Gaan ʼn harde Brexit tot ʼn verenigde Ierland lei?

‘n Standbeeld genaamd “One Million Queen” deur die Londen-gebaseerde Italiaanse kunstenaar Matt Marga, wat die Britse Koningin Elizabeth II uitbeeld, het in Desember onder Brexit-graffiti in Londen deurgeloop. (Foto: Tim Ierland, AP)

Met die moontlikheid van ’n harde Brexit, wat by die dag moontliker word, word die onsekerheid oor hoe Brexit die sagte grens tussen Ierland en Noord-Ierland gaan raak, by die dag meer aktueel. Die moontlikheid dat Noord-Ierland van Brittanje kan afskei, en by Ierland kan aansluit, word ook nou genoem.

Die probleem is dat Ierland deel van die Europese Unie (EU) is, en ook geen planne het om Brittanje se voorbeeld te volg nie. Ná die Goeie Vrydag-vredesooreenkoms wat tot die einde van die gewapende stryd van die Ierse Republikeinse Leër gelei het, bestaan die grens tussen Ierland en Noord-Ierland eintlik net in teorie. Talle ondernemings is weerskante van die grens gevestig, en die herinstelling van ’n harde grens sal die ekonomie weerskante erg knou.

Die behoud van ’n sagte grens sal egter beteken dat die doeanebeperkings wat die Brexit sal teweegbring, via Noord-Ierland omseil kan word. Veral Frankryk is op sy agtervoet hieroor.

Vrese oor die herinstelling van die harde grens tussen Noord-Ierland en die Ierse Republiek, strek egter veel wyer as net die ekonomie. Die ergste moontlike scenario wat voorsien word, is dat die gewapende stryd hervat sal word. Daar was juis onlangs ’n hewige bomontploffing in die Noord-Ierse stad Derry.

Dit blyk ook dat die oorspronklike rede vir die verdeling van Ierland en Noord-Ierland nie meer geld nie. In ’n onlangse peiling het 58% van die Noord-Iere aangedui hulle sal eerder deel van Ierland as Brittanje wil wees.

Tydens die Brexit-referendum het die meerderheid Noord-Iere ook, soos die Skotte, aangedui dat hulle deel van die Europese Unie wil wees. Die moontlikheid dat Ierland en Noord-Ierland saam gegroepeer word wat die doeane-unie se grense bepaal, word sterk teengestaan deur die Noord-Ierse Demokratiese Unioniste-party (DUP). Dié party is sterk ten gunste van die behoud van die bestaande band tussen Noord-Ierland en Brittanje. Dit hou ook deur ’n gedoogde deelname premier Theresa May se koalisie aan bewind.

Tog lyk dit of die DUP se steun deur die volharding van dié houding tot sy eie skade kan lei. Om die DUP se leier (wie se pa deur die Ierse Republikeinse Leër doodgeskiet en wie se eie skoolbus opgeblaas is) tot ander insigte oor te haal, gaan nie maklik wees nie.

Boonop blyk dit dat die meeste Noord-Iere besef dat hul belange die afgelope tyd veel beter deur die Ierse regering as deur die Britte gedien word.

Premier May beskou egter die moontlikheid van ’n verenigde Ierland in die geval van ’n harde Brexit as ’n “no deal”.

Nóg ’n struikelblok is dat Noord-Ierland die afgelope twee jaar nie meer oor ’n eie streekregering beskik, en dus self aan die onderhandelinge kan deelneem nie. Sou dit heringestel word, en Sinn Féin die DUP verslaan, is ’n referendum oor ’n verenigde Ierland heel eerste op die spyskaart. En dan was die koppestamp oor ’n sagte of harde grens onnodig.

Daar is minder as twee maande oor om ’n duursame oplossing te probeer uitpluis.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Judge Dredd ·

Oom Siener het gese Engeland sal al sy kolonies verloor.

Charles ·

‘n Baie interessante scenario wat besig is om hom af te speel, en DANKIE aan die uitmuntende rubriekskrywer van MM wat deur hierdie artikel tot die ESSENSIE van die gevolge van Brexit in sy huidige gedaante kon deurdring. Interessante tye le inderdaad voor!!
Daar is in my opinie nie meer ENIGE TWYFEL nie dat Brexti gaan plaasvind as ‘n sogenaamde “HARDE BREXIT” nie, en dat ander lande in die stof wat opeskop gaan word na die tyd en die jare daarna DIESELFDE weg gaan volg.

John ·

Die Ierse tweespalt het godsdienstige verskille as spilpunt. Saamstaan gaan moeilik wees en sou dit gebeur sal die vrede skaars ses maande hou voor die vonke spat. Die EU is ‘n skandalige spulletjie met Duitse hardekwaste as hoof-onderhandelaars. Die Naziagtige wyse waarop die EU bestuur word sal mettertyd groot woede tot gevolg hè; struwelinge wat Navo aksie sal laat neem. Uiteindelik sal die bloed loop.

Hendrik ·

Meeste Iere voel deesdae ‘n veer vir godsdiens, wat nog te sê vir godsdiensverskille. Met 58% Noord-Iere wat ten gunste van vereniging van Ierland is, klink dit my dis net ‘n kwessie van tyd voor dit gebeur.

Tom ·

Godsdiensverskille is net oënskynlik die probleem. Die inheemse Iere (Kelte) is Katoliek en die setlaars wat die Engelse daar gevestig het Protestants.

Ander Gert ·

Ek volg nogal internasionale ontleders hieroor, en jou samevatting is uitstekend en objektief gedoen, Herman.

DewaldS ·

Daar is ‘n klomp emosie en moddergooiery aan die gang oor Brexit, maar min rubriekskrywers verduidelik enige van die kwessies bietjie meer in diepte.

Goeie skrywe – dankie.

jaco ·

niemand in Europa gaan meer kerk toe nie, maar in Ierland hou Rooms-Katolieke en Protestante nie van mekaar nie en veg selfs teen mekaar. Iets maak nie sin nie.
Die Rooms-Katolieke aartsbiskop van Ierland (noord en suid) woon in Noord-Ierland. vreemd.
Waarom pak die Rooms-Katolieke in die noorde nie net hulle goed en verhuis na die suide nie?

JAN ·

Beter joernalistiek wat die kernkwessie oorlaat aan kommentare. Dankie. :- Volkstate pleks van oop grense. Die einde van globalisasie.
Terloops die groot meester van ” polimiek drywery pompery”? is Matt Heyns en sy aliasse van die Kaap. Dit het joernalistiek omskep in HOERnalistiek in Afrikaans. Wêreldleiers in fake news.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.