED!!

Johann ·

Ek glo dat daar nou ‘n draai na regs is in Europa. En die skuldiges in die partye wat tans aan bewind is.
Die publiek raak keelvol vir slegte besluite wat “namens” hulle gedoen word.
En dan natuurlik is daar die immigrante probleem.
Dit is die begin van die einde van die liberale politici in Europa.
In Nederland is daar ook tans Geert Wilders wat blykbaar die groot gunsteling is met hulle nabye verkiesing.

Hendrik ·

Ek kan natuurlik nie glo dat die franse publiek die immigrante se instroming so gelate aanvaar sonder dat die liberale regering voor stok gekry word nie.

MissDemeanor ·

Die Franse is defnitief nie lui nie. Ek was al daar. Hul werk hard in daardie 35 uur. Hier in Suid Afrika ken ek baie mense wat deur die dag Facebook by die werk en in die tee kamer rondhang. Die Franse spandeer hul vrye tyd saam familie. Hul heg baie waarde aan familie veral aan hul kinders. Daar is niks fout daarmee nie. Die famile is die mees basiese eenheid van die groter samelewing. Regs of links, versorg jou familie om jou samelewing gesond te hou.

MissDemeanor ·

Ek kan goed verstaan dat hul kwaad word vir mense wat die sisteem misbruik. Die sisteem kan alleen aanhou werk as almal hul bydrae bring.

Loeis ·

In Suid-Afrika is die werksweek by party departemente nog baie korter! Daar is amptelike ure, maar die mense is maar net nie daar nie. Maar hulle word daarvoor betaal. Met jou belasting geld, natuurlik.

Johanna Botha ·

Mense is moeg vir globaliseering en die vertroebeling van wie en wat hulle is en die waardes wat hulle aanhang en voor staan. Globaliseering bring ook mense met haat motiewe soos die moslems wat onskuldige mense leed wil aandoen .. maar hulle hou aan se hulle is nie so nie …maar dis nie wat mens sien nie ne

Chris ·

Daar is n verskil tussen 35 ure werk en 35 ure by die werk wees. in S.A. is meeste amptenare 40 ure by die werk.

Santie ·

Ek hou duim vas Marine le Pen word President van Frankryk. En Geert Wilders in Nederland. Hoog tyd dat die instroming van immigrante eenvoudig stopgesit word. Hoop net nie hulle migreer dan suidwaarts nie.

Sebastiaan ·

Baie goeie uiteensetting. Ek hou van die karakterisering van Macron as wolf in skaapklere, wat natuurlik die gunsteling van die media is, maar soos Obama, niks kan doen nie behalwe om mooi te praat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.