Frans Cronjé: ‘Terwyl almal Gordhan se begroting prys wil ek verskil’

dr-frans-cronje-sairr

Dr. Frans Cronjé. Foto: Youtube.com.

“Talle politici en analiste wil dit nie hoor nie, maar die regering het die ekonomie se vermoë om inkomste te genereer uitgeput.”

In ʼn toespraak by ʼn byeenkoms vir kleinsakeondernemings in die VSA het oudpres. Ronald Reagan in 1986 gesê: “Die regering se siening van die ekonomie kan kortliks só opgesom word: As dit beweeg, belas dit. As dit aanhou beweeg, reguleer dit. As dit ophou beweeg, subsidieer dit.”

Dit is daardie sentiment wat grootliks in die onlangse begrotingstoespraak voorgekom het en verduidelik waarom ons nie saamstem nie met talle van die ontledings wat lui dat die minister van finansies daarin geslaag het om ʼn begroting te lewer wat die belange van die ekonomie en die mense van die land voorop stel. Ons sien dit gewis anders.

Staatsbesteding beloop nou meer as 30% van die BBP. Ons gegewens strek so ver terug as die 1960’s en tot 2013/14 het uitgawes nooit die 30% vlak oorskry nie. Selfs met die ineenstorting van die ekonomie in die dae van die Nasionale Party in die 1980’s het besteding slegs by twee geleenthede 26% van die BBP verbygesteek.

Na raming sal die belastinginkomste in 2019/20 vir die eerste keer op rekord die 30% merk oorskry. Teen middel-2000, toe die ekonomie die sterkste gegroei het, was dié syfer gemiddeld 23%. Met korporatiewe belasting wat nou minder as die helfte is van die belastinginkomste wat van individue verhaal word, het die minister aangekondig dat staatsbeheerde maatskappye in die periode 2019/20 na raming meer as R400 miljard of 45% van die infrastruktuurbesteding van die openbare sektor ontvang. Provinsiale en plaaslike regering sal tussen hulle omtrent 40% ontvang. ʼn Deel hiervan sal natuurlik deursyfer na die private sektor, maar slegs deur huidige en alomteenwoordige begunstiging en korrupsienetwerke. Slegs 1,7% van die openbare infrastruktuurbesteding is spesifiek geoormerk vir openbare-private vennootskappe.

Die minister stel in die vooruitsig dat die begrotingstekort teen 2019/20 tot -2,6% van die BBP gesnoei kan word. Dit is egter afhanklik daarvan dat die ekonomie voldoen aan die tesourie se groeivooruitsigte en die ontvanger van inkomste sy geskatte inkomste kry. Die afgelope paar jaar was die tesourie se groeivooruitsigte hopeloos te optimisties terwyl kommer bestaan het oor die doeltreffendheid van die SAID. Beleid op terreine wat strek van landbou tot mynwese word al meer vyandig en onseker. Omstandighede is wêreldwyd besonder onvoorspelbaar en Suid-Afrika het in elk geval sy groeitendens losgemaak van dié van die globale ekonomiese groeikoers. As enige van die tesourie se vooruitskattings foutief is, sal die tekort die regering noop om belasting te verhoog, meer te leen of soberheid aan die dag te lê.

Maar die belasting op die BBP is reeds ver te hoog om nog verdere belastingverhogings moontlik te maak. Skuldvlakke het verdubbel en verdere verhogings kan afgradering tot gevolg hê. Soberheid moet die regering nou lei in sy besluit waar om te besnoei: besteding op breër gemeenskapsbskermingsdienste (meer as die helfte van die begroting), die staatsdiens-salarisrekening (meer as ʼn derde van die begroting) of op infrastruktuur. Kort voor die 2019-verkiesing is die eerste moontlikheid nie ʼn opsie nie. Die tweede moontlikheid sal die uitbreiding van werksgeleenthede vir lojale kamerade verhinder en ʼn gevoelige slag inhou vir die swart middelklas. Die derde moontlikheid sal die winsgewende ondersteuningsnetwerke ondermyn wat die regerende party tans saambind. Dit is kortom die politieke ekwivalent vir die keuse: vuurpeloton, galg of elektriese stoel.

Die uitweg is natuurlik om so vinnig moontlik die strukturele hervorming te aanvaar wat nodig is vir hoër groeivlakke. Van daardie hervormings het ons egter in die begrotingstoespraak net so min gehoor as in die president se staatsrede twee weke tevore. Talle politici en analiste wil dit nie hoor nie, maar die regering het die ekonomie se vermoë om inkomste te genereer uitgeput. Sonder hervormings in die arbeidsmark wat groter vryheid tot gevolg het en ʼn bemagtigingsbeleid tesame met die verkryging van eiendomsreg, sal kapitale belegging nie gelok word nie en ook nie die entrepreneursvernuf wat nodig is om hoë vlakke van ekonomiese groei te bereik nie.

Die begroting het Suid-Afrika nie nader gebring aan die bereiking van sodanige groei nie, ook nie aan beleggings nie en ook nie aan ʼn manier om ʼn beter toekoms vir die land te vind nie. Dit het eerder daaroor gegaan om te voldoen aan die bestedingsaptyt van ʼn roofsugtige staat – tot nadeel van die private sektor en Suid-Afrikaners.

  • Frans Cronje is ʼn scenario-beplanner en uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, ʼn dinkskrum wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder. Cronje se tweede boek, A Time Traveller’s Guide to South Africa in 2030 verskyn in Mei by Tafelberg.
  • Hierdie artikel is oorspronklik in die Rand Daily Mail gepubliseer. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oom Ekonoom ·

Baie belangrike punte wat jy maak. Die owerheid slurp al klaar heeltemal te veel geld op wat veronderstel was om deur die ekonomie te gesirkuleer het, dit is waarom daar nie meer geld in omloop is nie. Dit wat die staat vat word uit die land geneem want die korruptes is nou so korrup dat korrupte individue miljoene in plaas van duisende steel, en hierdie miljoene word oorsee of aan ingevoerde goedere bestee. In ruil vir die geld wat die staat vat bied hulle niks terug in die vorm van belangrike dienste wat ons nodig het om meer belasting vir hulle te genereer nie, so dit is nou n spiraal af na onder.

John ·

Die ANC se dinkskrum, die Jeugliga, het die reeds gese: Ons kan maar afgegradeer word solank ons net kan gryp en vat en maak wat ons wil… maak nie saak nie. Kinders praat altyd uit die huis uit waar dit wild gaan. En dis wat gebeur. Die Reserwe Bank is nou die towerkis wat seerowers mos altyd soek, maar gewoonlik word Pandora se swartkissie opgediep. Hoor julle ook snags die vlermuise se grillige gefladder en die honde se angstige geblaf vir vreemde geluide, meer as van tevore? Dis waarvan Frans praat. En hy het goeie ore…

Pietman ·

Stem saam. Dink die begrotings toespraak het gefokus op transformasie, niks anders nie. moenie verwag dat die regering enigsins besluite gaan neem ter ondersteuning van die ekonomie nie. Dit gaan slegs oor hoeveel gesteel kan word.

tamboti ·

My stuiwer in die armbeurs: SAregering het ‘n ongelooflike hoeveelheid staatsamptenare en hoofde ryk en super ryk gemaak, staat dra ‘n derde tot die helfte van die bevolking met sosiale toelae.
Maar die gans wat die goue eiers le word stadig maar seker minder gevoer, party eiers word snags gesteel deur onwettige uitlanders, ander rooies dreig om haar nes oor te neem en ja, daar is reeds ‘n visier op haar kop gemik.
Dink nou vir een oomblik as daar ou gansie nou aftjop hoe lank en diep gaan hierdie ekonomie val????
Die regering besef dit maar speel vir tyd, daarom het hulle nou “radikale transformasie” geskreeu, om gou-gou nog rykdom te buit! Sal hul verbaas wees as hul vind dat dit hul net vinniger by die val gaan bring?
Maar met die President en sy maatjies sal dit altyd goed gaan, kyk maar na Bob in Zim en ander diktators.
Marie-Antoinette le diep onder stof in koloniale geskiedenis, maar sal dit nie herhaal word?

dirk ·

baie waar. Staatsbesteding is ook polites gefokus op die volgende verkiesing alhoewel hebsug hier en daar harder praat (SASSA)

Dan ·

Frans, vir iemand wat nog altyd “polities korrek” was en ook liberaal is, begin jy nou vinnig ander deuntjies te sing, soos ook blyk uit jou onlangse artikel oor die Regering se voorgenome grondhervormings. Maar “old habits die hard” – jy meld niks van die enorme bedrae wat aan “social grants” uitbetaal word nie, en soos ander bly jy gerieflikshalwe daaroor stil dat dit skielik net aan kamstig sowat 17 miljoen mense betaal word, terwyl die syfer al voorheen 22 miljoen was. Jy meld ook niks van die honderde duisende studente van Afrika-lande wat hier geakkomodeer word met gratis universiteitsopleiding, sakgeld, verblyf, toelaes, ens. nie. Of die miljoene wat hier ingestroom het en geen belasting betaal nie. Toemaar ons verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.