Gaan my kind nog in Afrikaans kan swot?

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

In 2008 het prof. Hermann Giliomee, navorser en historikus, voorspel dat Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite binne vyf tot tien jaar heeltemal kan verdwyn as daar nie drasties en vinnig ingegryp word nie.

Sy voorspelling het na vyf jaar nog nie waar geword nie, maar gegewe die voortslepende tendens waar die aanbod van Afrikaanse onderrig aan universiteite bly verskraal en krimp, is dit dalk nie vergesog dat Afrikaanse onderrig ’n dekade van nou werklik iets van die verlede sal wees nie.

Terwyl die stryd vir die behoud en instandhouding van Afrikaanse onderrig in hoër onderwys al in 2000/’01 in felheid begin toegeneem het met kenners soos emeritus-professor F.I.J van Rensburg wat toe al na die “kritieke situasie van Afrikaans aan histories Afrikaanse universiteite (HAU’s)” verwys het, lyk dit of ’n uiteindelike ramp onafwendbaar is as ’n politieke oplossing nie gevind word nie.

In voorleggings wat akademici verlede week by ’n konferensie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gemaak het waar vir die soveelste keer oor die uitdagings van Afrikaans as universiteitstaal gepraat is, was dit duidelik dat Afrikaans sedert 2005 steeds die kreeftegang gaan.

Luidens statistieke van die Raad op Hoër Onderwys was daar in 2006 altesame 741 380 studente aan die 23 universiteite teenoor die 938 200 in 2011. Swart studente het van 451 106 tot 640 442 toegeneem, terwyl wit studente se getalle van 184 667 in 2006 tot 177 365 in 2011 afgeneem het.

In 2011 was daar maar 56 721 Afrikaanstalige studente aan die vyf HAU’s waarvan 2 674 aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), 15 300 aan die Noordwes-Universiteit (NWU),13 549 aan die Universiteit van Stellenbosch (US), 16 400 aan die Universiteit van Pretoria (UP) en 8 789 aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Die jongste data van die Raad op Hoër Onderwys wys duidelik op ’n verdere afname in die getal studente met Afrikaans as huistaal aan die HAU’s. Aan die onderskeie HAU’s was die aantal studente met Afrikaans as huistaal in 2012 sowat 51% aan die US, 30% aan UP, 29% aan die NWU en 26% aan die UV. By die UJ het getalle so drasties gekrimp dat daar in totaal maar sowat 1 500 Afrikaanse studente oor is.

Terwyl oudpres. F.W. de Klerk in 2010 by die Vredenheim-beraad oor die toekoms van Afrikaans op universiteitsvlak gesê het dat die belangrikheid en aktualiteit hiervan nie onderskat moet word nie, is dit duidelik dat universiteitsbesture worstel met oplossings vir die toekoms en selfs meen dat hul hande afgekap is om ’n blywende antwoord te kry weens ’n totale gebrek aan ondersteuning en leiding van die staat.

Dit was ook die afgelope jare duidelik dat politiek en ideologie bydra tot die konflik om ’n aanvaarbare vastrapplek vir Afrikaans op universiteitsvlak te kry. Waar sommige universiteitsrade en -besture nog probeer of probeer het om Afrikaans as onderrigtaal te beskerm, word hulle gekniehalter deur druk van die ANC-regering om die nasionale demografie in hul studentegetalle te weerspieël, terwyl onderwysamptenary ook geen geheim daarvan gemaak het dat Afrikaans, wat van hulle ook met rassisme assosieer, se sogenaamde bevoorregte status afgebreek moet word nie.

Ongeag die feit dat Afrikaans naas Zoeloe en Xhosa die derde belangrikste huistaal met meer as 6,8 miljoen sprekers is en ook vir miljoene ander ’n belangrike “brugtaal” is wat hulle geleentheid gee om hul volle potensiaal te verwesenlik én tot die land se ontwikkeling by te dra.

Uit akademici se bydraes verlede week, blyk dit dat instellings weinig steun van die staat kry en op vele maniere eintlik aan bande gelê word om Afrikaans te beskerm ondanks die grondwetlike ruimte en die internasionale regsbeginsels wat Afrikaanssprekendes, soos enige ander taalgroep, die reg gee om nie verhinder te word om hul taalbehoeftes, ook in hoëronderwys, uit te leef nie.

Prof. Niek Grové, registrateur van UP, het gesê geen instelling gaan die saak van Afrikaans as universiteitstaal op die lang termyn op sy eie opgelos kry nie. “’n Politieke oplossing moet gekry word en rolspelers sal met die staat in gesprek moet tree.”

Hy het daarop gewys dat instellings worstel omdat daar geen staatsbefondsing is om meertalige onderrig te ondersteun nie. Voorts is daar geen verpligting op enige universiteit om jaarliks formeel verslag te doen oor wat hulle rondom meertaligheid doen nie. Dit lei daartoe dat daar geen werklike riglyne is oor hoe botsende doelstellings versoen kan word nie.

Volgens Grové kan instellings nie op die huidige trant voortgaan nie en sal duidelik riglyne moet kom oor wat rondom taal gedoen en nie gedoen kan word nie. “Taalbeleide en die toepassing daarvan kan nie aan individue oorgelaat word nie.”

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU, meen ook daar is op politieke en finansiële vlak ’n gebrek aan politieke wil om Afrikaans se grondwetlike regte te beskerm. “Die druk om Afrikaans effektief uit universiteite te verwyder, kom nie van nasionale vlak nie, maar laer af in die stelsel.”

Eloff meen ook daar is ’n gebrek aan kreatiwiteit by universiteite om Afrikaans se regte te laat realiseer, want daar is in terme van onderrig en leer reeds strategieë soos tolking en parallelmedium wat getoets is en werk.

Hy het ook gewys op ander uitdagings vir Afrikaans as hoëronderwys-taal soos die vermindering in Afrikaanse skole weens die kortsigtigheid van ouers wat Engels as die taal van aspirasie sien.

Volgens Eloff is die moontlike oplossings daarin dat ouers hul kinders na Afrikaanse skole moet stuur, dat onderwysdepartemente Afrikaanse skole as ’n bate moet sien wat nie “verengels” moet word nie en dat minstens 11% van kampusse oortuig moet word om Afrikaans te behou.

Die owerhede moet oortuig word dat Afrikaans ’n nasionale bate is en die “tipping-point”-konsep in terme van taal moet verstaan word. Dit kom daarop neer dat ’n kampus wat ’n totale meerderheid Engelssprekende studente het, uiteindelik gedwing word om nie langer in ’n ander taal onderrig te gee nie.

Prof. Anne-Marie Beukes, verbonde aan die departement linguistiek by UJ, het gesê remmende faktore om meertaligheid te bevorder, is die swaar las op universiteitsbegrotings, beperkte ruimte op roosters en wat lokale betref, druk op dosente om in twee tale te funksioneer en lesings voor te berei wat ook druk op hul navorsingsuitsette plaas.

Haar aanbeveling om Afrikaans se glybaan te bestuur, is konstruktiewe beskerming, ’n “naasmekaarbestaan-model” vir tale en ’n verwerping om pro-Afrikaans met etniese enklaves gelyk te stel.

Prof. Leon de Stadler, direkteur by die US-taalsentrum, het in sy voorlegging gesê taalbeleid en taalbeplanning gaan in die eerste plek oor die belange van mense en nie oor tale nie.

Hy het gesê vir die US is dit belangrik dat die voorgraadse aanbod in Afrikaans en Engels uitgebrei moet word, terwyl van verskillende taalgebruikskonfigurasies naamlik parallelmedium, tolking, dubbelmedium en in beperkte gevalle van enkelmediumonderrig gebruik gemaak word.

Van die probleme wat hy uitgewys het, is die nasionale beleid versus die nasionale werklikheid, beleidsvorming, die toepassing en bestuur daarvan en houdings onder universiteitsmense en in die verskillende taalgemeenskappe.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die vraag is nie of daar plek vir Afrikaans as universiteitstaal is nie. Hy het gesê heelparty instellings het nog ruimte vir Afrikaans as akademiese taal en Afrikaanssprekendes. Dit sal egter by sommige instellings langer as by ander voortduur, maar dit is moontlik dat Afrikaans oor 15 jaar nie meer as ’n onderrigtaal beskikbaar sal wees nie.

Hy het gesê op die medium- en langtermyn sal na ander alternatiewe soos Akademia, Solidariteit se hoëronderwys-instelling, gekyk moet word waar Afrikaanse studente toegang en ordentlike opleiding kan kry. Volgens hom is dit nie onmoontlik om private Afrikaanse universiteite op te rig nie, maar dit is wel moeilik.

Solidariteit het egter reeds baie advies gekry en ook in die buiteland gaan kers opsteek oor hoe dit gedoen kan word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Jan ·

Een van die grootste oorsake dat Afrikaanssprekende studente al hoe minder word, is die stelsel waarby voorheen benadeelde bevolkingsgroepe voorkeur geniet.

U Denke ·

Gee jy nou’ vir n ander een n brood of n kledingstuk ,dan gee jy dit vir een wat gaan betoog ,hulle wil klas draf in Engels , dan gee jy dit vir die student wat jou kind se plek vat , die een wat Sasolburg plunder , die een wat die dogter verkrag , die een wat nou die boer se plaas gaan kry , ens ens ens . Maak dit sin ?

Amanda Erasmus ·

Onderhandel met die regering en verander NWU na n privaat universiteit en maak hom suiwer Afrikaans. Laat die studente en ouers hiervoor stem en nog n optog hou.

Bertus ·

Moet eerder nie waardevolle tyd, geld en ander hulpbronne verkwis op ‘n fait accompli nie; alle openbare universiteite sal transformeer en Afrikaans sal die verloorder wees.

In die proses om transformasie te probeer stuit, vervreem ons net meer mense.

Begin eerder van voor af ‘n nuwe moderne privaat universiteit met ons eie geld. Akademia dalk?

Leonard van der Dussen ·

Die vraag van hoekom moet my kind nog in Afrikaans kan studeer, moet eers geantwoord word. Die antwoord is noodsaaklik om die werkswyse vorentoe te bepaal.

As die rede om in Afrikaans te kan studeer ‘n blote emosionele behoefte en ‘n onbegronde opeis van “my regte” is, is dit van weinig nut en gaan dit in elk geval nie slaag nie, omdat dit sonder begronding is, en die opeis van regte die saak van die verkeerde kant benader. Dit moet vanuit ‘n roepingsbesef benader word.

Die saak wat sal standhou, begin by die wil om Afrikaner te wees, wat ‘n terugkeer na gereformeerde belydenis en ook politieke sedelikheid insluit. Dis eienskappe wat die Afrikaner se bestaansrede bepaal. Daarby is daar nie standhoudendheid in die benadering van opeis van regte nie, want deur te eis, plaas jy steeds die ander party in beheer en erken sy vermoë om te besluit daaroor. Opeis van regte gaan hand aan hand met ‘n slawe-mentaliteit.

Die oprig van eie instellings op alle vlakke, van sodanige gehalte dat dit mettertyd deur die mark aanvaar en verkies word bo die staat se bepalings van wat kwalifikasies is, is al manier.

Hanno Visagie ·

Kultuur- en volksverskeidenheid:- Die Here het grense tussen nasies en tussen volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die enigste grondslag vir gesonde verhoudings tussen volke. In die evangelisering van die wêreld word ons ook na elke volk en taal gestuur sodat hulle verkieslik in hulle eie taal geëvangeliseer kan word. In die eindtyd gaan daar egter onder die aanstigting van die Satan, die Antichris en die valse profeet ‘n wêreldstaat met net een regering, een godsdiens en een ekonomiese stelsel geskep word (Op. 13:1-18). Die opkomende nuwe wêreldorde beywer homself hiervoor. Dit sal ‘n ernstige vergryp teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke wees, daarom sal die Here Jesus die bose lewenswyse en samelewingsorde van die Antichris tydens sy wederkoms vernietig. http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Fundamentalisme.htm

Louis van Wyk ·

Die antwoord op die vraag “gaan my kind nog in Afrikaans kan swot” gaan hoofsaaklik afhang van die “wortelmotief” vir my bekommernis waarom jy so’n vraag stel.

Indien die bekommernis oor die behoud van Afrikaans as “swottaal” op die uitskakeling van mense op grond van kleur berus se ek beslis “nee!”, die taal sal verdwyn.

As die behoud gaan oor suiwere motiewe, het ons taal ‘n baie groot kans op oorlewing.

Ondersoek jouself dus eerlik en opreg oor die grondmotief waarom jy veg vir die behoud van Afrikaans as “swottaal”

Tiaan ·

Hoeveel is die totale hoeveelheid Afrikaners wat aansoek doen en nie toegelaat word nie.

Suzette McDonald ·

kyk, ek het kinders op Afrikaanse universiteite gehad. weet julle hoe moeilik dit in ‘n werksituasie is om alles skielik na Engels te vertaal? die terminologie, als verskil. ek stem met Afrikaans, ek is ‘n Afrikaner deur murg en been, maar Afr. universiteite? ek dink ons gee net druk op die kinders om na universiteit werk te kry. gaan doen bietjie moeite, doen navorsing oor Afrikaans na universiteit. in die ou Suid-Afrika waar daar nog vir almal ‘n plek was in die staatsdiens, in Afrikaans, is verby mense. ons moet realiteit aanvaar. Daar is maar net nie plek vir Afrikaans na universiteit nie. miskien hier en daar ‘n maatskappy wat nog afrikaans is, en dan onderdruk die AFRIKAANSE base hulle so, moet vra hoe hoog, om te spring.Hanno praat pragtig uit die Bybel oor die eindtye, maar realiteit bly, na universiteit is daar net nie Afrikaans meer oor nie. Jammer om te sê. ek stem met al die argumente oor Afrikaanse Universiteite, maar dink aan die toekoms daarna. wat van die wat nou net gegradueer het in Afrkaans, kan hulle ons nie probeer help en antwoorde gee op hierdie vra nie?

Stuiwer in die arm Afrikaanse beurs ·

Ek luister en ek hoor wat julle sê. Alhoewel dit baie braaf klink om te sê probeer die staat oortuig om NWU oor te “verkoop” en te privatiseer, sal dit nie gebeur nie. En alhoewel party reken (en die getal is soos hierbo aangedui, UP meer Afrikaanse studente as NWU) dat Afrikaans nog ‘n taal van onderrig is by van hierdie instansies hier genoem, kan ek eerstehands verklaar dis nie die geval nie, veral met kleiner kursusse wat te min dosente het vir twee klasse nie. Ek staan self voor sulke class: 80% is Afrikaans, maar 2 studente kom van Zimabwe…jy sal gestenig word as jy Afrikaans praat in die klas.

En ek dink nie, Suzette, die krisis lê by internasionale akademiese taal/vakterminologie nie. Ons sit met puik Afrikaanse skole-produkte wat beter presteer in die skielike Engelse omgewing, as hulle Engels moedertaal eweknieë. Die krisis lê beslis by toekomsvooruitsigte, keuringsmoontlikhede, en helaas ons Afrikaanse kultuur wat doodgedruk word by al die Universiteite in SA. Dus stem ek volkome saam met Bertus, privaat Afrikaanse Universiteite blyk die antwoord te wees. Akademia is ‘n goeie vertrekpunt, maar nog nie ‘n antwoord op groot krisisse soos medies-, para-mediese-, en byvoorbeeld ingenieursrigtings nie. ‘n Ander krisis wat jou in die gesig staar met so ‘n moontlike private tersiêre instelling, is die raad wat die akkreditasie vir die kursusse moet goedkeur. Afrikaners is nou nie eintlik hoog op hulle prioriteitslys nie. Maar as mens biddend hiermee omgaan, en saamstaan vir eens in ons ou volkie se lewe, weet ek daar is hoop.

Geseënde dag verder

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.