Die groot opbou na die stryd in Mendoza baar toe… niks. Na al die besprekings van hoe goed die Bokke gespeel het en nog gaan verbeter vir die tweede wedstryd het niks gekom nie.
Die Argentyne was inderdaad begeesterd en het direk in die Springbokke se gesig gespeel. Dit het die Bokke só ontsenu dat daar van ‘n spelpatroon net mooi niks gekom het nie. Die taktiek van hoogskop en storm en mog-het-troffe werk toe nie vir die Bokke nie .
Skielik weet die manne nie wat om te doen nie en van ‘n plan B is daar nie sprake nie. Die Bokke, met ‘n groot gewigsvoordeel teen die Argentynse pak, kon nie hond haaraf maak nie. Die vaste vyf kon nie hulle stempel afdruk nie en daar verdwyn ons losvoorspelers so dat hulle letterlik met ‘n vergrootglas gesoek moet word.
Die planloosheid van die Bokke het ten hemele geskreeu.
Om die toets met ‘n afstormdrie gelykop te laat eindig vertel seker die hele verhaal. Dit was bloot geluk en geluk kan somtyds baie wisselvallig wees. Doelgerigte spelpatrone en inisiatief is beter opsies in rugby. Die All Blacks is in ‘n heel ander klas as die Argentyne en die Bokke sal vinnig ‘n haas uit die hoed moet trek as hulle nie totaal en al verneder wil word nie.
Morné Steyn se selfvertroue is ook beslis nie wat dit moet wees nie en hy is besluitloos. Die feit dat daar telkens ‘n voorspeler of die binnesenter op losskael opduik is beslis nie ‘n hulp vir die losskakel nie.
Kortom, ek dink die Bokke het die Argentyne onderskat en byna die prys daarvoor betaal. Gesindheid voor die tyd speel ‘n ongelooflike groot rol en die Bokke moet dit begin besef.
Dit bring my die afgelope Curriebekerwedstryde.
Die Sharks het hulle teen ‘n vasberade jong klomp Bulle op vesting Loftus vasgeloop. Dit lyk vir my die tuisvoordeel speel ‘n belangrike rol, buiten vir die Griekwas wat nou twee agtereenvolgende neerlae op hulle tuisveld gelei het, ten spyte van ‘n goeie begin in albei wedstryde. As die Bulle die wisselvalligheid in hulle spelpeil kan hokslaan sal hulle beslis ‘n faktor wees om mee rekening te hou.
Die Leeus brul nog ten spyte van die feit dat hulle uit die Super 15 geskop is. Die wen teen die WP wys vir my dat hulle nog van die trots oor het wat oor ‘n lang tydperk rondom die Curriebeker opgebou is. Dit was beslis nie die WP wat swak gespeel het nie, maar die Leeus wat goeie rugby opgedis het.
Johan Goosen het ‘n welkome terugkeer tot Curriebekerrugby gemaak, maar die roes van die besering is nog duidelik sigbaar. Gee hom nog so twee wedstryde om sy selfvertroue terug te kry en die volgende opvolger vir Morné Steyn is gereed om oor te neem.
Die Kings is voorlopers in die eerste liga, maar of hulle goed genoeg is om iewers in die Super15 te kom moet nog gesien word.
Ons beste wense aan die gestremde Olimpiese atlete wat verseker meer medaljes as hulle ongestremde broers gaan verwerf.
Groete tot volgende week.