Gaan De Lille-ondersteuners ʼn nuwe party stig?

Patricia de Lille (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Sterk gerugte is in Kaapstad in omloop dat ondersteuners van die voormalige Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, ‘n politieke party gaan stig om die DA en die ANC by die stembus te takel.

Die groeiende hoeveelheid Kaapse DA-stadsraadslede wat uit die party en die stadsraad bedank (en in die proses hul inkomstes prysgee) staan nou op nege, en onder hulle tel sommige van die Kaap se bekendste en mees gerespekteerde politici.

Hoewel al nege tot dusver die swye bewaar en De Lille gesê het sy sal haar eie toekomsplanne eers oor twee weke bekend maak, is die nuus uit ingeligte bronne naby aan De Lille dat ‘n nuwe politieke party waarskynlik is.

So ‘n party sal homself afstem op die vul van die gaping tussen die DA en die ANC as ‘n nie-rassige party met bewese bestuursvaardighede wat sal fokus op die belang van armes.

Die mening dat daar ruimte vir so ‘n party in die Wes-Kaap bestaan, wortel in die toestand van die provinsie se twee grootste partye, die DA en die ANC.

Die Wes-Kaapse DA steier die afgelope jaar van een krisis na die volgende. Van die agt Wes-Kaapse tussenverkiesings waaraan die party hierdie jaar deelgeneem het, het hulle in sewe verswak vergeleke met 2016, terwyl hulle in die res van die land groei.

Boonop het hulle beheer verloor oor verskeie munisipaliteite, maar geen nuwe munisipaliteite bygekry nie.

Die nare manier waarop die De Lille-kwessie hanteer is, en die bewese leuens wat oor haar vertel is en vervalsings wat oor haar versprei is, het die DA se beeld benadeel en hom kiesersteun gekos, soos die uitslae wys.

Boonop het baie van die verskille tussen De Lille en van die meer neo-konserwatiewe wit Engelse lede van die Wes-Kaapse DA (wat voorgee om liberaal te wees, maar gevestigde belange beskerm) gegaan oor behuisingsbeleid, met De Lille se planne vir meer inklusiewe behuising, spesifiek in Seepunt, wat om elke hoek en draai gekniehalter is deur DA-lede wat graag voorgee hulle is die armes ter wille.

In die Wes-Kaapse ANC gaan dit nog erger. Een van die provinsiale leiers van die party moes homself onlangs verdedig teen ‘n klag dat hy ‘n partylid ernstig aangerand het en ‘n ANC-raadslid is een van diegene wat gearresteer is op ‘n aanklag dat hy aandadig was aan die klaarblyklike sluipmoord op ‘n ander ANC-raadslid in Knysna.

Wat tans nog nie bepaalbaar is nie, is wat De Lille se rol in so ‘n nuwe party sal wees. Sy het verskeie aanbiedinge om te oorweeg en besluite om te neem in die volgende paar weke.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Twakkie ·

Laat ek raai waar dié inligting vandaan kom: De Lille en haar trawante self. Sover ek weet, is daar géén bewyse dat die DA of Stad Kaapstad enigiets verkeerd gedoen het nie, maar wel bewyse van gróót korrupsie teen De Lille en trawante. Maar nouja, as die “neokonserwatiewe Engelse” te papbroekig is om ‘n straatvegter soos De Lille aan te vat, moet hulle maar op die harde manier leer. Goeie een daai, serves them right, dis hoeka hulle “liberale” manier om tog altyd só polities korrek te probeer wees en mense soos De Lille die voordeel van die twyfel te gee, wat hulle gebring het wasr hulle is. Neo-konserwatief? Dis ‘n goeie een.

Pieta ·

Het die indiening van Party Verteenwoordigers Lyste oftewel alles te make met Party deelname vir verwagte April 2019 Algemene Verkiesings voor/op 28 Oktober 2018 afgesluit / verstryk ?

Smirre ·

EFF sal haar goed pas. Vinnig om alles en almal te blameer behalwe haar eie flaters. Eintlik nog steeds daai PAC mentaliteit.

Elz ·

Ek haat politiek want dit breek alle mense se se regte af! Stop dit asb. Politiek is duiwel! Ek mis dae waar politiek nie werk nie! Haat ANC, EFF, DA ens…. ek wil net vrede he!!!

willemvasbyt ·

Dis myns insiens werklik nodig dat iemand die DA skok. Miskien skrik hulle dan wakker. Ek weet van vele wat opsoek is na ‘n nuwe politieke tuiste.

Heinrich van Zyl ·

Is “gerespekteerde politici” nie dieselfde as ‘n “vierkantige sirkel” nie?
In beide gevalle is die woorde mos wederkerig uitsluitlik.

Smirre ·

@Elz: Voor daar ‘n ineenstorting is moet jy dalk jouself beskerm teen die emosionele trauma wat politiek ‘n mens kan aandoen. Die beste is om jou reg ten volle uit te oefen om nie nuus te lees nie asook nie mense se kommentaar oor die nuus en politiek nie. Die effek hiervan is merkwaardig want as jy nie weet wat in die wereld, politiek ingesluit, aangaan nie dan hoef jy nie daaroor te stress of dit te haat nie. Dan het jy letterlik vrede met als. Hoop die help.

leser ·

“de-ville” wil daardeur seker weer probeer om kaapstad se eerste burger te wees

Dries du Toit ·

Elz baie eenvoudig. Steun dan net die party wat nie die duiwel in het nie. Maw die party wat se beleid absoluut en onbeskaamd Bybelse norme voorstaan en die drie enige God aanbid

Frik Lotz ·

Enigste party wat nog waardigheid het en werklik mense se belange op die hart dra is die VF Plus. Dis tyd dat mense hul oe begin oopmaak en besef VF Plus is enigste logiese keuse om voor te stem in 2019.

Frik Lotz ·

Enigste party wat nog waardigheid het en werklik mense se belange op die hart dra is die VF Plus. Dis tyd dat mense hul oe begin oopmaak en besef die VF Plus is die enigste logiese keuse om voor te stem in 2019

Penellope Jones ·

Klink en lyk asof die “timing” goed uitgewerk is hier voor 2019 se verkiesing. . . . . .

Cherokee ·

En dan koaliseer die DA met De Lille se party ter wille van stemme. Dit sal die lag van die dag wees.

Marlize ·

Ek stem eerder vir haar as wat ek vir enige ander party stem.

Alles van die beste De Lille!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.