Gaan Donald Trump sy termyn kan uitdien?

donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com.

Nog lank voor Donald Trump ’n ernstige aanspraakmaker sou wees om die Republikeinse Party se kandidaat vir die presidentskap te wees, het sy mededingers veral aan die linkerkant van die politieke spektrum hom al afgeskryf. Die Huffington Post het byvoorbeeld aangedui as iemand iets oor Trump se verkiesingsveldtog wil lees, moet hulle die publikasie se vermaaklikheidsblaaie raadpleeg.

Trump was nie beïndruk nie.

Trump het deurgedruk en is tot president verkies, al het hy ’n lang rits flaters begaan. Sy vyande het egter nie by die verkiesingsuitslag berus nie, en druk word op elke denkbare en ondenkbare wyse op hom volgehou.

Die jongste klip in Trump se maag is ’n senaatskomitee se ondersoek na Trump se verkiesingspan se beweerde Russiese betrokkenheid. ’n Baie belangrike getuie is James Comey wat onlangs deur Trump as direkteur van die FBI afgedank is.

Soos te verwagte, was Comey se getuienis tot dusver erg skadelik vir Trump. Trump se pogings – ook deur sy gebruiklike twiets – om die angel uit Comey se getuienis te haal, was nie baie suksesvol nie.

In dié stadium, so lyk dit, kom Trump as’t ware te staan teen iemand wat wyd in die VSA gerespekteer word, en meer geloofwaardigheid as Trump geniet. Comey het so ver gegaan om Trump as ’n opperste leuenaar uit te maak.

En Comey kom tot dusver die beste daarvan af, hoewel die meerderheid Republikeine hom nog steun.

Volgens ’n nuwe Rasmussenpeiling beskou 45% van alle Amerikaanse kiesers Comey as meer geloofwaardig as Trump, en 37% weer Trump as meer geloofwaardig. Waar Trump aanvanklik gesê het Comey moet maar bid dat ’n gesprek tussen hulle nie op band opgeneem is nie, kon Comey nou met groot selfvertroue terugkap en sê hy sal die Here dank as die gesprek wél op band opgeneem is. Weer eens knak Trump se geloofwaardigheid.

Trump het teruggekap en aan ’n gehoor van ondersteuners gesê sy administrasie is onder beleg. Hy het ’n beroep op die groep konserwatiewe Evangelistiese Christene gedoen dat hulle wedersyds mekaar nie in die steek moet laat nie.

Uit nog ʼn peiling blyk dit dat net 46% van die kiesers tevrede is met hoe Trump sy werk doen, teenoor die 54% wat ontevrede is. Die werklike slegte nuus vir Trump is dat 43% van die kiesers erg ontevrede is, en net 29% baie tevrede is met hoe hy sy werk doen.

Altesaam 60% van die kiesers meen die Kongres, eerder as Trump, moet besluit of die VSA uit die internasionale Parys-klimaatverdrag moet tree.

Intussen, seker tot die verbasing van sy felste teenstanders, staan Amerika nog, en is Trump steeds in die stoel, al moet hy al meer en meer gaatjies in die dyk stop, gaatjies waarvan hy self ’n hele rits gemaak het.

As Trump nog lank president wil wees, sal hy moet leer om ’n wag voor die mond in te span, en na sy raadgewers te luister.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

not in wonderland ·

Net soos ene President Zuma sit, sal President Trump sit.

Johnny ·

Verskil is hy is ligjare beter en meer suksesvol as Zuma. Op alle vlakke.

Rupert Ashford ·

Wat uit Comey se getuienis was skadelik vir Pres Trump Herman? Gee voorbeelde asseblief.

JC ·

Ek stem saam Rupert, watter getuienis was skadelik? Comey het meer sy eie geloofwaardigheid as “leaker” ingeboet, as enige verbeelde skade teen POTUS Trump.
Trump hardloop draaie om die veragtelike spul, en weet presies wat hulle is, naamlik die laagste toilet skuim op aarde denkbaar.
Verduidelik groot asseblief Herman?

Michael ·

Definitief gaan hy sy termyn uitdien behalwe vir n paar tekortkominge is hy die beste leier vir sy mense indien nie in die wêreld hy vrees nie teenkanting nie en doen wat reg is ongeag die nagevolge.Ek sou trots wees om vir so n presedent te stem.

Kopskud ·

Trump is aan hom self verslaaf. Hy het nou ‘n lieflike ou familie besigheidjie saamgestel en loop en lippe suig. Die waarheid gaan seëvier. Ek kan nie wag nie.

John ·

Raadgewers, bedoelende die Demokrate en die Pentagon en die CIA en die eerbare Comey se FBI en Obama en McCain en Angela Merkel en haar EU en Navo en Mexiko en CNN en die New York Times en al diegene wat hom dood wens… en o ja, Hillary en Bill Clinton en haar se haarkapperraadgewer se oulike brakkie… en natuurlik Big Brother… en… die Duiwel is los…

willie ·

Ek stem! Trump word gehaat omrede hy onverskrokke die liberaliste kortvat!

Therese van Schalkwyk ·

As President Trump daarin slaag om sy termyn te voltooi, verdien hy ‘n medalje, of ten minste ‘n goedgaar ‘steak’ met tamatiesous!

Hillary Clinton se Demokrate en dié party se betogende stemvee, en ook ‘n beduidende groep in die Republikeinse Party, tree van die begin af allesbehalwe demokraties op. Dit spioeneer, stook kwaad, beswadder en beskinder meedoënloos met één doel voor oë en dit is om Trump tot ‘n val te bring. Clinton se woorde aan haar ondersteuners: ” keep on fighting”, het heel duidelik nie op dowe ore geval nie.

Die ‘oorlog’ is verstommend en ietwat ontnugterend om te aanskou.

Wanneer die voorste “demokrasie” in die wêreld hom met die een heksejag na die ander besig hou, flikker die gevaarligte vir vreedsame, stabiele, “demokratiese” regerings wêreldwyd.
Demokrasie het sy alie gesien.

Pietsepan ·

Ek stem saam met jou stelling dat demokrasie soos dit vandag toegepas word uitgedien is. Die hele wêreld sal weer na hulle vorm van demokrasie moet kyk.

Bert ·

As jy die New York Times of CNN volg sal mens seker glo dat Comey se getuienis skadelik was. Wens regtig dat Maroela ook Fox, Breitbart, Drudge en ander alternatiewe bronne vir balans wil volg. Ek volg Trump op sosiale media en kan my oë nie glo wanneer ek sien hoe CNN sy woorde verdraai nie. Glad nie nuus nie maar eerder propaganda.

JoeV ·

Stem Bert, het die verhoor woord vir woord gevolg op FOX, daar was GEEN bewys teen Trump nie. (en volg dit nog steeds)

Marius ·

Ek woon in die VSA vir die laaste 12 jaar.
Bert, jy som dit goed op.
Trump is wat die land nodig het om dit terug op die regte pad te sit!

JoeV ·

Die artikel herhaal hoofstroom media se aaname. Dit is verkeerd.
Comey het maar een helse pakslae gevat in die verhoor, Trey Gowdy het hom uitmekaar gehaal vir onder andere dat hy wat Comey issekere inligting aan die hooofstroom media uitgelek het om te probeer verseker dat ‘n ondersoek gedoen sal word teen Trump, en selfs dit is twee maniere gebreek, FBI gee nie inligting uit aan die media om ondersoek te begin nie, die inligting is uitgegee NADAT hy afgelê was, en in die inligting is dit duidelik vervat dat Trump aangedui het dat hy sou “hoop” ‘n ondersoek teen ‘n beampte gestaak sou word. So ‘n versoek is bepaal in die verhoor; is nie ‘n oortreding nie. Aangesien dit nie ‘n instruksie was nie, en is so aangedui deur Comey.
Bo op dit alles kan mens moontlik ook vervolging van Clinton sien kom oor die e-pos debakel, Comey ingesluit.
Dan moet mens dalk ook ‘n ander bron vir die publiek se gevoel oor Trump kry. Byde RT en Fox dui weer aan hy word meer gewild!

Marius ·

Ek glo nie Trump was kop in een mis met die Russe nie. Ek wil net sê hemel kêrels daar was lanklaas ‘n wêreldleier met so konkoksie van waardes en beginsels in een mens. Alhoewel ek daarvan hou dat hy sekere anti-establishment sentimente uiter is ek oortuig daarvan dat dit nie van ‘n stel diepgewortelde waardes kom nie. Daarom respekteer niemand sy sienings nie. Hy het ook skynbaar nie die sosiale vaardighede om met waardigheid op te tree nie. As jy jou hele lewe net jouself as die bron van jou sukses gesien het gaan jy nie skielik verander in ‘n waardige leier wat met fermheid maar terselftertyd empatie en meelewing lei nie. Donald Trump is te behep met die idee dat hy die oplossings en antwoorde vir die wêreld het. As jy sy lewe in oënskou neem dan strook bitter min van sy uitlatings as leier met die lewe wat hy geleef het. Ek dink Amerika is nie op ‘n goeie plek nie en dit wil blyk asof mense besef hy stuur die land in die verkeerde rigting. Die feit dat hy meer as 1,5 miljoen minder stemme as Clinton (wat geensins beter sou wees nie) ontneem baie van sy geloofwaardigheid. Wat kommerwekkend is van baie mense se opinies is dat net soos in Suid-Afrika waar mense bereid is om te stem vir ‘n leier al is hy korrup is hulle bereid om Trump as die antwoord te sien ten spyte van sy twyfelagtige verlede.

Bert ·

Baie van jou opmerkings maak sin maar ek glo dat Trump se ‘Amerika eerste’ denke [nou beleid] al ‘n lang pad kom. Voorbeelde van sy denke oor hierdie aspek is beskikbaar op YouTube en gaan so ver terug as ‘n onderhoud met Oprah Winfrey in die 80’s waar hy omtrent woordeliks sy beleid van vandag opsom. Dit het my anders oor hom laat dink, veral omdat ek oorspronklik Rubio en Cruz ‘ondersteun’ het in die Republikeinse verkiesing.

Trump se aantrekkingskrag vir my is dat hy iets histories verteenwoordig – ‘n nie-politikus wat die presidentskap verower het. Dalk het ons so iets laas van gehoor in die Romeinse Ryk? En sy uitsprake oor immigrasie en die ekonomie is ‘common sense’. En dan natuurlik sy stryd met die hoofstroommedia wat epies is – joernalisme is niks anders as propaganda met hoofsaaklik ‘n linkse agenda. Oneerlik en gevaarlik. Die gevestigde orde van politici en sekere ander establishment groepe moet eenvoudig uitgedaag word en Trump is die man.

Trump se grootste nalatenskap sal hopelik wees om Amerika se fatale immigrasie beleid om te keer want gebeur dit nie, sal Amerika soos ons hom ken, ophou bestaan en iets soos die Romeinse Ryk wees op sy heel einde, ‘n futlose versameling van individue.

Pietsepan ·

Hierdie binnegevegte doen die Amerikaners net skade aan en vertroebel hul geloofwaardigheid.

John ·

Soos die skrywer, se, as Trump net sy mond kan toe hou… en die res van die wereld hulle s’n kan uitspoel… Agter hierdie meedoen van almal le ‘n goed beplande bloudruk wat reeds begin uitspeel. Die Trumpkaart het die planne laat stol en hy en sy span moet waai of sterf, want met Hillary aan bewind, sal Big Brother en sy Duitse kliek, wat Rusland haat, die wereld tot oorgawe druk. En die VSA se sluwe militere-leiers sal alles doen om Hillary op die troon te kry… alles. En sy wil nou ~ soos in nou ~ daarop gaan sit. Die duiwel weet dit.

Leopold Scholtz ·

Beste John, ek skud maar net my kop. Jou bydrae berus op ‘n aantal aannames:
1. Dat daar “‘n goed beplande bloudruk” is. Van wie? Wat is jou bewyse?
2. Dat daar ‘n “Big Brother” agter alles is. Wie is dit? Wat is jou bewyse?
3. Dat daar ‘n “Duitse kliek” is wat Rusland haat. (Interessant dat die “kliek” – Merkel en Gabriel – hulle uitgespreek het teen die bykomende sanksies wat die Republikeine in die VSA-senaat teen Rusland wil instel.) Hoekom is jy so vol haat teen die Duitsers? Weet jy nie dat Adolf Hitler al in 1945 dood is nie?
4. Dat Amerika se “sluwe militere leiers” Hillary “op die troon” wil kry. Wie presies bedoel jy? Wat is hul name? En presies hoe gaan hulle Hillary, wat die verkiesing verloor het, “op die troon kry”?
Jy weet, jy skiet in elke bydrae van die heup af en raak dinge kwyt wat jy uit die lug pluk. Dit sal help as jy jou stellings kan staaf. Dan kan ons ‘n intelligente gesprek voer.
Lekker naweek vir jou!

gatiep ·

John ek kan sien jy weet waarvan jy praat. En waarvan jy praat is nie eens meer n geheim nie,mense wat net die hoofstoom media volg sal nie weet waarvan jy praat nie.Ek wens so ons mense wil n slaggie kyk wat gaan regtig nou aan in die wereld en 1 en 1 bymekaar sit. Hulle sal dan sien waarheen die weste met ons op pad is.
En dit gaan net die supper ryk bevoordeel,die res van se pad lyk donker net soos die Bybel gese het gaan gebeur.

Jasper ·

Ek gewaar n anti Trump windjie wat oor Maroelamedia waai.
Mense glo al die snert wat hulle op kanale soos ABC, CNN ens. sien.
Hierdie instansies is meesters in die kuns om opinnies te vorm. Hulle slaag in hul doel deur eensydige en meestal onbevestigde beriggewing.
Pleks lig Maroela sy lesers in oor die rol vd sg. “Deep State” wat nog vol in beheer is, asook die Nuwe Orde waarvoor Obama hom beywer het.
Daar is baie te lese oor die duistere koers waarheen Obama & kie met Amerika oppad was.
Pleks berig Toerien die lesers in oor die valshede vd liberale media en die rol wat hul speel om van Trump ontslae raak.

Tc ·

Gaan my glad nie verbaas as Trump in n sluipmoord geskiet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.