Gaan demokrasie oorleef?

jacob-zuma

Pres. Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Een van die onderwerpe waaroor almal in die land praat, is pres. Jacob Zuma. Wat is sy magsposisie in die ANC en die regering tans? Hoe lyk sy toekoms? En wat hou dit alles in vir die demokrasie en die minderheidsgroepe in ons land?

Dis vrae met antwoorde waarvan geweldig veel afhang. Dit gaan om die vraag of die demokrasie gaan oorleef. Of minderheidsregte – veral taalregte – gerespekteer gaan word, en of dit, soos tans, steeds verder in ’n hoek gedruk gaan word.

Kom ons bekyk die saak van ’n kant af.

Ons kan dié ontleding bou op die fondament van die stelling dat die ANC-regering ná 1994, en veral sedert 1999, in byna elke denkbare opsig ’n klaaglike mislukking was.

Byna al die ervaring en kundigheid wat in 1994 vir die owerheid beskikbaar was, is sagkens of hardhandig by die venster uitgesmyt. In die plek daarvan is meestal nie-gekwalifiseerdes met bewese ervaring of integriteit aangestel. Inteendeel, die twee belangrikste vereistes vir aanstellings was die regte velkleur, en bewese ondersteuning van die regte faksie binne die regte party (met ander woorde, eers die Mbeki-faksie en toe die Zuma-faksie).

’n Tipiese voorbeeld hiervan – daar is talle meer – is die aanstelling van Dudu Myeni as direksievoorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) baie kort ná Zuma se magsoorname in 2009. Haar agtergrond is dié van onderwyseres en hoof van ’n konsultasiefirma wat vet kontrakte by owerheidsinstansies losgeslaan het. Dit ondanks die feit dat sy oor haar kwalifikasies gelieg het. Polities – en andersins – staan sy baie naby aan Zuma, wat blykbaar haar grootste aanbeveling vir die pos is.

Dat Myeni die SAL in die grond in bestuur het, is welbekend. Die lugdiens is vir alle praktiese doeleindes bankrot, en sy toekoms is duister.

Vermenigvuldig dié voorbeeld duisend maal op nasionale skaal, en jy het ’n goeie ontleding van die ANC-landsbestuur, veral onder Zuma. En die mense wat die ergste daaronder ly, is die armes in die townships.

Weens Zuma se wanbestuur groei die ekonomie skaars, werkgeleenthede word nie noemenswaardig geskep nie, die werkloosheid en uitsigloosheid in die townships – en dus ook die woede en frustrasie – groei. Uit die SA Instituut vir Rassebetrekkinge se onlangse peiling blyk dat die swartes werkloosheid en armoede as die grootste probleme sien.

Hieruit vloei voort dat die helderste radikale huidige stem tans uit die geledere van die EFF opklink. Enersyds rig dié party sy visier op ’n maklike sondebok, die wittes; andersyds mobiliseer hy die woede teen Zuma.

Bowendien maak Zuma dit vir die EFF ook besonder maklik. Noem net die woorde Nkandla, Des van Rooyen en Gupta, en ’n mens hoef niks by te voeg nie.

Die punt is dat die eintlike gevaar vir die ANC uit verkiesingsoogpunt nie kom van regs, van die DA of die VF+ nie, maar van links, van die EFF. Voor in die pad lê ook nog die stigting van ’n linkse werkersparty, iets waaroor die ANC nie alte gerus moet wees nie.

Hoe beïnvloed dit Zuma se posisie? Die Grondwet bepaal dat hy nog drie jaar aan die roer van sake mag wees. Dan is hy uit. Wat beteken dat hy stadigaan in die rigting van flou makou begin beweeg.

Maar as ’n week in die politiek ’n lang tyd is, is drie jaar ’n ewigheid. Baie kan in dié tyd gebeur.

In die ANC hoor ’n mens nou al gedempte stemme, hoofsaaklik agter die skerms, dat daar oor ’n opvolger vir Zuma nagedink moet word.

Die wyse waarop Zuma sy eie verdedigers in die ANC summier in die koue laat staan het met sy erkenning dat hy insake Nkandla onwettig opgetree het, het sy posisie duidelik verswak. So ook die spektakel toe hy die bekwame finansminister Nhanhla Nene afgedank en met die onervare (maar lojale) Des van Rooyen vervang het – en toe binne drie dae weer die gerespekteerde Pravin Gordhan in Van Rooyen se plek moes aanstel.

Dit, saam met die wyse waarop hy gereeld sy onkunde oor allerlei sake ten toon stel en ondeurdagte uitsprake maak (“vroue kla te maklik oor seksisme”), ondergrawe sy eie magsposisie beduidend. Steeds meer begin dit tot invloedryke ANC-leiers deurdring dat Zuma hul party in werklikheid skaad.

Maar ’n mens moet een ding nooit vergeet nie. As Zuma die presidentskap prysgee, hetsy vroegtydig of aan die einde van sy termyn, wag ’n horde korrupsieklagte teen hom. En dan sal hy nie meer kan verwag dat die ANC outomaties sy rug dek nie; hy sal in groot mate op homself aangewese wees.

As staats- en regeringshoof is Zuma in staat om twee dinge ter verdediging van sy magsposisie te doen. Hy kan gunste en gawes uitdeel en só mense se steun koop; en hy kan staatsinstellings soos die Openbare Vervolgingsgesag, die Valke, die Polisie en die SABC as knuppels teen sy mededingers in die ANC gebruik.

Die aanslag wat die Openbare Vervolger en die Valke (lees: Zuma) tans teen Gordhan rig, moet teen dié agtergrond gesien word. Ná die Des van Rooyen-debakel staan Gordhan – wat te bekwaam en eerlik na Zuma se sin is – magspolities te sterk in die ANC; vandaar die aanslag teen hom.

Dié affêre is simptomaties van wat tot 2019 verwag moet word. Hoe nader dit aan Zuma se aftreedatum kom, hoe vuiler en venyniger gaan die geveg word. Zuma sal al die registers ooptrek om te voorkom dat hy vervolg word.

In dié proses kan baie gebeur. Dis moontlik dat die ANC skeur. Dis moontlik dat die Zuma-vleuel ’n ooreenkoms met Julius Malema en die EFF sluit. Dis moontlik dat daar ’n poging kom om die Grondwet só te verander dat Zuma president bly. Dis selfs nie ondenkbaar dat Zuma en sy kornuite ’n staatsgreep kan probeer pleeg nie.

Let wel, ek sê nie dié dinge gáán gebeur nie. Hulle kán beslis gebeur, en dis nodig dat Suid-Afrikaners daarop bedag moet wees.

As ek ’n leiersfiguur in die DA was, sou ek nou al – al was dit agter die skerms – voelers uitsteek na adj.pres. Cyril Ramaphosa en sekretaris-generaal Gwede Mantashe, wat tot op sekere hoogte die gesig van die “redelike” faksie in die ANC geword het. Om op kort termyn ’n geleentheidskoalisie op die been te kan bring as dit nodig word. Die VF+ en selfs die Solidariteitfamilie kan ook daaroor nadink.

Bowenal: Die demokrasie moet gered word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Hannes marais ·

N demokrasie werk nie in afrika nie…dit het nog nooit en sal nooit werk nie

John ·

Die skrywer vestig sy hoop op mense wat nog nooit regtig opgekom het vir die blankes nie. Om by hulle te gaan kruip, gaan ons duur bekom. Swartes het nog nooit respek gehad vir diesulkes nie. Eks mev Zuma praat met ‘n sagte stemmetjie, maar oppas vir haar. Bid eerder mense!

Hannes marais ·

Bid DAT die son nie gaan ondergaan vir die blankes in sa

Deon ·

Verbeel ek my of sing Leopold Scholtz, soos vele ander joernaliste en politieke kommutators (Max Du Preez, Freek Robinson ens.), nie nou `n ander deuntjies as voor 1994 nie? Toe hierdie dinge waarmee hy nou voor die dag kom voor 1994 genoem is, is jy as ver regs, `n spoke opjaager en as uiters konserwatief uitgekryt en is daar vir jou gesê dat die NP uit `n posisie van mag gaan onderhandel. Hulle onderhandelings het toe `n muis gebaar. Daar is ook genoem dat ons geen ander keuse het nie, want as ons nie onderhandel nie, gaan daar `n burgeroorlog uitbreek. Is dit nie presies waarop ons nou, volgens LS, afstuur nie, maar nou net met die verskil dat die burgeroorlog gaan plaasvind waar ons onder `n heidense oorwerheid staan wat ons dood soek.

Veritas ·

Dagsê Deon. Ek dink jy slaan die spyker op die kop. As ek dit nie mis het nie was hy een van die ‘verligte joernaliste’ van die F.W. De Klerk-era.

Sarel Strydom ·

Eerstens glo ek Zuma is ‘n marionette en dat Mantashe die man is wat die kitaar slaa.. Tweeens, die mense wat so vasgeval is in 1994, is dieselfde as die ANC wat nou nog in Apartheid vasgevang sit.

Xa ·

Dit is n baie goeie voorstel. Ja dis waar dat die “verligtes” nou uiteindelik wakker skrik maar dis die situasie waarin ons nou op die oomblik sit en so goed as moontlik moet bestuur, en die voorstel klink na een van die bittermin opsies. Om net staat te maak op bid gaan nie help nie, God het vir ons n brein en verantwoordelikheid ook gegee en ons kan nie net terugsit en wag vir God nie want Dan is ons ook soos die massas Wat vir die regering sit en wag vir huise.

Johann Marx ·

Gaan demokrasie oorleef? Die antwoord is eenvoudig: NEE. Dit het nêrens in Afrika oorleef nie, want Afrikane se kultuur is by uitstek sosialisties of kommunisties. Ons verkramptes het voor 1994 gesê dit gaan nie werk nie, maar is oor die hoof gesien. Wat nou in Suid Afrika aangehang word is NIE demokrasie nie, maar ook nie sosialisme of kommunisme nie…..dis ‘n gemors mengsel van alles, afhangende van wie jy is.

Johnny ·

Demokrasie sal eers gebeur wanneer die huidige regerende party die mag in n vekiesing verloor en die wenner se hand skud en die nuwe wenner die mag oorneem sonder geweld. Dit is demokrasie, nie die trek van n kruisie nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.