Franse verkiesingsuitslag nie oop mandaat vir Macron

Emmanuel Macron

Emmanuel Macron. Foto: Facebook.

Die Franse is ’n wispelturige volk. Hul geskiedenis vertel die verhaal van rewolusie, opstand en hervorming. Tog is die Franse ook ’n konserwatiewe volk wat graag terugkeer na wat hom uniek en anders maak.

Genl. Charles de Gaulle, die vader van die naoorlogse Franse republiek, word vandag nog sterk onthou as die leier wat Franse konserwatisme ná die Tweede Wêreldoorlog hervestig het en daarna vir dekades ekonomiese sukses vir Frankryk verseker het. Sedert die regering van Francois Mitterrand gedurende die 1980’s en 1990’s het Frankryk egter ’n nuwe vlak van onstabiliteit begin ervaar. Sosialistiese hervormings het tot toenemende ekonomiese onmededingendheid aanleiding gegee terwyl massa-immigrasie uit voormalige Franse kolonies en die Midde-Ooste tot ’n groeiende en onrustige Moslembevolking, die grootste in enige Europese land, gelei het.

Vandag is Frankryk ’n land met ’n onseker toekoms. Frankryk is steeds die tweede grootste Europese ekonomie, sou Brittanje buite rekening gelaat word, en ’n land met ’n sterk weermag en enorme invloed in die wêreldpolitiek. Tog is dit ook ’n land met ’n stagnante ekonomie, 10% werkloosheid wat heelwat hoër as die meeste van sy buurlande is, landelike verval, gereelde terreuraanvalle en ’n geïsoleerde en onrustige Moslembevolking van minstens ses miljoen mense.

Die Franse bevolking se reaksie op die land se huidige uitdagings was Sondag duidelik toe die tweede ronde van parlementêre verkiesings plaasgevind het. Dit is nie die uitslag self wat skokkend is nie, maar wel die feit dat 56% van stemgeregtigdes besluit het om tuis te bly en nié te gaan stem nie. Sondag se deelnamekoers is die laagste sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. ’n Meerderheid van Franse voel duidelik dat deelname aan parlementêre verkiesings geen bydrae tot die hantering van die land se groot uitdagings kan lewer nie.

Die tweede reaksie van Franse kiesers was om die gevestigde politieke partye wat Frankryk oor die afgelope paar dekades afwisselend geregeer het, by die stembus te verneder. Die Sosialistiese Party, wat tot voor Sondag se verkiesing die grootste party in die Franse parlement was, se setels het van 328 tot slegs 45 afgeneem. Die sentrumregse Republikeine se setels het van 225 tot 137 afgeneem. Die onlangs verkose president, Emmanuel Macron, se nuutgestigte party, La République en Marche, het van geen setels tot 350 setels, sowat 60% van alle setels in die parlement, toegeneem.

Die Franse het duidelik min vertroue in die land se politieke stelsel en nog minder vertroue in die politieke partye wat vir die huidige probleme verantwoordelik is. Dit skep ’n groot uitdaging vir Macron wat in Mei met ’n groot meerderheid tot president van Frankryk verkies is. Aan die een kant is Macron in ’n sterk posisie met ’n meerderheid in die parlement wat dit vir hom maklik sal maak om sy agenda deur te voer.

Aan die ander kant moet Macron besef dat ’n meerderheid van Franse nie eers die moeite wou doen om aan die verkiesingsproses deel te neem nie. Sy sterk mandaat kom dus van ’n minderheid van die land se bevolking.

Sal die wispelturigheid van die Franse tot groter politieke drama oor die volgende paar jaar aanleiding gee of sal die land soos onder De Gaulle ’n fase van konserwatisme as veilige hawe kies? ’n Uitdagende tydperk lê vir die Franse voor.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Die Franse wás dalk soos die skrywer sê, ‘n “konserwatiewe volk wat graag terugkeer na wat hom uniek en anders maak”, maar is dit beslis nie meer nie. Politieke gebeure getuig daarvan.

Macron was myns insiens die ‘veilige’ keuse wat meer van dieselfde sal lewer aan ‘n kieserskorps wat heeltemal te papbroekig is om hul unieke Frankryk terug te vat, en/of heeltemal tevrede is met ‘n snelveranderende Frankryk.
Die hele Wes-Europa verloor in elk geval baie vinnig sy unieke andersheid.

In die derde paragraaf word ‘n donker prentjie geskilder oor Frankryk se toekoms.
Sterkte aan Macron. Dalk is hy ‘n tweede De Gaulle, maar heel waarskynlik nie.

Kom Ons Boks ·

Interresante artikel.
Dankie MM / PretoriaFM en natuurlik Mnr. Kleynhans vir die raak en objektiewe kyk na die Franse politiek. Dit is verfrissend om ‘n stuk te lees deur ‘n skrywer wat die feite eerlik kan weergee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.