Frankryk se paradoks-legkaart

emmanuel-marcon-01

Emmanuel Marcon, president van Frankryk. Foto: Facebook.

’n Mens moet dit altyd probeer vermy om ingewikkelde historiese prosesse te oorvereenvoudig. Maar soms, veral wanneer jy ’n ingewikkelde saak in ’n paar honderd woorde moet verduidelik, kan jy amper nie anders nie.

Dus, liewe leser, vergewe my wanneer ek die Franse verkiesingsuitslag vandag gaan probeer verklaar. Dis natuurlik aansienlik ingewikkelder as wat ek dit hieronder doen.

In die botsing tussen die liberale (let daarop dat die begrip “liberaal” in Europa nie dieselfde as in Suid-Afrika beteken nie) wenner Emmanuel Macron en die regs-populistiese Marine le Pen sien ’n mens twee historiese kragte teen mekaar meeding. Die een is 1789, die Franse Revolusie; die ander dié van die radikaal regse beweging Action Française, wat die land se politiek in die vroeë 20ste eeu sterk help bepaal het.

Macron is in sekere sin die ideologiese afstammeling van die Franse Revolusie se leuse van Liberté, egalité, fraternité (“vryheid, gelykheid en broederskap”). Dié leuse, en alles wat daarmee saamhang, was nooit onomstrede nie, maar was deur die eeue sedertdien tog min of meer die oorheersende ideologie.

Die Franse is ’n fassinerende volk. Verreweg die meeste – links, regs, in die sentrum – is fel nasionalisties, oortuig dat la jour de gloire est arrivé (“die dag van glorie het aangebreek”), in die woorde van die volkslied, La Marseillaise, en ag die Franse taal, kultuur en beskawing die grootste geskenk wat enige volk nog ooit aan die mensdom kon gee.

Vergeet maar dat Frankryk ná die uiteindelike val van Napoleon in 1815 nog geen enkele oorlog op eie krag kon wen nie. Trouens, die vermaarde Nederlandse historikus en Frankryk-kenner prof. Henk Wesseling (my promotor van die jare sewentig), verklaar die Franse politiek deels uit die feit dat die Franse nooit die nederlaag van 1815 kon verwerk het nie (!!).

Verreweg die meeste Franse leef steeds in die illusie dat hul land ’n groot, glorieuse moondheid is. Polities moontlik nie so sterk soos die parvenu-Amerikaners nie, maar wat kultuur betref verreweg meerderwaardig.

Dit lei maklik tot ’n irriterende arrogansie. Maar dit het ook ’n ander fassinerende gevolg: ’n gebrek aan rassisme.

Omdat die Franse hul eie kultuur as so meerderwaardig ag, is hulle bereid om almal te aanvaar – mits dié hul eie identiteit aflê en volledig Frans word. Dus kon jy Sondagaand, toe Macron se oorwinning duidelik word, sien hoe ’n pikswart Senegalees op die ruiterstandbeeld van Jeanne d’Arc by die Place des Pyramides in die hartjie van Parys klim, die Franse Driekleur swaai en uitroep Vive la France! Vive la France! terwyl die (wit) omstanders hom entoesiasties toejuig.

Frankryk is soos ’n spons. Hy suig alle kleure op.

Maar daar is inwoners van Frankryk wat dit moeilik vind om volledig Frans te word. Dit is mense uit die gewese kolonies in Noord-Afrika. Moslems. Enkele slaag daarin; sommige sukkel daarmee; ’n klein maar groeiende minderheid verwerp alles wat Frans is.

Dis uit dié groepie dat die terroriste wat Frankryk die laaste jaar of twee so teister, kom. En omdat hulle die ideologiese inisiatief onder hul eie soortgenote het, vind die gematigdes dit moeilik om ’n antwoord op die radikale te vind.

Hoe ook al, dit is dié Frankryk van 1789 – sekulêr, seker van die Franse meerderwaardigheid en bereid om alle kleure en geure te aanvaar wat dié meerderwaardigheid erken – wat Macron verteenwoordig.

Maar daar is ook ’n ander krag in die land.

In die jare negentig van die 19de eeu was Frankryk vasgevang in die sogenaamde Dreyfus-affêre. Kortpad gevat, het dit ’n sweer van antisemitisme in die land laat oopbars, en die reaksie onder veral intellektuele daarteen was fel.

Dit het op sy beurt tot ’n reaksie onder ekstreemregse Franse gelei, wat toe die beweging Action Française gestig het. Een van die beweging se onmiddellike doelstellings (wat later laat vaar is) was om die monargie en die politieke invloed van die Rooms-Katolieke Kerk te herstel en die demokrasie te beperk of selfs heeltemal af te skaf. Ná die Duitse oorwinning van 1940 het Action Française veldm. Philippe Pétain se Vichy-diktatuur (wat met die Duitsers gekollaboreer het) vierkant gesteun en aktief meegewerk aan die klopjagte om Jode op te ruim en ooswaarts na die gaskamers te stuur.

Die Duitse nederlaag het ook die einde van die Vichy-regime beteken. Pétain is weens hoogverraad tot die doodstraf veroordeel, maar begenadig en het in 1951 in die gevangenis gesterf.

Hiermee is die politieke vlerke van Action Française vir alle praktiese doeleindes ook geknip. Maar sy gedagtegoed het op verskeie maniere voortgeleef, onder meer in die Front National (FN), wat in 1972 deur Jean-Marie le Pen gestig is. Dat Le Pen ’n ideologiese erfgenaam van Action Française was, het uit verskeie uitsprake geblyk. Hy het die Nazi’s se massamoord op ’n geskatte ses miljoen Jode byvoorbeeld afgemaak as ’n blote “detail van die geskiedenis”, pleks van ’n proses wat ’n sentrale rol in die historiese geheue van die moderne Europa speel.

Hy het gepleit vir die politieke rehabilitasie van Pétain en te kenne gegee dat die leier van die Franse verset teen die Duitsers, genl. Charles de Gaulle, glad nie heldhaftiger as Pétain was nie.

Die FN het in sy geledere ook verskeie ondersteuners van die militant regse staatsgreep-poging van 1962 teen die De Gaulle-regering aanvaar. Hy het gekla dat daar te veel swartes in die nasionale sokkerspan was, en na pres. Nicolas Sarkozy weens dié se Hongaarse afkoms as “die vreemdeling” verwys.

Onder Jean-Marie le Pen was die FN ’n uitgesproke fascistiese, rassistiese en antisemitiese party wat weens sy ekstremisme nooit ’n deurbraak in die kieserskorps kon maak nie. In 2013 het sy dogter, Marine, die leiding oorgeneem.

Marine het besef dat die FN tot ewige opposisie verdoem is as hy nie uit sy bitterbek-regse hoekie na die politieke midde gesleep word nie. Sedertdien het sy dit gedeeltelik reggekry en selfs haar pa weens sy weerstand teen die nuwe koers uit die party geskors.

Toe sy Sondagaand die FN se nederlaag toegegee het, het Marine le Pen te kenne gegee die party moet homself wéér aanpas en herorganiseer. Haar luitenant, Florian Philippot, het selfs gesê die party kan sy naam heeltemal verander.

Die doel is duidelik om die laaste oorblyfsels van regse ekstremisme uit die party te verwyder. Of sy dáárin gaan slaag – dit is nog in die newels van die toekoms gehul.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Pietman ·

Ten spyte van Marine Le Pen se nederlaag het die FN baie goeie vordering gemaak. Met die konstante instroming van volksvreemdes sal meer Franse die impak van kultuur op die land se welsyn besef en die FN sal verder groei. Terroriste aanvalle is die minste van die Franse se probleme. Macron is reg ” die Franse sal maar daarmee moet saamleef”, want onder Macron en die Europese Unie gaan dit net toeneem. Hy wil selfs nou sanksies instel teen Hongarye wat weier om vlugtelinge in te neem.Die grootste bedreiging is natuurlik dat die hordes immigrante meestal ongeskoold en radikaal moslem is. Meeste kry nooit werk nie, en is verantwoordelik vir ‘n abnormale groot aandeel in misdaad. Wat hul wel gaan kry is stemreg en hordes kinders. Dit gaan lei tot ‘n verlaging in lewenstandaarde vir die gemiddelde fransman ( Hoër belastinglas, minder hulp van die staat en hoër misdaad). Die eindresultaat kan moontlik ‘n land wees waar die gevreesde sharia-wette geld ( Daar is reeds omtrent 280 Sharia gebiede in Frankryk, dis plekke waar die polisie nie ingaan nie en waar nie-moslems nie welkom is nie) Die gevolge van die nuwe ingevoerde kulture kan al klaar waargeneem word op die strate van Parys waar rommel, slapende boemelaars en geweldadige betogings ‘n al hoe meer algemene verskynsel word. Miskien sal omstandighede die Franse laat wakkerskrik, want die hoofstroommedia gaan dit nie doen nie. Gelukkig gebruik die nuwe generasie meer die internet wat dalk tot meer onafhanklike/alternatiewe denke kan lei.

Frans C ·

Dit blyk dat ongeveer 40% volgens beriggewing vir Marcon gestem het, nie dat hul hom ondersteun nie,maar net om teen Le Pen te stem.Marcon,Oboma en de Klerk het baie dinge ingemeen,hul praat baie,beloof baie,maar op die ou einde is dit die kiesers wat met die gebakte pere sit.

Die man ly mi aan ‘n ma kompleks,want om op ouderdom 17 met jou dramaonderwyseres 24 jaar jou senior ‘n verhouding aan te knoop vertel iets van jou karakter en emosionele toestand.Dat ‘n moeilike tydjie met georganiseerde arbeid voorlê is nie al temit nie.Sy voorgenpme afskaling van die Franse staatsdiens,met 120 000 was skaars bekend of daar word teen hom betoog alhoewel op klein skaal.

Laat os hoop die Franse kiesers skrik nie so laat wakker as die blanke kieser in Suid Afrika nie.

JC ·

“Bitterbek- regse hoekie”, ne?
Wat van die ” verdomde verkrampte linkse hoekie”?
Die skrywer is nie in SA om dit te gewaar en beleef nie, maar Afrikaners is by die dag besig om al hoe meer regs te word, wonder wat sal ons genoem word?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.