Gaan Mbete haar ware kleure wys?

Baleka Mbete

Speaker Baleka Mbete. Foto: AP Photo/Denis Farrell

Aanstaande Dinsdag, 8 Augustus, kan in die annale as ’n belangrike dag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis opgeteken word. Tensy iets onverwags gebeur, is dít die dag waarop die parlement oor ’n mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma stem.

Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie; dit het al herhaaldelik gebeur. Wat dié een anders maak, is die feit dat daar dalk vir die eerste keer ’n geheime stemming sal wees.

Dit beteken dat 8 Augustus die dag kan wees waarop die ANC sal moet uithaal en wys. Maar voordat dit gebeur, breek die speaker, Baleka Mbete, se lakmoestoets aan: Gaan sy ’n geheime stemming toelaat of nie?

Voorheen was dit nie moontlik nie. Wat beteken het dat alle partye hul koukusdissipline kon afdwing om parlementslede te dwing om te stem soos die partyleiding besluit het.

En aangesien die ANC ’n groot meerderheid het, was die uitslag in sulke gevalle ’n formaliteit.

Dié keer het Bantu Holomisa se UDM die konstitusionele hof gevra vir ’n bevel om ’n geheime stemming af te dwing. Mbete se verweer was dat die Grondwet die speaker nie eksplisiet toestemming vir ’n geheime stemming gee nie.

Die hof wou egter nie só ver gaan nie, maar het die deur vir haar wyd oop gemaak: Die Grondwet, was die bevinding, maak ’n geheime stemming móóntlik, maar dis ’n besluit wat die speaker self moet neem.

Daar is dus twee vrae wat waarskynlik nou voor en op 8 Augustus beantwoord gaan word. Een: Gaan Mbete gebruik maak van die bevoegdheid wat die regbank geïdentifiseer het en ’n geheime stemming laat plaasvind, of gaan sy die lede dwing om in alle oopte te stem? Twee: As daar ’n geheime stemming is, wat gaan die uitslag wees?

Die antwoorde is van groot belang.

As ’n mens haar politieke verlede in ag neem, is dit waarskynlik dat Mbete sal toegee aan Zuma se teenkanting teen ’n geheime stemming.

Mbete is ’n skepping van die ANC. Sy het geen eie identiteit anders as dié van ANC-ondersteuner nie. Sy is nog nooit verdink van die vermoë van onafhanklike denke nie; haar volwasse lewe is deur ’n onkritiese aanbidding van die ANC bepaal.

As die ANC sê spring, was haar reaksie deurgaans: Hoe hoog, hoe ver en hoe dikwels? Haar twee termyne as speaker is gekenmerk deur ’n feitlik totale afwesigheid van die neutraliteit wat ’n voorsitter behoort te hê. Sy het bitter min beslissings gegee wat teen die ANC se wense ingedruis het.

Bowendien het Mbete te kenne gegee sy sal Zuma graag self wil opvolg. Dis logies dat sy ’n reaksie uit die ANC vrees wat haar ambisie kan kelder as die gevolge ongunstig vir die party is.

Dis bekend dat die ANC baie bang vir ’n geheime stemming is. Daar kan aanvaar word dat Zuma, as leier van die party, agter die skerms groot druk op haar uitgeoefen het.

Indien sy toegee, so het die EFF reeds aangekondig, lê hul hofstukke al gereed vir ’n saak om haar te dwing om te wys dat sy rasioneel opgetree het. Die redenasie hier agter is dat dit irrasioneel sou wees om aan ANC-druk toe te gee. Sy sal behoorlike redes moet gee.

Indien dit gebeur, kan aanvaar word dat die debat en stemming van 8 Augustus uitgestel sal moet word.

Maar kom ons aanvaar dat Mbete die onafhanklikheid wat haar amp van haar vereis vir ’n verandering aan die dag lê en ’n geheime stemming toelaat. In só ’n geval moet minstens 50 van die ANC se 249 parlementslede vír die wantrouemosie stem om dit aanvaar te kry.

Gaan dit gebeur? Julius Malema, leier van die EFF, het onlangs gesê hy weet van minstens 60 ANC-parlementslede wat vír die mosie sal stem as hulle dit in die geheim kan doen.

Dis seker moontlik, al is Malema nie die betroubaarste bron waaraan ’n mens kan dink nie.

Wat sou die gevolge wees indien só ’n mosie aanvaar word? Volgens artikel 102(2) van die Grondwet moet sowel die president as al sy ministers en adjunkministers dan bedank.

(In beginsel kan daar ook ’n ander roete gevolg word. Artikel 89 maak dit moontlik om slegs die president van sy amp te onthef, maar dít vereis ’n tweederde-meerderheid in die Nasionale Vergadering, wat – voorlopig altans – heeltemal uitgeslote is. Die artikel 102-roete is makliker.)

Wie sal Zuma dan opvolg? Artikel 90(1) van die Grondwet bepaal dat die adjunkpresident normaalweg as waarnemende staatshoof voor in die ry staan, gevolg deur ’n minister wat deur die president aangewys word, ’n minister wat deur ander kabinetslede aangewys word, en ten slotte die speaker.

Die probleem is dat die adjunkpresident en die hele kabinet ook by die aanvaarding van ’n mosie van wantroue in die president moet bedank, wat hulle as sy opvolgers uitskakel. Dus bly die speaker – die einste Baleka Mbete – oor.

Wat haar in ’n onbenydenswaardige dilemma plaas.

Enersyds kan dit haar die hoogste amp besorg as sy ’n geheime stemming teen die ANC se wense toelaat. Andersyds sal haar posisie as waarnemende president van betreklik korte duur wees, want dit kan op ’n algemene verkiesing uitloop as die parlement nie binne 30 dae ’n nuwe president kan kies nie.

En die kans dat die ANC Mbete in só ’n geval as sy leier sal aanwys, is taamlik na aan nul.

In elk geval, die verkiesing wat hierop volg, gaan hoogs interessant wees. Teen die agtergrond van die vinnig krimpende steun wat die ANC in die townships ondervind, is die kans goed dat hy sy volstrekte meerderheid gaan verloor.

Enigiets en alles is dan moontlik. Die EFF sal waarskynlik goed vorder. Die DA (en selfs die VF Plus) ook.

En as die SA Kommunistiese Party sy dreigement uitvoer en selfstandig aan die verkiesing deelneem, gooi dit nog ’n swart Piet in die hoed, wat dinge nog ingewikkelder kan maak.

Alles in ag genome kan ’n vloeibaarheid in die politiek ontwikkel wat almal tot kort gelede nog onmoontlik gevind het.

Alles hang nou van één persoon af. Gaan sy die moed hê om vir die eerste keer in haar lewe ’n bietjie moed aan die dag te lê?

Miskien. Maar hoekom sê die duiweltjie op my skouer so knaend ek moet maar skepties bly?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico K ·

Ek twyfel of ‘n geheime stemming toegelaat gaan word. Die ANC sal nie daai kans vat nie.

Andre ·

Zuma gaan ‘n NOODTOESTAND afkondig op grond van geweld (wat hy gaan ‘skep”) en dan die 2017 ANC Konferensie opbepaald uitstel. So ook die 2019 Verkiesing en dan regeer tot in “lengte van dae”! Soos Kabila en Mugabe ensovoorts!
Andre

JWM ·

Ek het ook so n skeptiese duiweltjie op my skouer wat erg jil oor alles wat beplan word vir 8 Augustus en meen Mbete gaan laaste lag. So ons wag maar in spanning.

chrisp ·

Ek kan nie glo dat sy ‘n geheime stemming sal toelaat nie.Indien sy wel sou is ek oortuig zuma se dae is getel.Ek sal aangenaam verras wees as ek verkeerd is (soos met Trump se oorwinning).

Malema is verseker nie betroubaar nie maar ek dink hy kan dalk reg wees hier. Soos ek dit leees is daar baie teenkanting vir Zuma in die ANC.
Wat my egter baie pla is indien Zuma uitgeskop word gaan ons werklik enigsins beter af wees? Ek twyfel sterk.

Nee wat ·

Mbete is daar gesit deur die ANC en sy gaan nie die uitwissing van Zuma duld nie. Sy is in hulle opgekrul. Syt nie die “guts” om so iets te laat gebeur en sal eerder die omkoop geld geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.