Gaan die Ramaphosa-sjarme in Davos werk?

WEF-in-Davos-2018

Die Suid-Afrikaanse vlag wapper in Davos, Switserland voor die 48ste Wêreld Ekonomiese Forum se vergadering. Foto: Elmond Jiyane.

Deur Jeannette Gnade

Die land hou asem op vir die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se beraad in Davos, Switserland, waar adjunkpresident Cyril Ramaphosa opnuut sal probeer om Suid-Afrika as ʼn beleggingsmark te verkoop. Sy uitlatings en beloftes sedert hy die nuwe leier van die ANC geword het, het die hoop laat opvlam dat die era van korrupsie en staatskaping op hoëvlak vir eers verby is. Dit sal beslis in sy guns tel gegewe die rand se sterk reaksie op alles wat hy sê.

Dit is egter sy herhaaldelike beklemtoning dat die Grondwet gewysig gaan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, wat in Davos onder die loep gaan kom. Eiendom vorm ʼn integrale deel van die wêreldekonomie en is ʼn groot dryfkrag agter die kapitalistiese en vryemarkstelsel. Groot klem word gelê op die privaat besit van eiendom en daar is duisende buitelanders van die sogenaamde Eerste Wêreld wat grondeienaars in Suid-Afrika is. Die grond- en ander belasting wat hulle betaal, skep inkomste vir die land en die toerisme-waarde van dié eiendomme kan nie onderskat word nie. Dink maar aan al die wildsplase in buitelandse besit. Daarby dra dit ook by tot werkskepping. Het die adjunkpresident dit in ag geneem? Suid-Afrika se kommersiële boere is wêreldwyd bekend en speel ʼn groot rol in die in- en uitvoermark. Wie gaan plase, geboue en ondernemings koop as dit in ʼn ommesientjie onder jou weggeneem kan word? Die internasionale gemeenskap het lankal kennis geneem wat die nadelige gevolge van grondhervorming kan wees.

Grondeisers verkies eerder geldelike vergoeding as om die stukkie Moeder Aarde wat hulle kry, te bewerk. Ander wat wel wil boer, word nie met raad en daad bygestaan nie en beland dikwels in groter armoede as waarin hulle was. Cyril Ramaphosa is ʼn bekende wildboer en daar is mense wat hoop dat dit hom meer insig in die bedryf sal gee. Hy sal nietemin moet bontstaan om onteiening sonder vergoeding “goed” te praat. Hy sal waarskynlik ook moet verduidelik hoekom daar soveel plaasaanvalle in Suid-Afrika is.

Dié tipe vrae word gewoonlik in die wandelgange van Davos gevra, want dit is hier waar die wêreldmening gevorm word. Waarskynlik het die finansiële kenners van die wêreld ook al kennis geneem van die Gupta-familie se invloed op die Suid-Afrikaanse regering. ʼn Mens kan net wonder hoe die adjunkstaatshoof dit gaan wegredeneer? Gelukkig het hy die Eskom-huis kort voor sy vertrek na Switserland skoongemaak en waarskynlik sal dit in sy guns tel op die WEF-beraad.

Ons wonder net wat hy gaan doen met die sogenaamde Zuma-oorblyfsels in die regering, die provinsies en les bes die munisipaliteite. Geen land kan vorentoe beweeg met so ʼn gebrekkige drievlak-regering nie. Vra maar vir Davos…

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

T. v. Schalkwyk ·

En niemand by Davos, óf in Suid-Afrika, vind dit blykbaar vreemd of ongehoord dat die president van die ANC (‘n politieke party) die kitaar in die land slaan, en nié die amptelike president van SA nie.
In hiérdie geval is almal daarvoor te vinde omdat Jacob Zuma so ‘n mislukking is, maar wat van die toekoms? Glad nie ‘n gesonde situasie in enige demokrasie nie.

humor ·

Ja, hoe nou. Wat nou. Die man sal moet dubbel praat en eierdanse uitvoer. Ons wag met spanning.

Merkur ·

Onder die ANC sal die staatskaping nooit eindig nie. Die ANC is juis deur die buitelandse high finance in beheer van die land gesit om die staat te kaap sodat die buiteland vir Suid-Afrika kan plunder en uitbuit. Suid-Afrika het die selfbedienings winkel vir die wêreld geword onder die regie van die internasionale high finance. Tot daar niks meer oor is nie. Ek glo nie dat die buitelandse industrieë werklik aan demokrasie in Suid-Afrika geïnteresseerd is nie. Oor die plaasmoorde sal hulle liewer swyg as om te tematiseer. Wie weet, miskien kan hulle dan self die plase eendag koop as die eienaars vermoor is. Oor plaasmoorde sal waarskynlik indien wel, net in die gange gepraat word. Slegs alternatiewe media berig daar oor.

Ek hoop dis in orde om drie relevante artikels aan te heg:
http://www.preussische-allgemeine.de/mobil/einzelansicht/artikel/stabwechsel-in-suedafrika.html

https://sezession.de/57472/sonntagsheld-36-burenland-ist-freies-land

https://www.journalistenwatch.com/2018/01/25/rassismus-in-suedafrika-taeglich-werden-weisse-farmer-abgeschlachtet/

John ·

…. slaan die spyker op die kop. Die buiteland roer ons pappot en laat dit aanbrand vir eie gewin. En Engels is so gerieflik… hierdie internasionale tiengelieng-lingo. Nou smeek Cyril vir beleggings in Davo wat net sal beteken dat nog lepels in die pot kan kom roer in die hoop dat Afrikanerboere uit angs en spanning binnekort lepel-in die-dak gaan steek of die emmer gaan skop afhangende waar die mielieoes misluk, druiwetrossies min raak of reen wegbly. So gepraat van wildplase… Cyrilla-heks sal vir Hansie en Grietjie moet wys hoe om vuur te maak onder die wildboere siende dat hyself ‘n buffeltjie of twee op stal het.

Pieter ·

John, verseker is dit logies dat Cyril in Davos sal probeer, al is hy nog nie eens president van die land nie, goeie bemarking en hy gee die wêreld vooruit ‘n blik op homself. Dit is seker darem te vergesog om te dink dat beleggings sal nou die land in stroom na hy sy towestaf in Davos geswaai het, ek sou eerder raai dat hulle eers sal kyk wat in die praktyk gaan gebeur, wonderwerke gebeur nie net sommer oornag nie, al is jy die ANC en al reageer die markte positief op Cyril se geluide. Daar sal nog baie water in die see moet loop.

Cornelia ·

Cyril Ramaphosa se wortels/denke, vrése en strewe, is in dieselfde gat geplant wat hom na die ANC as ‘n goed saamgevoegde “organisme” verwys. Vir hierdie leiers is die behoud én verstérking van hulle “organisme” die spil wat hulle politiek dryf. Ongegronde vrees en ‘n handvol agterdog is die hoof karakter van so ‘n organisme. Vandaar ook Zuma se aanval op die Gelofte. Ramaphosa is deel van die ANC sambreel wat elke swart kreet, moét akkomodeer sodat sy speelveld populêr bly t.w.v magsbehoud.

Pieter ·

En ek lees vanoggend dat Favi waarku daarteen dat ons te vinnig vir Cyril ophemel en as “hero” verklaar.

Pieter ·

En om beter as Zuma te presteer, is maar min gevra, dan hemel almal jou op as ‘n ‘hero’.

Jan ·

Ek lees vanoggend hy bring sakke vol beleggings terug. Is dit media opportunisme en bring hy nie dalk eerder sakke vol beloftes terug nie,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.