Franse verkiesing plaas kollig op langtermyn-vraagstukke

franse-vlag

Foto: Jackmac34/Pixabay.com

Meer as 40 miljoen Franse burgers sal eerskomende Sondag hul stemreg kan uitoefen om die volgende Franse president te verkies. Frankryk staan voor ’n kruispad. Ná die teleurstellende presidentskap van die sosialis, Francois Hollande, moet die Franse Sondag kies tussen ’n gematigde pro-Europese vryemarkgesinde liberalis, Emmanuel Macron, en die nasionalistiese en anti-EU-kandidaat, Marine le Pen.

Frankryk se werkloosheidskoers is hoër as lande soos Duitsland, Brittanje, Nederland, België, Switserland en Oostenryk. Die land se ekonomie staan voor talle uitdagings weens die agteruitgang van die vervaardigingsektor in die noorde, die afname in toerisme weens veiligheidsvrese, die ontvolking van die platteland en gevolglik lae groei in die landbousektor en natuurlik die land se drakoniese arbeidswette wat ’n lae aftree-ouderdom en kort werkweek wat die land onmededingend maak, insluit.

Die toename in Moslemterrorisme in Wes-Europa oor die afgelope paar jaar het Frankryk ook harder getref as enige ander land. Frankryk het die grootste Moslembevolking in Wes-Europa en talle stedelike woonbuurte is vandag enklaves van arm, werklose Moslems wat nie by die Franse bevolking geïntegreer is nie. Groot getalle jong Moslemmans het oor die afgelope vyf jaar na lande soos Sirië en Afganistan gereis om hulle daar by terreurgroepe aan te sluit en in burgeroorloë te veg. In talle gevalle het hierdie geradikaliseerde jongmans na Europa teruggekeer, gereed om die heilige oorlog teen die vyande van die Islamgeloof voort te sit.

Die vraag in Sondag se verkiesing is meer wesenlik as korttermyn-vraagstukke oor die hervorming van arbeidswetgewing, wysigings aan die belastingstelsel of belegging in nuwe infrastruktuur. Die vraagstukke waarmee Franse kiesers gekonfronteer word, het eerder te make met die soort land wat Frankryk in die toekoms wil wees en hoe Franse hul rol in die res van die wêreld sien.

Macron is ten gunste van ’n sterk Europese Unie (EU), die behoud van die euro en samewerking binne die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie. Binnelands probeer hy ’n fyn balans handhaaf deur homself effens links van die sentrum te posisioneer sonder om te veel sentrumregse kiesers in die rigting van Le Pen te dryf. Hy is dus ten gunste van die hervorming van arbeidswette, maar nie op wyses wat die vakbonde te kwaad sal maak nie.

Daarteenoor is Marine le Pen uitgesproke in haar teenstand van die Europese Unie en die euro. Sy is ten gunste van die herinstelling van grensbeheer en strenger immigrasiewette. Wat die land se ekonomiese uitdagings betref, is Le Pen proteksionisties ingestel.

Die jongste peilings wys dat die gaping tussen Macron en Le Pen stadig begin toemaak met Macron wat hier en daar onder die 60% begin inbeweeg en Le Pen wat in sommige peilings steun van 40% begin toon. Daar is slegs ’n baie skraal kans dat die gaping teen Sondag heeltemal toegemaak kan word.

Die vraag is egter, net soos in verlede jaar se Amerikaanse verkiesing: Wie gaan stem? Die wegblystem gaan Sondag ’n wesenlike invloed op die verkiesingsuitslag hê. Die keuse is soos in verlede jaar se Amerikaanse verkiesing een tussen ’n laerisiko-pragmatis en ’n hoër-risiko-populis. Wie ook al wen, Frankryk sal ná die verkiesing groot veranderinge moet ondergaan om aan die behoeftes van ’n onrustige bevolking te voldoen en om sy toekomstige rol in Europa en die wêreld te herdefinieer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Neels ·

En nou wag ons maar rustig dat die bedrae in Macron se geheime bankrekeninge in die Kaaiman-eilande oopgevlek word…lees gerus op http://www.reddit.com daarvan.
Ek sê maar net: Die liberaliste is maar voëls van eenderse vere…lekker skelm.

John ·

Vryheid, gelykheid, broederskap. Die woorde sal die grafskrif van Frankryk word met geen kerse of blomme voor die kil boog vir grootse oorwinnings nie… net stilte met skarrelende skadu’s tussen ou geboue… en tussendeur weergalm daar…

Darius Els ·

Le Pen of die booed sales steeds loop soos nou. Frankryk,Swede,Holland end England was desert 1961 die grootste gorge van terreur teen SA

Thuunda ·

Macron is alles behalwe gematig. Hy is ‘n radikale linkse met bedenklike doelwitte en heelwat verskuilde agendas.

Laat die Franse maar hierdie gif instem…hulle moet maar op die harde manier leer, die Franse was maar nog altyd bekend daarvoor om die verkeerde besluite te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.