G7-beraad word dalk binnekort G6+1

g-7-beraad-2018

‘n Skermskoot uit ‘n video van die G7-beraad in Kanada in 2018. Foto: Global Affairs Canada.

Die wêreldorde wat vrede en welvaart – meestal – sedert 1945 gewaarborg het, is voor die mensdom se oë aan die uitrafel. Ofskoon die proses reeds sedert die einde van die Koue Oorlog stadig aan die gang is, sal één gebeurtenis heel moontlik vorentoe opgeteken staan as die een waar dit ’n kritiese massa oorskry en onkeerbaar geword het.

Dit is die woedende wyse waarop pres. Donald Trump in die naweek geweier het om die gesamentlike verklaring van die G7-lande – die wêreld se sewe leidende moondhede – te teken.

As daar één ikoniese foto is wat die naweek se skeuring in die G7 illustreer, is dit een waar  Trump met gevoude arms en ’n hardkoppige uitdrukking op sy gesig sit, terwyl verskeie G7-leiers – met Angela Merkel van Duitsland, Sjinzo Abe van Japan, Emmanuel Macron van Frankryk en Theresa May van Brittanje op die voorpunt oor hom buig en hom toespreek. Dit was geen G7-beraad nie, maar het, soos Macron vooraf voorspel het, die G6+1 geword.

En, soos Macron agterna in sy reaksie gesê het, “Ons sal nie omgee as dit bloot ’n G-6 word nie” – met die implikasie dat Amerika (in elk geval so lank as wat Trump die Withuis bewoon) nie meer na spitsberade genooi sal word nie.

Trump het kliphard teruggekap. Hy het premier Justin Trudeau van Kanada beskuldig dat hy “swak” is en “leuens” verkondig.

Wat presies het dié kloof teweeg gebring? Historici sal oor ’n aantal jare die dokumente oor die beraad naarstig bestudeer en talle onderhoude met ooggetuies voer om agter die kap van die byl te kom, maar waarskynlik sal hul gevolgtrekkings min of meer hiérop neerkom:

Dit was reeds vooraf duidelik dat die vonke op die beraad kon spat. Trump het ook sy minagting vir die ander gewys deur herhaaldelik laat by die vergaderings op te daag.

Feit is dat die uitgangspunte van Amerika en die ander ses, veral oor handel, eenvoudig te ver uit mekaar lê. Dié verskil berus op die feit dat die twee kante elkeen met sy eie feite na die beraad gegaan het.

Trump beweer dat die wêreld Amerika te lank as sy “spaarvarkie” beskou en bedrieg het deur self hoë invoertariewe op Amerikaanse uitvoerprodukte te hef en dan te protesteer as Amerika dieselfde wil doen. Hy hanteer in die proses ’n hoogs selektiewe aantal produkte, waar sy beswaar wel korrek is.

Die ander ses wys hom daarop dat hy nie net op ’n uitgesoekte groep produkte moet konsentreer nie, maar op die geheel – álle produkte plus dienste én beleggings. Dan lyk die antwoord nie slegs heel anders nie, maar dit maak Amerika se verhoging van handelstariewe onsinnig.

Die leiers het ure lank hieroor geworstel, maar Trump het geen millimeter toegegee nie. Kenners meen hy het dit om binnelandse politieke redes gedoen: Hy meen dít is wat sy ondersteuners wil hê, en dít is wat hy dus vir hulle gaan gee, kom wat wil.

Uiteindelik het veral Merkel en Macron ’n kompromis op die tafel gelê. Om aan Trump se eise toe te gee sou ’n verwysing na die reëls van die Wêreld-Handelsorganisasie (wat Trump verwerp) in die slotverklaring weggelaat word, maar wel iets oor ’n “op-reëls-gebaseerde-wêreldorde”  bygevoeg word.

Trump het ingestem, en almal het verlig gesug. Daarna het hy die beraad vroegtydig verlaat onderweg na Singapoer om die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong-oen te ontmoet.

Vervolgens het Trudeau ’n perskonferensie gehou waarin hy gesê het Kanadese is beleefde en redelike mense, maar hulle laat hulle nie (deur Trump?) rondstoot nie. Trump, reeds op Air Force One op pad na Singapoer, het ontplof. In ’n reeks – selfs vir hom – buitengewoon beledigende twiets het hy Trudeau en die ander ses van ’n kant ingevlieg en verskriklik sleggesê. Hy het Amerika se goedkeuring van die slotverklaring teruggetrek.

Hy het selfs gedreig dat Amerika alle handelsbande met die ses sou verbreek. Wat dalk wys hoe kwaad hy was, want dit sou ’n ramp vir Amerika self ook wees.

Later het Larry Kudlow, Trump se ekonomiese raadgewer, in ’n gesprek met CNN die aap uit die mou gelaat. Trump was bang dat Trudeau se uitlatings hom (Trump) swak sou laat lyk by Kim Jong-oen. En op die vooraand van sy beraad met Kim wou hy krag en gesag uitstraal en nie oorkom as iemand wat voorgesê word nie.

In Europa het dit gekóók van die kritiek op Trump. Macron se eie verklaring was vlymskerp: “Internasionale samewerking kan nie gedikteer word deur vloermoere en lukrake opmerkings nie. Ons het twee dae bestee aan die opstel van ’n verklaring en verbintenisse. Kom ons bly daarby, en wie dit ook al verbreek, wys onsamehangendheid en onkonsekwentheid. Kom ons wees ernstig en ons mense waardig.”

Die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, was ewe skerp: “Jy kan ’n ongelooflike hoeveelheid vertroue baie vinnig in ’n twiet vernietig. Dit maak dit des te belangriker dat Europa saamstaam en sy belange selfs meer offensief verdedig.”

Merkel was, soos sy maar is, versigtiger: Die beraad was “ontnugterend en deels deprimerend,” het sy gesê. Kritiek was ook afkomstig van die ander teenwoordige leiers.

Die Europese pers het laat waai. Die opskrif van die analise in die normaalweg versigtige konserwatiewe Die Welt was veelseggend: “Die oomblik toe die Weste ineengestort het”.

Dis duidelik dat die “skandaal” bewys wat al duidelik was, skryf die koerant: “Trump is strenger op Amerika se bondgenote, wat hy meen hom benadeel, as op Amerika se vyande.” Met laasgenoemde word nie slegs Noord-Korea bedoel nie (Trump verwys juis nie meer na Kim as “little Rocket man” nie, maar as “eerbaar”), maar ook Rusland.

Die opskrif van die hoofartikel in die eerbiedwaardige The Times het Maandagoggend gelui: “The US is no longer a country in which we can trust.

En die uiters konserwatiewe Daily Telegraph het geskryf: “Sy gevoel is nie vir ’n newelige idee soos ‘die Weste’ nie, maar vir Amerika eerste, voorop en altyd, wat beteken dat die ander G7-leiers geregtig was om hul eie belange in sulke robuuste woorde te verdedig. Hulle (die ander ses) weet nou – as dit nog nie die geval was nie – dat Amerika onder Trump nie meer die gemeenskaplike belange erken wat die idee van die G7 ten grondslag lê nie.”

Die internasionale politiek berus sedert die Tweede Wêreldoorlog deels op ’n onverbreeklike transatlantiese band en ’n orde wat gebaseer is op reëls wat vir ’n groot deel deur Amerika opgestel en dikwels afgedwing is. Toe Trump Saterdag sy twitter vloermoer vanuit Air Force One die wêreld instuur, het hy die skerwe van dié orde agter hom gelaat.

Die wêreld gaan ’n onstabiele en gevaarlike fase tegemoet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Liberaal ·

Eks ook bekommerd dat die een-wereld droom waar daar geen minderhede is nie maar almal een taal van ons meesters praat, een mark vir ons superryk globale besigheidsleiers se produkte, geen klein besighede en geen geloof, in skerwe spat. Ai Trump, hoekom beskerm jy die middel en lae klas?

Bert ·

Jou kommentaar is in die kol! Maar die gevestigde establishment sal dit nooit kan insien nie.

Gehardt O ·

Geld is n middel tot n doel. Supperrykes kan niks meer fisiese goed koop wat hulle nie reeds het nie. Dit gaan eerder oor mag om siele te verower.

Weste heropbou ·

Dis juis stappe om ineenstorting van die Weste te keer, en kyk hoe suksesvol is Trump daarin in Amerika. Europa moet sy voorbeeld volg as hulle ook die Weste wil herstel.

Adriaan ·

Trudeau se 1 wenkbrou het los gekom en wou-wou afval tydens n nuuskonferensie saam met Macron … Gee my eerder 10 Presidente Trump as 1 Trudeau.

Boerseun ·

Ai ou Trump gee jou darm n paar krampe op ander plekke sien ek. Dan kan jy ook nie weg beweeg van die CNN af nie, meer Trump haat sal jy nie kry nie. Ek sal nie te bekommered wees oor die name soos Merkel, Trudeau of May nie, en Marcon is ook maar n Europleaser, hulle tyd stap nader. As jy nou wou iets interesant sê wat was die ander lid lande se kommertaar wat nie globalistiese marxiste (liberale) is nie?

Gerhard ·

Word Europa en res van die Weste dus uiteindelik gespeen?

Leopold Scholtz ·

Beste Boerseun, vir wat dit werd is, ek kyk byna nooit CNN nie. Ek hou nie van hul blatante bevooroordeeldheid nie. Wat televisiestasies betref, vind ek die BBC baie akkurater en objektiewer. Ek het Trump se perskonferensie juis lewendig op die BBC bekyk. En verder lees ek maklik 20 publikasies per dag, van behoorlik links tot ekstremisties regs. My 46 jaar se ervaring van internasionale politieke analises gee my – hopelik – die vermo”e om te onderskei tussen fopnuus en egte nuus. Lekker dag vir jou.

Wessel ·

Vandag se artikel in “The National Sentinel”, gee ‘n baie beter blik op die G7 gebeure.

Rooi Jan ·

Jy kan nie verder verkeerd wees nie. Amerika kan nie ekonomies oorleef as hulle nie produkte en dienste uitvoer en winste repatrieer nie. Geen land kan bekostig om hulself te isoleer nie. Wat Trump nou doen gaan dalk op kort termyn vir hom ondersteuning werf maar sodra sy optrede die VSA ekonomies begin seermaak en dit gaan, gaan hy waai. Hy sal nie 2 termyne sien nie tensy hy baie vinnig sy skoolgrond boelie taktiek teenoor sy bondgenote laat vaar nie. En net voor jy se dat die ekonomie beter is onder hom, dit is nie sy optrede wat hierdie oplewing teweeg gebring het nie dit was Obama wat dit vir hom agtergelaat het. Sy optrede sal eers oor 2-3 jaar in die ekonomie begin reflekteer.

Kannaland ·

Selfs die hoofstroommedia is nie besig met Trump vernederingspogings op hierdie historiese dag soos hierdie artikel nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Kannaland, in alle vriendelikheid, kan jy my een enkele bewering in my artikel noem wat ‘n leuen is? En terloops, is jy bang vir jou eie naam? Hoekom kruip jy so dapper agter ‘n skuilnaam weg?

gatiep ·

Trump is daar om die wereld wakker te skrik.
Vir te lank misbruik die globale ouens die gewone mens op straat om hulle self te veryk. Trump is n gewone ryk mens wat baie opoffer vir wat hy wil reg kry.
Dink hy wil eendag as iemand wat iets groot gedoen het afgaan in geskiedenis.
CNN het baie bloed op hulle hande.

jaco ·

hierdie man gaan die volgende presidentsverkiesing verloor. n polities korrekte demokraat gaan president word, alles doen wat die res van die weste wil hê en dan, wanneer alles in duie gestort het, sal dit te laat wees om na dinge terug te keer wat Trump gedoen het. Te laat sal almal dan besef hy was eintlik reg.

gatiep ·

jaco moenie bekomerd wees nie,sy ondersteuners raak meer.
Volgende verkiesing gaan hy nog meer steun he.

DewaldS ·

Die artikel is ‘n baie eensydige, vereenvoudigde vertolking van ‘n baie meer genuanseerde situasie.

DewaldS ·

Hierdie kommentaar van my was na aanleiding van ‘n kommentator wat ‘n berig in die “National Sentinel’ verwys het en is nie my opinie van Dr Scholtz se artikel nie.

DewaldS ·

Ek kan nie ‘n tyd in die geskiedenis onthou wat die wêreld (veral die Weste) sulke swak leiers gehad het wat so min omgee vir hulle eie lande en burgers nie. Die linkse hoofstroom-media en die organisasies-agter-die-skerms het vir so ‘n lang tyd die septer geswaai en al hulle kandidate verkies gekry in ‘n ongelyk speelveld, dat die kwaliteit van die politici wat dit tot bo maak, baie sterk afgeneem het. Maar ons sien darem al tekens van herstel. Hopenlik gebeur dit in tyd voordat iets soos die Navo-gedrog (wat geen meer logiese bestaansreg het) gewone, redelike burgers ‘n oorlog insleep wat hulle nie regtig wil hê nie. .

Rooi Jan ·

Dewald kan jy miskien uitbrei op jou heel laaste stelling? Hoe is dit NAVO wat die oorlog gaan veroorsaak? Sover mens kan sien is dit Rusland wat al hoe meer aggressief raak in sentraal/oos Europa. En China in die Suid Stille oseaan.

DewaldS ·

Paar teen-vragies wat jou dalk gou jou eie ‘belief-system’ sal laat bevraagteken. Hoeveel basisse het Sjina en Rusland buite hulle grondgebied en waar is daai basisse geleë? En hoeveel het die VSA en Navo en waar is daai basisse geleë? Volg daai vraag op met die aantal oorloë en regerings-omverwerpings waarby dieselfde partye betrokke was oor die laaste 70 jaar. Russiese en Sjinese ‘agressie’ bestaan maar eintlik in die linkse hoofstroom-media en in diegene wat hulle propaganda glo se koppe.

Charles ·

President Trump se gedrag en wonderlike, sterk optrede, is JUIS nodig om die Weste te red van ‘n vernederende, stapsgewyse en gekoordineerde verval, indien dit nie kan begryp word nie, weet ek wragtig nie.

Daarom is hy ons Held.

Nie meer sal Westerlinge skaam wees, hulself verwyt, oikofobetiese sindroom vertoon nie; nie meer sal westerlinge verdrink in ‘n see van polities korrekte kastyding en self-kastyding nie, maat trots wees op hul prestasies, en dit wat wink op die horison; nie meer nie.

Die einde van liberale demokrasie is goddank hier, maar nie die van die Weste nie, die Weste se her-rysenis, het NOU eers begin, en ons gaan die toekoms binne met volle vertrou en hoop.

chrisp ·

Justin Trudeau?
Die “man” met die uitstekende Indiese danspassies,erkende feminis wat 50% vroue in sy kabinet sit ongeag of hulle die beste is net solank die verhoudings klop(klink bekend),die een wat “mankind” as diskriminerend sien en eerder praat van “peoplekind” ,die een wat $ 10,000,000.00 aan ‘n erkende terroris gee wat verantwoordelik is vir die dood van ‘n Amerikaanse “medic” ,die drama onderwyser ,die mees huilende leier in menseheugenis,ens. Daai een?

Dit sal bitter moeilik wees om ‘n swakker leier van ‘n land te kry as Trudeau . Kanada gaan nog bitter spyt wees oor hul keuse.Thatcher is al dame wat opgewasse sou wees teen Trump,nie Trudeau nie.

Gelukkig blyk dit dat die weste stadig maar seker regkom as gekyk word na die oplewing van patriotism.

Viva nasiestate viva….

DHK ·

Daar is bewerings dat Trudeau die buite egtelike seun van Fidel Castro is. As ‘n mens fotos van ‘n jong Castro bestudeer en dit vergelyk met Trudeau sin is daar ‘n merkwaardige ooreenkoms…

Rooi Jan ·

So Chris maw jy sien vir Malema of iemand soos Malema in beheer van SA. Want hy is daardie nasionalis wat genoeg steun kan trek in SA om moontlik by die ANC oor te neem. Want dit is wat die gevolg sal wees van “patriotisme” hier.

Nasionaal ·

@Rooi Jan jy maak n groot fout om links en regs met mekaar te verwar.

DHK ·

Leopold se “vloermoer” opmerking onderstreep maar net sy frustasie teen Trump wat die een-wêreldorde lande gereeld bloedneus gee en sy eie mense belange voorop stel. Wie kan ooit die liberale gemoedstoestand werklik verstaan?

Charles ·

Vra dit DHK, vra dit…? Ons normales en “deplorables” sal dit nooit kan kleinkry nie.

Stephan de S ·

Verwysings soos…”die wêreldorde wat vrede en welvaart gewaarborg het, is aan uitrafel” en “deur een gebeurtenis moontlik onkeerbaar geword” en “wêreld gaan onstabiele en gevaarlike fase tegemoet” en ” het hy die skerwe vd orde agter hom gelaat” en “US is no longer a country in which we can trust” en “die oomblik toe die Weste ineengestort het” is darem net te dik vir n daalder om te glo. Leopold moenie dat ons ons respek vir jou verloor nie. Sit jy nie te lank by die grootbase van Brussels om perspektief te behou nie? Hulle dink al lank dat hulle die wêreld se redders is en die sleutel tot vrede en welvaart besit. Knoeiers wat net hul eie rykdom bedink in hooghartigheid teenoor kleiner nasies. Jy sê niks oor die jong arrogante Trudeau se perskonferensie agter Trump se rug wat moontlik die herrie ontketen het. Dalk sou ek net so ontstel wees. Natuurlik het die res vd kliek Trudeau ondersteun.

Leopold Scholtz ·

Beste Stephan, jong, het jy die artikel dan so swak gelees? Ek het dan juis taamlike aandag aan Trudeau se perskonferensie gegee! En bowendien, daar het Trudeau niks ges^e wat hy nie al vantevore in die openbaar ges^e het nie. Terloops, ek woon in Delft, nie in Brussel (sonder die “s”) nie. Wat my opmerkings betref wat “te dik vir ‘n daalder is om te glo”, dis natuurlik jou volste reg om met my te verskil. Al wat ek kan antwoord, is dat ek 46 jaar as internasionale politieke ontleder agter die rug het. Dit beteken nie dat ek outomaties reg is nie. Dit beteken wel dat jy nie my mening so summier kan afskryf nie. Tensy jy natuurlik self groot ervaring as internasionale politieke analis het? Maar dankie vir jou bydrae. Lekker week!

bgj van der westhuizen ·

almal is gekant teen hom omdat hy die geld kraan nou begin toe draai en se eerder kyk na sy inwoners in sy eie land beter lewe te gee as om altyd na ander lande na te moet kyk

Kannaland ·

@Leopoldt, ek gebruik ‘n skuilnaam want sekere groepe geniet nie meer vryheid van spraak in die land nie so moet my asseblief nie daaroor aanval nie, ek hoop jy verstaan. Jy sit in n veilige land met vryheid van spraak, ek weer kan lelike moeilikheid kry uitdie aard van my werk as ek my opinie gee in hierdie land. Ek het nie gese jou feite in die artikel is verkeerd nie, wat ek bedoel is dat dit duidelik aan jou toon is dat jy negatief is soos die woord vloermr en dat ons in n gevaarlike tyd inbeweeg, so asof ons nou in n gevaarliker tyd inbeweeg as die vorige veglustige VSA presidente, dit is mos opinies, nie feite nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Kannaland, dankie vir jou bedaarde antwoord. Ek kan die rede vir die gebruik van ‘n skuilnaam nie beoordeel nie; jy moet maar met jou eie gewete saamleef. Wat opinies en feite betref, ek het duidelik gemotiveer waarom ek dink ons beweeg in ‘n gevaarliker tyd in as voorheen. Dalk is ek verkeerd – ek hoop van harte so. Maar as jy die geskiedenis ken, sal jy my mening nie so summier as oningelig afskryf nie. Dankie ook vir jou bydrae en groetnis.

Stephan de S ·

Leopold dankie vir jou response (met of sonder die e ). Ek waardeer al so lank jou artikels in verskeie nuusblaaie. Juis jou stelling van hoe lank jy by joernalistiek betrokke is laat my die vraag vra: het jy nie al so opgegaan in die menings van kommentators en politici dat jou perspektief op die groter prentjie vervaag het. Die lewe en lewenswysheid bestaan nie net uit internasionale politieke speletjies nie. Daar is ook baie mense wat die lewe en geskiedenis oor baie jare ingelig dophou en nie verdoemende uitsprake maak soos bv die einde van welvaart en stabiliteit, nie. Ek het dit gehad teen die trant van jou ontleding,asof die wêreldorde afhang van n paar tydelike grootmo nd politici se uitsprake om hul eie ego ‘s te beskerm. Ek weet sommige van jou stellings was aanhalings maar tog het jy dit laat klink soos waarhede. Dankie vir jou gewaardeerde werk om perpektief te bring oor baie jare.

Leopold Scholtz ·

Beste Stephan, dankie vir die mooi woorde. Nogmaals, ek hoop vurig ek is verkeerd. Maar ek sien hoe die w^ereldorde wat sedert 1945 ‘n sekere – toegegee, perverse – stabiliteit meegebring het, verbrokkel. Deel van daardie orde was die onverbreeklike transatlantiese band tussen Amerika en Europa. Dis duidelik aan die verbrokkel. Kan dit na Trump se tyd weer herstel word? In beginsel ja. Maar dinge word so vloeibaar en onstabiel dat enigiets moontlik is. Ons kan maar net bid. Groetnis!

Kannaland ·

@Stephan en Leopoldt, nee ek dink kanse is baie goed dat die bande tussen VSA en Europa gaan herstel in die toekoms want Europa se stemgeregtigdes se oe is ook besig om oop te gaan teen die nuwe wereldorde. Kyk na Italie, Oostenryk, oos Europa. Dit groei ook in Wes Europa.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.