Gaan die spoke Trump se kop laat rol?

intelligensieverslag

Foto: Americanprogress.org

Suid-Afrikaanse ondersteuners van pres. Donald Trump raak bitterlik boos as rubriekskrywers selfs die mees terloopse ooreenkoms tussen Trump en pres. Jacob Zuma tref. Dat daar faktore is wat ooreenkomste toon, is egter wel so, soos dat albei presidente te kampe het met ’n groep wat hul termyne wil kortknip, en dat hierdie groepe onophoudelik besig is om hul planne ten uitvoer te probeer bring.

Albei presidente het egter ook die vermoë om deur vreemde uitlatings of optredes die aandag op ’n negatiewe manier op hulle te vestig.

Zuma se uitlatings en optredes, soos om die land rommelstatus te besorg, is goed bekend.

Maar algaande begin meningspeilings, die media en die kritici van Trump ook dieselfde taal praat. En dit sluit peilingsagentskappe in wat taamlik akkuraat was in die uitslag van die presidentsverkiesing, en dus nie van ’n bevooroordeeldheid teenoor Trump beskuldig kan word nie.

Trump se onplesierigheid met ’n groot deel van die media is welbekend. So ook sy skeptisisme met die land se intelligensiedienste, wat sy afdanking van die direkteur van die FBI, James Comey, insluit. Dit blyk dat Trump van Comey verwag het om ’n ondersoek na Michael Flynn, ’n voormalige veiligheidsraadgewer, onder die mat in te vee.

Dadelik het die bedenkinge oor Trump se omgaan met veiligheids- en intelligensie-aangeleenthede posgevat. En Trump sal nog leer … die spioene word nie om dowe neute spoke genoem nie, want hulle kan erg by jou kom spook.

Kort hierna raak dit bekend dat Trump hoogs geklassifiseerde en sensitiewe inligting met die Russe gedeel het. Die aanvanklike reaksie was dat Trump net sowel hoogverraad kon gepleeg het, maar Trump, as hoogste gesag oor geklassifiseerde inligting, kan teoreties daarmee maak wat hy wil. Hy self sê hy het dit as gebaar van goeie gesindheid gedeel.

In die praktyk moet egter nou bepaal word of Trump se gulhartigheid nie die sensitiewe bron se lewe in gevaar gestel het nie.

Voorts leef bewerings voort dat van Trump se verkiesingsveldtogwerkers in 2016 ook inligting na die Russe laat deursypel het. Dit maak nou deel uit van ’n ondersoek wat gelei word deur Robert Mueller, ook ’n voormalige hoof van die FBI. Dié ondersoek kan daartoe lei dat Trump in ’n staat van beskuldiging geplaas word.

Maar dis nie al nie. Ná die onlangse terreuraanval in Brittanje het die Britte die Amerikaners daarvan beskuldig dat hulle sensitiewe inligting wat met hulle gedeel is, aan die media uitgelek het. Die deel van inligting tussen die Amerikaanse en Britse agentskappe is na berig word hieroor opgeskort.

Zuma se verhouding met Suid-Afrika se intelligensie-agentskappe word lankal as hoogs bedenklik beskryf.

Tog het die ergste gevalle van intelligensie-manipulasie heel moontlik niks met die intelligensiedienste te make nie. Die sogenaamde intelligensieverslag wat gebruik is om Pravin Gordhan as minister te pos, is na bewering deur ’n Britse beeldpoetsersorganisasie, destyds met Guptabande, opgestel.

Nog ’n beweerde intelligensieverslag wat glo regeringsoptrede gemanipuleer het, is na bewering deur Zuma se seun opgestel. Hierdie twee verslae gaan nog erg by Zuma kom spook.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Bert ·

“Bedenkinge…beweringe…moet nog bepaal word…ondersoek…”. Dit is die trant van die hoofstroom media se veldtog teen Trump. So ook in die artikel hierbo.

Van dit mag eendag as waar bewys word. Maar alles is maar spekulatief. En dit vind plaas in die konteks van die ‘resistance’ teen Trump.

Nico K ·

Dit is so dat dit bloot koerante is wat berigte plaas en deur Trump ondersteuners as bloot anti-Trump afgemaak word. Maar in dieselfde lig moet gekyk word na koerante in SA wat bewerings maak oor Gupta e-posse en deur die ANC as bloot anti -ANC beriggewing deur anti-ANC koerante afgemaak word. Min koerante sal sommer leuens skryf. Daar is nog iets soos naamskending. Waar daar ‘n rokie is…

Hans ·

Alle presidente van die wereld kan met mekaar vergelyk word.

Hendrik ·

Trump = Zuma = Malema = Mugabe. Voëls van enerse vere wat populistiese politiek bedryf. Met die DA se hantering van Zille, is ek bevrees selfs hulle neig in daardie rigting. SA kort ‘n staatsman wat die belange van die land op ‘n beginselvaste wyse sal dien. Die enigste persoon wat die naaste daaraan kom is Patrick Lekota, maar ek is bevrees hy sal nooit die steun bymekaar kan maak nie.

popeye ·

Bert jy vat die woorde mos so uit my mond. Mediaskrywers moet ook daagliks hul brood verdien.

Gatiep ·

Trump is pro Amerika ( Liberales pro sosialisme…aka , wil alles verniet he)
Zuma is pro-Zuma , niks anders tel nie..

Daar is jou ooreenkoms tussen Zuma en Trump… een het n brein , een het n vacuum

Henry ·

Bert, Popeye en Gatiep,
Mynsinsiens sê julle als wat gesê moet word.
:-)))

Kollie ·

Ek het lanklaas so ‘n on-diplomatiese president gesien. In sommige gevalle kom hy sommer onbeskof voor. LOL

anton ·

Kollie…….. ”Sometimes you must be cruel to be nice”………… ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.