G20-beraad oorskadu deur ver-linkse geweld

g-20-beraad-2017-geweld

‘n Skermskoot uit ‘n CNBC-insetsel oor die gewelddadige protesaksies buite vanjaar se G-20-beraad. Foto: CNBC.com

Die G20-beraad is die byeenkoms van die wêreldwye politieke en finansiële elite. Die leiers van die 20 sterkste ekonomieë vergader jaarliks om internasionale vraagstukke te bespreek en besluite te neem. Saam verteenwoordig dié 20 lande (insluitende die EU) 80% van die wêreld se BBP en handel, twee derdes van die wêreld se bevolking en sowat die helfte van die wêreld se oppervlakte, maar net ʼn bietjie meer as 10% van die bykans 200 state van die wêreld. Die G20 is meer verteenwoordigend as die G7 (die sewe mees ontwikkelde state), wat behalwe vir Japan net Westerse lande insluit. By die G20 is ook groot, ontwikkelende nie-Westerse lande soos Indië, Brasilië, China, Indonesië en Suid-Afrika teenwoordig.

Daar is groot besluite geneem, maar die ondervinding het al gewys dat redelik min daarvan gaan kom omdat dit nog steeds die individuele regerings is wat die besluite moet uitvoer. Daar is groot verskille in belange en in uitvoerende vermoë tussen die G20-lande.

Van die besluite wat geneem is, was die bevestiging van die verdrag van Parys om klimaatverandering te stuit. Die VSA is nie deel van die verdrag nie omdat pres. Donald Trump hom nie deur ander lande wil laat inperk en voorskryf nie. Afrika was ʼn agendapunt en beter hulp vir Afrika en die opbou van werkende strukture is belowe. Dit is ook niks nuuts nie. Ook die vlugtelingproblematiek is bespreek, maar geen wesenlik nuwe besluite is geneem nie. Terwyl iemand soos Trump ʼn muur wil bou, wil Europa dié strome eerder reguleer en die roetes vir vlugtelinge veiliger maak. Sekere oorbevolkte lande van die Derde Wêreld het ander probleme en is juis diegene wat vlugtelinge stuur (soos Mexiko). Internasionale vrye handel, een van die hoofdoelstellings van die G20, is herbevestig, met sekere toegewings aan die VSA. Voor die tyd is gevrees dat Trump ʼn handelsoorlog van stapel sal stuur omdat hy staan vir die VSA se ekonomiese belange en vrye handel afkeur. Hy sal nog steeds invoerbelasting hef op staal, maar nie die hele vryehandel-appelkar omgooi nie.

Die beraad het in Hamburg, Duitsland, en onder leiding van kanselier Angela Merkel plaasgevind. Deur die media is sy tot die leier van die “goeies” verhef, wat staan vir internasionale samewerking en die een-wêreld ideologie, teenoor Trump, wat staan vir isolasie en nasionalisme. Die verdeling is egter te eenvoudig, want behalwe vir Trump staan ook ander wêreldleiers soos Wladimir Poetin van Rusland, Xi Jinping van China en Recep Tayyip Erdoğan van Turkye eerder vir hulle lande se belange as vir ʼn globalistiese agenda.

Een gebeurtenis wat met groot afwagting dopgehou is, was die ontmoeting tussen Trump en Poetin. Blykbaar het hulle mekaar gevind (ook in internasionale politiek is persoonlike verhoudinge bepalend) en het saamgestem dat daar ʼn wapenstilstand in dele van Sirië moet wees. In ʼn sekere sin was dít moontlik die belangrikste uitkoms van die G20-beraad.

Elke G20-beraad is ʼn magneet vir anargiste en ver-linkse betogers, maar vanjaar se G20-beraad was besonder geweldadig en Hamburg het vir ʼn paar dae gelyk soos ʼn oorlogsone. Die polisie is oorweldig deur die intensiteit van die geweld, en oor die hoeveelheid jong mense wat aan die geweld meegedoen het. Talle motors is aan die brand gesteek, winkels is geplunder en eiendom van gewone burgerlikes wat niks met die G20 te doen het nie, is beskadig. Selfs die 20 000 polisiebeamptes was nie genoeg om die geweld te keer en die burgers te beskerm nie.

Miskien die belangrikste nagevolg van die G20-beraad is ʼn dringend nodige debat oor ver-linkse geweld en terreur. Hamburg is tipies vir groot stede in Duitsland en ander Wes-Europese lande, waar ver-linkses nie net verdra word nie, maar selfs vertroetel word as deel van ʼn “alternatiewe stedelike kultuur”. Die stadsraad duld nie net linkse “kultuursentrums” nie, maar dra selfs finansieel daartoe by. Kerke en sekere nieregeringsorganisasies het so ver gegaan om aan ver-linkse geweldtoeriste slaapplek en kos te bied. Hulle radikale idees word in ʼn sagte lig geplaas deur gematigde linkses, en geweldorgies (wat nie net tydens die G20 plaasvind nie, maar altyd wanneer daar mense vergader wat vir die ver-linkses aanstoot gee) word toegedig aan mense sonder ʼn politieke agenda. Die persepsie dat linkse radikales “edele” motiewe het en dus sagter hanteer moet word as regse radikales is in Duitsland en die Weste oor die algemeen sterk gevestig. Duitsland besef nou dat hulle die probleem van ver-linkse radikales vir jare onderskat het omdat alle fokus en energie op die ver-regses gerig is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerseun ·

Dis moet erg vir die lube wees om te sien hoe als wat hulle in glo in duie stort.

Eish ·

Voorwaar, die samelewing is besig om geboorte te skenk aan n onheilige uitbroeisel wat voor die voet vernietig sonder aansien des persoons. Ver links, ekstreem links en radikaal links. Genoeg benamings vir die gedroggie om enige normale mens te verwar. Die gemene deler blyk egter te wees dat die bestaande orde onaanvaarbaar is en hul doel is die omverwerping daarvan. Die optrede wissel van vreedsame betogings to sinnelose geweld waar 20 000 polisiebeamptes nie genoegsaam is om die burgers te beskerm nie. Hoe ver het ons nie verwyderd geraak van beskaafdheid waar, al het jou politieke party die onderspit gedelf in n verkiesing, reg en geregtigheid steeds behou is en n menswaardige lewe steeds onder n regering geleef kon word al ondersteun jy hulle nie. Verskeie redes vir die linkses se optrede is brood en botterkwessies soos werkloosheid en sisteem wat hul in totaliteit gefaal het. Moedeloosheid is die moeder en onvermoë om jou situasie te verbeter die vader van situasies waar geweld n aantreklike alternatief word. Goeie regering, eerder dan die najaag van politieke agendas, bly maar die enigste alternatief vir rus en vrede in n land.

Rupert Ashford ·

Die gedrog was nog altyd met ons. Sy naam is Sosialistiese /Kommunisme. Hy het homself na die val van die Berlynse muur herverpak as ‘n sagte filantropiese dingetjie waarvan die hoofdoel die beskerming van die belange van die armes is (het selfs ‘n groen jassie aangetrek en lyk soms soos ‘n waatlemoen – groen buite maar helderrooi binne). Sy ware onverdraagsame natuur kom egter al hoe meer tevoorskyn – hy wil nie debat voer nie maar oorheers en onderdruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.