Gaan Fatah en Hamas se ooreenkoms hou?

Argieffoto

In die Gasa-strook waar die terreurbeweging Hamas sedert die burgeroorlog tien jaar gelede alleen die septer swaai, word daar feesgevier nadat ’n gesamentlike regeerakkoord met Fatah in Egipte gesluit is. Die twee organisasies sal van Desember af saam oor die uitgemergelde Gasa regeer.

Die inwoners van Gasa sien in die proses veral die lig dat die ekstreme isolasie waaraan hulle onderwerp was, verlig sal word. Daar word veral op gereken dat die grenspos in die suide na Egipte meer dikwels oopgestel sal word wanneer Hamas en Fatah dit saam beman. Die grens met Israel sal na verwagting dig toe bly.

’n Kwessie wat die hele poging kan lamlê is dat Hamas nog geen aanduiding gegee het dat hy van sy reuse-arsenaal of gewapende vleuel afstand sal doen nie. Israel voel solank as wat missiele oor die grens afgevuur word of tonnels onder die grens deur gegrawe word waardeur aanvalle geloods kan word, is daar geen sprake van ’n oplossing nie.

Hamas het oplossings begin soek toe Fatah, wat die Wesoewer beheer, ekonomiese strafmaatreëls teen Hamas ingestel het. Feitlik alle buitelandse hulp aan die Palestyne word na die regering op die Wesoewer gekanaliseer. Die Wesoewer met sy twee miljoen inwoners het onleefbaar begin word.

Waarnemers wys daarop dat die nuwe ooreenkoms, soos voriges, en selfs die Camp David-ooreenkoms en wat die Palestyne geraak het, baie oppervlakkig is.

Dit is eintlik vreemd dat dit die inwoners van die Wesoewer is wat die meeste vreugde toon oor die ooreenkoms. Die inwoners besef seker ook teen dié tyd dat die benadering tot nou toe, naamlik om terreurdade teen Israel te pleeg, maar net in die oortreffende trap vergeld word. Intussen word hul eie swaarkry steeds net groter.

Hamas besef stellig ook dat solank as wat die VSA Israel ondersteun, sal Israel kans kry om al hoe sterker te word. Pas het die VSA en Israel albei uit die VN-liggaam, Unesco, onttrek weens beskuldigings dat Unesco te bevooroordeeld teenoor Israel begin optree.

Nog ’n faktor is dat Arabiese lande nou oor die algemeen erg wantrouig is oor selfs skynbaar onskadelike radikale Moslem-bewegings. ’n Ruk later is dit gemagtigde organisasies wat wêreldwyd terreur pleeg – en Hamas is ideologies nie ver van Isis verwyder nie.

Of die ooreenkoms gaan bydra tot ’n vredesproses wat Israel betrek, sal die tyd moet leer. Solank Hamas nog beheer oor sy arsenaal en gewapende magte behou, is dit egter heeltemal buite die kwessie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Die Wesoewer, Gaza. Solank die grond in vreemde besit bly en nie aan die regmatige eienaars (Israel) terugbesorg word nie, so lank sal die geskil bly woed.

Rupert Ashford ·

Wel, die Suid-Afrikaanse regering moes met ‘n organisasie onderhandel wat nie hulle militere vleuel wou sluit nie, en kyk waar het dit ons gebring. Die Israelies moet vasstaan.

JC ·

Beslis Rupert. Afrikaners versus Jode. Wie, sal jy wil wees? Wie het die regte besluite gemaak?(maklike een)

JC ·

Israel is vandag die welvarendste en mees stabiele land in die Midde-Ooste(Levant).
Maar hiervan sal geen woord natuurlik gesprag of gesprook word nie. Bly ek kan dit teenoor die HELE wereld hier op Maroela uitbasuin! (vir die “verligtes” wat wil hoor)

hannes marais ·

israel sal nooit vernietig word nie…BIBI is n sterk leier…ek staan 100% agter israel..dis waar ons hulp vandaan gaan kom binnekort.

Veritas ·

Hannes, ek verstaan nie mooi nie. Wanneer jy sê ‘ons hulp’, van wie praat jy ?

Cherokee ·

Ironiese stelling wat jy maak, Hannes. En dit is nie dat ek verskil met jou nie maar net nuuskierig want jy sê dat ons, wat ‘n spikkeltjie is op die wêreldkaart is, se hulp gaan wees vanaf ‘n ander spikkeltjie. Israel is egter net getallegewyse en grondgewyse ‘n spikkel maar hulle word aangedryf deur ‘n ongekende krag.

jaco ·

die Israeli’s dwing die palestyne om in die wesoewer en Gaza te woon. daar het hulle selfregering en hulle het selfs diplomatieke verteenwoordiging in talle lande, onder andere in Suid-Afrika. dit lyk maar baie na die ou SA se tuislandstelsel, maar met die een verskil dat die die res van die wereld dit in n mate aanvaar.
So nou wonder ek maar net: dit kan mos met die wit mense van SA ook gedoen word. Dit sal heel moontlik werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.