G7-beraad word dalk binnekort G6+1

g-7-beraad-2018

‘n Skermskoot uit ‘n video van die G7-beraad in Kanada in 2018. Foto: Global Affairs Canada.

Die wêreldorde wat vrede en welvaart – meestal – sedert 1945 gewaarborg het, is voor die mensdom se oë aan die uitrafel. Ofskoon die proses reeds sedert die einde van die Koue Oorlog stadig aan die gang is, sal één gebeurtenis heel moontlik vorentoe opgeteken staan as die een waar dit ’n kritiese massa oorskry en onkeerbaar geword het.

Dit is die woedende wyse waarop pres. Donald Trump in die naweek geweier het om die gesamentlike verklaring van die G7-lande – die wêreld se sewe leidende moondhede – te teken.

As daar één ikoniese foto is wat die naweek se skeuring in die G7 illustreer, is dit een waar  Trump met gevoude arms en ’n hardkoppige uitdrukking op sy gesig sit, terwyl verskeie G7-leiers – met Angela Merkel van Duitsland, Sjinzo Abe van Japan, Emmanuel Macron van Frankryk en Theresa May van Brittanje op die voorpunt oor hom buig en hom toespreek. Dit was geen G7-beraad nie, maar het, soos Macron vooraf voorspel het, die G6+1 geword.

En, soos Macron agterna in sy reaksie gesê het, “Ons sal nie omgee as dit bloot ’n G-6 word nie” – met die implikasie dat Amerika (in elk geval so lank as wat Trump die Withuis bewoon) nie meer na spitsberade genooi sal word nie.

Trump het kliphard teruggekap. Hy het premier Justin Trudeau van Kanada beskuldig dat hy “swak” is en “leuens” verkondig.

Wat presies het dié kloof teweeg gebring? Historici sal oor ’n aantal jare die dokumente oor die beraad naarstig bestudeer en talle onderhoude met ooggetuies voer om agter die kap van die byl te kom, maar waarskynlik sal hul gevolgtrekkings min of meer hiérop neerkom:

Dit was reeds vooraf duidelik dat die vonke op die beraad kon spat. Trump het ook sy minagting vir die ander gewys deur herhaaldelik laat by die vergaderings op te daag.

Feit is dat die uitgangspunte van Amerika en die ander ses, veral oor handel, eenvoudig te ver uit mekaar lê. Dié verskil berus op die feit dat die twee kante elkeen met sy eie feite na die beraad gegaan het.

Trump beweer dat die wêreld Amerika te lank as sy “spaarvarkie” beskou en bedrieg het deur self hoë invoertariewe op Amerikaanse uitvoerprodukte te hef en dan te protesteer as Amerika dieselfde wil doen. Hy hanteer in die proses ’n hoogs selektiewe aantal produkte, waar sy beswaar wel korrek is.

Die ander ses wys hom daarop dat hy nie net op ’n uitgesoekte groep produkte moet konsentreer nie, maar op die geheel – álle produkte plus dienste én beleggings. Dan lyk die antwoord nie slegs heel anders nie, maar dit maak Amerika se verhoging van handelstariewe onsinnig.

Die leiers het ure lank hieroor geworstel, maar Trump het geen millimeter toegegee nie. Kenners meen hy het dit om binnelandse politieke redes gedoen: Hy meen dít is wat sy ondersteuners wil hê, en dít is wat hy dus vir hulle gaan gee, kom wat wil.

Uiteindelik het veral Merkel en Macron ’n kompromis op die tafel gelê. Om aan Trump se eise toe te gee sou ’n verwysing na die reëls van die Wêreld-Handelsorganisasie (wat Trump verwerp) in die slotverklaring weggelaat word, maar wel iets oor ’n “op-reëls-gebaseerde-wêreldorde”  bygevoeg word.

Trump het ingestem, en almal het verlig gesug. Daarna het hy die beraad vroegtydig verlaat onderweg na Singapoer om die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong-oen te ontmoet.

Vervolgens het Trudeau ’n perskonferensie gehou waarin hy gesê het Kanadese is beleefde en redelike mense, maar hulle laat hulle nie (deur Trump?) rondstoot nie. Trump, reeds op Air Force One op pad na Singapoer, het ontplof. In ’n reeks – selfs vir hom – buitengewoon beledigende twiets het hy Trudeau en die ander ses van ’n kant ingevlieg en verskriklik sleggesê. Hy het Amerika se goedkeuring van die slotverklaring teruggetrek.

Hy het selfs gedreig dat Amerika alle handelsbande met die ses sou verbreek. Wat dalk wys hoe kwaad hy was, want dit sou ’n ramp vir Amerika self ook wees.

Later het Larry Kudlow, Trump se ekonomiese raadgewer, in ’n gesprek met CNN die aap uit die mou gelaat. Trump was bang dat Trudeau se uitlatings hom (Trump) swak sou laat lyk by Kim Jong-oen. En op die vooraand van sy beraad met Kim wou hy krag en gesag uitstraal en nie oorkom as iemand wat voorgesê word nie.

In Europa het dit gekóók van die kritiek op Trump. Macron se eie verklaring was vlymskerp: “Internasionale samewerking kan nie gedikteer word deur vloermoere en lukrake opmerkings nie. Ons het twee dae bestee aan die opstel van ’n verklaring en verbintenisse. Kom ons bly daarby, en wie dit ook al verbreek, wys onsamehangendheid en onkonsekwentheid. Kom ons wees ernstig en ons mense waardig.”

Die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, was ewe skerp: “Jy kan ’n ongelooflike hoeveelheid vertroue baie vinnig in ’n twiet vernietig. Dit maak dit des te belangriker dat Europa saamstaam en sy belange selfs meer offensief verdedig.”

Merkel was, soos sy maar is, versigtiger: Die beraad was “ontnugterend en deels deprimerend,” het sy gesê. Kritiek was ook afkomstig van die ander teenwoordige leiers.

Die Europese pers het laat waai. Die opskrif van die analise in die normaalweg versigtige konserwatiewe Die Welt was veelseggend: “Die oomblik toe die Weste ineengestort het”.

Dis duidelik dat die “skandaal” bewys wat al duidelik was, skryf die koerant: “Trump is strenger op Amerika se bondgenote, wat hy meen hom benadeel, as op Amerika se vyande.” Met laasgenoemde word nie slegs Noord-Korea bedoel nie (Trump verwys juis nie meer na Kim as “little Rocket man” nie, maar as “eerbaar”), maar ook Rusland.

Die opskrif van die hoofartikel in die eerbiedwaardige The Times het Maandagoggend gelui: “The US is no longer a country in which we can trust.

En die uiters konserwatiewe Daily Telegraph het geskryf: “Sy gevoel is nie vir ’n newelige idee soos ‘die Weste’ nie, maar vir Amerika eerste, voorop en altyd, wat beteken dat die ander G7-leiers geregtig was om hul eie belange in sulke robuuste woorde te verdedig. Hulle (die ander ses) weet nou – as dit nog nie die geval was nie – dat Amerika onder Trump nie meer die gemeenskaplike belange erken wat die idee van die G7 ten grondslag lê nie.”

Die internasionale politiek berus sedert die Tweede Wêreldoorlog deels op ’n onverbreeklike transatlantiese band en ’n orde wat gebaseer is op reëls wat vir ’n groot deel deur Amerika opgestel en dikwels afgedwing is. Toe Trump Saterdag sy twitter vloermoer vanuit Air Force One die wêreld instuur, het hy die skerwe van dié orde agter hom gelaat.

Die wêreld gaan ’n onstabiele en gevaarlike fase tegemoet.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Liberaal

Eks ook bekommerd dat die een-wereld droom waar daar geen minderhede is nie maar almal een taal van ons meesters praat, een mark vir ons superryk globale besigheidsleiers se produkte, geen klein besighede en geen geloof, in skerwe spat. Ai Trump, hoekom beskerm jy die middel en lae klas?

Weste heropbou

Dis juis stappe om ineenstorting van die Weste te keer, en kyk hoe suksesvol is Trump daarin in Amerika. Europa moet sy voorbeeld volg as hulle ook die Weste wil herstel.

Adriaan

Trudeau se 1 wenkbrou het los gekom en wou-wou afval tydens n nuuskonferensie saam met Macron … Gee my eerder 10 Presidente Trump as 1 Trudeau.

Gerhard

Word Europa en res van die Weste dus uiteindelik gespeen?

Wessel

Vandag se artikel in “The National Sentinel”, gee ‘n baie beter blik op die G7 gebeure.