G7-beraad lewer geen resultaat

cyril-ramaphosa-by-g-7-beraad-2019

Pres. Cyril Ramaphosa lewer insette op die eerste dag van die G7-beraad in die Afrika-vennootskapsvergadering. Links van hom sit Angela Merkel, Duitsland se kanselier, en agter hulle is dr. Naledi Pandor, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Biarritz is ʼn lieflike strandoord in die Baskiese deel van Suidwes-Frankryk. Dit is moeilik om aan ʼn mooier bestemming vir ʼn belangrike beraad van sewe van die wêreld se belangrikste leiers te dink. Maar selfs die mooiste somerweer, pragtige strande, asemrowende argitektuur en van die heerlikste etes, voorberei deur top- Franse sjefs, was die afgelope naweek nie genoeg om die G7-beraad, wat in Biarritz aangebied is, ʼn sukses te maak nie.

Terwyl die Franse president alles in sy vermoë probeer doen het om konsensus met sy ses kollegas van die VSA, Kanada, Duitsland, Italië, Japan en die Verenigde Koninkryk te bewerkstellig, was hy grootliks onsuksesvol. Die 2019 G7-beraad sal eerder onthou word vir onenigheid, onsekerheid en ʼn knaende onvermoë van dié sewe leiers om werkbare oplossings vir ekonomiese, veiligheids- en ander uitdagings te vind.

Die G7 is ʼn jaarlikse vergadering van sewe van die wêreld se mees ekonomies-gevorderde lande. In totaal verteenwoordig die huidige sewe lidlande meer as 50% van die wêreld se ekonomiese uitset. Rusland het in 1998 by die groep aangesluit, maar is in 2014 weens sy militêre betrokkenheid in die Oekraïne uitgeskop. Leiers van ander lande word ook jaarliks deur die gasheerland na die beraad genooi.

Die groot probleem met vanjaar se beraad was dat byna elkeen van die sewe leiers tans in ʼn verswakte posisie in hul eie lande verkeer. President Donald Trump se gewildheid is onder baie druk en daar heers ernstige kommer onder Republikeine oor sy kanse om volgende jaar herkies te word. Die handelsoorlog met China is besig om die Trump-agenda te oorheers.

In Europa het Giuseppe Conté reeds as eerste minister van Italië bedank. In Duitsland is Angela Merkel onder toenemende politieke druk terwyl haar Christelik-Demokratiese Unie steun verloor en na verwagting eerskomende Sondag in verkiesings in die deelstate Brandenburg en Sakse heelwat swakker as vyf jaar gelede gaan doen. In Frankryk is Emmanuel Macron se gewildheid ook steeds onder baie druk en in die Verenigde Koninkryk verkeer Boris Johnson onder groot druk om ʼn oplossing vir die Brexit-krisis te vind.

In Kanada is die eerste minister Justin Trudeau se Liberale Party agter in die meeste peilings en kan sy politieke loopbaan in Oktober se verkiesing kort geknip word. Die een uitsondering is dalk Shinzō Abe in Japan, maar ook hý kan nie op sy louere rus nie omdat daar ernstige kommer oor die toestand van die Japanse ekonomie bestaan.

Met verswakte politieke leiers wat oor hul eie gewildheid bekommerd moet wees, maak dit seker sin dat daar nie juis die naweek konsensus bereik kon word oor sake soos die oorlog in Sirië, die verhouding met Rusland, die kernooreenkoms met Iran, die beëindiging van die VSA se handelsoorlog met China, klimaatsverandering of bloot net stappe om te verhoed dat ʼn globale resessie binnekort ontwikkel nie.

Met min uitkomste kyk gewone landsburgers na ʼn gebeurtenis soos die G7-beraad en wonder waarom dit nog enigsins plaasvind. Die onvermoë van politieke leiers om saam oplossings te vind gaan eerder tot meer afkeur in hul leierskap aanleiding gee.

Terwyl die G7 juis ontstaan het uit die behoefte van groot, magtige lande om sekerheid te help skep, het vanjaar se G7-beraad eerder bygedra tot groter internasionale politieke onsekerheid.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jimmy ·

Die G7 is nutteloos. Die globale mag verskuif na Asië, met China as hoofreaktor. Of die wêreld nou daarvan hou of nie.

Oplossing ·

Kan netsowel hele gedoente gebeeldsaai/skype het, baie geld en tyd gespaar het.

Petrus ·

Daar is die gewers en die vatters. Gewers is gedaan gegee en die vatters het onuitputlike energie. Mors nie energie met oudmodiese ding soos werk.
Maar daai droom gaan ook in die hek sit!

John ·

… drie dae op ‘n classy plekkie in Frankryk en woeps toor Macron almal tot eenvormingheid… alle verskille en probleme weg. Afrika, eintlik net Mandelalaland kry nog baie geld om aaaaal sy probleme op te los en so ietsie vir bonusse, vir julle weet wie….
En die vure in die reènwoude… doodgereèn. Terloops, wat eet ons vanaand?

Idn ·

Daar is vir Donald Trump en Amerika groot deurbrake met die G7 beraad! Handelsooreekomste is geteken met Japan wat die Amerikaanse boere geweldig gaan bevoordeel. So ook met Britanje na Brexit. So ook met Duitsland oor invoertariewe met luukse motors. So ook die Iran kwessie wat tot almal se voordeel kan strek.
Kyk gerus na al die gesamentlike persverklarings wat uitgereik is en ignoreer die linkse propagerende hoofstroommedia wat jou aandag aflei en Trump met leuens beswadder. Hy het die Amerikaanse ekonomie en werkloosheid aangespreek met ongelooflike resultate.

Ronnie ·

Ek sal graag wil oplees oor die deurbrake en getekende handelsooreenkomste Idn. Sal jy omgee om jou bron/ne te openbaar? Dalk weet ek net nie waar om die feite te bekom nie, maar vir my lyk dit asof Donald Trump eensydige verklarings gemaak het tov Japan, Mexiko, Kanada en Boris Johnson. Ek weet hy wil met Iran praat maar dit lyk nie asof Iran belangstel nie. Ek sal baie graag die gesamentlike persverklaring wil lees as jy my op die spoor kan bring asb.

Idn ·

Ronnie op Youtube is al die gesamentlike persverklarings tussen Donald Trump en elk van die G7 leiers te sien.

Jan ·

Ramaphosa lewer insette
Wat ‘n grap ? Wat se insette kan hy lewer ?

Lou ·

Dit is net ‘n polities korrekte manier om te sê hy smeek vir geld by die G7.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.