Gaan Gerwel-leemte politieke landskap verander?

Prof. Jakes Gerwel.

Prof. Jakes Gerwel.

Of ‘n mens politiek-wetenskaplik met prof. Jakes Gerwel saamgestem het of nie, en of hy ‘n mens soms polities warm onder die kraag gelaat het … Gerwel se statuur en styl het respek afgedwing.

Die vakuum wat iemand van daardie statuur met sy afsterwe laat, word ook nie oornag gevul nie.

Gerwel het nooit sy statuur aangewend om te “play for white” nie. Veel eerder het hy hom met “swart” geïdentifiseer; en met sy voete duidelik in die struggle geanker, was hy traag om sy sentimente te verskuif. Dit word waarskynlik ten beste in sy gereelde Rapport-rubrieke weerspieël. Op 10 Oktober 2010 skryf soos volg: “My kritiek teen wat, veral deesdae, in die ANC aan gebeure is, is duidelik en geboekstaaf. Terselfdertyd kan ek ook weer nie my identifikasie met daardie beweging ontken nie. En ek moes die laaste paar maande dikwels in die geselskap van anti-ANC-gesinde vriende en kennisse walgooi teen die knaende en eensydige sitkamer-aanslae teen die ANC. Daardie korrigerende opmerkings is nie net uit lojaliteit teenoor die ANC nie. Ek bekommer my dat ‘die ANC’ in hierdie (veral Afrikaanse) gesprekke en skrywes amper tot landsvyand gedink en gepraat word. ’n Vrot regering mag hy wees, maar ’n party wat in ’n vry en regverdige verkiesing deur meer as 60% van die kiesers ingestem is, kan nie die landsvyand wees nie.”

Sy laaste sin maak politiek-wetenskaplik en staatsregteliik nie sin nie, maar dit daargelaat.

In sy boek, ‘n Boek vir Onrus, skryf Jan Rabie oor die uitnodiging wat hy en sy vrou, Marjorie, gekry het om by Gerwel en sy gesin te gaan kuier. Die bestemming was ‘n luukse, ommuurde oord vir bruin mense neffens Hawston.

Uit skrywes soos hierdie, en van mense wat hom persoonlik geken het soos Tim du Plessis, word die indruk gevorm van ‘n persoon vir wie mense se velkleur – ook nie sy eie – nie saakgemaak het nie.

‘n Ongemak met die ANC wat skynbaar al dieper in raspolitiek verskans word, is dus te wagte. Maar solank sy geesgenote en Madiba self in die ANC sou bly, so lank sou Gerwel se sentimente, krities ten spyt, nie ver weg dryf nie.

Baie mense is baie goed toegerus om gepas hulde aan Gerwel te bring – die uwe, weens geen blootstelling, is nie.

Daarom liefs die fokus op ‘n heel ander aspek laat val: Gaan Gerwel se afsterwe ‘n impak op die politiek hê?

Gerwel self sou waarskynlik baie ongelukkig wees dat ‘n mens die invalshoek gebruik van ‘n potensiële impak op die bruin politiek, veral in die Wes-Kaap. Dis egter ‘n realistiese vraag.

Met die aanvang van die nuwe bedeling was bruin leiersfigure in die politiek in veral die Wes-Kaap prominent en pertinent. Patricia de Lille, dr. Allan Boesak, eerw. Chris Nissen, Trevor Manuel, Peter Marais, eerw. Allan Hendrickse (eintlik Oos-Kaap) en dr. Gerwel. Ander ook, maar genoeg om die punt te maak.

De Lille is nou in die DA en selfs as burgemeester van Kaapstad stillerig in die skadu van Helen Zille. Boesak het na sy Cope-ekskursie stillerig geword. Manuel het tegnokraat geword, en onder die Zuma-bewind byna uit die oog verdwyn. Hendrickse het gesterf. Rhoda Kadalie se vlammende pen is al lank teen die ANC oopgetrek. Die Morkel-Marais-era lank reeds vergete. Zackie Achmat het beloof om die ANC te verlaat as pres. Jacob Zuma die einde van die jaar herkies word. As hy woord hou is dit totsiens Zackie.

Kortom, sonder dat hy dit bedoel het, het Gerwel as die bruin man met statuur en leierskap in die ANC-dampkring oorgebly. Met sy heengaan is die ANC “opgesaal” met Marius Fransman, en dit is kwalik denkbaar dat hy in statuur kan opweeg teen die swaargewigte wat die DA bou – dr. Ivan Meyer, Wilmot James en ander.

Die kans dat Fransman, soos Gerwel, deur sy styl en statuur blankes tot die ANC aangetrokke sal kan kry, is min of meer ‘n ronde nul. Op die Kaapse Vlakte onder swart mense sal Fransman dalk weer ‘n groter impak maak.

Kan Jesse Duarte en Tina Joemat-Pettersson die ding doen? Sal die ANC waag met die Wes-Kaapse vakbondwese en Tony Ehrenreich in die ANC self ontplooi?

Gerwel was egter nie die enigste bruin persoon van sy statuur en sentimente nie. Verskeie is uit die vlammende politiek as transformasiedrywers in sekere instellings ontplooi, en die tyd sal leer of enige van hulle na vore sal wil tree om die leemte te vul wat Gerwel in die ANC gelaat het. Minstens, solank soos wat Zuma die ANC en die land lei, sal hierdie mense verkies om nie té sterk met die ANC geassosieer te word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.